Die land was nog
altyd gaande oor Maxine Roberts, Suid-Afrika se gewildste aktrise. Hulle kry
soveel navrae oor haar dat die redakteur van, Seisoene, die glans tydskrif vir
vyf-en-veertig plus, besluit het om ’n artikel oor haar te doen.
“Verdomp!” Sy
spring op en stamp die stoel dat hy trek.
Ten aanskoue van
haar kollegas, loop sy op en af in haar kantoor en beduie in alle rigtings soos
sy met haarself praat. Die klomp loer onderlangs na mekaar en giggel te lekker.
Jenny gaan sit
en skuif weer agter haar lessenaar in. Sy kyk op toe iemand teen die kantoor se
ruit tik. Sy sug. Dis haar baas. Wat sou hy nou weer wou hê?
Leonard beduie met
sy wysvinger dat hy haar wil sien.
Moedeloos staan sy
uit haar stoel uit op en drentel na sy kantoor. Sy gaan staan arms gevou teen
die deurkosyn en wag om te hoor wat hy op die hart het.
“Ek hoor Maxine
het al weer op jou ge-cancel?”
Jenny ruk haar
sommer dadelik op. “Goeie genade! Nuus trek vinnig in die kantoor!” Sê sy
aspris hard dat almal haar kan hoor en kyk agtertoe om te sien wie skuldig lyk,
maar almal gaan ewe vroom aan met hulle werk.
“Dis nie my skuld
nie! Volgens haar agent is sy besig met iets, daarom dat sy gekanselleer het.”
Leonard roep haar
terug toe sy wil loop. “Daar begin ’n nuwe ou hier môre. Mike, of so iets.”
“En hoekom is dit
vir my belangrik?” vra Jenny en kyk hom uit die hoogte aan.
Leonard vererg
hom. “Dis jou fotograaf! Is dit belangrik genoeg?”
Jenny klap haar
tong. “Ek het jou gesê ek het nie iemand nodig nie, ek kom goed regop my eie!”
Sy vlieg kortom en storm terug na haar kantoor.
Ciska sien die
onweer wolke oor haar vriendin se kop en stap nader. “Is dit veilig, kan ek
maar inkom?” vra sy en loer om die deur.
Jenny nooi haar in
en begin dadelik vertel wat haar al weer so omgekrap het.
Ciska ken hierdie
vriendin van haar maar alte goed. Jenny het ’n baie kort lont en dit vat
partykeer nie eers ’n brandende vuurhoutjie om daai lont te laat vlam vat én te
laat ontplof nie.
“Kom ons gaan kry
koffie, ek stick jou.”
“Kan ons sommer
hier drink. Ek het anyway so baie werk, kan regtig nie nou uitgaan nie.”
Hulle stap saam
kombuis toe. Ciska sit die bekers reg terwyl Jenny teen die kas leun en mor oor
die nuwe fotograaf.
“Jenny, hou nou op
kerm! Dalk is die ou oulik en gaan julle lekker saamwerk!” Ciska raak nou moeg
oor die klaery en probeer haar gedagtes in ’n ander rigting kry. “Wat was
Maxine se verskoning die keer?”
“Sy’s te besig. Ai
Ciska, ek wil daai vrou so bitter graag ontmoet.” Sy staar droomverlore voor
haar uit en sug.
“Jy’s rêrig ga-ga oor haar nè?”
Vandat Jenny vir Maxine
Roberts die eerste keer tydens ’n opvoering in die staatsteater en toe weer in
die Pierneef-teater gesien het, was sy gaande oor haar. Sy besit al die DVD’s en
video kassette van flieks waarin Maxine gespeel het. Ook het sy rakke vol
kassette van opvoerings wat sy bygewoon het en met haar videokamera afgeneem
het. Dis al jare lank haar grootste begeerte om haar te ontmoet. Nou dat sy by
die tydskrif, Seisoene werk en hoof rubriek skrywer is, staan sy ’n goeie kans
om haar wel te ontmoet, maar Maxine bly hulle afsprake kanselleer.
Donderdagoggend is Jenny vroeg op kantoor en wag in spanning
dat Mike sy verskyning moet maak. Teen half nege is daar nog geen teken van
haar nuwe fotograaf nie en sy besluit om solank koffie in die kombuis te gaan
kry.
Sy leun teen die
tafel met haar rug na die deur toe en skrik haar boeglam toe ’n manspersoon
skielik agter haar praat. Sy vlieg om en kyk teen ’n fris gespierde bolyf vas.
Sy volg die kontoere van sy bolyf tot by sy gesig en haar mond val oop.
“As jy groen was
het ek jou Hulk genoem.”
“Ek is Mike.” Hy glimlag
verleë en steek sy hand na haar toe uit.
“Jenny. Ons gaan
saamwerk.” sê sy en skud sy hand.
“Ek het so afgelei. Leonard het gesê ek moet
net uitkyk vir die een, wat nie dink voor sy praat nie.”
“Die blikskottel!”
Mike begin lag.
“Nee, ek jok, ek maak ’n grap met jou. Wou jou maar net terug kry vir die groen
Hulk episode.”
Jenny rol haar oë
vir hom. “Okei, jy het my. Ek dink ons gaan goed oor die wegkom.” Sy maak vir
hom ook ’n beker koffie en stap na haar kantoor.
“So dis nou die
begaafde joernalis, Jenny Malan, se kantoor?” sê hy toe hy haar kantoor binne
stap en na die skrywers en joernalis van die jaar, toekennings teen die muur bekyk.
Omdat Jenny die
hoof rubriekskrywer is het sy, soos Leonard die redakteur, haar eie kantoor.
Nie so privaat soos syne nie. Voor en aan die regterkant van die kantoor is
twee groot glas vensters, in plaas van toegeboude mure.
Sy kyk hom skeef
aan. “Ek weet nou nie van die begaafde nie, maar ja, dis my kantoor. Sit dat ek
jou kan touwys maak. Ek sal jou nou-nou aan almal gaan voorstel.”
Na hulle klaar
koffie gedrink het en sy hom die reëls en regulasies verduidelik het, wys Jenny
hom die binne kantoor en stel hom aan die personeel voor. Almal, veral die
vroue-garde ontvang hom hartlik en Mike geniet die aandag terdeë.
“Soos jy kan sien
is hier nie nog kantore nie. Elkeen werk by ’n cubicle. Hier is joune. Lig net
jou kop op en jy kan steeds die res van die span sien.” Sy los hom by sy
lessenaar en keer terug na hare toe.
Dis nog net die hoofartikel wat gedoen moet word, dan is die
tydskrif reg vir druk en publikasie. Jenny moes inderhaas ’n ander aktrise vir ’n
onderhoud kry. Haar artikel bly altyd vir laaste, want hulle glo vas dat hulle vir
Maxine gaan kry vir ’n onderhoud. Telkemale sonder welslae.
Jenny en Mike stop
die volgende middag voor Alicia Jonker se huis. Sy stap hulle tegemoet, toe
hulle by die klein hekkie oopmaak om in te gaan.
Ook een van die
land se beste aktrises en het eers op die ouderdom van vyf en veertig,
beroemdheid verwerf. Sy is nou vyf jaar in die vermaak bedryf en vertel haar
verhaal aan Jenny.
Mike neem ’n paar
foto’s waar sy en Alicia die onderhoud voer voor hy die res van die sitkamer
afneem. Met toestemming van Alicia, stap hy na buite om die huis en tuin af te
neem.
Die verkeer is druk laatmiddag en Jenny wil iets oorkom
omdat hulle so lank vat om by die kantoor uit te kom.
“Dit was ’n
suksesvolle onderhoud sou ek sê.” Mike probeer Jenny se aandag van die verkeer
aftrek.
“As die verkeer
net wil vloei!” Sy kyk op haar horlosie en klou die stuurwiel stywer vas. “Jy
besef dat ons laat moet werk vanaand nè?”
Mike glimlag en
loer na die mooi vrou langs hom. “Ek gee nie om nie.”
Na ’n uur en ’n
half se gespook deur die verkeer, kom hulle by die kantoor gebou aan. Jenny hulle
draf die trappe op na hulle kantoor op die tweede vloer. Die skoonmakers is al
besig om die plek aan die kant te maak, toe hulle daar instorm. Sy drafstap na
haar kantoor, Mike kort op haar hakke.
“Jy kan my laptop
gebruik, die kamera se program is reeds daarop gelaai. Ek sal môre die CD saambring,
dan kan jy dit op jou PC installeer,” sê Jenny en hou die skootrekenaar uit na
Mike.
“Dankie. Ek sal
sommer my eie kamera saambring en net die program op die PC aflaai.” Mike vat
die skootrekenaar by haar en stap uit haar kantoor, na sy lessenaar.
“Waar gaan jy nou
heen? Kom sit hier en werk, my lessenaar is groot genoeg. Dis mos nou net ek en
jy wat hier is, hoekom wil jy nou so blerrie vêr gaan sit?”
Mike draai terug
en gaan sit voor haar lessenaar. Prop die skootrekenaar in en maak dit oop en
raak vasgevang in die foto’s wat hy geneem het.
