Tyd van Afsterwe; 23:45


Lilly sit vir die soveelste keer langs Jana se siekbed. Sy het nog nie weer wakker geword na sy die terugslag gehad het 2 weke gelede nie. Sy was aanvanklik opgeneem met longontsteking, maar dit het net slegter inplaas van beter met haar gegaan. Soveel slegter dat sy nou in ICU lê, gekoppel aan ’n ventilator, Jana se longe is te swak om self te asemhaal.

Lilly het net begin moedeloos raak toe die pulmonoloog Prof. Steyn haar meedeel dat die pyp in Jana se keel uitgehaal kan word. Haar longe is aansienlik sterker en hulle gaan die sedasie, wat haar aan die slaap hou, sodat sy nie pype en buise kan uittrek nie, drasties verminder en selfs staak as dit goed gaan.

 

               Daar is weer ’n glimlag om Lilly se mond toe sy die volgende dag by die ICU instap. Jana is wakker en lê met groot oë na haar en kyk toe sy by die deur instap. Sy steek haar hand uit toe sy Lilly gewaar, sy probeer praat, maar haar keel is nog seer en rou van die dik buis wat amper 2 weke in haar keel was.

“Moenie praat nie.” fluister Lilly teen Jana se wang.

Jana bly nog 2 dae in ICU, voor sy uitgeskuif word na die mediese saal. Haar drup bly op en deurlopende suurstof word ook nog gegee.

Sy word in ’n vier bed saal ingeskuif. Lilly groet die ander pasiënte vriendelik en trek dadelik die gordyne om Jana se bed toe, nadat die verpleegsters al die nodige op koppelings gedoen het.

“Uiteindelik is ons bietjie privaat. Ek het so na jou verlang my Engel. Daar was tye wat ek gedink het . . .” Lilly voltooi nie haar sin nie. Sy wil nie eers daaraan dink dat sy Jana amper verloor het nie. Hulle het verlede maand hulle 5 jaar herdenking gevier en sy kan haar nie ’n lewe voorstel sonder Jana nie.

 

               Soos die dae aanstap word Jana al hoe sterker. Sy is al heelwat beter, maar Prof. Steyn is nie tevrede met haar longe nie. Hy het pas weer die dosis aminophylline, wat in haar drip gespuit word, verhoog.

Jana is al so moeg vir die hospitaalbeddens, die personeel en die kos.

Lilly probeer haar bes om haar op te beur en vertel kort-kort vir haar staaltjies, sommer stories wat sy opmaak en soms met ware gebeure kombineer. Jana geniet dit vreeslik en kan nie wag vir besoektye om na die stories en Lilly se stem te luister nie. Sy kruip knus agter Jana se rug in, vou haar arm styf om haar lyf en begin dan vertel. Lilly sou daar bly lê tot die storie klaar vertel is, partykeer is besoektyd al verby, maar haar storie nie en sy sou nie loop nie voor die verhaaltjie se einde nie. 

 

               Lilly maak haar self gemaklik agter Jana se rug. Soos oudergewoonte vou sy haar arm om Jana se lyf en maak bakhand om haar borste. Vandag vir die eerste keer, raak Jana bewus van Lilly se hand om haar borste. Sy kyk af na hulle en glimlag. Die goedjies het so weggekrimp dat hulle mooi in Lilly se een hand pas. Sy glimlag, sy’t 3 hande nodig om Lilly se borste in te pas. As Lilly weet waaraan sy nou dink, sal sy vir haar sê dat sy beslis gesond word as sy weer aan boobs begin dink.

Lilly begin met haar storie en oudergewoonte maak Jana haar oë toe en verbeel haar dat sy die plekke besoek wat Lilly so haarfyn beskryf.

“Ons staan bo-op Lady Liberty en kyk uit oor Manhattan. Die windjie is effens koud hier bo, maar ons hou mekaar vas en voel nie eers die koue nie.”

Dit voel vir Jana of sy sweef. New York, Manhattan, die standbeeld. Sy sien alles so duidelik, so asof sy regtig daar is. Lilly se stem raak weg en sy hoor die geruis van die water, die bote wat heen-en-weer verby Lady Liberty vaar. Sy steek haar hand uit en vat aan die standbeeld se kroon. Hulle is wraggies daar. Sy draai om, maar sien nie vir Lilly nie, sy is alleen op die standbeeld. Waar sou Lilly dan wees, hoekom los sy haar alleen? Sy weet nie hoe het sy bo-op die standbeeld gekom nie, nou hoe moet sy hier afkom. Jana raak paniekerig, sy kry nie asem nie. Dit voel of sy gaan val, daar is nie meer vashou plek nie!

