Tien voor vier begin ek my tafel reg pak, ek wil op die kop
vier uur hier uit wees. My baas het gesê ek hoef nie te bly omdat sy laat werk
vandag nie.
Ek is
’n jaar gelede aangestel as haar persoonlike assistent. Voor dit was ek ’n
liasseer klerk op die 2de vloer. Uit die bloute het ek ’n oproep van juffrou
Davel gekry dat sy my wou sien, ek het nie eers gedink sy sien my raak nie. Sy
wou my hê as haar P.A. en ek het nie nee gesê, vir al die byvoordele, verhoogde
salaris en my eie kantoor nie.
Sy het ook maar eers ’n jaar terug die pos as assistent
bestuurder gekry, nadat ons almal gedink het dat sy op 35, haar pa se besigheid
sou oorvat. Jessica Davel is ’n regte ‘daddy’s little girl’, bedorwe brokkie,
ek hou nie baie van haar nie, maar vir hierdie salaris, sal ek vir Julius Malema
ook werk.
Ek loer
gou by haar kantoor in om te vra of dit nog reg is as ek 4 uur gaan. Sy stem in
en sê ek moet my naweek geniet, maar ek’s al klaar by die deur uit.
Ek spring die trappe twee-twee af tot op die grondvloer.
Vandat ek op die 6de vloer werk, ry ek nie meer in die hysbak nie, ek klim
trappe op en af en voel so goed. My beenspiere is sterker en my longe kan my
sigarette beter hanteer. Ek het met die Corsa bakkie kom werk vandag, sodat
Beth die Rav 4 kon pak vir die naweek.
’n Glimlag verskyn op my gesig, my pienk Rav 4 staan op die
sypaadjie, klaar gepak en reg om te ry. Beth kom aangestap toe ek met die
bakkie by die garage in ry.
“Hey sexy!” sê sy en maak die deur vir my oop.
Ek gee haar ’n oopbek soen en klap haar op die boud. “Klaar
gepak?” vra ek.
“Natuurlik ons wag net vir jou. Linda en Debs is klaar daar.
Erika en haar nuwe meisie kom vanaand eers deur.” lig sy my vinnig in.
“Ag nee! Hoekom vanaand eers?” wou ek weet.
Beth vertel dat die meisie nog tot 5 uur toe werk, hulle sal
dan eers half ses in die pad kan val.
Ons draai
by die Oog in en ry tot by die ontvangs kantore. Beth gaan betaal, terwyl ek in
die 4x4 sit en wag. Die reuk van braaivleis vure hang in die lug. Ek vat ’n
diep teug van die vleis reuk en raak verskriklik honger. Beth is al ’n halfuur
daar binne en stap uit net toe ek die toeter wou druk.
“Liewe aarde, waar was jy die hele tyd?” vra ek vies.
“Haai Tee, ek kan mos nou nie ongeskik wees met die ou
meisietjie daar binne nie. Sy moes my eers al die reëls en regulasies van die
oord verduidelik.” vertel Beth in detail.
“Ja ek is seker! Het sy cleavage gewys? vra ek en trek my oë
groot.
Beth gluur my speels aan en wys met haar hande hoe groot die
meisie by ontvangs se borste was.
Ek begin lag. “Jy en boobs!” Ek beduie na my eie borste en
voeg by: “Dis nie my skuld dat ek net ’n B-cup is nie.”
Sy draai na my en kyk af na my borste. Sy frons ’n oomblik,
trek haar gesig en skertsend sê sy dat hulle nie te sleg is nie. Ek klap haar
teen die arm en sy lag te lekker.
Linda
waai toe ons by die rondawels indraai. Ons is in nommer 14 en hulle in 15.
Erika hulle is in nommer 17, ons kon nie drie rondawels reg langs mekaar kry
nie, maar dis naby genoeg.
Ek en Beth pak gou die kar af en saam stap ons na die braai
plek.
“Jis, julle is oraait vriende man. Ek’s vrek honger en dank
die vader julle het reeds vuurgemaak.” skerts ek.