Nie een van die
twee praat ’n woord nie. Al geluide wat gehoor word, is die tikkery op rekenaars
en Jenny wat kort-kort ’n paar knope los wanneer die woorde nie na haar sin wil
vloei nie.
“Ag nee, demmit!
Hier gaan ons vrek van die dors. Kom ons gaan kry eers koffie.” sê Jenny en
stoot die sleutelbord eenkant toe.
“Dankie tog, ek
dog ons gaan nooit breek nie.” Mike staan op en stap kombuis toe.
“Nee, nie daar
nie, hier onder!” sê sy en beduie met haar vinger af vloer toe.
Sy sluit die
kantoor en hulle draf die trappe afstap na Coffee Kettle.
“Dis die
koffiekroeg met die lekkerste cappuccino’s in die wêreld,” sê sy en bestel ook
sommer dadelik vir hulle elkeen een.
Hulle kuier daar tot
laat die nag. Vergete is die tydskrif en haar artikel wat moet klaar.
Half drie uur daardie oggend gee Jenny lang gape voor haar
rekenaar. Sy lig haar arms op en strek agteroor. Haar bloes span oor haar
borste en sien nie hoe Mike haar staan en betrag nie.
Sy’s ’n mooi vrou
en sexy daarby. Rondings wat menigte
twee keer sal laat kyk en hy hou van haar vurige humeur. Vurige vrouens trek
hom altyd aan. Hy kyk vinnig weg toe sy opvlieg.
“Ek’s klaar!”
Die drukker spoeg nog
’n paar velle papiere uit en in ’n netjiese hopie gaan sit sy haar artikel op Leonard
se tafel neer.
“Ons kan maar
gaan.” Sy blaas haar asem hard uit. “Sjoe, ek’s nou pootuit.”
Jenny sluit die
kantoor en hulle stap weer die trappe af
na die parkering. Sy klim in haar kar en waai vir Mike toe sy wegtrek. Sy
bekyk hom in die truspieël toe hy op sy motorfiets klim. Hy’s nogal aantreklik.
Haar gedagtes gaan
onmiddellik terug na Maxine. Wanneer sal sy ooit een van haar afsprake nakom?
Elf uur dieselfde oggend lui Jenny se selfoon.
“Waar die hel is
jy?” gil Leonard in haar oor toe sy die foon antwoord.
“Jissie! Ons het
tot na drie uur gewerk het. Ek gaan nie kantoor toe vandag nie.”
“Wel, Mike is hier
. . .”
Sy spring regop in
haar bed. “Ag Leonard, trek dan maar my geld af vir die dag, ek’s moeg en gaan
nie inkom nie!”
“Dis reg so Jenny,
ek glo nie Ciska sal omgee om Maxine Roberts terug te skakel nie.” Leonard
glimlag en sit die foon op die mikkie. Nie twee sekondes later nie, lui sy
foon. “Hello Jenny.”
Verbaas bly Jenny
eers stil. “Ek’s nou daar. Jy gee nie daai nommer vir Ciska nie!” Sy druk die selfoon
dood en gooi dit op die bed neer.
Leonard sit
agteroor in sy stoel en glimlag breed. Hy’t geweet Maxine se naam sal haar by die kantoor kry.
Ciska stap by Leonard se kantoor in en stel Maxine Roberts
aan hom voor. Hy beduie vir haar om te sit. “Dis nou ’n verrassing. Ek het
gedink ons moet jou skakel vir ’n afspraak.” Leonard keer Ciska toe sy wou
loop.
“Maar dis Jenny se
. . .” Ciska gaan sit gedwee toe hy haar aangluur.
“Wel, hier is ek
nou. Julle soek my glo lankal vir ’n onderhoud.”
Jenny bars by haar
baas se kantoor in. “Ek’s hier! Maxine Roberts se nommer asseblief.” roep sy
uit en staan bakhand voor Leonard.
Maxine kyk na Jenny
en kry ’n speelse glimlag om haar mond. “0837469897,” antwoord sy.
Vies kyk Jenny in
Maxine se rigting en krimp in een toe sy haar gewaar. “Ek . . . ek is jammer, ek het nie geweet u is reeds
hier nie. Ek dog . . . ek moes bel.”
Jenny struikel oor haar woorde en wens dat die aarde haar nou kan insluk.
Maxine lag hardop.
“So dis eintlik met jou wat ek dan moet praat.” Sy staan op, stap tot by Jenny
en steek haar hand uit. “Kom drink saam met my koffie.”
Jenny kyk na
Maxine se hand. Sy lig haar kop op en verdrink in Maxine se groot donker blou
oë. Asof in ’n trans, vat sy Maxine se
hand en gaap haar oopmond aan.
“Hier is mos ’n
plekkie hier naby as ek dit nie mis het nie?”
Jenny knik, maar
bly sprakeloos. Maxine Roberts in lewende lywe! Sy knip haar oë. Nee, sy droom
nie.
Maxine het haar
nog steeds aan die hand toe hulle Coffee Kettle binne stap. Sy trek haar hand
uit Jenny sin uit. “Meisie, is jy okei?”
Jenny knip weer
haar oë ’n paar keer en besef dat sy baie onprofessioneel optree. Sy kom tot
verhaal en haal diep asem “Ek’s jammer juffrou Roberts. Ek is net vreeslik
oorweldig met u teenwoordigheid en . . .”
“Wag, wag so
bietjie. Eerstens is ek nie juffrou nie maar Maxine en tweedens, hoekom so
formeel? Genade! Ek’s ’n plein Jane.”
Jenny hap na
woorde. Sy kan haar self skop. Dis nie hoe sy hulle ontmoeting voorgestel het
nie. Sy maak ’n totale gek van haar self en boonop het sy nou Maxine die josie
in vir haar.
“Maxine, jammer.
Kan ons asseblief weer begin? Ek is ’n verskriklike groot bewonderaar van u –
jou. Dis net . . . Wow!” Jenny sukkel om die regte woorde te kry om haar gevoel
vir hulle ontmoeting te beskryf. Sy glo nie Maxine sal dit op hierdie stadium
waardeer as sy vir haar moet sê dat sy eintlik verlief is op haar nie.
Maxine bestel vir
hulle koffie en hulle gaan sit by een van die tafels.
Sy betrag die
jonger vrou voor haar. Daar is iets anders in haar as in die ander joernaliste.
Sy hou van haar en dis duidelik dat die gevoel wederkerig is. “Goed, dan begin
ons oor.”
Jenny blaas haar
asem hoorbaar uit en is weer haar professionele self. “Ek’s bly ek kon u
uiteindelik ontmoet . . .” Sy bly stil toe Maxine haar kwaai aankyk.
“Ek’s Maxine, hou
op om vir my ‘u’ te sê.”
Jenny knik en
belowe dat sy haar op haar voornaam sal noem. Sy soek na haar skouer sak en
besef dat sy by die kantoor uit is sonder haar skryfgoed. Wat gaan Maxine van
haar dink? Die onderhoud wat sy haar loopbaan lank voor wag en sy is
onvoorbereid.
Sy voel in haar
broeksak, sy’t ook nie haar selfoon by haar nie, anders kon sy gou vir Mike
gebel het om dit vir haar te bring. Jenny besef dat sy die onderhoud sal moet
staak wanneer hulle klaar koffie gedrink het. Wanneer gaan sy nou weer ’n
afspraak kry, indien ooit?
’n Glimlag pluk om
Maxine se mondhoeke. Sy hou Jenny dop en besef dat die meisie naarstig na haar
skryfgoed soek. Maxine sit half skuins, met haar ken op die palm van haar hand
en verkyk haar aan die vrou voor haar.
Jenny, wat glad
nie daarvan bewus is dat Maxine haar dophou nie, hou later op met haar
gevroetel en besef dat sy drooggemaak het. Sy kyk op en vang Maxine se blik op
haar en kyk vinnig af na haar koffie.
“Jy’s ’n mooi vrou
Jenny.”
Jenny proes en
verstik toe sy ’n sluk van haar koffie vat. Amper die helfte daarvan het sy ook
op die tafel uitgestort. Die kelner is egter dadelik by om op te vee en bied
aan om vir haar ’n ander koppie koffie te bring.
“Dis my skuld dat
jy nie jou skryfgoed saamgebring het nie. Ek het jou omtrent daar uitgesleep.”
Maxine maak haar beursie oop, haal ’n visitekaartjie uit en skuif dit oor die
tafel na Jenny. “My adres is daar op. Hoe klink Saterdag die eerste Desember,
as jy beskikbaar is?”
Jenny se oë rek.
Sy knik haar kop. “Natuurlik sal ek wees.”
“Ek sal net weer
bevestig, so week voor die tyd. My skedule verander soos dag en nag.” Maxine
bly vir haar kyk. Sy kyk af na haar beker en besef dat Jenny baie jonger as sy
is, maar sy hou baie van haar. Sy kyk weer op na haar en vang Jenny se oë vas
in hare. Sy glimlag en raak liggies aan haar hand.
