My Vonkel Oog Meisie


“Hemel Henk, ek teken my lewe hier weg!” sê Elaine nadat sy die soveelste dokument onderteken het.

“Ek is jammer Elaine, dis nou maar hoe die stelsel werk. As ons nie die geringste detail invul en teken nie, kan jy jou restaurant in ’n oogwink verloor.” sê Henk en hy klap sy vingers.

“Kan jy glo dat ek 60 moes word voor ek my eie restaurant kon besit.” sê sy en slaan haar hande om haar wange.

Elaine is ’n bo baas sjef, sy het immers by die bestes geleer. Vir 15 jaar was sy in die buiteland en het in Amerika, Engeland en Frankryk net by die bestes geleer. Sy is reeds 10 jaar terug in Suid-Afrika en het nou uiteindelik die kans gekry om haar eie restaurant te besit.

 

              Deidre kom aangehardloop en swaai haar arms. “Ek weet julle maak 6 uur toe, maar ek moet net eenvoudig ’n koppie koffie in my lyf kry!” sê sy en plak haar sommer by die naaste tafel neer.

“Mevrou, ons maak toe sodra die laaste kliënt weg is.” lig die kelner haar in.

Deidre is uit die veld geslaan, want 2 weke gelede was sy ook hier en toe het die restaurant 6 uur gesluit. Sy kyk om haar rond, dat sy wel by dieselfde plek is.

Die kelner sien die frons op haar voorkop en verduidelik dat die plek nou onder nuwe bestuur is. Die nuwe eienaar het volstrek geweier dat ’n restaurant so vroeg sy deure toemaak, want die lekkerste eet en kuier begin eers 10 uur die aand.

“Mev. Elaine het ons in skofte ingedeel want, soos sy gesê het, geen mens kan werk van 7 uur die oggend tot 10 of 11 uur die aand nie. Ek het 5 uur aan diens gekom en werk tot die restaurant toe maak.” verduidelik hy verder.

Deidre glimlag by oor die goeie nuus. “Nou in daai geval, bring my sommer ’n toasted ham, cheese en tomato ook asseblief.” Die kelner knik en gaan gee haar bestelling in.

Terwyl Deidre aan haar koffie teug, kyk sy om haar rond, maar sien nie ’n nuwe naam nie, die menu wat sy gekry het, het ook nog die ou naam ‘Brewer’s Diner’ voorop, met ’n plakker wat lees ‘formerly known as’ voor die naam geplak.

Die kelner bring haar bestelling en sy vra hom uit daarna. Hy verduidelik dat die nuwe naam borde volgende Vrydag opgesit gaan word en dat die nuwe menu’s dan ook hier sal wees.

“Mev. Elaine wou nie kliënte verloor, deur die restaurant toe te maak, sodat nuwe naam borde opgesit en verstellings gedoen kan word nie.” vertel hy verder.

“Is mev. Elaine hier, ek sou haar graag wou ontmoet?” vra Deidre nuuskierig.

“Nee, maar mnr. Martin, die bestuurder is hier.” sê hy en roep hom vinnig nader toe hy hom gewaar.

Sy rol haar oë, sy was nou nie lus om dié man te ontmoet nie, maar glimlag vriendelik toe hy voor haar tot stilstand kom.

“Welkom, skone dame. Dis nog so bietjie deurmekaar hier met die name en spyskaarte, maar na Vrydag sal alles in orde wees.” lig hy haar in. “Ek nooi jou persoonlik uit na ons formele opening Vrydagaand.” sê hy en maak ’n buiging voor Deidre.

“Baie dankie, mag ek my drie vriendinne saambring?” vra sy vinnig.

“Maar natuurlik!” sê hy, vat haar hand in syne en druk sy warm nat lippe op die agterkant.

Sy glimlag verleë en toe Martin omdraai en wegstap vee sy die agterkant van haar hand teen haar langbroek af.

 

               Deidre is in haar noppies omdat die restaurant nou laat oop bly. Sy kan rustig op haar skoot rekenaar werk, want daar in die kommune waar sy bly is nie altyd rus en vrede nie. Deidre verkies om in ’n kamer te bly want sy reis baie, dit sou net mors van geld wees om in ’n huis of woonstel te moes bly, het sy aangevoer toe iemand haar vra hoekom sy op 40 nog nie ’n huis of woonstel het nie.