“Daar is al ’n vleisie gaar, moet ek dit vir jou bring?” vra
Debbie.
Ek knik instemmend en saam met die stukkie vleis kom my
drankie ook.
“Jou usual.” sê sy en sit dit op ’n tafeltjie voor my neer.
“Sjoe, ek wonder waar is Erika hulle?” sê ek en vra Beth om
haar gou te bel.
’n Kar se ligte flikker ’n ent van ons af en ek herken Erika
agter die stuurwiel.
“Dankie, tog hulle is veilig.” gil ek.
Erika ry tot by hulle rondawel, pak af en kom sluit by ons
aan.
My hart gee ’n ruk toe ek hulle sien nader stap. Sy groet en
stel haar nuwe meisie aan ons voor. “Uiteindelik kan julle ook nou sien hoekom
ek so gaande is oor haar. Ontmoet vir Jess.”
Jess groet almal vriendelik. Haar gesig verstar toe sy my
sien. “Juf. Cloete.” groet sy kil.
“Juf. Davel.” groet ek net so kil en formeel terug.
“Julle ken mekaar!” roep Erika verbaas uit.
Ek kyk na Beth, toe na Erika, gryp laasgenoemde aan die arm
en sleep haar die donkerte in.
’n Hele ent van die braai area kom ek tot stilstand. “Ja,
Erika, ek ken haar. Sy’s my baas!” kom dit met ’n gedempte gil uit.
“Nou hoe moes ek dit nou weet!” gil sy gedemp terug, terwyl
sy haar skouers lig.
“Dís nou ’n wonderlike naweek. Ek kuier saam met my baas.”
brom ek.
Ons begin terug stap na waar die ander nie regtig op ons
terugkoms wag nie. Hulle lag en gesels en ek vererg my sommer weer van vooraf.
Ek storm op die koelhouers af en gooi vir my 2 shooters in.
Die een na die ander gooi ek dit in my keel af. Almal staar my met groot oë
aan, maar niemand sê ’n woord nie. Vir ’n wyle kyk hulle na my en gaan toe
voort met hulle gesprek van vroeër.
Half
beneweld sit ek die klomp en dophou. Ek dink ek het een shooter te veel
gedrink, na die eerste 2 wat ek sommerso vinnig weggeslaan het, het ek ’n paar
keer weer opgestaan en hulle so twee-twee weggeslaan.
My kop rus op my hand en ek wens dat die naweek wil
verbygaan. Almal is vrolik en opgeruimd behalwe ek. Ek is onbewus daarvan dat
juffrou Davel my elke beweging sit en dophou. Dis nie lank nie of sy staan op
en kom sit langs my.
“Jy’s nie baie gelukkig omdat ek hier is nie, nè?” sê sy.
“Ja, wel... ek het nou nie gedink ek gaan die naweek saam
met my baas deurbring nie.” antwoord ek, dalk te eerlik. “Verskoon my, ek wil
’n bier gaan kry.” sê ek terwyl ek probeer opstaan.
Sy’s op voor my en druk my terug in die stoel. “Sit, ek sal
vir jou een gaan haal.”
Nie sleg nie, dink ek by my self, my baas gaan vir mý ’n
bier haal. Ek kyk haar agter na, sy lyk nie soos by die werk nie. Daar is sy
baie vroulik aangetrek en nou is sy meer butch. Toe besef ek meteens, haar pa
weet nie dat sy “little miss perfect” gay is nie. Dis die scoop van die jaar,
dink ek by my self en skielik kry ek haar bitter jammer. Jessica Davel lei ’n
dubbel lewe en dit kan nie maklik wees nie, al die geheimhouding. Sy kan nie
haar nuwe liefde eers aan haar pa gaan voorstel nie. Gelukkig het ek op ’n baie
jong ouderdom vir my ouers vertel en hulle gelos om daarmee vrede te maak.
“Jou drankie.” sê sy en hou ’n glas na my uit.