’n Tinteling gaan
deur Jenny toe sy Maxine se hand op hare voel. Sy skeur haar oë weg. As hierdie
vrou hier voor haar maar net weet hoe sy oor haar voel. Jenny se hart
bokspring. Sy wil liewer nie weer in Maxine se oë kyk nie, net nou verraai sy
haar self.
Maxine kan sien
Jenny is ongemaklik en vat dadelik haar hand weg. Sy staan op en maak
verskoning dat sy nog ander verpligtinge het om na te kom. “Dan sien ek jou Saterdag?”
“Ek kan nie wag
nie.” sê Jenny en kry weer ’n tintelende gevoel toe die ouer vrou haar hand vat
om te groet.
Sy kyk Maxine
agterna. Vir ’n rukkie sit sy nog by die tafel. Die gebeure maal deur haar kop.
Nog kan sy nie glo dat sy uiteindelik na al die jare, die aktrise, die vrou op
wie sy heimlik verlief is, ontmoet het nie.
Jenny ruk haarself
reg, betaal vir die koffie en stap terug kantoor toe. Rustig gaan sit sy op
haar stoel. Selfvoldaan vou sy haar hande agter haar kop en sit agteroor.
“Het jy nie werk
nie? Hoe was die onderhoud toe?” vra Leonard toe hy haar kantoor binnestap.
“Ek weet nie, ek gaan Saterdag, die eerste
Desember eers die onderhoud doen. Sy’t my na haar huis toe genooi.” Sy swaai
die visitekaartjie voor hom en pluk dit net betyds weg toe hy daarna gryp.
“Nou wat de hel
het jy die hele tyd gedoen?”
Jenny draai
vermakerig heen-en-weer met haar stoel. “Ons het koffie gedrink en toe vertel
sy my hoe mooi ek is.”
Leonard vererg hom
en storm by haar kantoor uit. Briesend draai hy terug en gaan staan in die
deur. “Jy beter dit nie opneuk nie Jenny!” Hy vlieg kortom terug na sy kantoor
en slaan die deur toe.
Jenny is nog in ’n
toestand van euforie oor Maxine en nie eers Leonard se humeur gaan haar daar
uitkry nie.
Mike stap haar
kantoor binne en plak hom neer. “Jis maar jy’s omtrent happy! Ek dog jy sou
Leonard al teen die tyd te lyf gegaan het na hy so op jou geskree het.”
“Ek het die vrou
van my drome ontmoet. Uiteindelik!”
“Wat?” Mike gluur
haar aan en frons. Jenny is . . . gay? Hoekom het niemand nog iets gesê nie! Hy
vlieg op vanuit die stoel en storm uit haar kantoor.
Ciska sit die
petalje en dophou. Dis die tweede persoon wat uit Jenny se kantoor storm
vandag. Nuuskierig stap sy nader en loer eers deur die venster na Jenny. Dit
lyk vir haar of sy half in ’n trans is.
Mike storm op haar
af. “Jy kon iets gesê het Ciska!”
“Wat?” Sy gluur
Mike aan. “Wat gaan met julle in die plek aan vandag?”
Hy sê niks verder
nie en gaan plak hom agter sy lessenaar neer.
Ciska gaan sit op
die punt van Jenny se tafel. “Wat maak jy met die mans in die plek. Eers storm
hulle by jou kantoor uit en nou is hulle sommer die hel in vir my ook?”
Jenny vlieg regop
en gryp Ciska aan die arm. “Kom, jy moet dit hoor!” Sy sleep haar kombuis toe
en vertel haar van die gebeure in die koffiekroeg.
Hulle spring soos
tienerdogters op en af en probeer hulle gille demp.
“Hemel Ciska, ek
kan nie wag nie.” Jenny is so opgewonde. Sy maak vir hulle koffie terwyl sy
weer in detail vir Ciska vertel.
Die volgende twee weke sleep verby. Jenny kan nie meer wag
dat Saterdag moet aanbreek nie. Dan ook weer, Maxine het nog nie bevestig nie
en dis al Donderdag. Sy’s die hele dag al knorrig en vlieg almal in wat net
skeef na haar kyk.
Mike het koek gebring,
hy vier vandag sy een maand herdenking. Almal het gedink hy’s vreeslik stuitig
om dit te vier, maar het gulsig saam aan die koek geëet toe hy begin uitdeel.
Jenny staan in die
kombuis teen een van die kaste en koffie drink toe Mike daar instap.
“Stukkie koek saam
met jou koffie?”
Sy skud haar kop
en draai haar rug na hom.
Hy sit die
skinkbord met koek op die tafel neer en gaan staan teen haar, met sy hande
weerskante van haar op die kas.
Jenny plak haar
beker op die kas neer dat die koffie so spat. “Die laaste ou wat so teen my kom
staan het, is vir die leeus gevoer!”
“O ja! En wie het
hom nogal afgeslag?”
Sy vlieg om en
gluur hom aan. “Ek het hom lewendig vir hulle gegooi! Gee nou pad asseblief!”
Sy probeer die groot man van haar af wegdruk.
“Vat net ’n
stukkie koek, dan loop ek.”
“Ek wil nie koek
hê nie! Ag, loop net! Jy’s blerrie orig!”
Mike bly teen haar
staan, al probeer sy hoe hard om hom weg te druk.
“Verskoon my.
Jammer, dat ek julle onderbreek. Hulle het gesê ek sal jou in die kombuis kry
en het my hierheen beduie. Kan ons gou praat, Jenny?”
Mike vlieg om. Jenny
se oë rek toe sy Maxine in die kombuisdeur sien staan. Sy stamp Mike weg en
stap nader aan die ouer vrou.
“Jy onderbreek
niks nie. Kom ons stap na my kantoor.”
Jenny stap voor om
die pad aan te wys terwyl Maxine haar volg.
Mike staan die
twee vrouens en agternakyk. Nou sal haar siel seker rus en hopelik sal haar bui
ook bedaar. Hy skud sy kop en stap terug na sy lessenaar.
Die ouer vrou neem
plaas in een van die gemakstoele in Jenny se kantoor. “Is dit nog reg vir
Saterdag?”
Jenny se oë rek. “Bevestig
jy die onderhoud?”
Maxine glimlag en
knik haar kop. “Beslis.”
“Ek en my
fotograaf sal daar wees?”
“O nee, jy hoef
nie ’n fotograaf saam te bring nie. Ek het iemand wat dit gaan doen.”
Hulle gesels nog
’n rukkie voor Maxine opstaan en verskoning maak. “Dis ’n oulike mannetjie wat
jy daar het, die ene in die kombuis. Jy kan hom maar saambring Saterdag.”
Jenny snak na
asem. “Nee! Ons is nie saam nie. Dis my fotograaf. Hy was net verspot daar in
die kombuis.” Sy begin ongemaklik rondtrippel. Hemel, nou dink die vrou sy’t ’n
boyfriend! Sy wil eerder vir haar vertel dat sy al jare lank verlief op haar
is.
“Ek verstaan
hartjie,” sê sy en knipoog vir haar.
Jenny glimlag
floutjies toe Maxine haar arm druk. Sy stap saam met haar tot by die hysbak,
wag dat die deur toemaak en pyl op Mike af waar hy by sy lessenaar sit.
“Sien jy nou! Met
jou origheid van netnou dink sy ons twee is ’n blerrie item!” Jenny vlieg om en
begin aanstap na haar kantoor.
Mike kyk op na
haar en frons. “Maar wat’s fout met my? Hoekom kan ons nie wees nie?”
Halfpad na haar
kantoor draai sy om en trek ’n gesig. “Weet jy! Jy’s nie my tipe nie man.”
Hy kry ’n wrang
trek om sy mond terwyl hy Jenny agterna staar. “Nee, Maxine is,” fluister hy en
kyk af na rekenaarskerm voor hom.
Saterdag oggend kwart voor elf, stop Jenny voor Maxine se
huis, nadat sy ’n paar keer om die blok moes ry, omdat sy te vroeg was. En haar
senuwees moes laat bedaar het. Die swaar metaal hekke swaai oop en sy ry deur.
Parkeer die kar ’n ent van die huis af en klim uit.
Maxine kom
aangestap, haar kaalvoete sak weg in die digte lowergroen grasperk.
’n Tinteling gaan
deur Jenny toe die ouer vrou haar vasdruk teen haar.
“Welkom. Kom ons
stap in.”
Dis ’n enorme huis
met ’n lekker ruim, half toegeboude stoep. Vier groot rottang stoele en twee rottang
banke staan daar, asook ’n koffietafel. Die res van die stoep is versier met
potplante en groot gipsbeelde van wilde diere.
Maxine beduie vir
haar om te sit terwyl sy by die deur inloer en na iemand roep.
’n Vrolike ouerige
vrou kom uitgestap. Sy stel haar sommer self voor aan Jenny en gaan sit op die
bank langs Maxine.
“Anzel is ’n
beroeps fotograaf, daarom dat ek gesê het jy hoef nie ene saam te bring nie.”
“Ons gaan seker
bietjies swem nou-nou? Sê eers, wat wil julle drink?”