Sy is ’n rubriekskrywer vir een van die bekende dagblaaie in Suid-Afrika en moet kort-kort iewers heen ry vir ’n storie, of ‘scoop’ soos sy dit noem.

Haar selfoon lui en sy antwoord. “Dee waar is jy dit half 8!” gil Ansie amper histeries in haar oor.

“Haai rêrig.” antwoord sy sarkasties. “Ek sal nou daar wees liefie, ek het heerlik rustig gewerk en nie die tyd dopgehou nie.”

Deidre druk haar selfoon af en roep die kelner nader vir die rekening.

“Dis als reg mevrou, mnr. Martin het gesê die ete is op die huis.” stel hy haar in kennis en glimlag breed.

Haar oë rek. “Mev. Elaine sal moet oppas, mnr. Martin gaan haar bankrot hê voor die opening Vrydag.” spot sy. “Sê vir mnr. Martin dankie, maar volgende keer gaan ek betaal.” sê sy sarkasties en staan op nadat sy ’n fooitjie vir die kelner gelos het.

Hy staan sy kop en krap, want hy kan nie verstaan hoekom die kliënt vies is nie, hy sou maar alte bly gewees het as iemand vir sy ete sou betaal. Hy glimlag van oor tot oor toe hy sien hoe groot sy fooitjie is en vergewe haar sommer dadelik.

 

               Deidre het skaars haar aktetas en skootrekenaar neergesit of Ansie is op haar.

“Dee jy kon maar net laat weet het dat jy gaan laat wees. Ons weet mos jy is altyd 6 uur by die huis.” sê sy ontsteld.

Adri en Tanja storm ook haar kamer binne.

“Ja! Wil julle twee my ook uittrap!” vra sy vies.

“Nee, maar waar wás jy die hele tyd?” vra Adri kortaf.

“Het jy dalk ’n skelmpie waarvan jy ons nog moet vertel?” vis Tanja en lag kliphard.

“Ag nee, julle is sommer nou verspot. Ek het koffie gaan drink by my usual plek en sommer ’n toasted broodjie ook geëet. Ek het nie die tyd dopgehou terwyl ek besig was met werk nie! Tevrede?”

Ansie wou nog sê dat die restaurant dan 6 uur toemaak, toe Deidre haar in die rede val en verduidelik van nuwe tye en nuwe bestuur. Sy ril toe sy hulle vertel dat Martin haar ’n nat soen op haar hand gegee het en vee sommer weer die agterkant van haar hand aan haar broek af.

Adri is nou ene ore en vra net uit oor Martin. Hoe hy lyk, is hy vriendelik en of hy sexy is.

“Adri, hou jou in, wat van Neels.” rep Ansie eerste ’n woord.

Sy kyk na Ansie en staan van Deidre se bed af op. “Hy’s ’n poephol!” sê sy en stap by die kamer uit. Die drie wip soos hulle skrik toe Adri haar kamerdeur toe klap.

“Nou wat nou?” vra Ansie, die ene onskuld.

“Ai Ans, jy weet ook maar nie wanneer jy moet stilbly nie nè?” sê Tanja vies en stap na Adri se kamer. Sy klop aan die deur, maar Adri ignoreer haar.

Sy kom weer terug. “Ek dink hulle verlowing is af.” sê sy en leun teen die kosyn.

“Hoe weet jy?” vra Deidre.

“Hulle het verskriklik baklei toe ek vanmiddag hier aankom na werk. Ek was net ’n rukkie in my kamer toe ek deure hoor toe klap en Neels sy bakkie hier weg spin. Nie 5 minute later toe kry ek Adri waar sy op haar bed lê en huil.” Tanja sug toe sy klaar vertel het.

“As julle klaar geskinder het, wil een van julle koffie hê?” vra Adri skielik agter Tanja.

“Ag, demmit, ons skinder nie Adri!” gil Tanja die gang af. Sy vlieg kortom en draf agter haar aan kombuis toe.

“Sien jy Ansie! Dis hoekom ek eerder op ’n ander plek werk, want hier het niemand rus en vrede nie.” laat Deidre hoor.

Ansie trek net haar skouers op. “Daai twee gaan soos ’n blerrie couple te kere.” sê sy.

