My Bruinoog Veearts


Terwyl Natalie vir die veearts wag, dwaal haar gedagtes na haar verhouding van vyf jaar wat op die rotse is. Sy dink aan hoe sy vanaand vir Susan moet inlig dat dinge nie meer tussen hulle twee werk nie en dat elkeen liewers hulle eie paadjie moet gaan.

“Juffrou Daniels!” roep dokter Elzaan Ferreira. “Juffrou Daniels en Rufus!” roep sy weer, die keer bietjie harder.

Natalie ruk uit haar gedagtewêreld uit toe sy Rufus se naam hoor. Rufus is haar alles. Sy het hom sewe jaar gelede gekry toe hy ’n ou baba hondjie van vier weke was en moes hom met ’n bottel grootmaak. Nodeloos om te sê, hy is net so erg oor haar ook. “Dis ek, ekskuus ek was effens ingedagte.” Vra sy om verskoning, maar kyk nie op nie, sy klap Rufus op die boud en beveel hom om op te staan. Sy staan en rondkyk waar die dokter dan nou is en die ontvangsklerk beduie haar na watter spreekkamer sy toe moet gaan. Sy glimlag en sy stap daarheen, Rufus agterna aan sy leiband. By die tafel buk sy om hom op die ondersoek tafel te tel, maar dokter Ferreira is dadelik by en bied aan om hom op te tel. Sy sit hom op die tafel neer en steek haar hand na Natalie uit.

“Aangename kennis, ek’s dokter Elzaan Ferreira.”

Natalie se voete is onder haar uitgeslaan. Sy kry nie ’n woord uit nie en staar net na die vrou voor haar. Haar ligbruin oë is soos ’n magneet vir Natalie en sy kan haar nie van hulle wegskeur nie.

“Juffrou Daniels, is iets fout?” vra sy bekommerd en haar hand nog steeds na Natalie uitgesteek.

Natalie snak na haar asem en vat die dokter se hand. Sy glimlig floutjies en dit voel of sy eerder moet gaan sit want haar knieë voel lam.

“Ek is dokter Jansen se nuwe vennoot.” sê sy en kyk Natalie fronsend aan.

Natalie probeer haar self regruk en heet die dokter welkom. Die nuwe dokter is darem baie sexy, sy kan haar oë nie van haar af hou nie.

“Dankie, noem my Elzaan. Wat doen ek vandag vir Rufus?”

Natalie verduidelik Rufus se probleem. Sy hou die dokter se hande en elke beweging wat sy maak dop. Dokter Ferreira draai om en buk by die rekenaar en begin daarop tik. Sy sien nie hoe Natalie se oë rek en sy na haar agterstewe staar nie. Sy trek ’n stoel met haar voet nader en gaan sit daarop, met die een been onder haar ingevou. Natalie voel of sy gaan mal word. Elke beweging wat die vrou hier voor haar uitvoer vind sy geweldig prikkelend. Dié vrou maak beslis iets in haar wakker. Sy skat die dokter so veertig jaar oud, sy is ietwat grof gebou. Sy het ’n denim langbroek aan en dit span om haar gespierde bobene. Sy is bruingebrand, dalk swem sy of beoefen ’n sport in die son, wonder Natalie. Sy merk ook dat daar nie ’n ring aan vinger is nie, haar hande is goed gevorm, die are, blou en prominent en Natalie vind dit net so prikkelend.

 

                Natalie is in ’n beswyming toe sy by die veearts uitstap en weet nie mooi hoe sy tot in haar kar gekom het nie. Sy kyk fronsend na die pakkie pille en botteltjie vloeistof in haar hande wat die dokter voorgeskryf het. Sy sug van verligting, gelukkig is die aanwysings op die etikette geskryf want sy kan niks verder onthou as die sexy dokter wat by haar rekenaar sit nie. Lank sit sy in haar kar met haar kop teen die ruglening voor sy diep asemhaal, haar self regruk en die kar aansluit om terug te ry huis toe.

Dokter Ferreira loer deur die blindings wat sy op ’n skrefie met haar hand oophou na Natalie waar sy in haar kar sit. Sy glimlag want Natalie het iets in haar wakker gemaak wat sy nie meer gedink het bestaan nog nie. Sy draai weg van die blindings toe Natalie wegry en maak eers die spreekkamer deur toe voor sy op die stoel by die lessenaar gaan sit. Sy kan nie, dink sy. Sy en Dirk is al vyf en twintig jaar getroud en hulle het ’n seun van drie en twintig. Dis nie ’n volmaakte huwelik nie, maar Dirk is goed vir haar en Martin. Martin is nou derde jaar veeartseny student en wil in sy ma se voetspore volg. Hy is sy ma se alles. Sy sal enige iets vir hom doen en hy weet dit want hy draai haar gereeld om sy pinkie. Elzaan se gedagtes keer weer terug na Natalie. Die meisie het beslis ’n gevoel in haar kom oop krap wat sy al jare lank onderdruk en geen ander vrou kon dit tot nou toe regkry nie.

 

               Natalie se vriende hou vir haar partytjie om haar enkel status te vier. Sy is meer geskok as verheug toe sy die aand by die klub opdaag.

“Ek weet nou nie of ek dit wil vier nie, al is dit ek wat uitgemaak het.” sê Natalie verontwaardig.

Die klomp maak haar stil en gooi vir haar die een shooter na die nader in. Nie lank nie of Natalie is net so uitbundig en verheug soos hulle.

Sy en Susan het ’n week gelede uitgemaak en vir ’n week is sy en Rufus alleen in die groot huis. Nog groter was haar skok toe Susan daardie selfde aand met ’n meisie aan haar sy by die klub opdaag. Dis Tina wat haar in die ribbes pomp en met haar oë na die ingang beduie. “Is dit nie bietjie gou nie?” vra sy.

“Sy’s enkel Tina en sy kan maak wat sy wil!” sê  Natalie, maar voel tog seergemaak toe sy hulle saam sien. “Oe nee, ek’s nou moeg julle!” sê sy en gaan sit by hulle tafel. “Ek’s nie meer hieraan gewoond nie.” vervolg sy.

“Jy’s lekker uit oefening uit suster.” laat Brian sarkasties van hom hoor.

“Ons gaan seker nou weer begin kuier of hoe?” vra Faith.

“Ja, ons gaan. Onthou, dis julle wat ophou kuier het by my en nie andersom nie.” verwyt Natalie hulle. Natalie gewaar toe Brian vir Tina met sy oë beduie na waar Susan en haar meisie staan. Sy kyk waarheen hy beduie en kry ’n knop in haar keel. Susan en die meisie kan hulle hande nie van mekaar afhou nie, hulle staan wel in ’n skadukol maar nog steeds sigbaar sodat Natalie hulle kan sien. “Ek dink ek het nou genoeg gehad, ek gaan ry, Rufus is alleen by die huis.” sê sy en begin groet.

Tina kan sien Natalie is omgekrap en bied aan om die aand by haar te gaan oorslaap.

Natalie sluk haar trane. “Dit sal lekker wees, dankie Tina.” Dadelik wil die ander twee ook oorslaap en sy kan hulle nie weier nie.

 

               “Sjoe, Natalie, ek het al vergeet hoe mooi en groot jou huis is.” sê Tina en verkyk haar opnuut na die vertrekke.

“Ag nee, Tina, dit was ook nou nie so lank terug dat jy in my huis was nie!” sê Natalie en dink dat Tina so bietjie oordryf.

“Vier jaar om presies te wees. Jy en Susan het julle eerste jaar saam herdenk en dit was dit laaste keer wat ons drie in jou huis was.” lig Faith haar in.

Geskok kyk Natalie na die ander twee en albei knik om te bevestig wat Faith haar vertel het.

“Dit mag nooit weer gebeur nie julle. Ons vier is saam deur dik en dun!” roep sy uit en hou haar arms oop vir ’n group hug. Hulle storm op haar af en saam tuimel hulle grond toe. Hulle val op die dik sitkamer mat. Rufus is by en gee een blaf en spring bo-op hulle. Hy byt speels hier aan iemand se arm en daar aan ’n enkel. Dit ontaard in ’n hengse stoeigeveg, wat Rufus op die ou end wen. Almal is gaar gebyt en Brian se nuwe Gucci denim het ’n yslike skeur op die been gekry. Uitgeput lê die klomp op die mat en lag.

“Toemaar Brian, ek sal sorg dat jy ’n nuwe denim kry.” sê Natalie.

“’n Gucci nè! gil hy vir haar.

“Ja, queen! Dit sal ’n Gucci wees!” gil sy terug.

 

               Op dertig is Natalie goed op dreef met haar werksloopbaan. Sy is bestuurder by een van die grootste klerewinkels in Suid-Afrika. Sy verdien ’n groot salaris waaroor die meeste meisies van dertig net oor kan droom. Sy het haar eie huis en bestuur ’n maatskappy motor. Natalie het twee dierbare vriendinne Tina en Faith en as mens Brian by tel kan mens sê sy het drié dierbare vriendinne. Hulle vier het alles saamgedoen totdat sy en Susan begin uitgaan het. Die drie het nie van Susan gehou nie en al minder by Natalie gaan kuier. Hulle het mekaar later net op groot partytjies gesien of as een van hulle Natalie nooi vir ’n vinnige koffie iewers.

 

               Brian skakel Natalie se rekenaar aan. “Wat is haar naam nou weer?” vra hy.

“Elzaan Ferreira man, jy luister ook nie!” berispe Tina hom.

Brian gaan op Natalie se Facebook profiel in en gaan soek na Rufus se dokter. “Sy sal hier wees, almal is op Facebook.

“Ag nee, Brian, los liewer. Ek voel soos ’n stalker.” smeek Natalie en bêre haar gesig in haar hande. Sy het besluit om haar drie vriende van Rufus se nuwe dokter te vertel en nou is almal vuur en vlam dat sy ’n plan moet maak om haar te nooi vir koffie of ete.

Brian is besig om deur al die Elzaan Ferreira's te soek op Facebook en toe Natalie opkyk van haar hande af gewaar sy haar foto.

“Stop, daar’s sy!” gil sy en voel die skoenlappers in haar maag van vooraf.