“Ek drink nie brandewyn en coke nie dankie. Net bier of bier
met ’n shooter in.” stel ek dit vir haar duidelik.
Sy probeer hard om nie te lag nie en proes net onderlangs.
“So het ek agtergekom, maar hierdie is skoon coke, ek dink jy’t nou genoeg
gedrink.”
My mond val oop en ek vererg my op die plek vir die
vroumens, baas of nie baas nie. “Laat ons mekaar mooi verstaan. Niemand, maar
niemand, sê vir my ek het genoeg gedrink nie!” gil ek op haar. Ek is buite my
self van woede. Vinnig word ek van stryk gebring en staar haar vir ’n oomblik
aan toe sy my in die rede val en vir my vertel hoe mooi ek lyk as ek so kwaad
is.
“Wat! Wat sê jy?” vra ek kortaf.
Jess glimlag. “Jy’t my gehoor.” fluister sy terwyl sy
vooroor buig na my toe.
Net daar wip ek my weer en vlieg uit my stoel uit. Op pad
rondawel toe mompel ek in die verbygaan aan Beth dat ek moeg is en gaan slaap.
Jess keer my halfpad rondawel toe. “Ek is jammer as ek jou
te nagekom het Thea.” sê sy en hou my arm vas.
Ek voel lus om haar ’n klap te gee, toe sy my tot stilstand
dwing, maar net dalk is ek my werk kwyt Maandag.
“Dis okei, geen kwade gevoelens nie.” sê ek vroom.
Sy bied aan om saam met my te stap tot by die rondawel en ek
laat haar maar begaan.
Teen
Sondag is ek en Jess heeltemal op ons gemak met mekaar, vergete dat sy my baas
is. Ons almal baljaar in die swembad behalwe Jess, sy lê op die rand van die
swembad met ’n yslike sonbril op. Wat ek nie weet nie, is dat sy elke beweging
van my dophou.
Laatmiddag is almal se voertuie weer gepak en reg vir die
pad. Ons staan en gesels vir oulaas terwyl Beth en Debs die sleutels terug vat
ontvangs toe.
Ons groet en elkeen kies koers na haar eie voertuig. Ek
staan Jess en agternakyk, môre is ons terug by die werk en dan is dit weer
juffrou Davel en juffrou Cloete, dink ek by my self. Ek wonder of sy nog so
styf en formeel met my gaan wees na hierdie naweek.
“En nou, klim jy nie in nie?” vra Beth en ek ruk terug uit
my gedagtewêreld. Ek glimlag verleë en spring in die 4x4.
My gedagtes is elders, terwyl ek by die venster uit staar.
Ek merk nie op hoe die lang gras langs die pad minder word en later plek maak
vir geboue, mure en later sypaadjies nie.
Maandagoggend
is ek vroeër as gewoonlik op kantoor, hoekom weet ek nie. Gou kry ek Jess of
liewer juffrou Davel se lessenaar en dagboek in orde.
“Hoekom is jy so vroeg?” vra Jess skielik hier agter my.
Ek wip soos ek skrik en vlieg om. Sy staan arms gevou. Weg
is Jess van die naweek en voor my staan juffrou Davel, formeel en pynlik
netjies aangetrek.
“Jy is ook vroeg Jess... ekskuus, juffrou Davel.” struikel
ek oor my woorde.
“Kom nou, watse juffrou Davel is dit, gister was ek nog
Jess.” sê sy en lag. Sy laat sak haar arms en vat haar dagboek en blaai daar
deur.
Ek glimlag net verleë en net toe ek wou uitstap, roep sy my
terug.
“Thea, hou 12 uur vir my oop asb. Ek wil jou uitvat vir
ete.” sê sy en trek die rekenaar se sleutelbord nader.
Verskrik kyk ek na haar. Goeie genade, die vrou laat nie
gras onder haar voete groei nie, dink ek by my self. “Ek vat gewoonlik nie
etenstyd nie, Jess.” sê ek flussies en skrik my amper boeglam toe sy haar stem
verhef.
“Dis ’n sake ete Thea en jy moet notas vat!”