Deidre giggel. “Maar ons weet mos Tanja het van die begin af ’n ogie op Adri. Onthou jy hoe ongelukkig was sy toe sy uitvind Adri is nie gay nie en hoe sy vir dae aaneen ge-sulk het toe Adri en Neels die dag verloof geraak het.” Ansie en Deidre lag te lekker en geniet die stukkie skinder terdeë.

Adri en Tanja bring vir hulle koffie en die vier kuier verder op Deidre se bed. Sy praat weer oor die restaurant en vertel dat hulle vier uitgenooi is na die formele opening.

 

           Deidre is vroeg by die kommune en is besig om ’n tas klere te pak.

“Waar gaan jy nou weer heen?” vra Tanja toe sy tuis kom.

“Bloemfontein.” antwoord sy en gaan sit op die bed. “Verdomp! Ek gaan die restaurant se opening môreaand mis.” sê sy en klink baie teleurgesteld.

“Ag, toemaar my ding, ons sal jou op hoogte hou met SMS’e en sal foto’s aanstuur.” sê Tanja met deernis in haar stem.

Deidre groet en vra Tanja om die ander namens haar te groet. Sy stap uit waar die taxi reeds staan en wag.

              

               Dis koud en dit reën toe Deidre in Bloemfontein land. Sy kon nou lekker warm in Pretoria gesit het by haar gunsteling kuierplek, met die beste koffie in die land, dink sy vies by haar self.

Sy het net klaar uitgepak toe die eerste SMS van Tanja deur. “Die kos is uit die boonste rakke.” lees Deidre en gooi die foon op die bed neer. Sy gaan staan voor die venster en kyk hoe dit reën. Die reën teen die vensters lyk soos trane wat loop en sy pluk die gordyne toe.

Die een SMS na die ander kom deur, maar Deidre ignoreer dit. Sy kry haar self verskriklik jammer, hier moet sy bly tot Dinsdag voor sy kan teruggaan Pretoria toe.

Sy besluit om maar vroeg in die bed te spring. Traak-my-nie-agtig haal sy haar foon van die bedkassie af waar sy dit neergegooi het toe sy gaan inkruip het.

“Liewe aarde Tanja, 13 SMS’e!” sê sy hardop.

Sy besluit om die laaste 2 oop te maak, dis MMS’e en dis gewoonlik foto’s. Die een is van ’n ouerige gryskop vrou wat sing op ’n klein verhogie. Die volgende een is ’n duidelike foto van dieselfde vrou afgeneem saam met Tanja en Ansie. “Sjoe, sy’s sexy, ek wonder wie sy is?” praat Deidre met haar self. Sy vlieg regop en bel dadelik vir Tanja, sy wil weet wie die vrou is.

“Halo Tanja! Tanja!” roep Deidre en druk die foon af, want Tanja kan haar nie hoor nie. Haar foon lui en sy antwoord blitsig.

“Sorry Dee, ek kon jou nie hoor nie en toe ek buite kom het jy klaar die foon doodgedruk.” verduidelik Tanja.

“Wie is die vrou saam met jou en Ansie?” vra sy.

“Sjoe, jy moet haar hoor sing. What a voice!”

“Ja, ja, maar wie is sy?” vra Deidra ongeduldig.

“Jy het nie my SMS’e gelees nie, want dan sou jy geweet het. Sies vir jou, ek hou jou op hoogte en jy ignoreer my.” berispe Tanja haar.

Deidre is besig om haar geduld te verloor en net toe sy Tanja iets wou toe voeg, kry sy haar antwoord.

“Dis die eienaar, Elaine. Sy’s sexy hoor, maar bietjie te butch vir my.” laat Tanja weer hoor en giggel.

Tevrede glimlag Deidre en druk haar selfoon af nadat hulle gegroet het. Daar kom nog ’n SMS deur en sy lees dit vinnig.

“Martin wou weet waar jy is... ” skryf Tanja.

Deidre trek ’n gesig, toe sy dink aan Martin. Sy raak uiteindelik aan die slaap nadat sy vir die soveelste keer na Elaine se foto gekyk het.

 

               Dinsdag breek uiteindelik aan en Deidre vlieg terug Pretoria toe. Ansie kry haar op Lanseria lughawe en sy kan nie uitgepraat raak oor die restaurant se opening Vrydagaand nie en veral nie oor die nuwe sexy eienaar, Elaine nie. Sy vertel hoe wonderlike stem sy het en noem weer hoe sexy sy is vir haar ouderdom.