Jana spring regop en ruk die masker van haar gesig af. “Lilly!”

“Toemaar, toemaar ek’s by jou.” probeer sy Jana kalmeer. Lilly vat die masker uit haar hand en sit dit weer op haar gesig. “Kom, haal rustig en lekker diep asem.”

Lilly het opgemerk dat Jana moeilik begin asemhaal en het haar storie kortgeknip om dadelik een van die verpleegsters te gaan roep. ’n Inhalasie wat haar longe oopmaak is vir haar opgesit en dis dié wat sy nou van haar gesig afgepluk het toe sy wakker skrik.

Jana lê rustig teen Lilly en haal weer gemaklik asem. Na n rukkie haal die verpleegster die masker af en sit die buisie met suurstof terug in Jana se neus.

“Voel jy beter?”

Jana antwoord haar nie. “Lilly ons was in New York. Ek en jy, ons was op die standbeeld van Lady Liberty, ek het aan haar kroon geraak en toe omdraai, om iets vir jou te sê, toe’s jy weg. Ek het begin bekommerd raak, want ek het nie geweet hoe ek alleen van die standbeeld gaan afkom nie. Toe begin ek gly en ek wil val!”

“Dis die storie wat ek jou vertel het. Jy het aan die slaap geraak en gedroom.” Lilly glimlag en kyk met soveel liefde en deernis na Jana.

Sy skud haar kop. “Nee, ons was daar, regtig daar gewees. Dit het vir my gevoel of ek sweef en toe is dit alles werklikheid.”

 “Ek sal moet ophou met my stories, jy begin nou al glo jy was regtig daar.” sy staan op uit die stoel en vat Jana se gesig in haar hande vas. “Besoektyd is verby en jy moet rus inkry.” Sy soen haar op die mond en blaas nog ’n soentjie net voor sy by die deur uit verdwyn.

 

               Jana lê nog ’n rukkie en dink aan die gebeure voor sy aan die slaap raak. Sy droom weer van New York, maar die keer kan sy voel sy droom, want sy’s alleen, Lilly is nie daar saam met haar nie en sy het haar pajamas aan. Sy wandel deur die strate, stap oor die Brooklyn brug en stap verby die Broadway teaters.

Sy voel uitgerus toe sy die volgende oggend wakker gemaak word. Sy word badkamer toe gehelp. Lilly kry haar in die bad toe sy vinnig kom groet voor sy werk toe gaan.

“Ek het van New York gedroom. Die keer was dit ’n droom, want jy was nie daar nie en ek het nog my slaapklere aangehad.”

“Ek sal jou eendag tog moet gaan wys hoe lyk New York.” Lilly help haar uit die bad. Sy help haar afdroog en aantrek en help haar terug kamer tot in die bed en groet.

“Ek sien jou vanaand. Soet wees.” Sy blaas weer ’n soentjie toe sy by die deur uit skarrel.

 

               Die dag gaan stadig verby en Jana tel die minute af na 7 uur, nadat aandete bedien is. Lilly loer om die deur met ’n yslike bos rooi angeliere. Sy tap water in die vaas voordat sy met haar stories aangaan.

Knus lê sy weer agter Jana se rug en begin met ’n nuwe storie. Jana maak nie weer haar oë toe nie, sy luister na Lilly se stem en voel haar beweging met elke asemteug wat sy neem. “Wanneer dink jy sal ek weer kan huis toe gaan?” onderbreek sy Lilly se storie.

Sy gee haar ’n stywe druk en belowe dat sy die volgende dag Prof. Steyn sal bel. Lilly hervat haar storie en kort voor lank is Jana weer in vervoering oor haar beskrywings van plekke en gebeure.

“Sjoe, dis al half 9, dit was ’n lang storie. Jy moet lekker slaap. Ek sal jou laat weet wat dokter sê.” Lilly soen Jana op die mond. Die keer soen sy haar met oorgawe. Vergete is die ander pasiënte in die kamer. Hulle hou mekaar lank vas, voordat Lilly haar self loswikkel en groet.