Brian kliek op haar profiel en Tina reageer eerste. “Ag nee!” gil sy teleurgesteld.

Die res van hulle vra so gelyk wat fout is en sy wys na die skerm. “Getroud met Dirk Ferreira. Hy het nie ’n profiel nie, maar haar seun Martin het.” lig Tina hulle in en beveel Brian om op die seun se profiel te kliek.

“Hy lyk nes sy ma.” sê Natalie, staan op en stap kombuis toe. Sy vee vinnig die traan van haar wang af toe Faith by haar aansluit.

“Ag, vriendin, daar sal iemand ander wees.” probeer Faith haar troos.

“Weet jy Faith, toe ek haar sien het ek geweet dat liefde met die eerste oog opslag werklik bestaan. Weereens is die teenoorgestelde bewys. Daar bestaan nie so iets nie!” Natalie skree amper die laaste deel van haar sin uit.

Faith gryp haar en druk haar styf teen haar vas. Tina en Brian het ook in die kombuis ingekom en kry hulle vriendin verskriklik jammer. Brian skink vir hulle elkeen ’n drankie en hulle kuier vêrder om die kombuistafel.

“Ek was so seker julle. Daar was geen ring aan haar vinger nie en sy is grof gebou, beslis nie gelyk soos iemand wat met ’n man getroud sou wees nie.” Natalie sug na sy dit sê. Sy ruk haar self reg. “Wel, dis nou tot daarna toe. Jammer Rufus, jy sal ’n ander dokter moet kry.” praat sy met hom en asof hy verstaan draai hy sy kop van kant tot kant en blaf toe sy klaar gepraat het.

“Ag, Natalie! Moet nou nie laf wees nie, jy het self vertel hoe ’n goeie dokter, dokter Jansen is.” vervies Tina haar vir Natalie se uitlating.

“Ek kan haar nie weer sien nie, veral nie nou dat ek weet sy is nie gay nie. My hart sal dit nooit hou nie Tina.”

Die drie kyk na mekaar en trek groot oë. Geeneen van hulle sal Natalie nou anders kan oortuig nie. Hulle drink hulle drankies klaar en maak aanstaltes na hulle verskeie kamers.

 

                Die vier kuier weer soos altyd. As hulle nie in die klub is nie, braai hulle Saterdae vleis by Natalie en kuier in en om die swembad. Na ete lê die vier juis luilekker in die son en bak.

“Ek wil een van julle ’n gunsie vra?” rig sy ’n versoek aan haar vriende.

“Vra ons luister.” sê Brian nuuskierig.

“Ek gaan volgende week vir twee weke af Kaapstad toe en wil hê een van julle moet hier kom bly en vir Rufus oppas en natuurlik my huis ook.” Die drie spring regop en die een is meer gewillig as die ander een. Natalie lag te lekker. “Julle is al drie welkom. Ek sal sorg dat hier genoeg eet en drinkgoed is vir die twee weke. Dankie, julle.”

 

Die res van die week gaan te vinnig verby. Natalie sit op haar hurke voor Rufus en gee hom ’n soen op sy kop. “Kyk mooi na Rufus asseblief, hy is prioriteit nommer een.” Natalie beklemtoon die laaste deel van haar sin. Haar tasse staan gepak op die stoep, sy wag vir die lughawe bussie en loer kort-kort by die deur uit. Die bussie stop uiteindelik en sy groet. So in die uitloop buitetoe skree sy vir oulaas bevele oor Rufus. “As Rufus siek word, vat hom na daai sexy bruin oog, dokter Ferreira nè!” Sy trek die deur toe, draai om en loop binne in dokter Ferreira vas. Natalie gaap soos ’n vis op droë grond en voel soos ’n idioot, want die dokter het beslis gehoor wat sy gesê het.

“Hallo Juffrou Daniels, ek het juis kom hoor hoe dit nou met Rufus gaan.” lig sy Natalie in oor die rede vir haar besoek.

Natalie wys vir die bussie hy moet net ’n oomblik wag en maak die voordeur weer oop. Sy nooi dokter Ferreira binne, Rufus kom blaffende aangehardloop en herken haar. Natalie stel haar aan almal voor en Tina trek haar asem opsetlik hard in. Natalie kyk haar kwaai aan en glimlag dadelik toe sy weer na die sexy dokter kyk.
“Lyk my jy is op pad? Waarheen, as ek mag vra?” vra dokter Ferreira belangstellend.

“Kaapstad toe vir werk. Ek gaan vir twee weke weg wees.” lig sy die dokter in en weet nie hoekom sy nou eintlik gesê het hoe lank sy ook gaan nie.

“Sy’s die bestuurder van Dressed for You.” voeg Tina by.

“Ek’s beïndruk, dis een van Suid-Afrika se bekendste en grootste klerewinkels nog.” sê dokter Ferreira en klink waarlik beïndruk.

Die bussie blaas toeter en Natalie maak verskoning. Sy groet weer almal en steek voor die dokter vas. “Soos u kan sien is Rufus baie beter. Dankie, vir die huisbesoek dokter.” sê Natalie beleefd en vir ’n wyle is sy weer vasgevang in die dokter se ligbruin oë.

Nadat Natalie weg is, maak dokter Ferreira ook verskoning om te gaan maar Tina keer haar.

“Drink eers ’n koffietjie of dalk ietsie sterkers vir dokter?” nooi Tina haar.

“Noem my Elzaan en koffie sal lekker wees.” sê sy en glimlag.

Brian hou haar geselskap terwyl Tina en Faith die koffie gaan maak. Faith pluk haar aan die arm. “Tina wat voer jy in die mou? Moet nou asseblief nie nonsens gaan aanjaag nie.”

Tina glimlag stout. “Het jy gesien hoe kyk onse dokter Ferreira, wat kwansuis straight is, na onse gay vriendin, Natalie? Dit was nie ’n dokter pasiënt kyk nie. Hier gaan dit beslis nie om die hondjie nie maar om die halsbandjie. Letterlik Faith!”

“Hou op om in idiome te praat en bring daai koffie, die dokter raak kriewelrig.” jaag Brian hulle aan.

Brian vat die skinkbord by Tina, al is hy verfynd bly hy ’n ware gentleman. Almal het koffie gekry en Tina skuif vorentoe in haar stoel om met die ondervraging te begin. “So, dokter ... wat doen jy as jy nie diere dokter nie?” vra Tina reguit. Brian en Faith loer vir mekaar en rol hulle oë.

“Noem my Elzaan asseblief. Dan is ek maar net ’n huisvrou.” beantwoord sy Tina se vraag.

“En wat doen jou man?” vra Tina sonder om te skroom. Faith staan op en verskoon haar self.

“Hoe het jy geweet ek is getroud?” vra Elzaan verbaas, want sy het nie haar troupant aan nie.

“Sommer geraai.” sê Brian vinnig voordat Tina kan sê dat hulle haar en haar seun se profiele op Facebook besoek het.

Elzaan glimlag en vertel dat haar man ’n wildbewaarder was, maar nou vir parkeraad in New Muckleneuk werk. Tina is tevrede met haar antwoorde na sy nog ’n paar vrae gevra het. So uit die bloute lig sy Elzaan in dat Natalie en haar meisie so twee, drie weke gelede uitmekaar is. Soos Tina gehoop het, kry sy die reaksie waarvoor sy gewag het.

Elzaan se kop ruk omhoog en dit wil lyk of sy verheug of verlig is. “Jammer, om te hoor, maar julle sal my nou moet verskoon.” sê sy vinnig en staan op. Sy bedank hulle vir die koffie en gasvryheid en stap kar toe. Sy klim in en klou die die stuurwiel krampagtig vas. Kan dit waar wees, sal dinge eersdaags vir haar in plek kan val, wonder sy. Sy ry terug spreekkamer toe en sit eers ’n rukkie in die kar voor sy uitklim en binne stap.

       

                  “Het julle dit gesien! Nou waar is Faith?” vra Tina.

“Sy het gevlug, sy het vir jou part begin skaam kry.” snou Brian haar toe.

Tina steur haar nie aan Brian nie en is vreeslik in haar noppies. “Het jy haar reaksie gesien toe ek sê dat Natalie single is. Ek het die spyker op die kop geslaan. Soos altyd!”

“Die keer was jy reg Tina, maar eendag is eendag, dan gaan jy te vêr gaan.” snou Faith haar toe, toe sy weer by hulle aansluit.

“Ek kan nie wag om Natalie hiervan te vertel nie.” sê Tina opgewonde.

“Los dit eers Tina. Natalie is nou besig met werk en sy moet haar aandag daar bepaal.” sê Faith en Brian stem saam met haar.

 

               Elzaan en Dirk is vyf en twintig jaar gelede getroud. Sy sou nooit trou nie, nie met ’n man in elk geval nie. Sy was verlief op ’n meisie twee jaar ouer as sy. Op negentien het Elzaan haar ouers vertel van haar gevoel en van haar liefde vir die meisie. Haar ouers was absoluut gekant daarteen en wou ’n dominee kry om vir haar te bid en toe weer later ’n duiwel uitdrywer om die duiwels wat in hulle dogter is, te verjaag. Natuurlik is sy belet om weer vir Lana te sien en haar ook belet om Lana huis toe te bring. Elzaan se hart was gebreek. ’n Paar maande later het sy vir Dirk in die wildtuin op ’n wildrit ontmoet. Hulle het van mekaar gehou, maar van haar kant af was dit beslis nie romanties van aard nie. Ses maande later toe Dirk haar vra om te trou het sy dadelik ingestem. Sy wou uit haar ouers se hare uitkom en dis al manier hoe hulle haar sou uitlos, is as sy met ’n man sou trou. Soos die jare aangestap het, het sy van Lana vergeet en haar gevoelens wat sy vir dieselfde geslag het, onderdruk. Elke keer wat sy en Dirk intiem verkeer het, het dit haar gewalg. Toe sy twee jaar later swanger word, het sy die groeiende kind en haar veranderende liggaam gehaat, verafsku. Sy het geleer om Martin lief te kry na sy geboorte en vandag kan sy nie glo hoe sy hom gehaat het terwyl hy in haar gegroei het nie.