“Wil jy gou daar gaan koffie drink, dalk is Elaine daar, dan kan ek jou aan haar voorstel.” vra Ansie.

“Dankie, Ans, maar ek’s moeg, wil by die huis kom.” maak Deidre vinnig verskoning.

Ansie knik en brei verder uit oor die restaurant. “Elaine wil elke Woensdag en Vrydag ’n show hou. Sy sê sy wil self sing, maar sal op Vrydae ’n kunstenaar kry om die kliënte te vermaak terwyl hulle eet.”

“Dit klink goed.” sê Deidre.

“Dis môre Woensdag! Ek vat julle almal uit vir ete en dan kan jy sommer hoor hoe mooi sing Elaine.” laat Ansie hoor.

Deidre dink weer aan die foto van die gryskop vrou op haar foon. Ansie babbel voort, maar sy neem nie ’n woord in nie. Sy het gewonder hoe sy vir Elaine sou ontmoet sonder om alleen net daar op te daag vir koffie of iets.

 

               Deidre is vroeg by die huis en sit rustig vir die ander om tuis te kom. Haar senuwees begin knaag, hoe meer sy aan Elaine dink. Sy voel soos iemand wat op ’n blind date gaan.

Uiteindelik is die ander drie ook by die huis en hulle kies koers restaurant toe.

“Just Perfect.” lees Deidre hardop.

Die ander drie kyk na mekaar, maar sê niks. Hulle gaan sit by die tafel wat die kelner hulle uitgewys het. Elkeen kry ’n spyskaart in die hand en Deidre verkyk haar daaraan. Sy vryf met haar voorvinger oor die nuwe naam en spreek dit weer hardop uit.

“Halo halo!” groet Martin vriendelik en draai dadelik na Deidre. “Ek het jou gemis Vrydagaand.” sê hy saggies en vat weer haar hand. Sy knyp haar oë toe en so wraggies plant hy weer ’n soen op die agterkant van haar hand. Hy maak weer ’n galante buiging voor haar en verdwyn.

Die drie bars uit van die lag en Deidre gluur hulle aan. Vinnig demp die drie hulle lag en druk weer hulle neuse in die spyskaarte in.

Deidre vee weer die agterkant van haar hand aan haar langbroek af, sy gril en wens die man wil ophou om haar hand te soen.

 

               Martin storm Elaine se kantoor binne. “Elaine! Elaine! Sy’s hier!” sê hy opgewonde en val op die stoel neer.

Elaine ruk haar kop omhoog en los alles waarmee sy besig is. “Martin, waarvan praat jy?” vra sy en sug.

“Sy’s hier!” roep hy uit.

“Wie?! Ag, hemel moet ek als uit jou uittrek?” vra sy weer, die keer ongeduldig.

“Deidre.” fluister hy.

Elaine kyk hom fronsend aan en wou net aangaan met haar werk toe Martin gil.

“Die meisie wat ek jou van vertel het!” hy sug. “Sy was nie by die opening nie, want sy moes werk. Deidre!”

“O.” sê Elaine en gaan aan met haar werk. Sy het nog steeds nie ’n idee van wie hy praat nie.

Elaine kyk vlugtig op haar horlosie, dis amper half 9. Sy trek haar hemp reg en sluk ’’n bietjie vodka weg wat nog daar in ’n glas staan. Diep trek sy haar asem in en stap uit na die verhogie toe. Sy gewaar Ansie en Tanja en waai vir hulle. Sy heet almal welkom en spesiaal vir Ansie, Tanja en Adri en maak melding van hulle gas wat saam met hulle aan tafel sit.

Sy vertel eers ’n paar grappies voor sy begin sing. Deidre se mond val oop toe sy die vrou se stem hoor. Tanja was reg, what a voice.

Na ’n halfuur se gesing stap Elaine van die verhogie af en sluit haar by Deidre hulle aan. Sy gaan staan agter Ansie en sit haar hande op Ansie se skouers.

“Laat ek jou aan ons vriendin, Deidre voorstel, ons noem haar sommer Dee.” sê Ansie en sit haar hand bo-op Elaine se hand.

Deidre glimlag vir haar, maar haar oë is op Ansie se hand wat Elaine s’n vashou.