 

               Daar’s ’n slag buite in die parkeer area. Jana vlieg regop. “Wat was dit?” Sy lui ook sommer die klokkie.

Die verpleegster kom ingehardloop en probeer Jana en die res van die pasiënte kalmeer. “Sodra ons weet wat aangaan, sal ons julle in kennis kom stel.” Sy hardloop weer by die deur uit.

Jana bly onrustig, niemand kom sê vir hulle wat aangaan nie. Sy bel weer na Lilly se foon, maar daar’s geen antwoord nie.

Die verpleegster van vroeër kom uiteindelik terug en vertel dat daar iemand raak gery is in die parkeer area.

“Lilly!” is al wat Jana uitkry en gryp haar mond vas.

“Ek sal gou gaan uitvind by ongevalle. Jana probeer eers net kalm bly, asseblief.” pleit die verpleegster en draf uit die kamer uit, ongevalle toe.

Wat vir Jana soos ure later gevoel het, kom die verpleegster terug, met die saal se hoofsuster aan haar sy.

Jana kyk na hulle. Sy weet, hulle hoef nie eers te sê nie. “Dit was Lilly nè?” Sy bars in trane uit.

Die suster spuit haar ‘’n kalmeermiddel in en sy raak amper dadelik aan die slaap. “Hoe gaan ek leef sonder haar.” mompel Jana en raak aan die slaap.

 

              Jana skrik eers 10 uur die volgende oggend wakker en besef dat sy nie gedroom het nie. Lilly se ouers staan by haar bed. “Ons wou jou nie wakker maak nie.” sê haar ma en bly stil toe sy nie weet wat om verder te sê nie.

Jana vat Lilly se ouers se hande vas en vertel hoe baie Lilly vir haar beteken het en hoe lief hulle vir mekaar was. Hulle weet dit alles, want Lilly kon nooit ophou praat van Jana nie.

Lilly se ouers verlaat die saal, nadat hulle drie met mekaar gesimpatiseer het.

Jana voel soos ’n gebroke mens. Vir 5 jaar was Lilly deel van haar en binne sekondes word sy van haar af weggeruk. Nie eers gegroet of afskeid geneem nie. Sy raak weer aan die slaap en droom van Lilly.

Lilly se stem word al hoe duideliker, Jana probeer haar stem volg. Dan staan sy voor haar. Haar spierwit hare, verbeel sy haar of is dit bloed aan die een kant van haar kop. Sy hardloop na haar toe, maar kom nie by haar uit nie, dalk kan sy haar help, sy het net seergekry en is nie dood nie. Jana hardloop al hoe vinniger en haar asem begin jaag. Sy val doodmoeg neer en voel hoe iemand haar ophelp en ’n masker op haar gesig sit. Uit asem klap sy die masker af en probeer kyk of sy Lilly sien. Sy is nou vêrder van haar af weg, sy moet weer hardloop, sy moet haar help. Sy begin gil. Daar is nou meer mense wat haar ophelp en die masker op haar gesig probeer hou. Jana hyg na asem, sy kan nie regop kom nie, die mense druk haar plat, hulle help haar nie regop nie, besef sy nou. Sy gil weer en voel ’n brandpyn in haar arm. Haar kop word swaar, haar hele lyf word swaar, die masker word weer op haar gesig gesit. Sy knip haar oë en begin fokus. Haar bed is omring met verpleeg personeel. Was dit weer net ’n droom? Alles word swart om haar en sy raak aan die slaap.

 

               Laat Woensdagmiddag word Jana eers weer wakker. Sy gewaar die verpleegster wat langs haar bed sit. “Pas jy my op?”

Sy lag en gee vir haar goeie nuus. “Prof. Steyn was hier. Jou druppie kom môre af en as dit goed gaan, sal jy die naweek kan huis toe gaan.” Sy staan op en verlaat die saal.

Jana kykvenster se kant toe, dis die nuus waarvoor sy nou al so lank wag, die nuus wat Lilly vir haar sou kom meedeel het. Trane loop oor haar wange, maar sy vee dit vinnig af toe die verpleegster langs haar praat.

“Jy’s seker vreeslik honger, ek het jou kos vir jou warm gemaak.”

Jana glimlag met moeite en bedank die kleine mense vir haar moeite.