Daar’s ’n klop aan die spreekkamer deur  en Elzaan word uit haar gedagtewêreld geruk. Die ontvangsdame kom ingestap en lig haar in dat daar ’n pasiënt is wat haar aandag nodig het.

“Dankie, Tish. Stuur haar oor so vyf minute in asseblief, ek wil net gou my gesig afspoel.” sê Elzaan en stap wasbak toe. Sy kyk vir haar self in die spieël en sy weet dat sy nie langer in haar liefdelose huwelik kan bly nie. Vir vyf en twintig jaar het sy nie liefde gehad of geken nie en sy dink dis nou haar beurt. Sy verdien ’n goeie salaris as veearts en sal ’n huis of woonstel kan bekostig. Dirk sal net eenvoudig Martin se studies moet betaal en hy kan in die huis aanbly. Dan kan hy ook iemand anders kry wat vir hom gaan liefde gee. Haar ouers leef nie meer nie en sy voel ’n veer oor wat die res van die familie oor haar seksuele voorkeur gaan dink en sê.

 

               Die res van die dag is Elzaan taamlik besig en sy kry nie kans om weer aan Dirk en haar liefdelose huwelik te dink nie. Sy het 'n nood operasie gedoen op 'n Duitse Herdershond, wat raakgery is. Sy kon nie die dier se lewe red nie en dit krap Elzaan geweldig om. Diere is haar passie en sy wou van kleins af 'n veearts word. Nou leef sy haar droom uit en wil so graag elke beseerde dier wat sy kry red, maar dis nie moontlik nie. Sy het haar self as veearts bekwaam nadat sy en Dirk getroud is. Sy het nie kans gesien om huisvrou te speel nie, dit was genoeg dat sy haar gevoel vir vroue moes onderdruk en het botweg geweier om dieselfde oor haar passie met diere te doen.

Die ergste vir haar is om die diere se eienaars te laat weet dat die dier dit nie gemaak het nie en hierdie slegte taak lê vir haar nou weereens voor. Sy vee trane af nadat sy klaar met Rex se eienaar gepraat het. Hy het gevra dat hulle van die karkas moet ontslae raak, hy sien nie kans om hom te kom haal nie. Dit kan Elzaan ook nie verstaan nie, wanneer mens so lief is vir jou dier, hoe kan jy hom sommer net laat gaan sonder om te groet. Sy weet dis nie almal wat hulle diere self kan begrawe nie, maar baie eienaars kom groet gewoonlik die dier na afsterwe. Hartseer gaan sit sy agter haar rekenaar en bereken die koste van Rex se operasie, medisyne en toerusting wat gebruik is. Dis ingeteken op die sisteem en sy laat weet vir Tish dat sy die rekening kan uitdruk op papier en vir Rex se eienaar stuur.

 

               Dirk kry sy vrou, vas aan die slaap, op die bank voor die TV. Hy sien die traan spore op haar wange en kan net dink dat daar weer 'n dier of twee dood is by die spreekkamer. Hy het ook 'n liefde vir diere, maar vir wilde diere. Hy was 'n wildbewaarder by die Kruger wildtuin en dis waar hy Elzaan ontmoet het. Sy was daar saam met haar ouers en hulle was deel van die nagtelike wild rit. Hy het dadelik van haar gehou, maar nooit gedink dat hy eendag met haar sou trou nie. Hulle het vriende geword in 'n kort rukkie se tyd en hy het baie by haar gekuier.

Toe hy weer eendag daar opdaag, roep Elzaan se pa hom eenkant. Die ouman het baie op die hart gehad en hy kon verstaan hoe hy voel. Haar pa het hom 'n aanbod gemaak, Dirk het geweet hy gaan dit nog berou, maar dit tog aanvaar en kort na dié gesprek het hy Elzaan gevra om met hom te trou. Hy kon nie glo dat sy dadelik ingestem het nie. Elzaan weet natuurlik nie van die ooreenkoms wat hy en haar pa gesluit het nie en Dirk het gemaak of hy verlief was op haar.

 

               Elzaan word wakker van 'n gewerskaf in die kombuis. Sy spring van die bank af op en haas haar daarheen. “O dis jy! Sjoe, jy het my laat skrik.”

“Ekskuus Zaan, ek het nie bedoel om jou wakker te maak nie. Kan ek vir jou 'n bier ingooi? Ek is besig om vleis in die oond te sit, wat wil jy daarby eet?” vra Dirk

“Dankie, biertjie sal lekker wees. Ek sal aartappels skil, dan bak ek gou vir ons chips.” bied sy aan om te help kos maak.

Elzaan was nog nooit 'n huisvrou nie, sy en Dirk het van die begin af die huiswerk gedeel en hulle het altyd beurte gemaak om kos te maak.

“Martin het my gebel vandag. Hy kom weer huis toe die naweek en bring iemand saam om aan ons voor te stel.” lig hy Elzaan in waar sy staan en chips bak.

“Ai, ek mis my kind. Ek wens hy wil uit die koshuis trek en weer by ons kom bly. Hy kan mos van hier universiteit toe ry en klas draf.” sê sy, met 'n hartseer in haar stem.

“Zaan, Martin is 'n volwasse man en kan nie nog aan sy ma se rokspante bly vasklou nie.”

“Ek weet Dirk, maar hy sal altyd my ou seuntjie bly en jy weet dit.” verdedig sy haar self.

Hulle al twee is stil aan tafel, elkeen besig met sy eie gedagtes. Elzaan onder breek die stilte. “Dirk, ons sal moet praat.”

Hy kyk haar fronsend aan. “Waaroor, wat is fout Zaan?”

“Ons huwelik Dirk.” sê sy en bly stil.

Dirk het geweet hierdie dag gaan eendag aanbreek en nou het dit, vyf en twintig jaar later. “Wat wil jy vir my sê Zaan?” Hy sit sy mes en vurk neer en kyk vir haar.

Elzaan voel te skuldig om iets verder te sê. “Dis okei Dirk ons hoef nie nou te praat nie, ons kan na die naweek praat as Martin weer weg is.” sê sy saggies en skielik is die kos bitter in haar mond. Sy sit haar mes en vurk neer en drink haar bier klaar. “Los die skottelgoed ek sal môre was.” sê Elzaan en stap kamer toe.

Dis lekker koel buite en sy besluit om eerder onder die lapa te gaan sit. Die huis is te warm en die waaiers help nie regtig nie. Sy betrap haar self weer aan Natalie dink. Sy mag nie, sy moenie, sy sal dit nie kan regkry om Dirk vir 'n egskeiding te vra nie. Sy moet vergeet van haar en weer daardie gevoelens onderdruk. Sy het dit voorheen reggekry, sy sal dit weer kan doen. Natalie bly in haar kop maal, sy kry haar nie daaruit nie. Sy sit vanaand alleen daar in Kaapstad en Elzaan wonder wat sy op hierdie oomblik doen. Weer gaan haar gedagtes terug na vanmiddag toe, toe Natalie in haar vasloop.

Sy skrik toe Dirk skielik hier by haar in die donker praat. “O hier is jy, ek dog jy’s kamer toe?” sê vra hy.

“Ja, dis bietjie koeler hier buite, die huis is so warm. Ons moet ernstig daaraan dink om lugreëling in die huis te laat aanbring.” sê Elzaan.

“Ons moet dit oorweeg ja. Wel, ek gaan maar inkruip. Lekker slaap Zaan.” Dirk is die ene bewerasie toe hy in sy kamer kom. Hy was besig om iemand te bel toe hy Elzaan daar buite gewaar en het vinnig die foon afgesit. Sy mag nie uitvind nie, hy wil nie hê sy moet seerkry nie. Hy het Deidre drie maande gelede ontmoet en tot 'n maand terug was hulle net vriende. Hulle het gevoelens vir mekaar ontwikkel en sedertdien sien hulle mekaar gereeld. Hy en Elzaan deel in elk geval nie meer 'n kamer vir die afgelope twee jaar nie en hy is 'n man met behoeftes, is die verskoning wat hy aanvoer. In sy kamer stuur hy vir Deidre 'n SMS om te verduidelik hoekom hy die foon in haar oor doodgedruk het.

 

               Natalie se vliegtuig land in Kaapstad. Sy kry 'n huurmotor na haar hotel wat klaar gereël is deur hoofkantoor. Die hele vlug deur het sy aan Elzaan gedink. Hoekom het sy so onverwags by haar huis opgedaag, wou sy rêrig vir Rufus kom sien het, wonder sy. Sy weet sy moet dié vrou uit haar kop uitkry. Elzaan is getroud en sy het nog nooit in iemand se verhouding of huwelik ingemeng nie, sy is ook nie van plan om nou te begin nie. Sy is nou hier om te werk en moet haar kop skoon  kry. Dis amper tyd vir aandete en Natalie kom nou eers agter hoe honger sy is.

 

               'n Ouerige vrou stap na Natalie waar sy sit en eet in die hotel se eetsaal. “Jammer, om te pla, maar is u dalk Natalie Daniels?” vra sy.

Natalie sit haar mes en vurk neer, knik bevestigend en sluk die kos wat sy nog besig was om te kou. Sy vat 'n slukkie water en praat toe met die vrou. “Ja, wie is u?”

“Leonie Kemp, Hoof Kliënte bestuurder. Ek was by ontvangs toe het hulle gesê dat jy hier in die eetsaal is.” Leoni wys na die stoel. “Mag ek?”

“Ja, natuurlik, ek is alleen en verwag nie gaste nie. Kan ek vir jou iets bestel, om te eet of te drink?”

“Koppie koffie asseblief. Leon praat net met lof van jou, eintlik kan hy nie ophou praat oor jou nie. Toe dag ek, ek moet jou kom ontmoet voor die vergaderings môre begin, want dan gaan daar nie tyd wees vir kuier en kletspraatjies nie.”

Natalie kry 'n blos op haar wange. Sy het beslis nie geweet sy is so gewild by die groot base in Kaapstad nie. Dit gee haar 'n lekker gevoel en sy vergeet vir 'n wyle van Elzaan, Pretoria en haar seer, gebroke hart.