“So dís nou Deidre!” sê Elaine.

Deidre frons en wonder hoekom beklemtoon sy dit so.

“My goeie vriend, Martin, kan nie uitgepraat raak oor jou nie.” sê Elaine asof sy Deidre se gedagtes gelees het.

Voor Deidre iets kan sê maak Elaine verskoning en gaan sing nog ’n paar liedjies.

“Oe! Dit klink my onse Martin is verlief op Dee.” terg Adri en hulle bars uit van die lag.

“Ja en Elaine dink nou ek’s straight!” dis uit voor sy gedink het.

“Dee? Jy het die hots vir Elaine! Dis hoekom jy my Vrydagaand gebel het en uitgevra het oor die vrou op die foto’s wat ek jou gestuur het.” sê Tanja.

“Ja en sy het die hots vir Ansie!” kap Deidre terug.

Ansie se kop ruk op. “Ag, nou’s jy heeltemal simpel.”

“Wel, hoekom het sy dan agter jou gaan staan en haar hande op jou skouers gesit. Om alles te kroon, gaan sit jy toe jou hand bo-op hare!” snou Deidre haar toe.

“Haai julle twee, ons is nou in ’n restaurant nie by die huis nie.” vermaan Adri hulle.

Ansie staan op en gaan buitetoe, terwyl die ander drie in stilte verder eet.

 

               Ansie steek ’n sigaret op, hou die rook lank in voor sy dit uitblaas. Sy dink aan Deidre se woorde en hoop nie dat sy’s reg nie. Elaine is sexy en oulik maar is te oud vir haar, Dee is die een wat van ouer vrouens hou, nie sy nie. Sy wonder of sy vir Elaine moet vertel dat Dee gay is en Martin staan nie ’n kans by haar nie...

Sy wip soos sy skrik toe Elaine skielik agter haar begin praat. Sy vat Ansie aan die skouer en gaan sit langs haar op die bankie. “Toe ek weer kyk is jy weg, het gedink jy’s huis toe, maar Tanja het my gesê jy’s hier buite om te rook.”

Ansie glimlag, haal haar sigarette uit en bied een vir Elaine aan. Sy wys dit egter van die hand en verduidelik dat sy 5 jaar gelede opgehou rook het, dat dit so moeilik was, want sy rook al vandat sy 15 jaar oud was. Hulle gesels oor alles en nog wat en kom nie agter hoe die tyd vlieg nie. Ansie vlieg op toe Tanja en Adri uitgestap kom, gevolg deur Deidre en Martin. Deidre is hoogs geïrriteerd met hom en groet sommer daar en dan. Martin vat weer haar hand, maar die keer pluk sy dit weg en stap aan kar toe.

Hy staar haar fronsend agterna en trek net sy skouers op.

Elaine het gesien wat gebeur het en wonder hoekom Deidre so opgetree het. Sy weet Martin is ’n rok jagter en kan soms vreeslik opdringerig wees. Deidre is ’n mooi vrou en daar is iets betowerends aan haar, sy’t ’n vonkel in haar oë wanneer sy vir mens kyk en Elaine verstaan hoekom Martin so gaande is oor haar. Sy het aantrekkingskrag, dis verseker.

 

              Elaine stap terug, nadat almal gegroet het. Die laaste kliënte binne-in die restaurant begin uitstap en sy help gou om op te ruim voor sy na haar kantoor toe gaan. Sy het nog heelwat papierwerk wat op datum moet kom en sal nog ’n rukkie by die restaurant wees.

Die werkers kom groet haar en sy gaan sluit gou vir hulle oop. Martin maak ook aanstaltes om te gaan en sy wag sommer by die deur vir hom. Hulle groet en sy sluit weer die deur voor sy na haar kantoor toe terugkeer.

Vir ’n oomblik dink sy aan Deidre. Daar’s iets aan die vrou. Sy sien ’n fout raak op een van die rekenings en vergeet onmiddellik van haar.

 

               Deidre sit voor die restaurant in haar kar en weet nie of sy moet ingaan en of sy liewer moet ry nie. Sy wil graag weer vir Elaine sien, maar as Elaine en Ansie gevoelens het vir mekaar, dan sal sy terugstaan. Haar foon lui net toe sy wou uitklim. “Ag nee! Julle is nou lekker laf. Dis kort kennisgewing!” Sy maak haar deur toe en slaan met haar vuis op die stuurwiel. “Hoekom moet ek gaan, dis Erik se area!” gil sy. Sy druk die foon af en gooi dit op die sitplek langs haar.

