21 May 2017

Voltooi nou asb. die hersiening van jou 1ste Afrikaanse Roman

Ag nee genade, ek het die foto's van my verhale afgehaal en slegs twee gelos wat darem nie te sleg gelyk het nie. Ek het nie Photoshop vier jaar gelede gehad nie en het met Photoscape en Paint gewerk. Ek kan nie glo die foto's manipulasies het so sleg gelyk nie.
   Ek het intussen Photoshop gekry en myself geleer om manipulasies te maak, die dat ek nou selfs boek omslae kan maak. Julle kan by deviantArt gaan kyk hoe lyk my manipulasies. 'n Groot verbetering op vier jaar terug se werk. Daar is "sub-folders" waarin ek my ou werk bêre. Kyk gerus daar in ook.

Die lus het my ook beetgepak om my 1ste Afrikaanse roman klaar te skryf. Of te wel, die hersiening te voltooi en dan te publiseer.

Geheime in die Amasone Reënwoud.
Dis hoe die omslag se voorkant gaan lyk.


Sinopsis
Dr. Elrie Gunter en haar span is op ekspedisie in die Amasone. Daar ontmoet sy twee vrouens en raak verlief op albei.
Hitte, reën, insekte en wilde diere sorg vir 'n heerlike avontuur. Dan is daar ook geheime wat sorg vir intriges en natuurlik die ontdekkingsreis wat Elrie mee maak, opsoek na ware liefde.
Wie gaan sy kies? Corné of Alex.


Ek hoop dat ek hierdie keer sal volhard en die hersiening van die manuskrip gaan voltooi. Ek kan nie wag dat ek my 1ste Afrikaanse roman binnekort in my hande sal vashou nie.

Ek hoop nie ek bly weer so lank weg van my blog af nie. Dalk moet ek weer 'n kortverhaal skryf om julle te lok om te kom inloer.

Los vir my 'n voetspoor.

Groete

Elsie ♀♀


20 May 2013

Foto's by my verhale

Ek het gister met die gedagte begin speel om foto's by my verhale te plaas . . . jy weet, soos die boeke se omslae.
    Hier is nou my eerste foto wat ek self gemanipuleer het.
    Dis vir die verhaal: Met Jou Gaan Ek Trou.
    Dit was harde werk. Ek het nie photoshop of adope elements nie. PhotoScape en paint moes die ding maar doen. Dink nie dit lyk te sleg nie.
    Sê asb. wat julle daarvan dink, al is dit ook negatief. Dan maak ek net 'n ander een.
Met Jou Gaan Ek Trou



Ek hoop julle het die verhaal geniet. Die "stats" wys dat dit heelwat gelees is, gister en vandag. Dit laat my goed voel. Nou hoop ek net almal wat gelees het, hou wel daarvan.

Die volgende ene is in wording . . . Die een wat ek al laasjaar November belowe het.
    Daar het so baie intussen gebeur dat ek toe nooit die storie klaar gemaak het nie.
    So, wees geduldig, dis oppad. ☺

Dankie vir die wat my stories lees. Los vir my jou voetspoor. As jy dit onder by comments los is dit anoniem, vir die wat nie geweet het nie . . . maar jy kan my op facebook kry of daar inbox.

Groete
Elsie♀♀


18 May 2013

Nog 'n lekker liefdesverhaal

Hierdie een, Nuwe Hoofstuk Sonder Einde, is ook een van my ou kortverhale. Die laaste een wat ek nog moes oortik. Wel ek het dit so verander en herskryf, dat dit nou eintlik weer 'n nuwe verhaal is.

Ek het Maart maand met my 2de manuskrip begin en is hard besig daarmee. Of sal ek nou eerder sê my 3de manuskrip, want Liefde op die oop See is my 2de een, maar ek het hom bietjie op sy geskuif om plek te maak vir, Slagters van die Bos.

Dan het ek goeie en slegte nuus in April gekry oor my manuskrip, Geheime in die Amasone reënwoud. Die potensiaal vir die uitgee as boek of roman, is daar . . . maar ek moet so bietjie skaaf aan my hoofkarakter en sommige gebeure in die manuskrip. Dit beteken ek moet al my idees op sy skuif en aandag gee aan die skaaf en skuur van Amasone. Wel as ek dit eendag as boek in my hande wil vashou sal ek dit net eenvoudig moet doen.

Dis moeilik, want snags word ek wakker en dan maal iets in my kop, as dit aanhou gaan sit ek dit op papier en probeer dit omskryf in 'n storie.

Geniet Nuwe Hoofstuk Sonder Einde. Los vir my 'n voetspoortjie, jy kan my inbox op facebook ook, dan hoef niemand jou spoor te lees nie.

Vir die van julle wat wel hier lees, dankie.

