Tiran in die Operasiesaal




Linda sug en aanvaar maar die pos as die nuwe skrop suster in die operasiesaal. Matrone van Tonder wil haar graag aanstel, want haar kwalifikasies is puik en van die getuigskrifte kan sy aflei dat suster Linda Kruger beslis ‘n aanwins vir die hospitaal gaan wees. Sy het nie nou poste beskikbaar in die sale nie, maar belowe haar sodra daar ‘n pos in een van die sale oopgaan, sal sy haar dadelik daarin aanstel. Van daar af is Linda na menslike hulpbronne, klomp vorms daar ingevul en geteken en toe gaan uniforms aanpas. Sy is stokflou toe sy uiteindelik laat middag tuis kom. Sy begin eers Woensdag te werk en kan darem nog more rus.


               Op haar senuwees meld Linda Woensdag oggend half sewe by teater ontvangs aan. Sy word beduie watter kant die susters tee- en kleedkamer is en sy loop soontoe. Almal bly tjoepstil toe sy by die kleedkamer instap, kyk haar ‘n ruk op en af en gaan weer aan met gesels.

Dis Suster Bruwer wat nader stap en haar welkom heet. “Hallo, ek’s Annatjie Bruwer, herstelkamer suster, welkom hier by ons.”

“Dankie, ek’s Linda Kruger, die nuwe skrop suster.” groet sy terug.

“Ek weet, ons gaan jou eers bietjie oriënteer vandag en more, dan kan jy van Vrydag saam met Suster Bets Venter op skrop.” verduidelik sy en beduie na ‘n kas. “Kry vir jou teater klere hier.”

Linda hou niks daarvan om in teater te werk nie en verpes oriëntasie. Sy loer om die kleedkamer deur in die teater gang af en wens eerder sy kan die hele dag in die kleedkamer bly. Dit wemel van susters, dokters en pasiënte op trollies.


               Daar is sestien teaters waarvan twee van hulle aan die bekende hartchirurg, Dokter Buys behoort. Vier herstelkamers waarvan Suster Bruwer die hoof is en dan het sy drie susters wat haar assisteer. Mejuffrou Ann Trevor is die teater matrone en word verskriklik kwaad as jy haar Mevrou in plaas van Mejuffrou noem. Sy duld nie laat kommery, laksheid en stuitigheid in haar teater nie en haar mede personeel beskryf haar as “suur en beneuk”, Linda het haar nog nie ontmoet nie en sy wens ook sommer dat sy nie hoef nie.


               Die volgende week assisteer sy saam met suster Venter as skrop suster. Linda het laas in haar opleiding vir ‘n dokter in teater opgeskrop en dis omtrent twintig jaar gelede. Sy word eintlik opgelei om Dokter Buys se skrop suster te wees, sy het darem nog twee weke oor om te leer.

Dokter Velma Buys is tans op vakansie en sit sonder ‘n skrop suster. Die laaste een het sy uit die teater uit verskree en toe sommer vier en twintig uur kennis gegee. Dokter Buys is berug daarvoor om nie met haar skrop suster oor die weg te kom nie en die susters storm gewoonlik in trane by teater uit.

“Sy klink maar na ‘n moeilike entjie mens die dr Buys?” sê, vra Linda een middag in die teekamer.

“Wel, jy laaik haar of jy laaik haar nie. Ek laaik haar nie punt.” spreek suster Annie le Roux haar gevoel vir dr Buys uit.

“Hoekom hou jy nie van haar nie Annie?” waag Linda die vraag.

Annie gaan staan voor Linda, sit haar hande op haar heupe en sê: “want my liewe Suster, sy het ‘n ego so groot soos die hospitaal, sy’s ongeskik en sy dink sy’s ‘gods gift to women’...” Annie aarsel ‘n oomblik en vervolg: “wel okay, sy’s ‘gorgeous’ en as ek mag sê ‘handsome’ en as ek gay was het ek haar vir seker aangekeer.” sy giggel te lekker toe sy by die teekamer uitstap.


               Vrydag werk Linda net tot vier uur die middag en is naweek af. Sy stap ontvangs toe om te gaan kyk of die teater lys al uit is. Waarvoor sy bang was, in teater twee is ‘n hartomleiding geskeduleer vir dr Buys en dan twee uur namiddag ‘n angiogram en weer een om drie namiddag. Haar moed sak in haar skoene, sommer die eerste dag wat hulle twee saamwerk is daar ‘n groot operasie.


               Dokter Buys verdwyn in teater twee in en Linda sien haar net skrams van agter af. Sy’s ‘n groot, lang vrou. Sy trek vinnig haar teater klere aan en draf na teater twee.

Halfpad soontoe, kom dr Buys uit die teater en gil in die gang af: “Suster Kruger!”

“Hier is ek dokter.” sê Linda agter haar.

Dokter Buys kyk haar net vlugtig op en af en bulder weer: “Roer jou agter-ent Suster!” en sy stap terug in haar teater in.

Linda vererg haar vir die ongeskikte dokter en net toe sy die teater wou ingaan gryp suster le Roux haar aan die arm. “Sien jy nou waarvan ek gepraat het... hou maar jou ‘pose’ né”

Linda hou haar kop omhoog en stap die teater binne.

“Aa! Suster Kruger, welkom! Is daar nie nog iemand waarmee jy eers wil geselsies aanknoop nie, ek het baie tyd, ek en die pasiënt sal vir jou wag!” sê dokter Buys baie sarkasties agter haar masker.

Linda gluur haar aan en haar oë spoeg vuur so kwaad is sy. Sy sit haar masker op en saam stap hulle wasbakke toe om hulle hande te gaan skrop.