Haar werk het geskakel. Sy het opdrag gekry om vanaand nog Port Elizabeth toe te vlieg. Die vlug vertrek 10 uur vanaand en is klaar bespreek. Daar is geld in haar bankrekening betaal vir verblyf, etes en om huurmotors te betaal. Deidre trek weg en jy hoor net bande skree.

Elaine hou haar dop en wonder hoekom sy so wegjaag, sy het so gehoop sy sou inkom vir koffie.

 

               Deidre gooi klere in ’n tas en bel ’n taxi om haar lughawe toe te vat. Op pad daarheen bel sy gou vir Ansie om haar van die verwikkelinge te vertel.

“Ans, ek’s op pad PE toe en hulle kon nie ’n slegter tyd gekies het nie.” vertel sy.

“Hoekom sê jy so Dee, daar’s mos niks wat jou hier hou nie?”

Deidre rol haar oë toe sy haar vervies, maar sy laat niks val nie. “Sê vir die ander twee ek sê koebaai, sal jy.”

Sy praat met niemand nie en sit met toe-oë die hele vlug deur tot in Port Elizabeth. Haar gedagtes is by Ansie en Elaine.

Die vliegtuig land en Deidre kry ’n taxi hotel toe.

 

               Elna, een van die joernaliste op die konferensie, is baie danig met Deidre. Sy vra haar uit vir ete en Deidre aanvaar.

Hulle kuier en eet lekker. Deidre hou van haar geselskap, sy is grappig, pret en lekker laf met tye, maar vang haar self waar sy kort-kort aan Elaine dink.

Elna vat haar hand. “Jou gedagtes is nie hier nie. Waar was jy, as ek mag vra?”

Deidre glimlag verleë en trek haar hand stadig uit Elna s’n uit. “Sommer net iewers.”

“Mag ek weet wat haar naam is en is sy darem die moeite werd?” Elna besef dat hierdie mooi vrou hier voor haar, sê hart aan iemand anders behoort.

“Ag, dis niemand nie. Kom ons gaan dans iewers.” sê Deidre en probeer opgewek lyk. Sy lag maar haar oë lag nie saam nie.

Elna betaal die rekening en hulle stap uit die restaurant.

“Dis okei Dee, die ete was vir my genoeg.” sê Elna en gee haar ’n drukkie.

“Nou kom drink dan ietsie saam met my in my hotelkamer.” smeek sy haar.

Elna wys dit van die hand, sy weet Deidre nooi haar om verkeerde redes na haar kamer.

Hulle kry ’n taxi en hy laai Deidre voor haar hotel af en ry verder met Elna, om haar te gaan aflaai.

 

               ’n Week is verby en Deidre is so geïrriteerd met haarself. Elke keer as sy vir Ansie bel is sy by Elaine.

“Ek dog Elaine is te oud vir jou!” skree sy op Ansie se foon. Sy is dadelik spyt daaroor, want sy kan nie dié boodskap delete soos die SMS’e wat sy elke keer vir Ansie wil stuur en hulle dan weer delete nie.

’n Paar uur later kry Deidre ’n SMS op haar foon van Ansie, sy voel seergemaak oor die boodskap wat sy op haar foon gekry het. Deidre SMS dadelik terug en vra om verskoning.

 

               Ansie en Elaine kuier gereeld saam. Af en toe help Ansie haar met boek werk op die dae wanneer Elaine as sjef in haar eie restaurant werk. Sy maak die lekkerste geregte en Ansie help sommer proe ook.

Elaine is besig om haar spyskaarte op te gradueer. Sy wil eksotiese disse op die spyskaart byvoeg, sodat daar iets vir elkeen se smaak kan wees. Iets vir die fynproewer en alledaagse kosse ook.

Elaine stap by haar kantoor in waar Ansie besig is om te werk. Sy hou ’n lepel uit na haar toe. “Proe gou hier!” sê sy.

“Hmmm! Wat ís dit? Dis lekker.” Ansie vat ook sommer die lepel by haar en lek dit silwerskoon.