Jenny verkyk haar
aan die borrelend vrou, wat weer opspring en binnetoe draf.
Sy skat haar ’n
paar jaar jonger as Maxine. Sy dra ’n klein ronde brilletjie op haar kop,
gebruik dit seker net vir lees. Haar lang bos krulhare, is agtertoe gebind en
hang laag in haar nek.
Anzel kom terug
met ’n skinkbord met drie glase en ’n beker lemoensap en trippel weer die huis
binne. Die keer is haar kamera om haar nek en ’n klompie handdoeke oor haar
arm. Sy gooi dit op een van die stoel neer en neem sommer dadelik ’n foto van
Jenny.
“Nee! Jy moet haar
afneem, nie vir my nie. Ek’s agter die kamera!” Jenny lag kliphard terwyl sy
haar gesig agter haar hande wegsteek.
Tevergeefs! Anzel
steur haar nie daaraan nie en hou aan foto’s neem. ’n Paar foto’s later, sit sy
die kamera op die tafel neer en haal haar bril van haar kop af. “Ek gaan swem,
dan kan julle bietjie gesels en kuier.” Sy kyk na Jenny. “Ek is seker jy
honderde vra wat jy wil vra.” Sy draai terug na Maxine en soen haar op die
voorkop. Knipoog vir Jenny toe sy omdraai en draf die trappies af swembad toe.
Sy trek haar asem
hoorbaar in en bly swembad toe kyk. Sy kan die vrou voor haar nie nou in die oë
kyk nie. Bang Maxine gaan die teleurstelling op haar gesig sien en die
waterigheid in haar oë opmerk. Sonder om na haar te kyk vra sy om die badkamer
te gebruik. Sy word beduie en haas haar daarheen.
Jenny gaan sit op
die rand van die bad en sug. Maxine ís gay, maar sy’t ’n lover. Sy kyk op na
die plafon. Hoe anders het sy nie hierdie dag voorgestel nie. Plaas sy maar vir
Mike saamgebring het.
Sy spoel die
toilet en maak haar oë versigtig nat om nie die oogomlyner te smeer nie. Jenny
ruk haarself reg en stap terug stoep toe.
Sy gaan sit op die
stoel nader aan Maxine. Sy blaas haar asem hard uit. “Sal ons dan maar begin?”
“Jy’s geskok?”
Jenny knip haar oë
’n paar keer. “Ekskuus. Ek verstaan nie?”
“Jy’t nie geweet
ek is gay nie. Dit staan op jou gesig geskryf. Jy’s teleurgesteld.
“Nee, ek is nie!
Ek het nie geweet nie, jy’s reg, maar het altyd gehoop jy is . . . ek bedoel,
um . . .” Jenny struikel oor haar woorde. Sy’s lus en
byt haar tong af oor wat sy kwytraak. Mike was reg, sy dink
nie voor sy praat nie.
Maxine se oë rek.
Sy skuif vorentoe op die bank. “Wat bedoel jy, jy’t gehoop ek is.” ’n Glimlag
pluk aan haar mondhoeke. Sy lig ’n wenkbrou en betrag die jonger vrou voor
haar. “Jy’s ook gay?”
Jenny knik.
“En jy’s . . . Is
jy verlief op my?”
’n Blos versprei
op Jenny se wange. “Ek dink hierdie onderhoud was dalk nie ’n goeie idee nie.”
Sy vlieg op.
“Nee, nee sit.
Hierdie gesprek kan interessant word. Nou’s ek spyt dat ek so baie gekanselleer
het.” Sy glimlag en skuif weer terug op die bank. “Vertel my, wanneer het jy
die eerste keer een van my optredes gesien?”
Jenny begin
uitbrei oor die versameling kassette met video-opnames van haar optredes. Dat
sy al haar flieks op DVD het en al haar konserte bygewoon het.
Maxine verkyk haar
aan die joernalis wat so borrelend oor haar praat. “Wanneer het jy besef jy’s
verlief op my?”
Die glimlag
verdwyn van Jenny se gesig. “Ag, jy’s nou verspot. Jy het iemand in jou lewe.
Hou nou op om my uit te vra.”
Die glimlag pluk
weer aan die ouer vrou se mondhoeke. “Interessant, baie interessant.”
Jenny kry haar
notaboekie en pen uit haar drasak en begin met haar vrae. Na die eerste drie
vra, val Maxine haar in die rede.
“Hoe oud is jy,
laat dertigs, vroeë veertigs?”
Jenny kyk op en gluur
haar aan. “Ek vra die vrae, nie jy nie.”
“Kom eet môre by
my.”
“Maxine! Jy moet
fokus. Ek het nog heelwat vrae.” Jenny kyk af na haar vraelys. “Hoe laat?” vra
sy en kyk op.
Hulle oë ontmoet.
Dit voel of Maxine tot in haar siel inkyk. ’n Tinteling gaan weer deur haar
lyf. Sy voel die krieweling in haar ingewande.
Die twee vrouens
word eers bewus van Anzel se teenwoordigheid toe waterdruppels teen hulle
gesigte spat. Sy swaai haar nat hare tussen hulle, soos ’n nat hond hom droog
skud en gaan plak haar nat lyf op Maxine se skoot.
“En toe, is julle
al klaar?”
“Nee, ons sal môre
moet aangaan. Ons gaan nou eers eet.”
Anzel lig haar van
Maxine skoot af. “Dis goed so my ding, dan is jy darem nie alleen wanneer ek
Kaap toe gaan nie.” Sy soen haar weer op die voorkop en stap die huis in.
Die twee se oë
ontmoet weer.
“Kom, dis seker al
na twaalf, ons gaan kry iets te ete. Anzel het gister al souttert en skonsies
gebak.”
Jenny knik en bêre
haar skryfgoed in haar drasak. Sy volg die ouer vrou na binne.
Die huis is ruim
en luuks. Hulle stap deur die sitkamer. Hout meubels met dik bruin gestoffeerde
kussings, staan die vertrek vol. Mooiste skilderye, natuur tonele en die Groot
Vyf, teen die mure. Swaer goudkleurige fluweel gordyne hang, oopgetrek voor die
gordyne. ’n Dik, room kleurige mat lê op die vloer.
Hulle stap die
kombuis binne. Borde met eetgoed, gepak op die tafel.
Anzel gee vir
Jenny ’n bord aan. “Kry vir jou, dan sit ons weer buite. Dis in elk geval
koeler daar.”
Sy skep vir haar
van die lekkernye op die bord en loer net vlugtig na Anzel. Dadelik kyk sy weg.
Die vrou staar haar glimlaggend aan.
Haar oë rek terwyl
sy haar asem saggies intrek. Sy stap terug stoep toe en wag dat die twee ouer
vrouens by haar aansluit, voor sy begin eet.
Hulle gesels oor
alles en nog wat.
“Ek sal môre my
studeerkamer vir jou wys. Eintlik trofee kamer, soos Anzel dit noem. Al my
toekennings en foto’s van optredes is daar ingeryg.”
“Dit sal wonderlik
wees, maar ek moet aanstaltes maak.” Jenny groet die twee vrouens. Sy klim in
haar kar en ry uit toe die hekke oopswaai.
Daardie aand kan Jenny nie
aan die slaap raak nie. Te opgewonde oor haar kuier, alleen by Maxine. Sy
spring regop in die bed. Hoe laat? Maxine het nooit gesê hoe laat sy daar moet
wees nie. Sy val skuins oor die bed en na nog ’n paar keer sê rondrol raak sy
aan die slaap.
Vroeg Sondagoggend word sy wakker. Sy sug
en dink aan die simpel droom van laas nag. Hoekom nou oor Anzel staan en droom,
hoekom nie liewer oor Maxine nie?
Traag staan sy op en draai die stort krane
oop.
Jenny voel verfris toe sy onder die stort
uitkom. Haar selfoon lê op die laaikas en sy trek hom nader. Eers moet sy die visitekaartjie
tussen haar notas soek voor sy die SMS kan stuur.
’n Halfuur later kry sy ’n SMS terug van
Maxine en glimlag breed toe sy dit lees. Sy moet tienuur daar wees. Dis oor ’n
halfuur! Sy storm klerekas toe, pluk ’n kniebroek en T-hemp uit. Vinnig sit sy
grimering aan en gryp haar kar sleutels.
Vir die tweede keer ry Jenny
deur die groot swaai hekke. Sy’t gedroom van die dag wanneer sy Maxine sal
ontmoet. Nooit het sy gedink sy sou die vrou van haar drome twee dae na mekaar
sien nie en by haar huis bowenal.
Die vrou met die staal grys hare stap haar
tegemoet. Steek haar arms uit en omhels haar.
Jenny se oë gaan toe van genot, toe sy
Maxine se lippe teen haar oor voel.
“Bly jy’s hier.” Sy vat haar aan die hand
en lei haar stoep toe.
Die
koffietafel is gedek met vars vrugteslaai, jogurt, muesli en ’n beker vol
lemoensap.
“Ek het gedink jy’t dalk nog nie ontbyt
gehad nie, omdat ek jou so vroeg laat kom het.”