Hulle gesels die hele aand net oor werk en kom nie agter hoe die tyd verbyvlieg nie. “O my genade, kyk hoe laat is dit al en ons moet môre vroeg op.” sê Leonie en knip haar gesprek kort. Sy staan ook sommer op. “Bly ek kon jou ontmoet voor die ander, lekker slaap Natalie.” groet sy en skarrel by die deur uit.

Natalie kyk haar fronsend agterna en bestel vir haar nog ’n glasie wyn. Dis half tien, glad nie so laat nie, dink sy by haar self. Natalie kuier tot elf uur daardie aand met haar self om die tafel voor sy kamer toe stap. Dis nou te laat om te bel, sy wou nog laat weet het dat sy veilig in Kaapstad aangekom het, maar dit het skoon by haar uitgewaai.

Natalie tap vir haar badwater in en lê lank in die bad voor sy uitklim en gaan inkruip. Elzaan flits kort-kort deur haar gedagtes, maar sy probeer dit onderdruk. Ek mag nie aan haar dink nie, sê sy vir haar self.

 

               Hulle breek vir middag ete en Natalie voel nogal moeg na gisteraand se laat slaap. Darem nog net twee dae dan is dit naweek, dink sy. Leonie roep haar nader sodat sy haar vinnig aan die ander bestuurders kan voor stel. Daar is nie regtig tyd vir kuier nie, hulle moet net eet en terugkeer raadsaal toe. Almal is baie vriendelik en is bly dat hulle haar uiteindelik kon ontmoet het. Hulle noem ook, net soos Leonie gisteraand, dat Leon, die CEO van die maatskappy met groot lof van haar praat. Een uur keer hulle weer terug en gaan voort met besprekings. Vieruur die middag verdaag hulle en elkeen kies koers na hulle verskillende hotelle. Natalie stap sommer reguit eetsaal toe. Sy het nie veel geëet met middagete nie, al was die tafels gelaai met die grootste en lekkerste verskeidenheid van versnaperinge. Sy bestel vir haar ’n steak en ’n groot glas wyn. Ek beter nie weer vanaand so laat opbly nie, dink sy by haar self. Sy besluit om gou huis toe te bel, terwyl sy vir haar kos wag.

 

               Sy stap af strand toe na ete. Die hotel is lekker naby aan die strand. Sy gaan sit op ’n rots en tuur oor die see.

“Hoekom sit ’n mooi vrou soos jy, alleen na ’n sonsondergang en kyk?” vra iemand en Natalie ruk uit haar gedagtewêreld uit.

“O dis jy. Sjoe, jy’t my laat skrik.”  sê sy en sug verlig. Dis Kurt Herbst, die Hoof Finansiële bestuurder. Hy gaan sit langs haar op die rots.

“Dis darem nêrens so mooi soos hier in die Kaap nie.” sê hy en begin haar uitvra oor waar sy vandaan kom en waar sy tans bly vir die duur van die vergadering. Natalie beaam sy stelling en beantwoord sy vrae. Hulle gesels lekker en hy bied aan om saam met haar hotel toe te stap, dit is al sterk skemer en mens kan nie meer waag om alleen in die strate te loop nie. Hy sien haar af by haar hotel en kies koers na syne.

               Die volgende dag in die raadsaal, trek Kurt die stoel langs Natalie uit en neem plaas langs haar. Sy glimlag vriendelik vir hom toe hy groet. Die res van die dag en volgende dag se vergadering verloop vlot en Vrydagaand breek uiteindelik aan. Kurt en nog ’n paar van die bestuurders gaan klub toe en hy neul by Natalie om saam te gaan. Sy stem naderhand in en hulle kry haar 8 uur die aand voor haar hotel. Die klomp geniet hulle gate uit en Kurt dans kort-kort met Natalie. Sy begin wonder of sy hom nie moet vertel dat sy gay is nie, want dit lyk vir haar hy begin in haar belangstel en dit sal sy glad nie duld nie. Na hulle twee vir die soveelste keer weer gedans het, besluit sy dat dit nou die tyd is om hom te vertel. Sy trek hom aan sy arm na die kroeg toe, dis nie juis stiller daar nie, maar sy gaan in elk geval vir hom vertel, sodat hy kan weet waar hy met haar staan.

Kurt begin lag en Natalie wil haar net vir hom vervies. “Ons weet Natalie, ek is ook gay. Ek vind jou geselskap aangenaam, jy’s intelligent, ek kan hoor jy weet waarvan jy praat en dan is jy mooi én nog ’n bok vir sports. ’n Ander gay vrou sou nie na ’n straight klub toe gegaan het nie.” verduidelik hy aan Natalie.

“Wat bedoel jy ‘ons’ weet?” vra sy hom oor die eerste deel van sy verduideliking. Hy lag weer, lig haar in dat Leon hulle vertel het en dis hoekom hy gevoel het hy gaan aanklank by haar vind, omdat hulle dieselfde seksuele oriëntasie het.

“Wel, om die waarheid te sê, dis die eerste keer dat ek in ’n ander klub as ’n gay klub kom.” bieg sy. “Ek was maar aanvanklik skepties.” vervolg sy.

Kurt gryp haar weer en sy volg hom na die dansvloer. Hulle dans tot in die vroeë oggend ure voor hulle terugkeer hotel toe.

 

               “Martin!” gil Elzaan toe hy by die voordeur instap. “Dirk, Martin is hier!” roep sy na haar man. Sy omhels haar seun en gee hom ’n klapsoen op die mond.

“Jissie ma!” sis hy deur sy tande en vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Ma weet mos nou al hoe voel ek oor die soenery.” berispe hy haar.

“Ag, wat is dit nou met jou, jy sal my ou seuntjie bly tot ek stok oud is.” sê sy en trek hom nader. Elzaan soen hom nou sommer in die nek en net waar sy plek kry. Martin rol sy oë en laat haar maar begaan. Eers toe gewaar sy die jong man wat in die deur staan en die petalje staan en dophou met ’n glimlag op sy gesig. Sy los vir Martin en loop na hom toe. “Martin, stel jy ons nie voor nie?” vra sy en steek haar hand na die jong man uit. “Ek’s Elzaan, Martin se ma, soos jy seker al agtergekom het.”

“Dis Johan ma.” is al wat hy sê. “Kan ons hieroor aan tafel praat asseblief.” vra hy en skielik klink haar seun vir haar so volwasse. “Waar’s pa?”

“Ek het hom geroep, hy is seker in die garage besig met een of ander iets. Gaan roep hom solank, die kos is ook amper reg. Ek gaan solank tafel dek.” sê Elzaan en stap kombuis toe. Toe sy terugdraai om eetkamer toe te gaan, staan Johan agter haar.

“Kan ek Mevrou help tafel dek of met die kos, wat moet nog gedoen word.” vra hy en Elzaan weet haar vermoede is reg, Martin is gay en Johan is sy lewensmaat. Sy sidder om te dink wat Dirk hiervan gaan sê, hier sit hy met twee gay mense in sy lewe. Sy ruk haar self reg en bedank Johan vir die hulp wat hy aanbied. Sy beduie hom waar die eetgerei en tafeldoeke gebêre word en hy is heel tuis toe hy begin tafel dek.

Martin kom ingestap van die garage af. “Pa sê hy sal nou hier wees, hy was net gou sy hande.” lig hy sy ma in.

Johan skep die kos in bakke en Elzaan en Martin dra dit tafel toe. Dirk kom ingestap en kyk fronsend na die vreemde gesiggie in die kombuis. Martin stel sy pa aan Johan voor. Hulle neem plaas aan die eetkamertafel en Dirk vra die seën oor die kos. Martin skep sommer lepels vol kos in en voer aan dat koshuiskos nie so baie lekker is nie. “Ek hoop ma het poeding gemaak?” vra hy en vat weer ’n hap kos.

Elzaan lag en hou haar hand voor haar mond. “Hemel Martin, mens sou sweer jy kry glad nie kos in die koshuis nie? Nee, ek het nie poeding gemaak nie.”

“As Mevrou nie gaan omgee nie, sal ek later vir ons poeding maak.” bied Johan beleefd aan. Elzaan glimlag vir hom en knik dat dit reg is.

Dirk se oë rek en Elzaan sien dit, sy besef dat hy ook nou besig is om twee en twee by mekaar te tel en dat hy so pas vier gekry het. Dirk draai nie doekies om nie. “Martin is daar iets wat jy ons wil vertel?” vra hy en klink streng.

Martin sit sy mes en vurk neer en kyk na Johan. “Ja, pa. Ek ... ek en Johan ... ek is gay.” struikel Martin oor sy woorde.

Dirk vlieg regop en skop sy stoel agtertoe. “Ek’s by die lapa as iemand my soek.” blaf hy.

Martin is sy enigste seun en hy is glad nie verfynd nie, as hy maar net was, sou hulle lankal so iets kon vermoed het. Elzaan kyk na Martin en sy kan sien dat die trane vlak in sy oë lê. Johan staan op en begin die tafel afdek.

 “Martin, moenie jou aan jou pa se houding steur nie, laat dit eers net bietjie insink, môre voel hy beter.” probeer sy haar enigste kind troos.

“En ma? Hoe voel ma hier oor?” vra Martin.

“Martin, jy’s my kind, dit maak nie saak wie jy liefkry nie. Jy sal altyd my kind bly.” sê sy en stap na hom toe. Hy staan op en hulle omhels mekaar. Dit laat Elzaan terugdink toe sy die dag vir haar ouers gesê het van haar en Lana. As hulle maar net dieselfde woorde vir haar kon sê, wat sy vanaand vir haar seun gesê het. Sy kry trane in haar oë, maar ruk haar self dadelik reg. “Kom ons gaan help vir Johan, ek dink hy het al klaar al die skottelgoed gewas.”

 

               Daardie aand in die kamer, toe Dirk kom lê, vat Elzaan hom kort. “Dit was onnodig Dirk. Dis jou kind, wees tog net bly dat hy liefde gevind het.”

“Dis jou skuld!” sê hy vir haar. Elzaan is stom geslaan.