               Die pasiënt is reeds onder narkose toe hulle terugkom. Daar is vier ander dokters wat haar assisteer en sy stel hulle vlugtig aan Linda voor. Halfpad deur die operasie gee sy die verkeerde instrument aan en dokter Buys klap dit uit Linda se hand.

“Nico, wys vir die verdomde vrou watter een is die regte instrument!” bulder dokter Buys agter haar masker aan een van haar assistente.

Linda voel om weg te hardloop, maar sy bly staan.

“Nico, werk toe asseblief, ek en suster Kruger het ‘n vergadering in die teekamer.” beveel sy en trek haar teater jas en handskoene uit en gooi dit net daar op die grond neer.

Linda sukkel nog om haar teater jas los te maak toe sy aan haar arm by die teater deur uitgepluk word. Dokter Buys stamp die teekamer se deur oop en gluur die twee susters wat daar sit aan, hulle vlieg op en uit hardloop.

“Sit!” beveel sy Linda.

“Kyk hier dokter, jy gaan nie so met my praat nie!”

“Nou dan staan jy maar! Luister, as jy nie bevoeg is om die regte instrumente vir my aan te gee nie ... soek ek jou nie in my teater nie!” bulder dokter Buys.

“Ek leer nog, ek het drie weke gelede eers hier begin!” probeer Linda verduidelik.

“Wel jy leer nie in my teater nie, Suster! As jy nie weet nie, is jy uit!”

Linda sê nie ‘n woord nie, sy kyk na Velma Buys ... Annie was reg, sy is ‘handsome’. Sy is wraggies aantreklik, sy is seker so vyftig jaar met pikswart hare wat by die slape begin grys word. Sy’s lank en grof gebou en as dit nie vir haar borste was nie, kon sy maklik vir ‘n man aangesien word. Dokter Buys het intussen die teekamer verlaat.


               Die derde keer toe haar naam oor die interkom uitgesaai word, kom Linda eers tot verhaal en storm die teekamer uit. Sy word na Matrone Trevor se kantoor ontbied en doen gou navraag oor waar haar kantoor is. Sy klop en gaan in. Dis ‘n mooi, vrou wat agter die lessenaar sit, sy staan op toe Linda inkom. Sy steek haar hand uit na Linda en stel haarself voor as Matrone Trevor.

“Ek is jammer dat ons nog nie ontmoet het nie, maar ek was verskriklik besig en kon nog nie daarby uitkom nie. Dis nou eintlik jammer dat ons in hierdie omstandighede moet ontmoet.” en sy beduie dat Linda moet sit.

 “Suster Kruger ... dokter Buys het my van die insident in teater kom vertel. Weet jy, ek hou nie daarvan as my dokters ongelukkig is nie.”

Linda bly stil, sy kan sommer hoor dat Matrone aan dokter Buys se kant is. Hier gaan sy nie wen nie. Sy luister klaar, vra om verskoning en verlaat die kantoor.

              

               Daarna is Linda gereëld in Matrone se kantoor, ten minste een keer per week, sy en dokter Buys kan maar net nie oor die weg kom nie. Linda spandeer elke beskikbare minuut wat sy het om die prosedures van Kardiologie chirurgie te leer. Sy maak elke instrumente pak oop om te kyk watter tipe instrumente daar in is en leer elke naam van elke instrument. Binne vier maande het sy alles onder die knie en irriteer dokter Buys grensloos as sy haar vir ‘n instrument vra en sy staan dan reeds dit en uithou na haar.


               Sy en Quinton, die narkotiseur het intussen groot vriende geword en van die ander teater suster is ook vriendeliker teenoor haar deesdae. Daardie middag word sy weer na matrone Trevor se kantoor ontbied en groot was haar verbasing om dokter Buys ook daar te sien.

“Suster Kruger, dokter Buys hou nie van jou houding in haar teater nie.” Matrone draai nie doekies om nie.

Linda is skoon uit die veld geslaan en kyk na Dokter Buys. Sy staan op, gaan staan voor Linda en kruis haar arms: “Suster! ... Jy gaan jou gat sien met my. Jy hou jou ook verniet so slim met die instrumente!”

Linda se mond val oop en sy kan maar net haar kop skud.

“Dankie dokter, ek sal verder met haar praat.” sê matrone en stap saam deur toe.

“Suster kan ek reguit praat? Ek bespeur ... uhm ... homofobie by jou? Is dit omdat Dokter Buys homoseksueel is dat jy so ‘n houding teenoor haar inneem? Onthou suster ons leef in ‘n era waar homoseksualiteit nie meer taboe is in die samelewing nie. Hier’s is ‘n paar dokters en heelwat susters wat homoseksueel is en om ‘n ander seksuele voorkeur te hê, maak nie van jou ‘n ander mens nie en dit beïnvloed ook nie mens se werk nie. So asseblief Suster, verander jou houding teenoor dokter Buys.”

Linda kon dit nie help nie, maar sy bars kliphard uit van die lag.

“Suster! Ek vind niks lagwekkend in hierdie gesprek nie!” Matrone se oë spoeg vuur toe sy dit sê.

“Ek is jammer Matrone, maar dit wat jy nou net kwytgeraak het, klink presies soos iemand wat homofobies is.” sy staan sommer op en stap deur toe, Linda draai om en sê: “Matrone, as jy nie lipstiffie aangehad het nie sou ek jou nou gesoen het om te bewys hoe homofobies ek nié is nie ... maar wat gaan die personeel in die gang sê as ek met jou kleur lipstiffie op my mond, by jou kantoor uitkom?”


               Selfvoldaan stap Linda die gang af teekamer toe, niks kan die glimlag op haar gesig laat verdwyn nie. Die klomp in die teekamer lê soos hulle lag toe sy hulle vertel wat in Matrone se kantoor gesê is.