Jenny knik. “Dit lyk heerlik. Ja, ek het
nie gedink aan eet toe jy sê ek moet tienuur hier wees nie.”
Die twee skep vir hulle vrugte en jogurt en
gesels oor alles.
Jenny gewaar fotoalbums op een van die
stoele lê. “Is dit vir my om deur te kyk?”
“Ja, ek het dit juis uitgebring voor ek
weer daarvan vergeet. Dis foto’s van agter die skerms met optredes en
verfilmings. Foto’s wat die publiek en jy ook nie van my gesien het nie.”
“Mag ek?” vra Jenny toe sy opstaan om haar
leë bakkie op die tafel neer te sit.
“Net as jy hier langs my gaan sit.” Maxine
glimlag toe sy sien hoe die vrou voor haar sê oë rek. “Ek moet jou beduie,
anders weet jy nie waarna jy kyk nie.”
Jenny voel hoe haar hart vinniger klop toe
sy op die bank gaan sit. Sy trek haar asem hoorbaar in toe Maxine se arm, agter
haar, op die ruglening laat rus.
Sy blaai deur die album, maar is heeltyd
bewus van die vrou langs haar se gesig so naby aan hare. Bewus van haar hand
wat kort-kort teen haar arm skuur wanneer sy na foto’s wys.
Jenny maak haar oë toe. Sy sien hulle twee,
nakend op ’n bed rondrol. Haar asemhaling word vinniger. Sy besef nie die vrou
het ophou praat nie. Sy’s net bewus van haar teenwoordigheid, haar nabyheid.
“Voel jy sleg?” Maxine tik haar aan die
arm. “Jenny!”
Jenny snak na haar asem. Haar oë fladder
oop. Sy kyk na Maxine.
“Is als reg? Ek praat maar jy antwoord
nie.”
“Ek was net so verdiep in jou stories en
foto’s dat ek . . .” Sy weet nie wat om te sê nie. Die vrou moet tog net nie
dink sy’t aan die slaap geraak nie. Jenny slaan die fotoalbum toe. “Ek dink ons
moet met die onderhoud aangaan.” Sy vlieg op en gaan sit op die stoel waar haar
drasak lê. Vroetel daarin en bring haar skryfgoed te voorskyn.
“Kom ek gaan wys jou eers my trofeekamer.”
Maxine staan op en steek haar hand uit.
’n Verbaasde Jenny kyk na die hand en toe
op, na die vrou voor haar. Sy glimlag, vat haar hand en laat haar deur die huis
lei na die trofeekamer.
Jenny staan voor elke
fotoraam, elke geraamde sertifikaat en elke toekenning. Lees daarop en verkyk
haar daar aan.
Maxine hou haar dop en stap nader. Sy plaas
haar hande op haar skouers.
Jenny se kop ruk en sy kyk effens na agter.
Styf gesnaard staan sy en wag. Wat gaan nou gebeur?
“Ek dink ons voel ewe aangetrokke tot
mekaar.”
Sy snak na haar asem. “Jy het iemand, jy
kan nie . . .”
Maxine draai haar om en hulle oë ontmoet
weer.
Jenny knip haar oë en kyk af terwyl sy haar
kop skud. Hoe graag sou sy hierdie vrou wou soen, maar dit kan nie.
’n Vinger onder haar ken, druk haar kop
effens omhoog. Haar oë volg die kontoere van Maxine se lippe. Jenny sluk ’n
droogheid in haar keel weg. Voor sy iets kon sê, is die ouer vrou se lippe op
hare. Sy word teen die toonkas vasgedruk. Van die beeldjies in die kas val om,
maar niemand gee om nie.
Die twee vrouens soen mekaar met oorgawe en
passie. Hulle lippe ontmoet weer en weer en weer. Tot hulle asemloos na mekaar
staar.
Jenny skeur haar oë eerste weg. Sy kom tot
verhaal. “Dalk moet ek liewer gaan.” Met haar hande teen Maxine se bors, druk
sy haar saggies weg.
“Nee, asseblief, bly.” Haar hand vryf
liggies oor die vrou voor haar se gesig en hare. “Doen die onderhoud wat jy so
lankal wou doen.”
Jenny glimlag floutjies en knik. “Nou goed
dan.”
Hulle stap terug stoep toe. Elkeen op sy
eie stoel. Die vraelys word afgehandel.
“Net ’n laaste vragie. Hoekom wil jy Anzel
verneuk?”
Maxine se kop ruk omhoog. Sy glimlag toe sy
sien dat Jenny haar skryfgoed gebêre het. “Jou eie persoonlike vraag?”
“Sy’s oulik en dit lyk of julle lief is vir
mekaar. Hoekom?”
“Ek verneuk haar nie.” Maxine lag. “Ons het
’n oop verhouding. Sien wie ons wil, kuier saam met wie ons wil, maar vanaand
slaap ons saam onder een dak en in een bed. Behalwe wanneer die een weg is vir
werk, natuurlik.”
“Hoekom? Dis mos nie lekker om wat joune
is, met iemand anders te deel nie?”
“Dis die ooreenkoms wat ons het. In my
werk, veral vroeër, was jy gedoem as jy gay was. Ek wou nooit hê iemand moes
dit weet nie. Anzel vergesel my ook nie na my funksies nie. Daar’s gewoonlik
mans aan my sy, vir my beeld. Ek weet julle jongmense verstaan dit nie. Vandag
is daar so baie kunstenaars wat uit die kas is, maar ek wil steeds daardie
heteroseksuele beeld oordra. Veral die ouer garde wat my steeds ophemel. Ek
gaan hulle dalk verloor as hulle moet uitvind hulle geliefde Maxine Roberts is
’n lesbiër.”
Jenny staar na die ouer vrou. Dit voel of
sy in trane kan uitbars. Nog nooit het iemand sy hart so oopgemaak teenoor
haar, soos vandag nie. Mens sal dink sy is stoksielalleen, omdat sy ’n leuen
lewe, maar sy is nie alleen nie.
“Maxine? Ek wil dit wat jy nou hier vertel
het, publiseer.”
Sy vlieg uit haar stoel op. “Is jy nou mal!
Ek het nou net vir jou verduidelik hoekom ek nie wil hê die wêreld moet weet
van my nie.”
“Dink net hoeveel aanhangers gaan jy bykry
as die gay gemeenskap van jou weet. Baie gays weet dalk nie eers van jou nie.
En as nog ’n bekende kunstenaar uit die kas klim . . .”
“Nee! Verstaan jy my nie. Nee! Ek dink jy
moet nou gaan.”
Jenny ry by die swaai hekke
uit. Trane loop oor haar wange en later kan sy nie ’n tree vêr sien tussen die
trane deur nie. ’n Blok verder parkeer sy die kar op ’n sypaadjie en huil haar
hart uit.
Hoe kon sy so stupid wees! Sy klou die
stuurwiel vas en lê met haar kop daarop. ’n Klop aan die venster laat haar
opkyk.
“Mevrou, is als reg?” ’n Verkeerskonstabel
staan gebukkend langs haar kar.
Sy glimlag vir hom terwyl sy kopknik.
Hy beduie sy moet die ruit afdraai.
Sy draai dit ’n entjie oop. “Ek het mos
gesê ek’s okei.”
“Het u gedrink, Mevrou?”
“Nee! Ek’s hartseer. Ek huil en kan nie
sien waar ek ry nie.”
Die verkeerskonstabel rol sy oë. “Goed
dan.” Hy draai om, stap terug na sy motorfiets en ry verder, pad af.
Jenny vee oor haar oë en sommer oor haar
hele gesig. “Wat ’n kak dag!” Sy sluit haar kar aan en ry terug huis toe.
Maandagoggend op kantoor, is
Jenny nie so vriendelik en jubelend soos almal gedink het sy gaan wees, na die
onderhoud met háár aktrise, nie. Sy lig net haar oë op toe Leonard haar kantoor
binne storm.
“En?”
“Wat, Leonard? Ek’s besig.”
“Jou onderhoud met dié Maxine Roberts?”
“Soos enige ander onderhoud.” Jenny kyk nie
weer op nie, sy bly op haar rekenaar tik.
“Wat de donner gaan nou weer met jou aan?
Jy was in ekstase Vrydag en nou sit jy en sulk!” Hy wag nie vir ’n antwoord
nie. Vlieg kortom en slaan haar kantoordeur toe.
Jenny rol haar oë toe daar ’n klop aan die
kantoordeur is. Die keer is dit Ciska.
“Ek weet jy’s besig, maar ek dink jy moet
koffie kry en praat.”
“Ek het drooggemaak, Ciska.” Jenny skuif
die sleutelbord agteruit en sug. “Big time, sê
ek jou.” Sy staan op. “Ek wil net nie hier drink nie.”
“Nee, ek vat jou Coffee Kettle toe. En jy
gaan voor begin en als vertel.”
Saam draf hulle die trappe na die
grondvloer en stap die koffiekroeg binne. Na hulle bestel het gaan sit hulle by
een van die hoek tafeltjies.