Groete
Elsie♥

19 Nov 2012

My splinternuwe kortverhaal.

Ek lê al van Saterdagaand met die storie in my kop en speel. Ongelukkig was ek nog te siek van Brongitis en was nie lus om enige tik werk te doen nie.
Wel hier is hy nou..... Tyd van Afsterwe; 23:45.......dis tragies, hartseer ja, maar ek wou daarmee sê dat nie eers die dood die liefde kan oorwin nie.

Ek hoop julle geniet dit, soos julle ook die ander geniet het.
Dankie vir die van julle wat so getrou my stories lees...dit word waardeer.

Los asb. julle voetspoortjies op my blog of op my fb profiel....ek sal enige kommentaar waardeer.

Groete
Elsie♥

NS: Hou hierdie blog dop.......daar's weer 'n vuur warm ene oppad, humoristies en eksplisiet. Ek begin more aand aan hom skryf.
Nee, ek kan ook nie wag nie.
;-P

10 Oct 2012

Amper klaar.

Hierdie is my 2de laaste kortverhaal, het nog net een oor om te tik. Dit was die moeite werd. Deur weer my verhale te lees, kon ek sien hoe ek gegroei het en hoe ek verbeter het. Natuurik het ek ook aan die ene bietjie veranders aangebring.
 "My Vonkel Oog Meisie", is 'n mooi, tipiese liefdes verhaal. Dis skoon, oulik en haar vriendinne is lekker laf. Lees hoe simpel misverstande 'n mens amper jou geliefde kan laat verloor en om jou eie gevolgtrekkings te maak, kan jou ook alleen enongelukkig laat.

Ek hoop julle geniet die een ook, soos die ander. Laat hoor wat julle daarvan dink, inbox my, as jy anoniem wil bly of, skryf op my timeline en jy hoef nie aan te sluit by blogger om sommer onder aan jou comment te los nie.

Groete
Elsie♥

7 Oct 2012

'n Hartseer verhaal

Dit het my 2 dae gevat om hierdie hartseer verhaal "Met jou gaan ek Trou" oor te tik, gisteraand kon ek nie klaar maak nie, het te veel sit en huil. Ja, dink maar ek is simpel. Ek het net so gehuil toe ek Vasgevang in 'n Brief ook geskryf het en het bewoë geraak toe ek die titel raak gedink het.

"Met jou gaan ek Trou" is my 3de kortverhaal wat ek einde 2011 geskryf het. Van die oues is daar nog net 2 oor om te tik, dan is my tikwerk op datum en ek kan net konsentreer op skryf.

Ek het nou al my kortverhale uitgesorteer en hulle in volgorde van wat eerste geskryf is gelys. Dis moeilik om te glo dat ek 13 kortverhale op my kerfstok het en natuurlik is ek trots op elkeen van hulle.
"Met jou gaan ek Trou" het ek baie verander en herskryf. Dis nog nie eers 'n jaar wat ek skryf nie en my skryf styl het reeds verander, ek het gegroei in die manier van skryf en woorde vaspen op papier.

Ek hoop julle geniet hierdie verhaal en hou maar die tissues byderhand.

Groete
Elsie♥

PS: Hierdie verhaal word aan iemand spesiaal opgedra, sonder haar sou ek nooit my verhale begin skryf het nie. Gisteraand is alles weer van voor af oopgekrap en die onthou is seer...
Dan natuurlik Marié ook, as sy nie gesê het om dit uit my kop te gaan skryf nie, sou die verhale ook nie gebeur het nie.
As julle mooi vra, vertel ek dalk eendag my storie.

3 Oct 2012

Een van my 1ste kortverhale

Ek stem saam met Marié dat ek beslis gegroei het in my manier van skryf. "Verbode Vrugte in Taipei" is een van my eerste kortverhale wat ek einde 2011 geskryf het. Ek het dit gister oorgetik en heelwat daaraan verander.
Ek het nog 3 verhale om oor te tik, dan is ek "op datum", glo my ek sal nie weer so fout maak om met die hand te skryf nie, dis te veel werk om dit oor te tik.

Hoop julle gaan hierdie een oor verbode vrugte ook geniet, soos my ander verhale.

Ek dink my muse hou vakansie, nou gee sy my so bietjie kans om my verhale oor te tik. Sodra ek klaar is, gaan ek weer intensief aan my 2de roman werk.

Toe ek gister so deur die folioboeke blaai, waarin van my verhale geskryf is, kom ek op 2 verhale af wat net begin is en nooit vorm aan geneem het nie. Sooooo... daar is nog skryfwerk wat moet voltooi word.

Los asb julle voetspoortjies hier of op my faceboek blad, wil graag weer wat julle dink oor my skrywe.