“Jy moes haar gegryp het man!” skree Elrie en hou haar maag vas soos sy lag.

“Elrie sy is sexy, maar nee dankie, sy is nie my tipe nie.”

“O nee, maar dokter Velma Buys is haar tipe!” lig Annie hulle almal in.

“Ag nee man jy’s laf! Ek wil nie daai buffel hê nie, al betaal sy my!” sê Linda en trek haar gesig in weersin.

“Ons kan sien daar’s ‘n vonk tussen julle twee en as julle mekaar gaan gryp gaan daar meer as net ‘n kortsluiting wees.” laat Annatjie ook nou van haar hoor.

“Ag shurrup Annatjie, is daar nie ‘n pasiënt wat jy moet gaan wakker maak nie?” sê Linda, kamtig vies.

Almal lag weer te lekker saam en skerts dat Linda en dokter Buys eintlik verlief is op mekaar. Linda bloos bloedrooi by die aanhoor hiervan.


               Die volgende drie maande is dit baie rustiger tussen Suster Kruger en Dokter Buys. Wonder bo wonder was sy nog nie weer na matrone se kantoor ingeroep nie.

Dis nie ‘n lekker dag in teater vandag nie. Dokter Buys het haar eerste pasiënt op die operasietafel verloor sedert sy vyftien jaar gelede as Cardio- chirurg gekwalifiseer het. Sy sit voor haar en uit staar toe Linda in die dokters teekamer instap.

“Kan ek vir dokter ‘n koppie tee skink?” vra Linda en kry haar verskriklik jammer op hierdie oomblik.

“Gaan dit my pasiënt terugbring?”

Linda wip haar dadelik vlieg kort om. Net toe sy die deur oop het roep dokter Buys haar terug. “Linda! Ek is jammer ... tee sal lekker wees dankie.”

Dis die eerste keer dat sy Linda op haar naam noem. Linda skink vir hulle albei tee en gaan sit oorkant haar op die rusbank. Sy kyk na dokter Buys, sy lyk vandag skielik ouer. “Dokter, die dinge gebeur, jy weet dit mos.” probeer Linda haar troos.

Sy antwoord egter nie. Sy drink haar tee klaar, bedank Linda vir die tee en verdwyn by die deur uit.


                Linda is vir die res van die dag af want Dokter Buys se teater lys is gekanselleer. Sy stap af na die parkering waar haar kar staan en kry Dokter Buys ook daar. Dit lyk of sy vir iemand wag, want sy leun met haar rug teen haar kar. Linda knik haar kop toe sy haar sien en stap verby.

“Kan ek jou uitvat vir ete?”

Sy steek in haar spore vas en draai terug na Dokter Buys. “Ekskuus, praat Dokter met my?” vra Linda

Dokter Buys kyk om haar rond en dan weer na Linda, sy wou iets sarkasties laat val maar besluit daar teen. “Ja suster Kruger, ek vra of jy saam met my sal gaan eet ... asseblief.”

“Ja ... uhmm goed ... dit sal lekker wees.” Linda struikel oor haar woorde, Velma Buys het haar onverhoeds betrap.

Linda is nog in uniform en dokter Buys vra of dit reg is as hulle sommer by die Dros gaan eet. Linda stem in, sy is mal oor die Dros se kos. Sy los haar kar by die hospitaal en hulle ry met dokter Buys se kar in stad toe.


               Dokter Buys is ‘n ander mens, nie die haatlike, buffelagtige chirurg wat Linda by die hospitaal leer ken het nie. Sy is op haar gemak en dring daarop aan dat Linda haar Velma, moet noem. Hulle kuier en eet lekker. Gesels oor alles behalwe werk. Hulle al twee is lekker ontspanne en kom nie agter hoe vinnig die tyd verby geloop het nie.

“Weet jy hoe laat is dit?” vra Velma haar na ‘n ruk en beduie na die horlosie wat aan haar lapel hang.

Linda kyk na haar horlosie en sê verbaas: “Liewe aarde, waar’s die tyd heen, dis tien uur. My kar staan ook nog by die hospitaal!”

Nie een van hulle het agtergekom dat dit skemer raak in die restaurant nie, daar brand altyd flou liggies en word net helderder gedraai soos dit donkerder word.

“Jy kan nie nou jou kar gaan haal en alleen in die donker nag huis toe ry nie.” sê Velma en klink baie besorgd.

“Nou hoe gaan ek by die huis kom?” sê Linda bekommerd.

“Ek vat jou huis toe en sal jou môre oggend oplaai vir werk.” sê Velma beslis.


               By Linda se huis stap sy saam met haar tot by die voordeur. Bedank haar vir ‘n wonderlike aand en gee Linda ‘n soen op die wang. Sy knik bevestigend, dit was vir haar net so ‘n lekker aandjie. Hulle spreek af oor hoe laat Velma haar die volgende oggend sal kom oplaai. Linda sluit die voordeur oop en gaan in. Velma wag tot Linda die deur weer toe en gesluit het voor sy terug loop na haar kar toe. Sy klim in en kyk eers terug voordeur toe voordat sy haar kar aansluit en weg ry.


               Vir die eerste keer in sewe maande werk Linda en Velma as ‘n span saam in die teater. Daar is nie meer ‘n geskree nie en daar word asseblief en dankie ook gesê. Natuurlik gons dit in die teater se gange en elkeen het sy eie idee oor hoekom dit nou so rustig is.

“Sy’t haar getem!” sê Quentin en skinder net so hard saam met die susters in die teekamer.