“Ek kan ok nie te veel sê nie, het haar
belowe.”
“Maar jy het die onderhoud gekry en jou
vrae gevra?” Ciska blaas haar asem
hoorbaar uit toe Jenny kopknik. “Dankie, tog. Nou waaroor al die bohaai. Vir
wie is jy nou eintlik die hel in?”
“Vir myself man! Deels ook omdat die naweek
nie volgens plan verloop het nie.”
“Is Maxine toe nie gay soos jy gehoop het nie?”
Jenny staar na haar. Ciska is haar beste
vriendin en hulle het geen geheime vir mekaar nie, maar wat antwoord sy nou op
die vraag. Sy is gay en sy het my gesoen, maar sy’t ’n girlfriend. En breek so,
haar belofte aan Maxine. Of jok sy en hou haar belofte?
“Dis nou bad, ou Jen. Ek het so gehoop sy’s
gay, vir jou part.” Ciska vat haar hand en gee dit ’n drukkie.
Jenny glimlag effens. Stilbly is ook ’n
antwoord, partykeer die verkeerde ene, maar in die geval is dit die moeite
werd.
“Oh well, shit happens.” Sy vat die beker
koffie met albei hande en teug rustig daaraan, terwyl sy deur die venster tuur.
Dis net beter as party dinge ongesê bly.
Daardie middag word ’n kopie
van die artikel oor Maxine in ’n groot koevert gedruk met haar huisadres op en
in die draadmandjie vir die koerier dienste gesit, om die volgende oggend af te
lewer.
Jenny gaan sit die oorspronklike artikel op
haar baas se lessenaar neer en stap uit sonder om ’n woord te sê.
Leonard vat die hopie papiere en begin
daardeur lees. “Dis ’n eerste! Jy’t nog ses dae oor voor die deadline.”
Sy draai terug en kyk na hom. “Seker maar
omdat die onderhoud so vroeg was. Ek gaan nou huis toe.” Sy loop terug na haar
kantoor, kry haar drasak en trek die deur toe.
“Wag bietjie!” Mike kom aangedraf na haar
toe. “Jy’s vroeg klaar, gaan jy huis toe?”
“Nee, ek wil iewers stop, Pizza eet en wyn
drink tot dit by my ore uitloop.”
“Hoekom moet jy my altyd ’n sarkastiese
antwoord gee? Dêmmit, man!”
Jenny skud haar kop. “Ek’s ernstig. Ek’s op
pad na Pizza Grande hier in die Mall. Wou jy dalk saamgaan?”
“Kan jy vyf minute wag. Ek print net gou
die pics wat ek vir Karel geneem het, dan join ek jou.”
“Goed dan. Kry jou by die kar.”
Sy stap die trappe af na die parkering en
sit agteroor teen die sitplek. Haar oë gaan toe, terwyl sy die gebeure in
Maxine se trofeekamer herleef.
’n Klop teen die venster laat haar wip soos
sy skrik.
“Slaap jy? Ons kan maar gaan. Ek volg jou.”
Mike spring op sy motorfiets en wag dat Jenny moet ry.
Hulle ry twee blokke verder en stop in die
onderdak parkering. Ry met die hysbak tot op die vierde vloer en klim uit.
Die plek wemel van mense. Dis skoolvakansie
en Kersfees is om die draai. Daar’s darem nog ’n paar tafels beskikbaar in die
eetplek. Die kelner neem hulle na ’n oop tafel en sit die spyskaarte voor hulle
neer.
“Kan ek ’n bottel rooiwyn kry, asseblief,”
vra Jenny voor die kelner kon wegloop. “Wat wil jy drink?”
Mike rek sy oë. “Gaan jy die bottel alleen
drink of mag ek saamdrink?”
Jenny klap haar tong. “Natuurlik kan jy
saamdrink. Ek het gedink jy sou ’n bier of brandewyn wou hê. Julle mans drink
mos altyd sterker en slegter as ons vrouens.”
“Moenie veralgemeen nie.”
“Net die bottel wyn, dankie.”
Die kelner draf daar weg en nie lank nie
kom hy met die bottel wyn te voorskyn. Hy trek die kurkprop, skink bietjie in
’n glas en gee dit vir Mike om te proe.”
“Gooi die blerrie wyn, man. Dit sal reg
wees. En hoekom moet hy proe, ek het bestel?”
Die kelner word rooi in die gesig en
glimlag floutjies. “Jammer,” sê hy en skink twee wynglase. Die bottel word op
die tafel gelos en hy verdwyn.
“Is dit nou nodig om so ongeskik met die
mannetjie te wees?”
“As jy wil skoor soek, kan jy sommer nou
opstaan en loop.” Jenny gluur hom aan. “Hoekom moet jy die wyn proe, omdat jy
’n man is?”
“Okei, los dit nou. Wat pla rêrig?”
“Maxine het my uit haar huis uitgejaag.”
Mike se oë rek. “Hoekom? Wat het jy
aangevang?” Hy glimlag en duiweltjies dans in sy oë. “Sy’s nie gay nie en jy
het haar probeer soen?”
“Soek jy ’n glas wyn in jou gesig. Daai wit
hempie van jou sal mooi lyk met ’n pienk blertse.”
Hy lag. “Jenny, ek terg jou. Hou nou op om
so uptight te wees en vertel wat gebeur het.”
“Sy het my iets vertrouliks vertel, wat ek
nie mag publiseer nie. Ek het aangedring om dit wel te doen en die res weet
jy.”
Mike vou sy hande voor hom. “En wat was
dit.”
“Ek het haar belowe dat ek niemand sal
vertel nie.” Jenny vat ’n groot sluk wyn en gooi haar glas weer vol.
Mike se kop rus op sy hande. Hy betrag die
vrou voor hom. “Hoe kan so ’n mooi vrou soos jy . . .”
“Jy beter nie jou sin voltooi nie, want dan
staan ék op en loop.”
Hulle blaai deur die spyskaart, besluit op
iets wat hulle wil eet en plaas die bestelling.
“Weet jy, julle is almal dieselfde.”
“Wat bedoel jy nou?” Mike kyk haar fronsend
aan.
“Net ’n klein vragie aan jou, meneer. Is
alle gay mense lelik?”
Hy verstik aan sy wyn. “Nee, ek weet nie.
Ek glo nie.”
“Nou hoekom wou jy my netnou so stupid
vraag vra?” Jenny drink haar glas leeg en maak dit weer vol.
“Dink jy nie jy moet bietjie stadig met
daai wyn nie?”
“Loop dit al by my ore uit?”
Mike skud sy kop. “Jenny, dis net . . . Ek
kon nie glo toe ek hoor jy’s gay nie. Jy was so gemaklik met my en . . .”
“Mike, ek haat nie mans nie.”
“Nou gee my dan ’n kans. Ek sal net so goed
vir jou kans sorg.”
Jenny lag kliphard en steur haar nie aan
die mense in die restaurant wat haar aangaap nie. “Ai, jy’s eintlik sweet, weet
jy. Maar nee dankie!”
“Ek’s mal oor jou Jenny.”
“Hemel! As ek geweet het jy gaan my sit en
verpes, het ek jou nie saam gevra nie. Kry nou ent en kuier net, asseblief.” Sy
hou die mense vir ’n rukkie dop en kyk terug na Mike. “Hoekom vra jy nie Ciska
nie. Sy straight en sy’s oulik.”
Mike trek sy skouers op. “Sy’s nie so vurig
soos jy nie.”
“Ek sal bietjie in haar oor fluister en
dalk raak jy op haar verlief.”
Hy klap sy tong en drink sy glas leeg. “Ons
sal nog ’n bottel moet kry. Hierdie aand gaan lank raak.”
Jenny glimlag. “Nou begin jy sense praat.”
Sy wink die kelner nader en bestel weer van dieselfde wyn.
Vrydagoggend tien uur, skrik
Jenny wakker. Dis lig in die kamer. Sy kyk rond, maar herken nie die omgewing
nie. Knip haar oë ’n paar keer en sit regop. Sy’s in ’n vreemde bed en vlieg
uit. Storm na die hangkas en pluk dit oop. Haar oë rek. “Jou vark!” Haar asem
jaag. Sy’s briesend.
Sy hardloop uit die kamer uit, kyk op en af
in die gang, kies ’n koers en eindig in die sitkamer. Haar sak lê op een van
die banke. Sy gryp dit en soek naarstig na haar selfoon. Kry Ciska se nommer en
skakel dit.
“Haai jy. Hoe voel jy nou? Mike het ons
gesê jy’t gisteraand ’n migraine-aanval gehad en dat jy nie gaan inkom nie.”
Jenny frons. “Um, bietjie beter, dankie. Kan
ek met Mike praat. Ek het nie sy selnommer nie.”
Ciska staan op en gee haar foon vir Mike.
“Dis Jenny, sy wil met jou praat.”
“Hi, Jen. Voel jy al beter?”
“Jou bliksem! Jy wag tot ek dronk is en toe
vat jy advantage van my! Waar’s my kar?”
Mike
sit en glimlag. “Ek’s op pad. Wees geduldig.”