“Wat is my skuld Dirk? Dink jy om homoseksueel te wees is oorerflik?” vra sy woedend.

“Nou wat anders dan, hoekom is hy dan so? Dis oor sy ma ...” hy voltooi nie sy sin nie.

“Oor sy ma wat Dirk, sê dit man, moenie ’n lafaard wees nie, sê dis oor sy ma ’n lesbiër is. Dis belaglik sê ek jou en ek sê weer, dis nié oorerflik nié, kry dit in jou kop! Jy beter jou seun om verskoning gaan vra Dirk! Moenie later by my kom huil as hy jou gaan verstoot oor jou houding teenoor hom nie.” Elzaan klim in die bed en draai haar rug na Dirk. Hulle deel alleenlik ’n kamer wanneer Martin vir naweke kom kuier. Elzaan voel eerder om op die mat te gaan slaap, maar bly egter in die bed lê. Sy weet die tyd is naby om Dirk vir ’n egskeiding te vra. Sy beter môre met Martin daaroor praat sodat hy voorbereid kan wees en nie geskok wees as sy ma en pa skielik skei nie, dink sy en met die gedagte raak sy aan die slaap.

 

               Dirk is al uit die bed toe Elzaan wakker word. Sy staan op en stap kombuis toe om solank vir haar en die seuns koffie te gaan maak. Sy kry ’n verrassing in die kombuis. Johan het ontbyt gemaak, hy en Martin sit sommer in die kombuis en eet. Johan haal haar bord met spek en eiers uit die mikrogolf oond en druk gou twee snye brood in die rooster. Hy skink vir haar koffie en sy kan net glimlag. “Martin., waar kry jy hom? Jy moet hom klou seun, hy’s goud werd.” skerts Elzaan. Terwyl sy smul aan haar ontbyt verneem sy waar Dirk is, maar hulle het hom ook nie met ’n oog gesien nie.

“Ek het toe nooit gisteraand die poeding gemaak nie. As dit reg is met Mevrou, sou ek dit vandag wil maak?” sê Johan.

“Hou op om vir my mevrou te sê man. My naam is Elzaan. Dit sal lekker wees, dankie Johan.” Elzaan begin uitvra oor waar hulle ontmoet het en wanneer Martin besef het dat hy gay is en hoekom hy nie vroeër na haar toe gekom het nie. Hulle sit die hele oggend en klets in die kombuis en kom nie agter dat dit al middag is nie en sy sit nog steeds in haar slaap klere. Dit voel vir Elzaan of sy nog nader aan haar seun gekom het, net jammer sy pa voel anders. Sy sal vandag met Martin oor haar en sy pa se beplande egskeiding praat. Vir eers moet sy gaan bad en uit haar slaap klere kom. Sy maak verskoning en draf kamer toe.

 

               Deidre staan agter Dirk en masseer sy nek en skouers. Hy het ’n geweldige hoofpyn en dis omdat hy hom weer bloedig vererg het toe hy haar van sy seun se seksuele voorkeur vertel het. “Waar het ek gefaal Deidre, waar?” vra hy moedeloos.

“Dirk, kalmeer, dis niemand se skuld nie en jy kan niks daaraan doen nie. Dis iets wat gebeur, dit is net daar. Dit word net op verskillende tye ontwikkel. Party mense weet van kleins af en ander kom dit eers agter wanneer hulle volwasse is.”

Dirk vat haar arm en trek haar om sodat sy voor hom kom staan. “Wat sou ek sonder jou gedoen het.” sê hy en soen haar met oorgawe. “Ek beter seker weer ry, Elzaan gaan juis vra waar ek was.” Hy soen Deidre weer en sy stap saam met hom voordeur toe.

“Wanneer sien ek jou weer, moet nou nie weer so lank wegbly nie?” sê, vra sy en tuit haar lippe vir hom. Hy plant ’n soen op haar getuite lippe en stap kar toe.

 

               Elzaan roep Martin kamer toe, na sy gebad het. “Daar is iets wat ek met jou moet bespreek. Dis iets wat ek lankal oordink en ek wil eers met jou praat voor ek met jou pa gaan praat.”

Martin gaan sit lang haar op die bed en lyk baie bekommerd. “Wat is dit ma, is daar iets fout?” vra hy.

“Ek en jou pa slaap nou al vir ’n geruime tyd nie meer in dieselfde kamer nie, Martin. Elke keer as jy kom kuier, trek jou pa by my in die kamer in, net tot jy weer weg is. Ek wil jou pa vra vir ’n egskeiding. Ek kan nie langer in dié liefdelose huwelik bly nie.” sê sy en sug van verligting dat sy nou uiteindelik met Martin daaroor kon praat. Sy bly egter stil van haar gevoel vir vrouens en dat sy iemand ontmoet het wat daardie gevoel weer oopgekrap het.

 Martin kyk sy ma geskok aan. “Ek kan dit nie glo nie Ma. Is julle dan nie meer lief vir mekaar nie?”

Elzaan speel nou oop kaarte met haar seun. “My kind, ek en jou pa was nog nooit lief vir mekaar nie. Dit was ’n gerieflikheids huwelik.” vertel Elzaan verder.

“Ek verstaan nie, wat bedoel ma?” vra Martin en kyk haar fronsend aan.

Sal sy nou vandag met die hele sak patats uitkom of nie, wonder sy. “Ek sal jou op ’n ander keer vertel wat ek daarmee bedoel, ek wou net hê jy moet weet dat ek en jou pa binnekort gaan skei. Ek gaan Maandagaand na werk met hom praat. Ek is seker hy sal ook verlig wees.”

 

               Die huis is weer stil nadat Martin en Johan gegroet en gery het. “Johan is ’n oulik seun.” waag Elzaan om iets oor Johan kwyt te raak.

“Ja, as jy so sê.” antwoord Dirk kortaf.

Elzaan staan op en gaan kamer toe, sy het nie lus om in Dirk se dikmond vas te kyk nie. Soos sy nou voel, sê sy sommer nou vir hom dat sy ’n egskeiding wil hê, maar sy weerhou haar daarvan. Sy gaan beslis môreaand met hom praat.

Daar’s ’n klop aan die kamerdeur en Dirk stap in. “Jammer, dat ek so kortaf met jou was, jy verdien dit nie.” vra hy om verskoning.

“Ag, los dit Dirk.” sê sy en klim in die bed. Elzaan hoor die kamerdeur toegaan en sy wonder hoe sy tot hier gekom het, hoe sy vir vyf en twintig jaar so kon lewe.

 

               Dis Vrydag en Natalie kan nie wag dat die vergadering moet verdaag nie. Sy kan nie wag om op die vliegtuig te kom, terug Pretoria toe nie.

Die CEO van die maatskappy wys na haar en vra haar om op te staan. “Julle almal het haar nou al ontmoet, voor dit baie van haar gehoor. Julle het almal saamgestem dat sy die aangewese persoon vir die pos is en nou moet ons net van haar hoor of sy die pos sal aanvaar.” Natalie se oë rek groot, sy was nie ’n bevordering te wagte nie. “Natalie, ek bied jou die pos van Nasionale Verkoop bestuurder aan en hoop van harte dat jy dit sal aanvaar.” sê Leon, hy staan uit sy stoel op en hou sy hand na Natalie. Sy stap na hom en vat sy uitgesteekte hand vas.

“Sjoe, ek was nie ’n bevordering te wagte nie. Dankie, dit sal vir my ’n voorreg wees en ek sal my nuwe pligte na die beste van my vermoë uitvoer.” Natalie skud sy hand en die res van die bestuurders kom wens haar ook geluk.

“Ons kan verdaag en dit by die restaurant hier naby gaan vier.” stel Leon voor.

Die restaurant is net oorkant die pad van hoofkantoor. Hulle almal stap daarheen en dit voel vir Natalie of sy sweef. Sy kan nie glo sy het bevordering gekry nie. Sy kan nie wag om vir haar vriende in Pretoria te vertel nie en wonder skielik wat Elzaan op hierdie oomblik doen. Sy verlang na haar ... Sy wonder of Elzaan aan haar ook dink. Hoekom sou sy nou aan haar dink, sy’s getroud, dink Natalie en vervies haar vir haar self.

 

               Teen Vrydag middag is Elzaan so geïrriteerd, sy kan slange vang. Sy het nog nie met Dirk gepraat nie, want sy het nog nie die moed bymekaargeskraap nie en sy mis vir Natalie. Sy probeer haar in haar geestes oog oproep, maar sy is nie meer seker of dit is hoe sy lyk nie. Die twee weke was te lank en gaan hopeloos te stadig verby. Sy wonder of sy weer ’n draai by Rufus moet gaan maak, dalk het haar vriende vir haar nuus oor Natalie.

“Tish, ek gaan bietjie vroeër ry vanaand, sal jy my afsprake kort hou asb.” vra sy en stap terug in haar kantoor.

Die dag gaan traag verby en Elzaan sug sommer kliphard toe dit half vier is. Die spreekkamer is gewoonlik oop tot 5uur en later as daar noodgevalle is. Sy groet Tish en vat die pad na Natalie se huis.

Sy bekyk die huis, klou die stuurwiel vas en wonder of sy nie nou sommer kinderagtig is nie. Sy wou net die kar weer aansluit toe sy Rufus en Tina gewaar. Dis te laat om weg te koets, want Tina het haar reeds gesien en stap nader.

“Dis nou ’n verrassing Dr. Ferreira! Hoe gaan dit met dokter?” groet sy opgewek. “Natalie is nog nie terug nie, ons verwag haar so teen 10uur of 11uur vanaand, maar dokter is welkom om in te kom.” nooi sy Elzaan vriendelik uit.

Elzaan vervies haar vir die vroumens se voorbarigheid. “Ek is hier vir my pasiënt, juffrou.” lig sy Tina amper kortaf  in. Vir Rufus, hoe gaan dit nou met hom? Hy lyk aansienlik goed?” sê sy en kyk na Rufus waar hy op die gras rondrol.

Tina kyk Elzaan op en af en is amper lus om vir haar te sê: “Ja, right! Jy’s hier vir Rufus.” maar sou weerhou haar egter daarvan en glimlag vriendelik toe Elzaan weer in haar rigting kyk.