Ek knik my kop instemmend en verlaat haar kantoor. Ek neem
plaas by my lessenaar en voel soos ’n gek omdat ek gedink het, sy vat mý vir
ete.
12 Uur
breek aan en ek vergesel haar na die parkeer garage onder die gebou. Sy hou die
deur vir my oop en ek klim in. Die donker groen, amper swart BMW is so luuks
binne en ek verkyk my aan alles. My oë dwaal na Jess toe, sy lyk so sexy agter
die luuksemotor se stuur, sy gaan net so sexy lyk agter haar pa se enorme
lessenaar ook.
Genade Thea waaraan dink jy, vermaan ek my self.
Ons hou stil by een van die bekende restaurante in Brooklyn.
Sjoe, dink ek by my self, ek verdien te min om hier vir ’n ete te betaal.
Die kelner lei ons na ’n tafel, dis weggesteek in ’n hoekie,
agter ’n pilaar en twee reuse blompotte met yslike varings in. Ek kyk rond,
daar is geen tafels langs ons nie en dadelik let ek op dat daar net vir twee
gedek is.
My oë rek, sy het vir my gelieg, dink ek by my self, beslis
nié ’n sake ete nie.
Jess kyk na my en sien ek is half geskok. “Ek weet wat jy
dink en ek is jammer. Ek weet ook jy sou nie gekom het as ek nie gejok het oor
die sake ete nie.” sê sy en kyk met pleitende oë na my.
Ek bly stil, maar weet dat moeilikheid op pad is. Ons gaan
sit en die kelner bring spyskaarte en die wynlys.
“En wat sal jy maak as ek jou sou vra om my liewer terug te
vat?”
Sy vat my hand en ’n glimlag pluk aan haar mondhoeke. “Ek
sal vir jou sê ons is nou hier, ons kan maar net sowel eet.” antwoord sy en lyk
skielik baie in haar skik omdat sy my met die slenter gevang het.
Ek skud net my kop, trek my hand onder hare uit en blaai
deur die spyskaart.
Jess bestel vir ons wyn en ek wonder wat al hierdie geregte
kos, want daar is geen prys langs die geregte nie.
“Ek het die naweek geniet, Thea, ons moet weer so maak.”
knoop sy ’n geselsie met my aan.
“Ja, dit was lekker. Ons moet dit beslis gou weer doen.”
beaam ek.
Die ete het
nie volgens plan verloop vir Jess nie en sy is effens buierig toe ons terug op
kantoor is.
Vir die res van die week bly ek maar uit haar pad uit, sy
behandel my in elk geval soos die res van die personeel. Teen Vrydag is ek
skoon uitgeput van die atmosfeer wat tussen my en Jess heers en was nie baie
gelukkig toe sy my half 4 die middag na ha kantoor ontbied nie.
“Jy moet asseblief môre inkom kantoor toe.” beveel sy my.
“Daar is goed wat ons moet bespreek. Ek gaan Taiwan toe Woensdag en jy vlieg
saam.” gaan sy voort.
“Wat!” skree ek en is dadelik spyt oor my optrede. Sy bly
immers my baas.
Jess gluur my kwaai aan. “Jy is my P.A. en ek het jou daar nodig!”
sê sy bitsig.
“Ek gee nie om om môre te kom werk nie, maar Jess, Taiwan,
dis ... ” ek voltooi nie my sin nie, want sy sit my en aangluur van agter haar
lessenaar.
Beth kry
niks met my uitgerig nie. Ek is die hele Vrydagaand knorrig en hap kort-kort na
haar.
“Dink net, Taiwan! Jissie Tee, julle gaan seker nie die hele
tyd werk nie.” probeer Beth my opbeur.
Ek gaan slaap vroeg daardie aand en is weer vroeg op kantoor
Saterdagoggend. Jess is uiters professioneel teenoor my die hele Saterdag. Ek
sug van verligting toe die dag uiteindelik verby is en ry moeg terug huis toe.
Sondag is ek en Beth al twee stil en ek gaan slaap weer vroeg daardie aand.