“Jy beter gepantser wees as jy hier aankom,
want ek gaan jou doodmaak!”
Mike druk die foon dood en gee dit terug
aan Ciska. “Sy wil hê ek moet oorkom. Daar’s iets wat ons moet bespreek. Oor
die werk of so iets.” Hy glimlag vir haar en draf by die kantoor uit.
Sy kyk hom fronsend agterna. Was dit Jenny
se kar sleutels wat hy in sy hande gehad het? Sy motorfiets was ook nie in die
parkeerarea toe sy vanoggend werk toe gekom het nie en hy was toe alreeds hier.
Ciska trek haar skouers op en bepaal weer haar aandag by haar werk.
Jenny sit dikbek, haar arms
gevou op die bank toe Mike by sy huis instap. Sy vlieg op en loop hom storm.
Haar hande word vasgegryp toe sy na hom mik met ’n vuis.
“Wag so bietjie, jou klein geitjie! Wou jy
hê ek moes jou los dat jy in jou benewelde toestand huis toe ry?”
“Dis als goed en wel. Dankie! Maar toe moes
jy jouself met my in jou bed vermaak!”
“Ek gaan jou hande los en jy gaan op jou
gat sit en luister.” Mike laat los haar hande, maar koes nie betyds toe sy
omvlieg en hom met ’n vuis teen die skouer tref nie.
“Jy kan bly wees jy’s lank.” Sy plak
haarself op die bank neer en vou weer haar arms. “Toe, ek luister.”
“My motorfiets staan nog by die Mall, wel
ek hoop so, as hy nie gesteel is al teen die tyd nie. Ek moes toe met jou kar
werk toe ry.”
“Ja, wat van die res?”
Hy lag. “Jenny, ek het op die bank geslaap.
Hoe kan ek nou toelaat dat jy op die bank slaap en ek lê gemaklik in my groot
bed?”
Sy ontspan haar skouers en gluur hom nie
meer so kwaai aan nie. “Jy beter nie vir my lieg nie!”
“Ek kon jou myne gemaak het gisteraand,
maar ek het nie. What’s the point? Dis net ek wat dit sou geniet het en jy sou
niks daarvan onthou het nie.” Mike gaan sit op die stoel oorkant haar. “Glo my,
ek gaan nie vir jou lieg nie. Ek respekteer jou en jou gevoel dat jy my nie as
lover wil hê nie. Of enige man for that matter.”
Jenny lig haar wenkbroue. “Jis, Mike. Ek
kyk met ander oë na jou. Dankie, dat jy my gelos het om my roes af te slaap en
dat jy my gat by die werk gecover het.”
Mike staan op en oorhandig haar kar
sleutels aan haar. “Kan ons my bike gaan haal, dan kan jy huis toe gaan?”
“Jenny spring op. Natuurlik!” Sy gryp haar
sak en stap kar toe terwyl Mike die voordeur sluit.
Maxine staan met die groot
bruin koevert in haar hande. Seisoene se embleem is voorop. Sy besef van wie
dit af kom en gooi die koevert eenkant op die tafel.
“Wat is dit?” vra Anzel en tel die koevert
op.
“Seker die artikel wat hulle oor my gaan
doen. Lees jy maar, ek’s nie lus nie.” Sy stap buitetoe en gaan sit op die
rottangstoel buite op die stoep.
Anzel skeur die koevert oop en begin die
artikel lees. Na ’n ruk stap sy ook uit stoep toe met die artikel in haar
hande. “Lees bietjie. Die meisie het haar beslis goed van haar taak gekwyt.” Sy
hou dit uit, maar met ’n handgebaar van Maxine, vat sy dit terug binnetoe en
sit dit weer in die koevert. “Wat pla jou? Vandat ek terug is van die Kaap af,
is jy anders,” sê Anzel toe sy weer uitstap op die stoep.
Maxine antwoord nie. Tuur net voor haar
uit.
“Ek gaan weer die naweek Kaap toe vir ’n
photo-shoot.”
“Dis reg. Hoe laat is jou vlug môre?”
“Elfuur. Max, dan moet ons praat wanneer ek
terugkom.”
Maxine knik haar kop, maar kyk nie na die
vrou voor haar nie. “Staan daar iets in die artikel van ons. My en jou, ons
verhouding.”
“Nee, niks nie. Sy’s baie professioneel. Jy
moet dit gerus lees, veral die laaste paragraaf. Ek self sou dit nie beter kon
stel nie.” Anzel staan op en stap die trappies af swembad toe. “Kom jy swem?”
“Nee, gaan jy maar.” Maxine staan op en
stap binnetoe. Sy kyk na die koevert op die tafel, skud haar kop en stap verby
na studeerkamer – die trofeekamer, waar alles begin het.
Jenny hou ’n eksemplaar van
die nuutste uitgawe van Seisoene in haar hande. Sy staar na die buiteblad. Na
die vrou met die effense kort, staal grys hare. Sy kyk nie direk in lens nie,
maar tuur verby. In die vêrte. Asof haar gedagtes by iemand anders is. Die
glimlag op haar gesig, weerspieël nie in haar oë nie.
Haar vingers gly oor die omslag foto, voor
sy die tydskrif in ’n groot bruin koevert plaas en Maxine se adres voorop skryf.
Agterop skryf sy, met komplimente van Jenny en sit dit in die draadmandjie, by
die res van die volgende dag se koerier aflewerings.
Seisoene is Donderdag op die rakke
beskikbaar. Maxine sal hare ’n dag voor die tyd ontvang.
Jenny stap terug na haar kantoor toe Ciska
haar voorkeer. “Kom trek ’n naam uit die hoed!”
“Ek gaan nie hierdie jaar bywoon nie,
Ciska. Thanks.” Sy stap aan terwyl haar vriendin agter haar aantrippel.
“Jy moet! Die baas het dit hierdie jaar in werktyd
gemaak en jy is hier. So, trek ’n naam!”
Sy rol haar oë en druk haar hand in die
rooi Kersvader mus. “Ag nee! Ek wil oor trek.”
Ciska pluk die mus weg. “Sorry, jy kannie.
Reëls.”
“Wat wie gemaak het? Jy!”
Nuuskierig loer Ciska na haar en fluister.
“Wie s’n het jy getrek, die baas?”
“Nee, die Hulk s’n.”
“Jy moet ophou om hom so te noem. Hy gaan
jou nog eendag ’n taai klap gee. Mike is eintlik ’n oulike ou.”
“Jip, die Hulk ok. Skoert nou! Ek het nog
werk wat moet klaar en ek wil half vyf waai.”
Vrydagoggend toe Jenny haar
rekenaar aanskakel, piep dit aanmekaar soos die een epos na die ander deurkom.
Sy maak die eerste een oop. Dis van ’n bewonderaar wat haar bedank vir die lang
verwagte artikel oor Maxine Roberts. Nog ’n paar wat sy oopmaak bedank haar en
die res wat daarop volg, besing haar lof oor hoe puik die artikel geskryf is.
Leonard storm by haar kantoor in net na
nege. “Genade! Is jou inbox ook so vol bedanking oor die Maxine artikel. Ek
dink hierdie gaan ons grootste verkope ooit wees.” Hy loop uit en draai terug.
“Dankie, vir jou puik werk. Dis een van jou beste werke nog.” Hy draai weer om
en loop terug na sy kantoor.
Jenny het nie eers kans gekry om te
antwoord of dankie te sê vir sy kompliment nie.
Sy val teen die rugleuning van haar stoel
en staar die niet in. Hierdie artikel het sy uit haar hart geskryf. Nie dat sy
die ander ook so skryf nie, maar sy het hart en siel hier ingesit. Ook, baie
liefde.
’n Klop aan die deur, bring haar terug na
die werklikheid. Sy kyk op en glimlag toe sy Mike sien.
“Wow! Geluk. Die baas het my nou net
ingeroep oor die bedanking emails. Hy’t gedink ek het die bygaande foto’s geneem.
Ek het hom reggehelp en attent gemaak op die kleinskrif onder aan die bladsy.
Waar jy Anzel bedank.” Hy gaan sit op die stoel voor haar lessenaar, toe hy die
groot geskenk, wat in die hoek op die vloer staan, gewaar. “Wie gaan daai
moerse present kry?”
“Wag tot met die Krismis-party, man! Moenie
so nuuskierig wees nie.”
Mike sug en rol sy oë. “Gee my net ’n hint
man.” Hy glimlag toe hy die blits in Jenny se oë gewaar. “Okei, okei! ’n
Klompie van ons gaan na werk drankies drink. Kom saam, seblief?”
Jenny skud haar kop. “Ek gaan nie goeie
geselskap wees nie. Ek wil liewers alleen by die huis wees.”
“Nee! Ons gaan mekaar eers weer oor twee
weke, in die nuwe jaar sien.” Hy staan op, weet dat hy nie vandag haar kan
oorreed nie en verlaat haar kantoor. By die deur, staan hy stil en kyk om na
haar. “Is sy rêrig die moeite werd om so te sulk oor?” Hy loop verder en wag
nie vir ’n antwoord nie.