Niemand sien toe Linda inkom nie. “Wie het wie getem?” vra sy ewe nuuskierig onbewus van dat hulle van haar en Dokter Buys praat.

Die klomp in die teekamer begin lag en Linda vermoed sommer dadelik waarvan en van wie hulle praat. Sy rol haar oë vir hulle en stap weer uit.

 “Velma Buys is soos putty in Linda se hande, sy’t beslis die skoot hoog deur.” vervat Quentin sy storie en brei net uit oor hoe lekker dit nou is om saam met dié twee te werk.

“Of hulle het saam geslaap?” skerts Annatjie.

Die klomp se oë rek en dit gons weer in die teekamer.

“Hulle het!” Almal kyk na Sue Buitendag, sy is altyd stil en praat nooit saam as daar geskinder word nie.

“Sue, hoe kan jy so iets sê?” vra die klomp amper gelyk

“Dit is so!” sê Sue en klink baie seker van haar saak.

Almal is nou om Sue en hulle por haar aan om te vertel.

“Haar kar was nou een aand tien uur, nog steed in die hospitaal se parkering en die volgende oggend half sewe het hulle saam by die hospitaal aangekom in Dokter Velma se BMW.” vertel Sue die storie met smaak.

Nou gons dit behoorlik in die teekamer. Toe die meeste tot bedaring kom begin hulle uitstap en met die stap Linda weer die teekamer binne. Annie en Annatjie het nog bly sit.

“Jou ou doring, toe tem jy vir Dokter Velma! Kom vertel, ons wil als weet.” die twee praat so gelyk.

Linda kyk fronsend na hulle en skink vir haar ‘n koppie tee.

“Kom nou Linda, ek dog ons is vriende?.” vra Annie en klink ietwat afgehaal.

“Annie ... waarvan praat julle?” vra Linda en is uit die veld geslaan.

Annatjie beantwoord haar vraag. Sy vertel dat hulle weet van haar kar wat tien uur die aand nog in die parkering was en dat hulle saam die volgende oggend by die werk aangekom het, in Velma se kar en dis mos nou ‘n aanduiding dat hulle die nag saam spandeer het.

“Nee julle simpel goed! lag Linda en vertel vir hulle wat gebeur het. Sy giggel van voor af toe sy die teleurstelling op dié twee se gesig sien.

“O hel! Almal dink nou julle ...” Annie kan nie haar sin voltooi nie, Linda val haar in die rede.

“Julle beter hierdie storie stop sit voordat dit by Velma uitkom. Net nou dink sy dis ek wat die stories versprei.” vermaan Linda hulle. Haar woorde was skaars koud toe Velma haar na haar spreekkamer ontbied.


               Bekommerd klop Linda aan Velma se spreek kamerdeur en stap in. Velma lyk nie kwaad nie. Sy groet haar vriendelik en vra hoe dit gaan en stel voor dat hulle gou weer saam moet gaan eet. Toe raak Velma ernstig.

“Daar is ‘n probleem Suster.”

Groot oog sit Linda haar en aankyk, sy noem haar weer suster. Sy het klaar die skinderstorie gehoor en nou dink sy dis sy wat Linda is wat die stories opmaak en versprei, dink Linda by haar self.

“Hier is ‘n storie wat rondloop suster.” Velma trek nie ‘n gesig, sy bly dood ernstig.

“Ek weet, ek het gehoor Vel ... Dokter.”

“En wat gaan jy daar aan doen suster?”

“Ek het al probeer om dit stop te sit, maar dis erger as ‘n veldbrand dokter.” verduidelik Linda.

“Wel suster, ons sal dan maar moet ... uhmm ... dit doen sodat die gerugte ten minste waar is.” Velma bars uit van die lag, sy sien as sy langer aanhou het sy Linda nou-nou in trane.

“Velma jou pes! Hier sit ek en worry my vrek, dink jy gaan my uittrap en beskuldig dat ek die storie versprei het!” Linda gluur haar eers aan voordat sy ook uitbars van die lag.

Velma raak weer ernstig en verduidelik hoekom sy eintlik vir Linda ontbied het. Die hospitaal se jaareindfunksie is volgende maand en sy wil hê Linda moet saam met haar gaan.

“Ek kan nie, ek’s jammer. Ek het klaar vir Quentin belowe dat ek saam met hom sal gaan.”

Velma is duidelik teleurgesteld en knik dat sy verstaan. Quentin het Linda twee maande terug al gevra om hom te vergesel. Sy het nooit in haar wildste drome kon dink dat sy en Velma ooit so goed oor die weg sou kom nie, wat nog van dat sy haar eendag na ‘n funksie sou nooi.


              

               Die aand van die funksie is Quentin stiptelik om sewe uur voor Linda se deur. Sy het ‘n koningsblou aandrok aan met goudkleurige bykomstighede. Quentin gee ‘n wolwe fluit toe hy haar sien. “Sjoe! Jy lyk soos ‘n feëprinses!”

“Dankie, jy self lyk handsome.”


               Almal lyk pragtig en al die mans is uitgevat in swart aandpakke, net die strikdasse se kleure verskil om by hulle metgeselle se aandrokke te pas. Dit lyk amper soos in Amerika by die Oscars. Hulle stap op ‘n rooi tapyt tot binne in die onthaal area. Hulle tafels word vir hulle aangewys en hulle word bedien.

Linda sit en rond kyk maar sien nog nie vir Velma nie. “Weet jy wie het dokter Buys na die funksie toe genooi?” vra Linda nuuskierig vir Quentin.

“Nee, maar sy was baie vyandig teenoor my toe sy hoor ek vat jou na die funksie toe.”

Linda vra van haar ander kolegas, maar niemand weet nie.