Woensdag breek te vinnig aan en ek is ’n senuweewrak, want
ek hou nie van vliegtuie nie en ek hou nie van vlieg nie. Ek wil ook nie so
lank weg wees van Beth af nie en ek vertrou nie vir Jess nie.
Ons
land op Taipei Song Shan lughawe en ’n taxi neem ons na ons hotel.
“Wil jy iets gaan eet of eers bietjie rus?” vra Jess en sy
klink weer soos die Jess met wie ek verlede naweek saam gekuier het.
Ek verkies om eers te gaan rus en verfris en later te gaan
eet en Jess stem saam met my. Ons het gelukkig elkeen ons eie kamer en ek is
dankbaar daarvoor, want dit voel vir my of ek met voorbedagte rade hierheen
gelok is.
Die volgende oggend skrik ek wakker van ’n geklop aan my
deur. Nog deur die slaap maak ek oop en die bode staan met skinkbord in sy hand
en daarop lê ’n koevert. Ek vat dit by hom en gaan sit op die bed om te lees.
Dis van Jess af. Sy skryf dat ’n taxi my oor ’n uur gaan oplaai en by ’n
restaurant weer aflaai. Sy sal vir my daar wag. Haar naam onderaan met ’n
hartjie daar by geteken.
Ek spring vinnig in die stort en toe ek onder kom, wag die
taxi al vir my. Die drywer laai my voor die restaurant af en soos beloof, wag
Jess vir my daar.
Ons word na ons tafel geneem en bestel ontbyt. Jess is so
opgewonde soos ’n skoolkind. “Ek wil Taipei vir jou gaan wys vandag.”
Ek vertrou nie die vrede nie. “Wanneer begin ons werk?” vra
ek kortaf.
“O ja. Eers Maandag , meneer Tai Fung het ons vergadering
uitgestel tot Maandag. Hy het nederig om verskoning gevra en dis hoekom ons
hier eet vanoggend. Dis sy restaurant, Din Tai Fung en jy kan enige iets om die
spyskaart bestel, dis op die huis.” lig sy my ten volle in oor die huidige
verwikkelinge.
Jess
wys my inderdaad Taipei. Die Maokeng Gondola, die Lung sham tempel en Taipei
101, die hoogste gebou in die wêreld, met ’n hoogte van 508 meter.
Vrydag kyk ons Peking opera in die Taipei Eye en die hele
Saterdag spandeer ons in die Taipeise dieretuin. Ek het my behoorlik aan die
panda bere verkyk.
Sondag rus ons uit want dit gaan ’n besige week wees,
volgens Jess. Dus gaan kruip elkeen vroeg in daardie aand.
Maandagoggend word ek weer wakker geklop. Dieselfde bode met
die skinkbord en ’n koevert daarop staan weer voor my deur. Ek vat dit en skeur
die koevert oop. Dis weer Jess, sy beveel dat ek my tasse moet pak want ons
verhuis na ’n ander hotel. Die taxi sal my oor ’n uur en ’n half kry. Dis nie
vreeslik baie tyd om te pak nie, want ek moet nog stort ook, dink ek by my
self. Sy het weer ’n hartjie langs haar naam geteken en dit maak my onrustig.
Ek word
voor die Caesar Park Hotel afgelaai en my bagasie word binnetoe gedra. Jess kry
my by die ontvangs lokaal en glimlag van oor tot oor.
“Hoe hou jy van dié hotel?” vra sy en kan nie ophou glimlag
nie.
“Dis verskriklik mooi en luuks, my asem is skoon weggeslaan
toe ek hier instap.” sê ek en verkyk my nog steeds aan die binnekant.
“Dit is baie luuks, dis een van Taipei se 5 ster hotelle.
Sal ons gaan eet?” vra sy en stap voor asof sy die plek ken. Die eetsaal is net
so asemrowend soos wat die portaal is.
’n Spyskaart word vir my gegee, maar ek verstaan geen woord
nie. Jess vertaal vir my en verduidelik wat elke gereg is.