Groete
Elsie♥

1 Oct 2012

Nog 'n nuwe/ou kort verhaal

Ek kry so dan en wan 'n tydjie om die kortverhale wat ek einde verlede jaar en begin dié jaar met die hand gesit en skryf het, oor te tik. "Die regte Keuse", gaan soek hom tussen die ander.
Ek is druk besig met my 2de roman en dan moet ek nog die nuwe (warm) kortverhaal klaar maak.

Wees maar gewaarsku, die ene is eksplisiet en as jy nou nie daarvan gaan hou nie, moet jy maar die web bladjie toemaak. Vir die van julle wat so bietjie van "hitte" hou, die een is dan spesiaal vir julle.

Ek wil ook net noem dat ek nié die seksdaad in detail beskryf nie, maar wel dele van die vroulike anatomie, nl: haar borste. Sjoe daar is darem niks mooier as mooi borste nie.

Wel ek hoop julle geniet die een....en los tog jou voetspore op die blad, wil weet wat dink julle daarvan of inbox my op facebook, as julle eerder anoniem wil bly. Ek het juis verlede of dalk 2 weke terug 'n inbox gehad en dit laat my lekker warm voel hier binne as julle so oor my verhale voel.

Dankie vir julle wat my verhale lees.

Groete
Elsie♥

17 Sept 2012

Nog 'n kortverhaal. "Onverwagte Liefde"

Ek het dié een gisteraand klaar getik en Marié het vanoggend gou die proeflesing gedoen. Ek het die kortverhaal ook in die begin van die jaar geskryf, terwyl ek nagdiens gewerk het. Het nou eers die kans gekry om dit oor te tik.
Hier volg 'n voorsmakie van waaroor dit gaan:
"Twee vrouens ontmoet mekaar en raak verlief. Voordat hulle egter vir mekaar kan sê hoe hulle voel, gebeur daar iets wat elkeen in sy eie rigting stuur, met amper tragiese gevolge."
Ek hoop dat julle die een net so sal geniet soos die voriges.
Groete
Elsie♥

14 Sept 2012

My nuwe kortverhaal

Ek het sopas my nuwe korverhaal opgesit. Dis n mooi skoon liefdes verhaal "My Bruinoog Veearts" Ek is uiteidelik klaar met dit, na seker 3 of 4 maande se skrywery en vanoggend het ek besef, ek skryf nie meer aan my verhaal nie, ek tik nou 'n verhaal. Het oor die 2000 woorde delete en geskuif en geskaaf en daar maak ek hom toe wraggies klaar vanaand.

Intussen is daar nog 2 kortverhale wat ek begin het en so bietjie laat oorstaan het, maar vanoggend, eintlik gisteraand al, skaaf en krap my 'muse' aan my vir 'n nuwe kortverhaal... of dalk n roman... sal sien waarheen dit my lei.

As ek voltyds by die huis kan wees om te skryf, glo ek nie daar gaan genoeg papier wees om al my kortverhale te kan print nie, want die idees borrel net uit. Ek is besig met iets dan moet ek los en die idee iewers griffel anders kan 'n mooi storie verlore gaan.

Hou maar die blad dop, daar is nog 4 of 5 kortverhale wat ek maande terug geskryf het, wat ek nog moet oor tik, maar die oor tik is harde werk. Dis beter om 'n mens se storie direk op die pc te skryf/tik, i.p.v. eers op papier.
Ek sal seker so 1 of 2 keer in 'n maand nuwe kortverhale plaas.

Dankie vir julle lees en belangstelling in my verhale. Los vir my jou voetspoortjie, sodat ek kan weet jy was hier.

Groete
Elsie♥

13 Sept 2012

Welkom by my Gedagte Wêreld

 Ek skryf gay kortverhale, liefdes verhale. Daar is niks so mooi soos twee mense wat mekaar bemin en verdien om bymekaar uit te kom nie. Natuurlik is dit in die regte lewe nie altyd moontlik nie, daarom skryf ek daaroor, want in my verhale is dit moontlik.
Ek skryf oor die gay liefde omdat daar nie juis fiksie vir gays op die mark is nie. Tans skryf ek nog net oor die liefde tussen vrouens en sal seker later oor die liefde tussen mans ook skryf, maar tans, jammer, net oor vrouens. Daar is niks mooier as 'n vrou nie....ek dink daar is 'n afrikaanse liedjie daaroor.

Ek hoop om eendag my kortverhale in 'n bundel te kan publiseer. Natuurlik is dit nie NET vir die gay mark bedoel nie, enige iemand kan dit lees. Enige iemand wat al liefgehad het, liefde verloor het en liefde wil hê...het of wil ons nie almal nie.

Ek hoop van harte julle geniet my verhale en los kommentaar asb.
Groete
Elsie♥