“Jy kyk verniet uit vir dokter Buys, Linda, sy is altyd laat. Sy wag tot almal hulle plekke ingeneem het, dan maak sy haar verskyning, partykeer alleen en partykeer met ‘n metgesel.” lig Annie haar in.

Almal kuier vrolik, drink, lag, gesels en kwart oor agt toe dokter Uys, die CEO van die hospitaal, agter die mikrofoon inskuif om die aand amptelik te open, stamp Quentin vir Linda aan die arm en beduie deur se kant toe en fluister: “Daar’s jou droom vrou.”

Linda kyk deur se kant toe en snak na haar asem. Dokter Velma Buys kom met ‘n swart swaelstert pak en donker strikdas by die deur ingestap en aan haar arm, teater matrone Ann Trevor met ‘n donker noupassende aandrok aan. Almal trek hulle asems in toe hulle die twee gewaar. Hulle stap die gangetjie tussen die tafels af na waar Linda en die ander teater personeel sit en toe Velma Linda sien, knipoog sy vir haar. Linda glimlag vir haar en bloos. Velma lyk deftig en aantreklik en Linda voel effens jaloers om Matrone Trevor aan haar arm te sien, dit kon sy gewees het. Dokter Uys het met afkondigings begin, maar Linda gee nie aandag aan wat hy te sê het nie. Sy vergaap haar aan Velma en kort-kort loer Velma ook in Linda se rigting en knip oog vir haar. Sy skrik wakker uit haar beswyming uit toe almal begin hande klap en het glad nie gehoor dat dokter Uys haar naam uitgeroep het nie.

“Linda!” Quentin stamp aan haar arm en beduie na dokter Uys se kant toe. Linda het geen idee wat hy bedoel nie en toe hoor sy haar naam.

“Is suster Kruger nie hier vanaand nie?” vra dokter Uys toe hy Linda se naam vir die derde keer roep.

Sy spring op en sê: “hier’s ek dokter.”

“Nou kom vorentoe suster!” sê dokter Uys ongeduldig.

Almal klap vir haar hande terwyl sy opstap. Dokter Uys steek sy hand uit na haar toe, skud haar hand en oorhandig ‘n koevert aan haar en wens haar geluk: “hoop ons gaan nog susters van jou kaliber kry.”

Linda bedank hom en glimlag verleë, sy weet nog steeds nie waaroor dit gaan nie.

Toe sy wou omdraai sit dokter Uys sy hand op haar skouer en vra haar om net ‘n rukkie te wag. “Net nog een dingetjie... ek hoor so in die hospitaal gange dat dit vir die eerste keer in sewe jaar rustig is in teater een en twee? Wel ek is bly iemand kon Dokter Buys bietjie tem!” hy bars uit van die lag en beduie vir Linda dat sy maar kan gaan.

Die hele saal lag kliphard terwyl hulle weer hande klap. Linda is bloedrooi gebloos toe sy weer haar plek langs Quentin inneem.


              Velma is die eerste een wat Linda geluk wens, sy soen haar op die wang en fluister in haar oor: “Geluk Suster en ek stem saam met Dokter Uys... jy het my getem.”

Linda bloos van voor af. Velma stap terug na haar tafel. Die res van teater personeel kom wens Linda geluk en die een is nuuskieriger as die ander een om te weet wat in die koevert is. Linda maak die koevert oop en binne in is ‘n sertifikaat en ‘n geskenkbewys van R2000 by Woolworths. Almal is in hulle noppies oor Linda se geskenk en sertifikaat. Sy lees op die sertifikaat ‘Top presteerder van die jaar’ en besef toe dis hoekom sy opgeroep is. Sy vra Quentin om haar koevert in sy kar te gaan bêre.


               Na ete word die dansvloer geopen deur dokter Uys en matrone van Tonder. Net toe Quentin opstaan en sy hand na Linda uitsteek vir ‘n dans is Velma by en sy vat Linda se hand en lei haar na die dansvloer. Quentin gooi sy arms in die lug en gaan vra maar vir Matrone Trevor vir ‘n dans.

“Jy is beeldskoon en verleidelik.” fluister Velma in Linda se oor.

“Dankie, jy self lyk stunning.”

Hulle dans die hele aand saam en Velma het naderhand plekke met Quentin aan tafel geruil.

“Wat maak jy die naweek?” vra Velma haar onverhoeds.

‘Ek weet nog nie.” is al wat Linda kan sê.

“Nou kom saam met my, ek het ‘n vakansiehuis op Kosmos, by Hartbeespoortdam. Linda... ek wil jou graag beter leer ken.”

Linda aarsel, Velma sien dit en vat haar hand en soen dit. ‘n Tintelende gevoel gaan deur Linda. “Ek weet nie, Velma is dit nie bietjie gou... ons alleen... ek en jy?” Linda struikel oor haar woorde. Sy wil ook Velma beter leer ken, maar wil nie halsoorkop in ‘n ding inspring nie. Sy is so bang vir seerkry.

“Ons kuier net en daar is twee slaapkamers!” voeg Velma vinnig by.

Linda lag en stem in. Hulle spreek af dat Velma haar so teen tien uur die oggend sal oplaai, dan het hulle tyd om ‘n paar inkopies te doen vir die naweek.


            Na die funksie vat Velma vir Linda huis toe, na sy met Quentin gereël het om matrone Trevor huis toe te vat. Sy loop saam met Linda tot by die voordeur, soen haar op die wang en weer wag sy tot die deur gesluit is voor sy terug loop kar toe. Linda leun teen die voordeur en wonder of sy nie Velma moes ingenooi het vir koffie nie, maar dan weer, die naweek lê vir hulle voor...