“Ek het nie geweet jy kan Taiwannees praat nie?” sê ek
verbaas. Nou is ek baie beïndruk deur die vrou hier voor my.
“Daar’s baie dinge wat jy nie van my weet nie Thea.” sê sy
saggies en knipoog vir my.
“Sien ons vandag vir meneer Tai Fung en sy vennote?” vra ek,
net om die onderwerp te verander.
Sy vat my hand vas, soen liggies op die bokant. “Daar’s baie
tyd vir werk.”
Ek begin ongemaklik voel, sy kyk my met ’n snaakse kyk in
haar oë aan, so asof sy iets op die hart het.
“Thea?” sê sy en bly ’n ruk stil.
Sy hou nog steeds my hand vas. Ek kyk na haar, maar sê niks
nie.
“Thea, is jy beïndruk met die hotel en met Taipei?”
Ek trek my asem in om haar te antwoord, maar sy wys ek moet
stilbly.
“Want jy was nie beïndruk met die restaurant in Brooklyn
nie, toe dink ek, as ek jou Taipei toe bring, sal... ” Jess bly stil toe sy die
geskokte uitdrukking op my gesig sien.
Ek is oorbluf, woedend, ontsteld. Wat dink hierdie vrou van
haar self en van my. Wat dink sy doen sy, ek is in ’n verhouding waarvan sy
weet, maar nog probeer sy my afrokkel van Beth af. Ek staan van die stoel af op
en so kalm as moontlik vra ek haar om my lughawe toe te vat sodat ek kan
teruggaan Suid-Afrika toe.
“Kan ons dit in die kamer gaan bespreek?” smeek sy my.
“Ja, want dan kan ek op jou gil.” sê ek en byt my onderlip
vas om nie nou al te begin nie.
Jess
sluit die kamer oop, ons kamers is langs mekaar. Sy lei my binnetoe. Daar is
dubbeldeure aan die linkerkant van die vertrek en sy loop soontoe, sluit dit
oop en wys na die kamer. Dis identies soos die een waarin ons eerste ingekom
het. Die vermetelheid wat die vrou het, dink ek by my self. Ek wag dat sy moet
begin verduidelik, maar sy kom staan net voor my en sê niks nie.
Ek draai weg van haar af, maar vlieg kortom en toe is die
gort behoorlik gaar. Ek gil en skree op haar, ek is buite my self van woede.
“Wat op dees aarde het jou besiel!”
Sy gryp my gesig vas in haar hande en haar lippe kom hard op
myne neer. Vir sekondes soen sy my soos iemand wat uitgehonger is en gulsig die
kos verorber wat voor hom neergesit is. Haar lippe word sagter, haar soene
liefdevoller en meer intiem. Sy vat haar mond van myne af weg, maar hou nog
steeds my gesig in haar hande vas.
“Weet jy hoe lankal wou ek dit doen? Vandat ek jou die
eerste keer in die liasseer kamer gesien, toe het ek besluit om jou te kies as
my P.A. sodat ek nader aan jou kon wees. Daardie naweek by die Oog het ek jou
amper gesoen, as die klomp nie by die vuur was nie, sou ek. By die restaurant
in Brooklyn het jy my ook nie ’n kans gegee nie, toe besluit ek om jou Taiwan
toe te bring, want hier het jy nêrens om weg te kruip nie, nêrens om heen te
gaan nie.” Sy het intussen my gesig laat los en op die bed gaan sit.
Ek gluur haar geskok aan, weet nie wat om te sê of wat om te
dink nie. Ek gooi my hande in die lug. “Nou het jy al hierdie geld gemors en
dit pure verniet.” sê ek en gaan sit langs haar op die bed. My hand raak aan
hare en ’n ligte rilling gaan deur my lyf. Hierdie vrou is regtig mal oor my,
kyk net wat doen sy alles om my guns te wen, dink ek by my self.
“Jess, ek kan nie vir Beth verneuk nie, ek is lief vir
haar.” sê ek met soveel deernis in my stem.