“Ek het amper vergeet. Jou drup word vir oulaas omgeruil, môre hierdie tyd loop jy daarsonder rond. Ek’s nou terug.” Sy trippel daar uit en kom terug met die nuwe sak wat sy ook sommer dadelik koppel en ophang.

Jana hou elke beweging dop, hoe sy die masjien oopmaak en toemaak, watter knoppies sy druk toe sy dit afsit en weer aansit.

“Sjoe, jou vingers is gewoond aan al die knoppies druk. Waar sit mens dit af?” vra Jana en kyk aandagtig toe die verpleegster demonstreer. “Is daar weer Aminophylline in die drup?”

“Ja, die laaste keer wat jy dit weer kry.” Die verpleegster is amper meer opgewonde oor die drup wat gaan afkom as Jana self.

 

               Na die laaste saal rondte word die ligte afgesit en Jana lê en luister na die getik van die masjien wat die drup reguleer. Die masjien staan op 40 druppels per minuut en moet oor ’n tydperk van 24 uur inloop. Jana draai op haar sy sodat sy die masjien mooi kan bekyk. Die ligte is 9 uur afgesit en die personeel gaan 10 uur met ete, die eerste rondtes word dus eers 11 uur gedoen. Sy gaan sit regop op die bed en met bewende hande en vingers sit sy die masjien af en maak dit oop. Jana draai eers die wieletjie aan die pypie toe. Sy kyk na die sak, dis nog so te sê vol en draai die wieletjie stadig oop. Die vloeistof drup al hoe vinniger, dis nou vol oopgedraai en sy voel hoe haar hart vinniger klop. Bewerig klim sy terug in die bed en gaan lê plat teen die kussings. Jana maak haar oë toe, haar hartklop word al hoe vinniger. Dit voel of dit by haar keel gaan uitspring. Sy maak vlugtig haar oë oop en sien dat die sak amper half is. Jana bewe, haar hart onstuimig . . . Vir ’n oomblik maak sy haar oë weer oop, moet sy nie maar die wieletjie toedraai nie. Toe hoor sy Lilly na haar roep. Sy maak haar oë toe, sy voel sy word naar, haar asemhaling raak vinniger. Haar hart kan nie meer die lading van die hoeveelheid aminophylline hanteer nie, dit klop nie meer nie, dit vibreer nou net. Alles word swart om Jana.

 

               Die wit lig waarvan almal praat. Jana glimlag. Dit bestaan wraggies. Lilly wag daar iewers. Sy gewaar ’n silhoeët in die wit lig, dit lyk soos ’n tonnel. Dis Lilly, sy steek haar hand uit. Jana voel of sy sweef. Sy begin in die rondte tol, dit maak haar naar en sy gooi op. Sy wil haar mond afvee, maar dis skoon, waar sou die braaksel dan wees. Jana voel ’n nattigheid teen die kant van haar nek. Sy vat daaraan en sien dis die kos wat sy die aand geëet het. Die naarheid is weg en sy tol nie meer in die rondte nie. Sy knip haar oë, nee die wit tonnel raak donkerder, dit raak weg! Lilly is daar in, sy moet by haar uitkom. Sy voel hoe iemand aan haar ruk en ’n masker word op haar gesig gesit, die keer vasgedruk.

Jana voel hoe sy weer begin sweef. Dit voel soos toe sy op die statue of Liberty was. Sy kyk af na onder, haar wenkbroue lig van verbasing. Sy sien haar self op die bed lê. Daar is ’n klomp mense om haar bed, elkeen besig met iets in hulle hande. Haar kop ruk op, sy hoor weer vir Lilly roep. Sy vlieg om en voel dat haar voete op die grond is, sy sweef nie meer nie. Sy soek in alle rigtings na waar Lilly se stem vandaan kom. Skielik is die helder wit lig reg voor haar en sy moet haar hand voor haar oë hou, so skerp is die lig. “Lilly?”

Lilly staan duidelik afgeëts teen die wit lig. Sy lig haar arm op en steek haar hand uit na Jana. “Ek het geweet jy sou nie sonder my wou aangaan nie, daarom dat ek vir jou gewag het.”

Jana vat haar hand en omhels vir Lilly. “Ek het gedink ek het jou vir altyd verloor.”

 

               “Suster . . . Suster! Jy kan maar los.” Die ongevalle dokter se stem klink oorverdowend. “Tyd van afsterwe; 23:45”

No comments:

Post a Comment