              Lui lekker dobber hulle op die water in Velma se seiljag, elkeen lê en sonbrand op ‘n handdoek.

“Dis nou die lewe, ek kan dit elke dag doen.” skerts Linda.

Velma sit regop en skuif nader aan haar. Sy vryf oor Linda se arm en gaan lê skuins op haar sy en sê “Dit kan waar word.”

Linda gee ‘n snork laggie en loer vir Velma onderdeur haar sonbril.

“Linda, trek by my in en dit kan alles joune word.” sê Velma nou baie ernstig.

Linda antwoord haar nie, haar oë is so groot soos pierings onder die sonbril. Velma haal die bril van Linda se gesig af en herhaal haar vraag.

“Sjoe Velma... kom ons leer mekaar eers bietjie ken... dan kyk ons...”

Sy glimlag en knik instemmend vir Linda.


               Daardie aand gaan slaap hulle redelik vroeg. Linda het net in die bed geklim toe Velma aan die kamer deur klop en dit oopmaak. Linda snak na haar asem. Velma het ‘n wit oorgroot T-hemp aan, dis half deurskynend en met moeite kyk Linda af, haar oë weg van Velma se uitlokkende kurwes. Velma kruis haar arms oor haar bors en gaan lê skuins teen die deurkosyn.

“Gaan jy my rêrig alleen laat slaap?” vra sy en stap stadig nader.

Linda is besig om beheer oor haar emosies te verloor, sy skuif regop op die bed en probeer in beheer kom. “Velma! Ek dag dan ons gaan net kuier?”

Velma sug en draai terug, stap uit en maak die deur toe. Sy stamp die deur oop en vra of Linda seker is oor haar antwoord, oor haar besluit. Speels jaag Linda haar uit die kamer uit en wag in spanning dat Velma weer die deur moet oopmaak, maar dit bly toe. Alles in Linda skree om Velma terug te roep, sy wil in haar arms wees vanaand. Sy rol rond en staan op. Sy kyk op die horlosie, dis net na twaalf, maak die kamerdeur oop en loop tot voor Velma se kamerdeur, Linda luister met haar oor teen die deur maar hoor niks . Sy sien nie hoe Velma haar dophou vanuit die sitkamer nie. Velma staan op en leun teen die deur. Linda draai terug kamer toe en word yskoud toe sy Velma in die deur gewaar.

“Jissie, jy sal my hart laat staan!” gil sy geskok en gryp haar borskas vas.

“Sal nie ‘n probleem wees nie, jy het jou eie persoonlike hart dokter by jou.” sê Velma en onderdruk haar lag.

“Dis nie snaaks nie! Wat maak jy in elk geval daar?” sê Linda vies.

“Dis wat ek ook wil weet?” vra Velma ‘n teenvraag.

“Ag... ek was op pad toilet toe!” snou sy haar toe.

Velma lag Linda nou openlik uit want daar is ‘n badkamer met toilet in haar kamer. “Ek weet... jy’t gehoop ek’s wakker en dan het jy gehoop dat ek jou in my kamer, in my bed sou in nooi!” Velma is nog steeds dik van die lag.

“Dit is nie!” gil Linda weer en probeer vinnig by haar kamerdeur uitkom, maar Velma is vinniger as sy en staan reeds in die deur.

Velma kom tree vir tree nader aan Linda en Linda bly terug tree tot sy teen die muur is, maar Velma bly nader beweeg totdat sy teenaan haar staan. Sy voel Velma se kurwes teen haar druk met elke asemteug wat sy gee. Linda vind dit geweldig prikkelend. Velma se hand kam deur Linda se hare en sy sit haar ander hand agter teen Linda se rug en trek haar stywer vas. Velma begin haar hartstogtelik soen, Linda se bene word jellie. Sy vat Linda aan die hand en lei haar kamer toe. Sy soen haar weer en Linda word klei in haar hande.


               Velma en Linda kuier elke naweek saam, Linda het nog nie besluit om by haar in te trek nie. Die nuwe jaar het begin en Linda is skaars twee dae terug by die werk of sy word na matrone van Tonder se kantoor ontbied. Hulle groet en sy val ook sommer met die deur in die huis. “Suster ek het jou belowe dat so gou as daar ‘n pos in ‘n saal oopgaan ek dit vir jou sal gee. Jy het twee keuses, die Hart eenheid of Urologie. Ek het nogal gedink die Hart eenheid omdat jy so baie geleer het van Cardio chirurgie en dan natuurlik omdat dokter Buys se pasiënte na ICU daarheen gaan en jy weet nou al wat sy verwag en wat haar protokol is.”

“Sjoe Matrone, ek het nie eers gedink om weer saal suster te wees nie. Ek het so gewoond geraak aan teater en Dokter Buys met al haar nukke en giere.”

“Jy moet maar daaroor gaan dink en môre vir my kom sê, want ek het twee aanstellings wat ek wil maak en een van hulle wil graag in teater werk.” sê Matrone en hoop Linda sal die regte besluit neem.

Linda knik en belowe dat sy die volgende oggend haar antwoord sal kom gee.

Velma het amper ‘n toeval gekry toe Linda haar later die middag in die teekamer vertel hoekom matrone van Tonder haar ingeroep het. “Jy gaan nêrens heen nie. Ek gaan nie weer ‘n groentjie in my teater toelaat nie.”

“Ek sal haar oplei Velma en as jy net bietjie meer geduld met die nuwe suster gaan hê, sal hulle ook meer op hulle gemak wees en nie droog maak nie.” sit Linda haar goed op haar plek.