Elzaan glimlag effens styf terug en maak verskoning dat sy nog ander pasiënte het om te besoek. Sy groet en klim terug in haar kar.

Sy het al om die hoek verdwyn toe staan Tina nog steeds op die sypaadjie en staar in die rigting wat Elzaan se kar verdwyn het. ’n Groot glimlag verskyn op haar mond, sy roep na Rufus en hulle draf die huis binne. Sy gryp haar foon en bel vir Natalie. Teleurgesteld sit Tina die foon neer, want daar’s geen antwoord nie. Sy wou so graag vir Natalie vertel het dat haar of altans Rufus se dokter na haar kom soek het. Sy stap kombuis om solank aandete te gaan begin, want die ander twee sal seker binnekort tuis wees.

 

               Elzaan kry Dirk op die sitkamerbank lê, toe sy die huis binne stap. “Jy’s lekker vroeg?” sê sy gemaak bly. Sy moet vanaand met hom praat en sy’t gehoop hy gaan weer laat werk soos altyd. Sy loop kombuis toe en gaan haal vleis uit die vrieskas uit en sit dit in die mikrogolf oond om te ontdooi. Sy vat vir haar ’n bier en vat vir Dirk ook een saam.

“Dankie, Zaan. Jy is ook vroeër as gewoonlik, is daar ’n rede voor?” vra hy, maar kyk nie van die TV af op nie.

“Dirk, ons moet praat.” sê sy en huiwer voor sy aangaan. “Dirk... ons leef al lankal nie meer soos man en vrou nie.” waag sy die eerste sin.

Dirk sit die TV af en kyk na haar. Hy is glad nie verbaas nie.” Ek het gewonder wanneer gaan ons hierdie gesprek hê? Jy het lank uitgehou, ek was dit al vroeër te wagte. Wat nou van Martin, is jy nie bang oor wat hy gaan sê of dink nie?”

“Ek het klaar met Martin gepraat en hom alles vertel.” Elzaan kyk na Dirk en sy is verbaas dat hy nie eers geskok lyk nie, eerder amper verheug.

“Het jy iemand, ’n vrou ontmoet Zaan?” vra hy reguit en sien dadelik dat sy geskok is met sy vraag.

“Dirk! Wat maak dit nou saak? Ek wil uit die huwelik uit! Ek wil skei Dirk.” Elzaan vat ’n groot sluk bier. Dit voel of daar ’n reuse las van haar skouers afgerol het. Sy kyk na Dirk, maar praat nie weer nie.

Dirk staan op en drink sy blikkie bier leeg. “Ek sal ’n skei saak aanhangig maak Elzaan.” sê hy en stap voordeur toe. Sommer van die deur af skree hy vir haar: “Ek skat dit moet seker so gou moontlik gedoen word?” hy wag nie vir haar antwoord nie en stap uit.

Elzaan staar voor haar uit, die blikkie bier is al warm in haar hande. Sy kan nie glo dit het so glad verloop nie, sy was bang hy gaan weer sy humeur verloor of dat hy sou weier om te skei. Sy maak haar oë toe en die blik bier val uit haar hande uit. Sy spring regop en draf kombuis om ’n nat lap te gaan haal.  Sy vee die bier van die vloer af op en loop terug kombuis toe. Elzaan sit die vleis terug in die vrieskas, sy is nie nou lus vir eet nie, wat nog van kos maak en stap na haar kamer toe. Sy sal nou moet ander blyplek soek, dink sy en gaan lê op die bed.

 

               Dirk klop aan Deidre se deur. Sy ruk die deur oop, toe sy deur die loergaatjie sien dis hy en gee hom ’n vet soen op die mond.

“Dis ’n lekker verrassing! Jy kom mos nooit die tyd van die aand kuier nie, is daar dan fout?” vra sy en is vir ’n oomblik bekommerd.

“Elzaan het my gevra om te skei.” deel hy Deidre, sommer daar in die voordeur, nog voor hy ingaan, mee.

Deidre uiter ’n gilletjie. “Ek kan nie glo dat jy nou uiteindelik ontslae gaan wees van haar nie. Uiteindelik kan ons bymekaar wees!” juig sy en trek hom aan die arm by die voordeur in.

Hulle lag soos twee skoolkinders en val saam op die rusbank neer. Dirk soen Deidre soos hy haar nog nooit gesoen het nie en sy snak na haar asem.

“Ek’s lief vir jou vroumens.” bevestig Dirk sy gevoel vir haar.

Deidre kyk hom met groot oë aan. “Dirk... rêrig? Dis die eerste keer dat jy dit vir my sê.” dit klink of sy in trane wil uitbars. “Dirk... ek’s lief vir jou ook.” sê sy terwyl ’n traan oor haar wang loop.

Dirk trek haar nader en hou haar toegevou in sy arms. Dis die eerste keer in 25jaar dat hy iemand werklik lief het en dat iemand hom ook lief het.

Hy het later lief geword vir Elzaan, omdat sy vir hom ’n seun gegee het en hom met alles bygestaan het, maar dit was ’n anderse liefde. Dit was nie ’n liefde wat man en vrou gedeel het nie, hy het haar jammer gekry en haar pa ’n belofte gemaak, wat hy vir 25 jaar gehou het. Dis nog ’n swaar las wat op Dirk se skouers lê en hy weet hy sal dit een of ander tyd vir Elzaan moet vertel. Sy het nie ’n goeie band met haar ouers gehad nie en nou gaan sy hulle nog meer haat, al is hulle nie meer daar nie.

Deidre smeek by Dirk om oor te bly en hy voldoen aan haar versoek. Hy gee nie meer om of hy huis toe gaan of nie en hy hoef nou ook nie meer aan Elzaan te verduidelik waar hy was nie. Hy voel soos ’n vry man, vry vir die eerste keer in 25jaar. As sy geheim ook eers uit is, sal hy eers heeltemal vry wees.

 

               Vaak-vaak kom Tina, Faith en Brian die kombuis ingestap. Hulle kan hulle oë nie glo nie. Natalie sit al en koffie drink.

“Jis maar julle kan laat slaap!” raas sy met hulle, maar dadelik is daar ’n breë glimlag op haar gesig.

“Natalie!” gil die drie so gelyk en storm op haar af. Hulle wil gelyk gesoen en gedruk word. “Hoekom het jy ons nie wakker gemaak nie, ons wou jou verwelkom het.”

“Ek wou julle juis nie steur nie en het sommer by ’n hotel op die lughawe geslaap, my vlug was vertraag en ons het eers 11uur gisteraand geland.” lig sy hulle vlugtig in. Ek kan nie glo dat Rufus se geblaf julle nie wakker gemaak het nie.” sy lag en vryf weer oor Rufus se kop. Hy sit nog die hele tyd langs haar met sy kop op haar knie.

Die drie bombardeer haar met vrae. Sy vertel hulle alles breedvoerig en hulle gil weer kliphard toe sy hulle van haar bevordering vertel. Hulle wens haar geluk en Brian pluk ’n bottel sjampanje uit die yskas uit. Faith beduie vir hom dat dit nog te vroeg is en teleurgesteld sit hy die bottel weer terug in die yskas.

Soos gewoonlik is Tina voor op die wa en kan nie ’n minuut langer wag nie. “Dokter Elzaan Ferreira was hier gister... sy het vir Rufus kom besoek...” sê Tina en sy klink so geheimsinnig.

“Ag, dit was gaaf van haar.” sê Natalie.

“Natalie! Ag, kom nou, glo jy dit? Sy het jou kom soek man!” Tina klink skoon vies omdat haar vriendin so naïef is.

Natalie staan op en stap sitkamer toe en die ander drie sien nie hoe breed die glimlag op haar gesig is nie. Sy vervang dadelik die glimlag  met ’n sedige gesig toe sy omdraai en op die rusbank gaan sit. Sy is in haar noppies oor die nuus, maar wil nie hê die ander moet nou al weet hoe sy voel nie.

“Tina, ek is nie naïef nie, net realisties. Sy is getroud, het ’n kind en is nie eers gay nie. Hoekom moet ek nou bly word omdat sy vir Rufus kom besoek het.” verduidelik sy aan Tina en sommer die ander twee ook. “Ek gaan nou my tasse uitpak, gaan ons ’n vleisie op die kole gooi vanmiddag?” vra sy en stap vinnig kamer toe sonder om vir ’n antwoord te wag, sy kan haar self nie meer inhou nie. Natalie maak die kamerdeur toe en leun daarteen. Duiweltjies draai in haar oë en sy kan nie ophou glimlag nie. Dan voel die dokter dieselfde oor my ook, dink sy by haar self. Sy gryp haar tasse en al dansende pak sy dit uit.

Tina kyk vraend na die ander twee. “Sy is nie eers opgewonde nie. Nie eers ’n sweempie van blydskap nie. Niks nie!” sê Tina afgehaal.

“Ag, kom daar oor Tina!” snou Faith haar toe. “Ek het jou gesê jy moet wag voor jy haar vertel. Kom ons gaan trek aan, ons moet seker goed gaan koop vir die braai vanmiddag.” sê sy en stap na haar kamer.

Brian het verdwyn terwyl Tina haar so sit en verknies het. Klaar gebad en aangetrek kom hy terug gestap sitkamer toe. Hy sit net ’n rukkie en wag voor Tina en Faith weer verskyn.

“Kom ek sal bestuur.” sê hy. “Nat! Gaan jy saam?” roep hy na haar.

Sy roep terug vanuit haar kamer dat hulle moet ry en kry wat alles nodig is.

 

               “Stap julle twee solank, ek kom nou.” sê Tina en staan en wag dat hulle moet loop voor sy koers kry na die veearts. Sy het Elzaan se kar voor die spreekkamers gesien staan en geweet sy is aan diens. Sy maak die deur oop en stap binne. Daar is niemand binne en lui die klokkie wat op die toonbank staan.

Elzaan kom die ontvangs binne gestap en begin verskoning maak omdat die ontvangsklerk nie op haar pos is nie. Sy bly egter stil toe sy sien wie voor haar staan. “Is Rufus siek juffrou?” vra sy bekommerd.