Sy draai na my. “Thea, kan ons nie net een keer... ”
Ek knip haar sin kort met ’n ferm néé. “Jess is jy nou
simpel. Ek gaan nie ’n one night stand met jou hê nie. Wanneer ons terug is in
Suid-Afrika moet ek weer vir Beth in die oë kyk en vir jou ook!”
Sy wil nie verstaan wat ek aan haar probeer verduidelik nie
en staan van die bed af op. Jess loop ’n ent weg, swaai om en kom staan weer
voor my. Sy buk af, haar gesig is by myne, haar asemhaling raak vinniger en ek
sien ’n vreemde lig in haar oë. Sy vat my skouers vas en druk my saggies, maar
ferm agteroor op die bed. Jess kom lê bo-oor my en ek kyk haar geskok aan.
“Wat maak jy Jess?” vra ek in ’n fluisterstem. “Asseblief,
moenie, jy gaan net spyt wees, ons al twee gaan... ” ek voltooi nie my sin nie.
Jess se lippe is weer op myne en sy soen my met oorgawe en
ek hou nie meer terug nie. Haar hand skuif onder my bloes in en rus op my bors.
Sy soen my soos wat Beth my nog nooit gesoen het nie, sy prikkel my soos wat
Beth my nog nooit geprikkel het nie. My weerstand verkrummel en ek word klei in
haar hande.
Ek lê
op my sy met my rug na Jess toe. Haar hand op my heup, maar sy slaap nog. Ek
dink aan Beth daar in Suid-Afrika, maar vir nou is sy duisende en duisende
kilometers van my af. Ek probeer konsentreer op nou, op wat gisteraand tussen
my en Jess gebeur het, maar hoe meer ek daaraan dink, hoe meer voel dit
onwerklik. As sy nie nou hier agter my rug gelê het nie, sou ek gedink het dat
ek net gedroom het.
Ek kruip onder haar arm uit en gaan spring in die stort.
Jess het intussen wakker geword en vir ons ontbyt in die kamer bestel.
Sy staan op en stap om die bed na my toe waar ek in die
gemakstoel sit. “Dankie, vir gisteraand, dit was wonderlik.” sê sy en buk
vooroor om my weer te soen, haar oë blink. Sy vat my hand, trek my uit die
stoel uit en vou haar arms om my lyf. Om een of ander rede laat ek haar begaan.
Ek ruk my self reg em maak my self los uit haar omhelsing.
“Jess, ons kan nie voortgaan hiermee nie. Jy moet verstaan,
asseblief!” probeer ek verduidelik.
Sy kyk my geskok aan, die blink in haar oë van vroeër is
weg. “Wat! Wat bedoel jy? Hoekom het jy my dan nie gekeer gisteraand nie!” gil
sy vir my. Sy storm by die dubbeldeure uit na haar kamer en slaan die deure so
hard toe, dat hulle weer oopspring.
Ek voel soos ’n hond en gaan sit op die bed. Daar’s ’n klop
aan die deur, dis ons ontbyt. Ek eet ’n bietjie en stap buitetoe om vars lug in
die hotel se tuin te gaan kry.
Dis al
middag toe ek weer teruggaan kamer toe. Jess is nêrens te siene nie. Ek gewaar
iets op die bed lê. Dis ’n vliegtuig kaartjie terug Suid-Afrika toe, vanaand
al. Ek stap kas toe en begin my tasse pak.
Om 7 uur laai die taxi my op en vat my lughawe toe, my vlug
is 10 uur.
Ek is gereed om aan boord die vliegtuig te gaan toe ek my
naam hoor. Dis lawaaierig en vind dit moeilik om te peil van watter rigting die
geroep kom.
“Thea!” roep Jess weer.
Ek gewaar haar en tree terug sodat die ander passasiers voor
my kan ingaan. Sy’s uit asem toe sy by my uitkom.
“Thea, ek moes jou kom groet en vir jou sê hoe jammer ek is.