Sy kry net ‘n ‘gmf’ uit Velma uit en vir die res van die middag is sy so beneuk, niemand kan met haar huis hou nie. Die volgende oggend is Linda by matrone van Tonder in die kantoor en aanvaar die pos in die Hart eenheid. Matrone verwittig haar dat die nuwe suster Maandag in teater sal begin en dat sy drie weke tyd het om haar op te lei, want Linda moet die eerste Februarie in die Hart eenheid begin.


               Suster Ronel Brits stap Maandag oggend by die teater in en Linda loop haar tegemoet.

“Welkom by ons suster Brits.” heet Linda haar welkom.

“Nee man, sê Ronel... en dankie.”

Hulle skud hande en Linda stel haar self voor. Sy wys waar die kleedkamer is en wag dat sy gou verklee in die teater drag en stel haar sommer aan die ander ook in die kleedkamer voor. Vlugtig wys sy haar teater een en twee en waar alles is.

“Wil jy saam op skrop vir die geval of eers net observeer?” vra Linda die nuwe suster.

“Ek gaan op skrop, hoe gouer hoe beter.” sê Ronel en klink sommer baie gretig.

Linda waarsku haar net eers teen Dokter Buys, sy moet immers voorbereid wees op ‘n geskel- en ge skreeuery. Sy raai Ronel ook aan om, soos sy, die prosedure-, protokol- en instrumente lêers te bestudeer.

“Toemaar, ek kan rowwe dokters hanteer, ek kom al jare saam met hulle in teater. Gelukkig ken ek my instrumente, maar sal beslis prosedures en protokol wil op swot.”

Ronel klink of sy haar storie ken en is beslis ‘n aanwins vir teater, of Dokter Buys dieselfde gaan voel is ‘n ander vraag. Almal is gehandskoen en gekleed vir die operasie en staan en wag dat die pasiënt stabiliseer nadat narkose toegedien is.

“Ag liewe hemel Quentin, hoekom is jy so stadig vandag?” bulder dokter Buys.

Linda en Quentin maak oogkontak en sy trek haar oë vir hom. Die nuwe suster staan met groot oë en rondkyk en sê sommer kliphard ‘sjoe’ sonder om te dink.

“Ekskuus suster, het jy ‘n probleem?!” vra Velma kalm, maar haar oë spoeg vuur.

“Nee dokter maar...” Ronel se sin word kort geknip.

“Wie de hel is jy!” bulder Velma weer agter haar masker, kyk na Ronel en dan vraend na Linda.

“Dis Suster Brits, Dokter, sy gaan my plek inneem. Ek gaan haar oplei vir drie weke.” sê Linda so professioneel as moontlik.

“Onthou om haar ook te leer om haar aanmerkings vir haar self te hou, Suster!” Velma is hoogs beduiweld en niks loop weer reg nie.


               Linda en Ronel ruim die teater op en toe hulle klaar is maak Linda verskoning en storm by die dokters teekamer in.

Velma sit op die rusbank met haar kop agteroor en ruk haar kop op toe Linda instorm. “Waarvoor de hel het jy die pos in die saal aanvaar, ek kan sommer sien hierdie nuwe suster gaan probleme gee!” vlieg Velma Linda in toe sy haar sien.

Linda is skoon uit die veld geslaan, hier storm sy nou in om Velma te kom uit trap en daar vlieg Velma haar sommer in. “Jy’s blerrie ongeskik man!” gil sy op Velma en vlieg kort om deur toe.

Velma is vinniger as sy en gryp haar aan die arm. Sy druk Linda teen haar vas. “Ek’s jammer, ek’s jammer. Ek het nou net iemand wat my verstaan en wie ek verstaan in teater gekry en nou moet ek weer van voor af begin.” Sy lei Linda na die rusbank en hulle gaan sit. “Ag moenie vir my kwaad wees nie, jy weet ek’s ‘n absolute perfeksionis wat my werk aan betref.” smeek Velma haar om vergifnis.

Linda sit nog ‘n rukkie in Velma se arm in die teekamer toe sy begin soenerig en vatterig raak. “Velma! Ons is nie nou by die huis nie!” Linda wikkel haar uit Velma se greep en spring regop. Sy swaai haar wysvinger vir haar en blaas toe vir haar ‘n soen en verdwyn by die deur uit.

Daar was net die een geval vir die dag en Linda kan Ronel verder touwys maak en oriënteer. Die volgende dag gaan dit beter en dokter Buys probeer regtig haar bes om haarself in te hou.


               Die drie weke is gou om en Ronel is gretig om alleen vir dokter Buys te skrop sonder dat iemand oor haar skouer loer. Na operasies doen die dokters rondtes in die sale. Velma storm op Linda af, haar gesig bloedrooi. “Jy beter more terug wees in teater, ek gaan daardie suster nog vermoor!” sê Velma woedend.

Linda druk haar in die teekamer in en probeer haar kalmeer voor sy met saalrondtes begin. Velma vertel haar waarom sy so ontsteld is en Linda kan maar net glimlag, maar om haar te troos, druk sy haar teen haar vas. “Gee kans, sy sal vinnig regkom Velma.” sê ek liefdevol en gee haar ‘n soen op die voorkop. “Kom dokter, jou pasiënte wag.”

Elke oggend met saalrondte is Velma soos ‘n brullende leeu, tot een oggend wat Linda genoeg gehad het. “Jy kan maar ophou Velma, ek kom nie terug teater toe nie!” sê Linda beslis.


               In die derde week van Februarie ontbied Matrone van Tonder Linda en sy wonder waaroor kan dit dié keer wees.

“Ek weet nou nie of dit goeie of slegte nuus is nie suster, maar ek het iemand in teater nodig.” sê Matrone.