Tina skud haar kop ontkennend en glimlag. “Nee, dokter. Ek is hier om te sê Nat, Natalie is terug van die Kaap af en ons hou vanmiddag ’n braai vir haar. Wil dokter nie saamkom braai nie?” vra sy en staan met gekruisde vingers agter haar rug.

Elzaan is uit die veld geslaan. Sy ruk haar egter gou reg. “Weet Natalie hiervan?”

“Ja... nee... Wel, sy weet van die braai maar nie...” sy voltooi nie haar sin nie. Elzaan loop kopskuddend om die toonbank en gaan staan daaragter.

“Nou wil jy hê ek moet ongenooid daar aankom? Juffrou ek dink jy’s sommer nou laf.” sê sy half vies. “As jy my nou sal verskoon, ek het nog ’n paar goedjies om af te handel voor ek die spreekkamer kan sluit.” sê Elzaan beslis en stap weer terug na haar kantoor.

Half verleë sluit Tina weer by Faith en Brian aan in die winkel.
“En nou, dit lyk of jy slegte tyding gekry het?” vra Faith.

“Ek het...” sê Tina en brei nie uit nie. Sy wag tot hulle terug is in die kar en vertel vir hulle wat sy gedoen het.

Faith voel lus om Tina ’n oorveeg te gee. “Die dokter was reg, jy is laf. Hoe kon jy nou so iets staan en doen? Ag nee, Tina, word groot man!” raas Faith.

“Nee, man Tina, mens moenie die liefde aanjaag nie. As hulle vir mekaar bedoel is, sal hulle bymekaar uitkom. Los dit nou toe.” preek Brian nou ook vir haar.

Die hele pad terug huis toe praat Tina nie ’n woord nie. Toe hulle indraai by Natalie se huis, spring sy regop. “Ek het dit!” gil sy. “Ek sal dokter Ferreira bel en sê Rufus is siek, sy moet dadelik na hom kom kyk!” gil sy weer opgewonde.

“En hier dog ons jy sit en sulk die hele pad. Meanwhile sit jy en plannetjies beraam!” gil Brian vir haar. Hy het haar begin jammer kry oor sy so stil is en wou net om verskoning vra, toe sy met die verspotte idee vorendag kom.

“Waag dit net en ek draai jou nek om!” dreig Faith haar terwyl sy die inkopies uit die kar haal.

“Sjoe, Faith! Wie se nek wil jy breek?” vra Natalie toe sy uitkom om hulle te help dra.

Faith wys met haar wysvinger na Tina en stap die huis in. Natalie kyk vraend na Tina. Sy trek haar skouers op en sê net dat sy niks gedoen het nie, dat Faith al die hele week mislik is met haar. Natalie skud net haar kop en vat van die pakkies in huis toe. Brian staan oopmond na Tina en kyk. Net toe hy iets wou sê, stap sy verby hom, steek vir hom tong uit en draf vinnig agter Natalie aan die huis binne.

 

               Elzaan sak neer op die stoel agter haar lessenaar, haar een been onder haar ingevou soos gewoonlik. Sy dink aan Tina se uitnodiging en wens dat sy dit kon aanvaar, sy sou wat wou gee om Natalie weer te sien. Sy wonder of Natalie dieselfde oor haar voel. Sy moet, want hoekom anders sou haar vriendin haar wou uitnooi na die braai by haar huis, dink Elzaan by haar self. Sy kyk op die horlosie teen die muur, dis 12uur. Genade, dink sy, sy sit al vir ’n uur en dink oor Natalie. Elzaan begin haar lessenaar opruim, kyk of al die vensters toe is en loop voordeur toe. Sy sluit die deur en klim in haar kar. Sal sy daar om ry en weer maak of sy vir Rufus gaan besoek? Elzaan voeg die daad by die woord en ry na Natalie se huis, die begeerte om haar te sien is so groot, sy gee nie op hierdie oomblik om of sy van haar self ’n gek gaan maak of nie.

 

               Sy klop aan die voordeur maar niemand maak oop nie. Dan is hulle seker klaar besig om te braai agter op die erf, dink sy en stap om die huis. Rufus gewaar haar, blaffende hardloop hy haar tegemoet. Elzaan buk af op haar hurke en druk en streel Rufus. Sy kom regop toe sy Tina gewaar en glimlag verleë vir haar. Tina glimlag en knipoog vir Elzaan. Sy trek haar aan die arm na waar die ander onder die sonsambrele sit.

“Kyk wie is hier!” roep Tina luidkeels uit. “Dokter het vir Rufus kom kuier!” voeg sy sarkasties by en steek weer haar tong vir Brian en Faith uit, so dat Elzaan dit nie oplet nie.

Natalie laat ook nou van haar hoor. ”Dokter is jy so besorg oor al jou pasiënte?” vra sy, maar dis Tina wat antwoord.

“Nee, Nats, net vir dié wie se base sy like.”

Natalie swaai om en gluur Tina aan. Sy kyk weer terug na Elzaan. “Ek vra om verskoning vir my ongepoetste vriendin se gedrag dokter.” sê sy en gluur Tina weer aan. “Sit asseblief dokter”

“Ai, ek het nou al so baie gevra, noem my Elzaan, asseblief. Ek voel ongemaklik as julle die hele tyd, dokter sê.” vra sy en kyk na Natalie en haar drie vriende.

Almal stem in om Elzaan op haar naam te noem en Natalie stel weer haar vriende voor. Sy kry ’n glas en vra wat Elzaan wil drink. Elzaan vra ’n bier, maar verkies om dit nie uit ’n glas te drink nie. Sy vat die blikkie bier by Natalie en hulle vingers raak aan mekaar. ’n Rilling gaan deur hulle al twee en hulle oë ontmoet. Natalie kan nie haar oë van Elzaan se bruin oë af wegskeur nie. Daar is beslis ’n vonk tussen hulle en al twee besef dit ook nou. Die twee voel skielik ongemaklik toe hulle agter kom, dat niemand praat nie en dat 3 pare oë op hulle gevestig is.

 

               Na 5 die middag maak Elzaan verskoning en bedank hulle vir die ete en gasvryheid. Natalie stap saam met haar kar toe.

“Mag ek jou weer sien?” vra Elzaan sonder om te skroom.

“Wat van jou man?” vra Natalie verbaas. “Liewers nie Elzaan, dit gaan net eindig in ’n ramp.”

“Ek wil jou graag uitneem vir ete volgende week, as jy natuurlik wil.” vra Elzaan amper smekend.

Natalie sug, sy hou nie daarvan om tweede viool te speel nie en sy gaan nie nou begin nie. Sy gaan beslis nie as die ‘ander vrou’ bekend staan nie. Sy skud haar kop heen-en-weer. “Elzaan... nee, jy... ons soek vir moeilikheid.” sê Natalie half fluisterend.

Elzaan klim in die kar, waai vir Natalie en trek weg. Sy moet haar net weer sien, sy het haar voete die eerste keer al onder haar uitgeslaan. Hoekom het sy nie vir haar gesê, dat sy en Dirk gaan skei nie, dink sy by haar self. Sy ry terug na die spreekkamers. Elzaan spring uit die kar uit en sluit die deur oop. Sy haas haar na die staal kabinet en soek Rufus se lêer. “Net waarna ek soek!” sê sy opgewonde en gee die lêer ’n soen. Vinnig blaai sy daar deur en skryf Natalie se selnommer neer toe sy dit vind. Elzaan bêre weer die lêer, sluit die voordeur van die spreekkamers en ry huis toe. Sy sou nie kon wag vir Maandag wanneer sy weer by die spreekkamers is om dan eers Natalie se nommer te kry nie. “Ek gaan sommer vanaand al vir haar ’n SMS stuur en verduidelik dat ek op skei staan.” gesels Elzaan kliphard in die kar met haar self.

Dirk kom uit die huis toe haar kar stilhou. “Waar was jy die hele tyd Elzaan?” vra hy en klink bekommerd.

“Ek was... het sommer net bietjie rondgery.” jok sy vir hom en vra om verskoning dat sy nie laat weet het dat sy gaan laat wees nie.

Saam stap hulle die huis in. Dirk vertel vir haar dat hy ‘’n prokureur se nommer gekry het en dat hy Maandagoggend sal bel en afspraak maak. Elzaan knik haar kop en kry vir haar ’n bier in die yskas.

“Wil jy ook ’n bier hê?” vra sy van die kombuis af.

“Nee, dankie Zaan. Ek glo ook nie jy moet nou een drink nie, ons het belangrike sake waaroor ons moet praat en ons albei moet oop kop en nugter hieroor besluit.” verduidelik Dirk sy antwoord aan haar.

Sy staan ’n rukkie na die blikkie bier en kyk, bêre dit weer in die yskas en stap sitkamer toe. Sy gaan sit op die stoel oorkant Dirk en beveel hom om te praat.

Laat nag, val Elzaan moeg op haar bed neer. Hulle het ’n kompromie bereik en nou is sy uitgeput. Sy kyk vlugtig op haar horlosie en besef dis te laat om nou ’n SMS vir Natalie te stuur. Met Natalie in haar gedagtes raak sy aan die slaap.

 

               Tina klop Natalie op die rug. “Sien jy! Ek het gesê sy kom vir jou kuier en nié vir Rufus nie!” sê sy opgewonde. Sy koggel die ander twee ook. Hulle vervies hulle vir haar en gaan slaap.

Natalie lê op die rusbank en Tina sit voor haar op die mat. Sy brand van nuuskierigheid. “En? Gaan julle mekaar weer sien?” vra Tina, sy kan dit nie meer hou nie.

“Nee!” antwoord Natalie kortaf.

Tina kyk haar met groot oë aan. “Nou vir wat nie? Sy’s ’n catch missy!”

Natalie spring regop. “Sy’s getroud Tina! Ek gaan beslis nié die ander vrou wees nie!” gil sy vies vir Tina. Sy hardloop na haar kamer en niemand hoor toe sy haar gesig in haar kussing druk en hartverskeurend begin huil nie.