Ek is so jammer dat ek my self op jou afgedwing het. Jammer, dat ek jou lewe
staan en omkrap het.” sy gryp my hand vas en gee dit ’n stywe druk.
Ek vee ’n traan uit my oog. “Dis als reg Jess, ons het al
twee skuld hieraan en ek is ook jammer. Jammer, dat ek jou hart breek.” sê ek en
weet nie of sy die laaste deel van my sin gehoor het nie, want ek het reeds by
die glasdeure in beweeg. Ons waai vir oulaas voor ek aan boord gaan.
Ure
later sug ek van verligting toe ek op Suid-Afrikaanse grond stap. Ek verras
Beth met ’n oproep en sy is in haar noppies omdat ek reeds op die lughawe vir
haar staan en wag.
Sy is skoon uit haar vel van blydskap toe sy my sien. “Dis
’n lekker verrassing! Jy’s vroeg terug?” juig sy en druk my teen haar vas.
Ek vertel vinnig ’n nood leuentjie hoekom ek vroeër terug is
en dat Jess moes agter bly want sy het nog werk daar, maar dat dit nie vir my
nodig was om ook te bly nie. Ek voel soos ’n skurk, want ek en Beth het nog
nooit geheime vir mekaar gehad nie en ek het nog nooit vir haar gelieg nie.
Dis al
’n week wat ek terug is van Taiwan af en nog is Jess nie terug nie. Terwyl ek
nog wonder wat sy nog steeds daar doen, kom daar ’n epos deur. Meneer Davel
soek my dringend in sy kantoor. My hart gee ’n ruk, ek hoop nie iets het met Jess
gebeur nie, dink ek by my self.
Ek stap by meneer Davel se kantoor in en hy vra my om te
sit. Daar is ’n vreemde man by hom in die kantoor. Ek glimlag vriendelik vir
hom en kyk weer terug na meneer Davel.
“Meneer wou my sien?” sê ek en voel verskriklik ongemaklik.
Hy hoes en maak keel skoon. “Dis reg juffrou. Ontmoet meneer
Engelbrecht, hy is die nuwe assistentbestuurder en neem van vandag af oor in my
dogter, juffrou Davel, se plek.” sê hy uiters professioneel.
Vir ’n oomblik is ek geskok, wat sou van Jess geword het,
wonder ek. “Waar is Jess, juffrou Davel, bedoel ek?” korrigeer ek my self. Dit
voel of ek nie asem kry nie, maar laat nie een van die twee mans agterkom hoe
vreesbevange ek op die stadium is nie. As hy my tog net wil sê waar Jess is,
dink ek by my self.
“Sy het in Taipei agtergebly soos u weet juffrou. Sy gaan
ons tak daar bestuur. Die keuse het tussen haar en meneer Engelbrecht gelê en
die Taiwannese het so baie van my dogter gehou, dat hulle haar gekies om mee
sake te doen.” verduidelik hy vir my.
Ek sug hoorbaar, verlig dat sy nie iets oorgekom het nie.
Verslae stap ek terug na my kantoor. Nou maak alles vir my
sin. Sy wou my daar saam met haar hê, om saam met haar daar ’n nuwe begin te
maak.
Ek sak op my stoel neer, weet nie of ek verlig of
teleurgesteld moet wees nie. Half teleurgesteld ja, want ek sou ’n nuwe lewe
daar in Taipei kon hê, ’n veiliger een, maar dan weer, ek was nie lief vir Jess
nie.
Erika is natuurlik stukkend. “Sy het nie eers koebaai gesê
nie.” snik sy.
Nou is ek beslis verlig, want as ek besluit het om agter te
bly, dan het Beth ook nou hier staan en huil. Ek loop na haar toe en gryp haar
vas.
“Ek het jou lief Beth. Onthou dit altyd.” bevestig ek my
gevoel vir haar. Ek hou haar vas en maak my oë toe. Jess verskyn voor my
geestesoog en ek dink terug aan daardie laaste nag saam met haar in Taipei, die nag van
verbode vrugte.
No comments:
Post a Comment