Die laaste email wat Jenny lees vir die
dag, is van Anzel wat haar bedank vir die erkenning wat sy haar gegee het vir
die foto’s. Sy’s weer in die Kaap en het die uitgawe daar gekoop.
Sy sit haar rekenaar af, skuif alles op
haar lessenaar in plek en staan op. Tel die yslike geskenk van die vloer af op
en dra dit na die middel van die kantoor, waar almal se geskenke op ’n tafel
gepak is.
“Daai present moet eerste uitgedeel word, ons
wil weet wie s’n dit is!” bulder Mike toe hy van die kombuis af kom.
Almal het eetgoed in die kombuis gaan kry
en vergader om die tafel.
“Wie’s Kersvader hierdie jaar?”
Almal kyk om hulle. Watter kollegas kort?
“Ho! Ho! Ho!” Karel stap die kantoor binne.
Geklee met die tradisionele rooi Kersvader pak, rooi mus en natuurlik ’n wit
baard.
Sy kollegas skater van die lag.
“Mooi Karel! Nie nodig om daai pens op te
stop nie,” sê Mike van agter af.
Jenny klap hom teen die skouer. “Sies vir
jou man. Almal is nie so oefen behep soos jy nie. Buitendien, sy vrou like sy
bierpens.”
Karel of liewer, Kersvader het amper al die
geskenke uitgedeel. Daar is nog twee op die tafel oor is. ’n Piep kleintjie en
dan die tamaai grote.
“Gee eers die kleintjie,” sê Mike en begin
lag.
“Dis okei Karel, gee eers Mike s’n, hy
brand al die heeldag om te weet wat daarin is.”
Kersvader maak soos Jenny sê en oorhandig
die yslike geskenk aan Mike en toe kry sy hare.
Vinnig is Jenny s’n oopgeskeur. Sy maak
haar oë toe en skud haar kop. “Gaan vlieg man! Ek het die verkeerde geskenk vir
jou gekoop, Mike!”
Ciska begin kliphard lag toe sy die
botteltjie vol klein pienk lekkertjies by Jenny vat. “Chill pille!” Lees sy
hardop, sodat almal kan hoor.
“Ag, Jen. Toe ek dit sien, het ek geweet
dis wat jy nodig het.”
“Toe slimjan, dis nou jou beurt. Maak oop!”
Mike skeur die geskenk papier af en bekyk
die groot bruin kartondoos. Hy maak dit oop en haal stapels en stapels gesnipperde
koerantpapier uit. “Baie snaaks. Jy darem swiets gekry om te eet.”
“Gaan aan. Dis daar.”
Hy grawe deur die gesnipperde koerante en
heel onder haal hy nog ’n toegedraaide geskenk uit. “Is dit pajamas?” vra hy
toe die pakkie vir hom soos klere voel.
Jenny begin lag en skud haar kop.
Hy skeur die pakkie oop en skater van die
lag toe hy dit oopvou en die groen Hulk kostuum in die lug hou vir almal om te
sien. “Okei, jy het my!” Hy gryp Jenny om die nek en gee haar ’n stywe druk.
Mike gewaar die vrou wat by die kantoor
deur staan en glimlag. “Ek dink hier’s iemand om jou te sien,” fluister hy en
laat Jenny los.
Sy draai om, maar sien niemand nie. Haar oë
rek toe dat sy die vrou by die deur gewaar en stap soontoe.
“Kom
in. Ek het nie gedink ek gaan jou ooit weer sien nie.”
“Ek het gisteraand die artikel oor my
gelees.”
“Gisteraand? Maar ek het ’n kopie van die
artikel meer as ’n week gelede aan jou gestuur en Woensdag ’n eksemplaar van
die uitgawe.”
“Ek het alles gekry, dankie. Ek was
omgekrap en wou dit nie lees nie. Gisteraand het ek tot my sinne gekom, die
tydskrif uit die koevert gaan haal en gelees. Nou wil ek hê jy moet ’n opvolg
artikel doen, asseblief.”
Jenny staar na die vrou voor haar en frons.
“Ek het alles breedvoerig beskryf. Is daar dan iets wat ek uitgelaat het?”
“Ja, daar is. Ek wil, soos hulle sê, uit
die kas klim. Bieg.”
“Nee, jy hoef nie. Jou geheim is veilig by
my. Altyd.”
“Jy verstaan nie, Jenny. Ek moet. Ek wil
nie meer ’n leuen lewe en my bewonderaars langer bedrieg nie. Dit moet uitkom.
Dan wil ek iemand hê wat nie aan oop verhoudings glo nie. Iemand wat nie, dit
wat hare is, met anders wil deel nie.”
“Maar wat van Anzel? Sy sal seker alte bly
wees, want nou kan sy jou na funksies vergesel.”
Maxine maak haar oë vir ’n wyle toe. “Ons
het opgebreek. Sy het iemand anders ontmoet in die Kaap. Iemand wat nie so in
die kollig is nie. Sy trek die einde van die maand uit.”
Jenny se wenkbrou lig. “Ek is so jammer. Ek
het nie geweet . . .” ’n Vinger wat oor haar wang streel, knip haar sin kort.
Maxine vat haar aan die hand en trek haar
nader. “Ek het kom vra, of jy daardie iemand wil wees.”
Die klomp in die kantoor het intussen
opgehou gesels en vergaap hulle aan die twee vrouens. Dis tjoepstil en almal
hou asems op.
Jenny se oë rek en vir ’n oomblik hou sy op
asemhaal. “Maxine?”
Die ouer vrou betrag haar met deernis en
ietwat smeking in haar oë.
“Natuurlik wil ek!” Sy gooi haar arms om
Maxine en omhels haar.
Liggies word sy weggedruk, haar gesig
vasgevat tussen twee hande en hartstogtelik gesoen, ten aanskoue van die,
Seisoene, redaksie span.
’n Toejuiging bars los. Skamerig kyk hulle
om.
Ciska
is die eerste een om nader te stap. Oopmond gaap sy haar vriendin aan. “Jy dan
gesê sy’s nie gay nie,” fluister sy.
“Nee, ek het nie. As jy mooi kan onthou, ek
het nooit jou vraag beantwoord nie. Jy het sommer net aangeneem.”
Die twee vriendinne omhels mekaar.
“Ek’s so bly vir jou part, Jen. Jou droom
het uiteindelik waar geword.” Sy gee Maxine ook ’n drukkie en wens haar geluk,
voor sy na die res van die groep terugkeer.
Jenny gryp Maxine aan die hand en lei haar
na Leonard se kantoor. “Hier is nie vensters, soos in my kantoor nie.” Sy trek
die ouer vrou na binne en maak die deur agter hulle toe.
Hulle kyk diep in mekaar se oë voor hulle
lippe weer ontmoet.
Jenny lê knus in Maxine se
arms daardie nag.
“Jy’t het ’n puik stukkie werk gelewer,
juffrou die rubriekskrywer. Alles was perfek, maar wat my van gedagte laat
verander het, was daardie laaste paragraaf.”
“Lees dit vir my, sal jy.”
Maxine trek die tydskrif wat op die
bedkassie lê, nader en blaai na bladsy ses-en-sestig. Die artikel strek oor
drie bladsye, sy blaai ’n bladsy om en begin lees.
“Ter afsluiting. Baie lesers het ingeskryf
om uit te vind wanneer ons dan nou ’n artikel oor die aktrise Maxine Roberts
gaan plaas. Een van die baie vrae wat gevra was, ‘Is Maxine gay?’. Ek glimlag
terwyl ek hier skryf, want tydens die onderhoud met haar het die vraag by my
opgekom, maar ongevraagd gebly. Dit was vir my net te persoonlik. Wat maak dit
saak het ek gedink. Sy is ’n voortreflike kunstenaar. Aktrise van formaat, op
die planke sowel as die silwerdoek. Die land is lief vir haar.
Al wat saak maak, is haar puik vertonings
wat sy steeds lewer op sestige jarige ouderdom en dat sy gaan aanhou om sulke
puik vertonings lewer.
Wie jy vanaand liefkoos agter jou
slaapkamerdeur is irrelevant. Moontlik verander jou opinie van daardie kunstenaar,
akteur of sanger. Dalk is jy teleurgesteld en gaan woon nie meer vertonings by
nie, koop nie meer die DVD’s of CD's nie. Wat het dan verander? Niks! Net jou
opinie, my liewe leser, kyker en luisteraar.” Maxine laat sak die tydskrif en
druk die vrou langs haar stywer teen haar vas.
Jenny kyk op, haar oë waterig. “Weet jy hoe
bly is ek dat jy jóú opinie verander het?”
“Nee, maar dalk moet jy my wys.” ’n Ondeunde
glimlag verskyn op Maxine se gesig terwyl sy die tydskrif terugsit op die bedkassie.
Die bedlampie word afgeskakel. Twee
gelukkige vroue omhels mekaar en vir die soveelste keer daardie aand ontmoet
hulle lippe en word hulle weer klei in mekaar se arms.
----------------------------------------------------------------------------------------
No comments:
Post a Comment