Tina trek net haar skouers op en maak ook spore kamer toe. Sy kan dit nie verstaan nie, die twee is vir mekaar bedoel. Hoekom wil Natalie niks met Elzaan te doen hê nie. Dink net hoe opwindend gaan die skelm ontmoetings wees, die skelm kuiertjies. Dit kan net Natalie se lewe bietjie opkikker, dink Tina by haar self. Sy klap haar tong en skakel die lig af.

 

               Natalie het goed aangepas in haar nuwe pos. Haar drie vriende bly nou amper permanent in haar huis, want sy is kort-kort uitstedig en sy wil nie hê Rufus moet alleen bly nie. Tina het nog so paar keer aan haar gekarring oor Elzaan en toe maar later moed opgegee.

Elzaan het ’n paar keer die selfoon opgetel, op Natalie se nommer gedruk, maar dit nooit laat lui aan die ander kant nie. Die SMS wat sy daardie Sondag vir haar getik het, is nog net so ongestuur op haar foon. Natalie bly maal in haar gedagtes, sy kan haar nie vergeet nie, sy wil haar nie vergeet nie.

Dirk het ’n skei saak aanhangig gemaak en die prokureur het hom belowe dat hy oor 2 maande ’n vry man sal wees. Dirk het ook aan hom vertel wat hy en Elzaan besluit het. Hy sal Martin se studies aanhou betaal en dan bly hy in die huis aan. Dit was Elzaan se keuse. Sy sal vir haar ’n kleiner huis of woonstel kry.

 

               Elzaan kyk rond in haar nuwe huis, sy huur dit net eers en wanneer sy genoeg geld by mekaar het, wil sy dit graag koop. Dis nie te vêr van haar werk af nie en dis naby ’n groot winkelsentrum.

Uiteindelik is sy ’n vry vrou, na 25 jaar, dink sy by haar self en ’n glimlag pluk om haar mond hoeke. Sy wonder net hoe gaan sy vir Natalie die hof maak, sy het lanklaas na iemand probeer vry, sy lag sommer hardop by die gedagte. Sy haal haar selfoon uit haar baadjiesak en soek Natalie se nommer. Dit lui en Natalie antwoord.

“Dis ek Elzaan Natalie. Dokter Ferreira.”

Natalie bly ’n ruk stil, sy het nie woorde nie. Sy weet net sy wil nog steeds nie by ’n getroude vrou betrokke raak nie, al vind sy hierdie vrou verskriklik betowerend. “Hallo Elzaan.” sy probeer so kalm as moontlik klink, al galop haar hart onstuimig.

“Mag ek vir jou kom kuier... ek jou wil graag weer sien?” vra Elzaan ietwat huiwerig.

Natalie sug, die vrou gaan nie opgee nie, miskien moet sy haar maar sien en dit weereens mooi aan haar verduidelik dat sy nié in ’n getroude vrou belangstel nie. “Ja, goed, wanneer wil jy oorkom?” antwoord sy sugtend.

Elzaan hoor die sug en dit maak seer, dit pyn diep in haar hart. Sy moet dalk die foon net dooddruk, haar nommer wys in elk geval nie op ander fone se skerms nie, so Natalie sal haar nie kan terugskakel nie. Dalk voel die vrou nie dieselfde oor haar nie en dat sy nou ’n oorlas van haar self maak. Verskeie gedagtes maal nou deur Elzaan se kop.

“Elzaan! Ek vra wanneer wil jy kom kuier?” herhaal Natalie haar vraag ongeduldig.

Elzaan ruk uit haar gedagtewêreld. “Ek weet nie, wanneer sal dit vir jou geleë wees?” antwoord sy.

Hulle maak ’n afspraak met mekaar vir die volgende Saterdag en Elzaan druk die foon dood. Sy wonder of sy tog nie maar ’n fout gemaak het nie, moes sy nie maar met haar klug van ’n getroude lewe voortgegaan het nie. Sy het standvastigheid, sekuriteit en bystand gehad, nou het sy niks. Elzaan voel verskriklik alleen vanaand. Sy gaan bad en klim vroeg in die bed. Natalie en die gesprek wat hulle gehad het maal in haar kop. Ure lank lê sy wakker voor sy uiteindelik aan die slaap raak.

 

               Daar’s ’n klop aan die voordeur. Natalie kyk op haar horlosie. Sy’s op tyd, dink sy en gaan maak die deur oop. Sy snak na haar asem, sy kan nie glo dis dieselfde Elzaan wat sy 2 maande gelede gesien het nie. Haar hare is kort gesny. Sy het ’n swart denim broek, swart hemp, ’n swart leerbaadjie aan en swart stewels om daar by te pas. Natalie se voete is weereens onder haar uitgeslaan. Die vorige keer was dit oor Elzaan se houding, haar hande, haar manier van sit en hoe sy werk. Vanaand is dit oor haar kleredrag en oor haar self.

“Elzaan?” vra sy net om dood seker te maak.

“Ja, hoekom klink jy so verbaas?” vra sy en lag.

“Jy lyk stunning en as ek mag sê, jy lyk handsome vanaand.” Natalie nooi haar na binne en bied vir haar iets te drinke aan.

Sy gooi vir haar ’n glas wyn in en bring vir Elzaan ’n bier. Natalie staan haar eers weer en betrag vanuit die kombuisdeur en vorm die woord ‘wow’ met haar mond. Sy wonder nou wat het haar man gesê toe sy die huis so verlaat het, of het sy iewers by openbare toilette gou gaan verklee, sy ruk haar self reg en stap sitkamer toe met hulle drankies.

Natalie draai nie doekies om nie en begin met die gesprek. “Ek het ingestem om jou te sien vanaand want daar is iets wat ek aan jou moet verduidelik.” sê sy en vat ’n groot sluk wyn.

“Ek is bly jy’t ingestem om my te sien, want ek het ook iets op die hart.” sê Elzaan en sit haar bier op die koffietafel neer. Sy staan op en gaan sit langs Natalie op die rusbank.

Natalie begin ongemaklik voel. Sy het ’n begeerte om hierdie vrou te soen en sy weet as Elzaan haar in haar arms gaan neem, alle weerstand gaan verkrummel en sy al haar morele standaarde kwyt gaan wees. Sy staan op en gaan skuif een van die portrette reg teen die muur.

Elzaan wil, wil glimlag. Sjoe, dis moeiliker as wat sy gedink het, dink sy by haar self. Of die vrou speel net hard to get, dink sy weer. Sy bly sit op die bank en kyk na Natalie. “Ek is mal oor jou Nat.” bieg sy.

Natalie se hart gee ’n ruk. Dit voel of sy dieselfde woorde kan uitskree, maar sy weerhou haar daarvan. Sy wil tot voor Elzaan loop haar kop in haar hande neem, haar dwing om af te buk na haar toe en haar lippe op hare te voel, sy wil haar soen soos wat sy nog nooit voorheen gesoen was nie. ’n Brandende begeerte wel in haar op om haar lyf teen hare te voel, sy wil haar hande op haar lyf hê. Sy los die portret en vlieg om.

“Elzaan, ek is jammer, maar ek gaan nie met ’n getroude vrou lol nie. Ek het nog nooit daarvan gehou om tweede viool te speel nie en gaan nie nou begin nie. Ek sal bly wees as jy nou asseblief sal gaan!” sê Natalie beslis en stap voordeur toe. Sy maak die deur oop en wag dat Elzaan moet groet.

Elzaan loop voordeur toe en druk dit toe. Sy vat Natalie aan die hand en lei haar terug rusbank toe. Haar hand streel oor Natalie se nek en net toe sy wou verduidelik vlieg Natalie weer op.

“Jy maak dat ek nou ongeskik raak. Ek het jou mooi gevra, nou sê ek jou... ” sy voltooi egter nie haar sin nie. Elzaan se lippe brand op hare en vir ’n breukdeel van ’n sekonde gee sy toe. Sy ruk los en vee haar mond af. “Jou skurk! Jy maak dit net moeilik vir jou self Elzaan!”

“Gee my net ’n oomblik om te verduidelik Nat. Ek is...”

Sy word in die rede geval. “Ek wil nie verskonings of verduidelikings hoor nie. Ja, jy’s ongelukkig in jou huwelik, jy was nog al die jare gay, jy het getrou om jou ouers tevrede te stel. Ag, ek het al die verskonings al gehoor. Spaar jou asem en verdwyn net uit my lewe uit!” Natalie is buite haar self. Sy hardloop deur toe en pluk dit weer oop, die trane loop oor haar wange toe sy weer op Elzaan skree. “Loop! Loop net!”

“Natalie!” gil Elzaan vir haar. “Ek is geskei!” spel sy dit vir haar uit. Sy staar na Natalie, sy wens so sy kan haar in haar arms neem, maar sy staan doodstil en wag vir reaksie van haar af.

Natalie kyk na Elzaan en klap die deur toe. Sy hardloop na haar toe en bars uit in trane. “Nou hoekom sê jy nie so nie, jou simpel vroumens!” skel sy vir oulaas tussen die trane deur.

Elzaan vou haar in haar arms toe en ’n glimlag speel om haar mond. Sy maak haar oë toe en sug dankbaar. “Ek het probeer, maar jy wou my nie ’n kans gee nie. Jy wou my net uit jou huis gooi toe dinge bietjie warm raak.”

Saam gaan sit hulle weer op die rusbank, Natalie nog steeds in haar arms. Sy begin haar storie vir haar vertel.

Natalie het opgehou huil en lê nou aandagtig en luister na wat Elzaan vir haar vertel. Sy kry skaam oor haar gedrag en dit wat sy haar toegesnou het, want dit was absoluut die waarheid. Elzaan wás ongelukkig in haar huwelik, sy ís gay en sy hét met ’n man getrou om haar ouers tevrede te stel.

“Gaan jy my ooit kan vergewe oor wat ek kwytgeraak het?” vra Natalie.

Elzaan glimlag en neem haar weer in haar arms. Hulle oë ontmoet en die keer kyk niemand weg nie. “My bruinoog veearts.” fluister Natalie. Die keer gee sy haar self volkome oor aan Elzaan se hartstogtelike soene.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  

No comments:

Post a Comment