Die eerste wat Linda vra is of die nuwe suster geloop het. Matrone lag en vertel dat sy darem nog uit hou onder Dokter Buys. Linda se oë rek, Matrone wil hê sy moet die waarnemende matrone van teater wees. Sy stribbel eers teë voor sy aanvaar, dis darem groot verantwoordelikheid.

“Wanneer moet ek begin?”

“More oggend.” sê Matrone.

Linda sluk amper haar kleintongetjie in: “Môre al! Gaan matrone Trevor dan nie ‘n maand kennis gee nie?”

“Haar ma is baie siek en haar pa kan haar nie alleen versorg nie. Sy werk dus vandag haar laaste dag.

Linda besluit om die nuus eers geheim te hou. ‘n Uur na sy by Matrone van Tonder weg is, ontbied Matrone Trevor haar. Sy wens Linda geluk, verduidelik die nodigste aan haar en dat sy vier uur die middag die kantoorsleutels vir haar na die Hart eenheid sal bring.


               Niemand sien toe Linda die volgende sewe uur die kantoor in teater oopsluit nie. Sy druk haar sak en baadjie in die kas, kyk vlugtig na die teater lys, sien dat hulle eers agt uur gaan begin en sluip af teekamer toe. Sy maak saggies die deur oop en hoor hoe lekker hulle van haar en Velma skinder.

“Jissie hoe het Linda dit reggekry om daai buffel van ‘n Dokter Buys getem gekry?” vra Ronel.

“Maklik, sy’t by haar geslaap!” vertel Annie en die hele teekamer se personeel lê soos hulle lag.

“Julle het wragtig nog nie opgehou skinder nie!” Linda praat skielik agter hulle en soos een man hou hulle op lag, maar die skok hou nie lank nie en hulle vlieg op om haar te groet.  “Ronel hoe gaan dit met jou en mý dokter?” sy lê aspris klem op ‘my dokter’ om reaksie te lok.

“So tussen die boom en die bas... maar vir seker gaan ek nie by haar slaap om haar mak te kry nie.” skerts Ronel en die klomp lag weer te lekker. Ronel skerts voort: “Sy is beslis nie my tipe nie...” sy stap nader na Linda en sit haar arm om Linda se lyf en vervolg: “maar jy is my tipe.”

Linda staan weg en verduidelik dat sy gevly voel, maar dat sy reeds aan iemand behoort. “’n Ene buffel Buys” herhaal sy Ronel se uitlating oor Velma en die klomp lê weer soos hulle lag.

Annatjie maak hulle stil en waarsku dat matrone nou-nou hier gaan inloer en hulle kom stil maak. “Ek wonder waar is sy, sy’s laat dis al half agt?”

Linda maak gebruik van die geleentheid om haar geheim bekend te maak en sy vertel dat Matrone Trevor gister bedank het en klaar weg is. Die klomp is eers verbaas en toe bly en toe raak hulle bekommerd, want wie gaan nou weer hulle lewens in teater versuur. Dit gons soos die klomp onder mekaar praat. Linda het intussen deur toe gestap, sy slaan hard met haar hand teen die deur en almal kyk verbaas na haar.

“Ek wil net sê... ek duld nie stuitigheid in my teater nie!” en hou haar lippe getuit terwyl sy dit sê en bars toe uit van die lag. Almal vlieg weer uit hulle sitplekke en wens haar geluk.

Velma is ook baie bly om Linda terug te hê in teater, sy is nou wel nie weer skrop suster nie, maar ten minste is sy nou nader as sy wil gaan stoom afblaas.


               Na drie maande as waarnemende matrone roep Matrone van Tonder haar weer in en smeek haar om die pos permanent te beklee. Dis ‘n groter salaris, elke naweek af en sy werk elke dag net tot vier uur die middag. Sy aanvaar met graagte. Om haar aanstelling te vier nooi Velma al die teater personeel die naweek vir ‘n braai by haar huis uit.


               Linda se werk as matrone is aansienlik makliker noudat Velma en Ronel vriende geword het. Velma kom nou nie meer elke dag by haar kantoor in om oor haar skrop suster te kla nie... tot daardie eendag... Anna bars by Linda se kantoor in en is erg ontsteld. Sy skree dat Linda gou teater een toe moet gaan want Dokter Buys en Ronel gaan mekaar doodmaak. Linda kan dit nie verstaan nie, want die twee het dan nou so goed oor die weggekom. Sy vlieg by haar kantoor uit en en storm teater een binne. Almal staan om die pasiënt behalwe die skrop suster.

“Waar is Suster Brits, Dokter?” Linda is nou hoogs beduiweld.

“Sy is onbevoeg, sy’t hier uitgestorm! Jy beter gaan op skrop, my pasiënt kan nie langer so lê!” sê Dokter Buys op haar ou buffelagtige manier.

“Ag weet jy, julle is so blerrie kinderagtig!” gil Linda terwyl sy skropkamer toe storm. Sy pluk haar ringe en horlosie af en druk dit in haar sak. Linda steek haar hand uit om die seep te vat en sy verstar...

Daar lê die mooiste verloofring en sy hoor Velma se sagte stem agter haar. “Linda... trou met my.”

Die oomblik is so groot dat Linda sommer in trane uitbars en so tussen deur die trane gee sy haar antwoord.

Die klomp in teater een gil en juig en die pasiënt gaan sit regop. Linda kyk verbaas na die pasiënt op die tafel en sien dis niemand anders as Ronel nie. Alles was net ‘n slim set om haar in die teater te kry.

Velma steek die ring aan Linda se vinger en dit pas perfek. Sy glimlag en hulle soen mekaar. Hulle is net bewus van mekaar, hulle fluister liefdes verklarings in mekaar se ore en sluit dit af met ‘n hartstogtelike soen.

No comments:

Post a Comment