“Dis my eie resep wat ek nou net beproef het. Ek kort nou net ’n naam daarvoor.”

“Vernoem dit na jou restaurant. Just Perfect!” vat Ansie ’n kans.

“Jy’s briljant! Dit word onder die poedings gelys, so almal weet dis nagereg.” Elaine kyk na Ansie. Sy het in die afgelope paar weke ’n sagte plekkie vir haar ontwikkel, sy geniet haar geselskap, veral haar opregtheid. Sy dink egter dat sy bietjie meer vir haar begin voel, sy wag net vir die regte oomblik, soos nou...

“Daar’s room op jou lip.” sê Elaine en vee Ansie se lip skoon met haar duim. Sy vat aan haar wang en voor Ansie mooi weet wat aangaan is Elaine se lippe op hare.

Geskok ruk Ansie haar kop weg. “En nou Elaine, wat was dit?” vra sy en vat aan haar mond.

Elaine verstaan nie mooi nie. “Wat vir ’n vraag is dit Ansie?” Sy vat weer aan Ansie se wang, maar haar hand word weggestoot.

Ansie staan uit die stoel uit op. “Ek’s gevlei Elaine, maar... ” sy sukkel om die regte woorde te kry, sy wil haar nie seermaak nie.

Elaine gaan sit op die rusbank in haar kantoor. “Jis, ek voel nou soos ’n idioot.”

“Asseblief moenie so voel nie. Dis my skuld.” probeer Ansie paai.

“Ek’s jammer Ans, ek het die verkeerde indruk gekry. Jy kuier so baie hier en help my met die boeke dat ek gedink het jy voel iets vir my.” verduidelik Elaine.

Ansie lag. “Ek voel iets vir jou, maar nie romanties nie. Ek hou van jou geselskap dis hoekom ek so baie hier kuier.” sê sy en gaan sit langs Elaine op die bank.

Hulle omhels en hou mekaar styf vas.

Tanja kom ingestap en draai stilletjies in haar voetspore om. Sy sien die omhelsing en maak haar eie gevolgtrekkings.

“Ek hoop jy gaan nog steed die boeke kom doen?” vra Elaine.

“As jy belowe om my nie weer te soen nie, sal ek weer kom help.” Sy bars uit van die lag en stap saam met Elaine by die kantoor uit.

Ansie steek vas toe sy Tanja by een van die tafels gewaar. “Is als okei Tanja?”

“Ja, als okei. Jy lyk happy Ans.”

“Ja, ek is. Ek en Elaine het nou net... ”

“Ag nee, Ans! Spaar my die detail.” val Tanja haar in die rede.

Ansie frons en wonder van watter detail Tanja praat, toe sy haar gedagtes ook onderbreek.

“Ek het ’n SMS van Deidre gehad, sy vlieg vanaand terug.” lig sy Ansie in.

Ansie grinnik. “Sy praat mos nie met my nie. Moet ons haar gaan haal? Wanneer land sy?”

“Nee, ek dink sy’t klaar geland.”

Ansie byt haar onderlip vas, sy voel bekommerd oor Deidre. Wat sou sy in die mou voer, as sy nie wil hê iemand moet haar gaan haal nie.

 

               Deidre het vir haar sigarette gekoop en sit in die rokers area in ’n kroeg op die lughawe. Sy’t ’n dubbel brandewyn en coke bestel en het dit al halfpad gedrink. Elaine maal in haar kop en sy weet nie hoe om die vrou daar uit te kry nie.

Half 12 die nag, kry sy ’n taxi om haar na die kommune te vat.

Sy maak saggies die deur oop en sluit dit versigtig. Moeg val sy op haar bed neer.

Ansie gaan staan in haar kamerdeur en sit die lig aan. “Jy’t gerook en gedrink. En jy’s laat!”

“Ja, ma! laat Deidre sarkasties hoor. “Los my uit, ek’s moeg.” voeg sy by en trek die kussing oor haar kop.

“Jou houding stink!” snou Ansie haar toe en vlieg kortom terug na haar eie kamer.

 

               Ansie en Deidre is knorrig met mekaar die volgende oggend aan die ontbyt tafel.

“Ag, wat gaan nou met julle twee aan?” vra Adri.

“Kyk hier, as jy en Tanja aangaan soos mense wat spirits gesuip het, chip en Dee nie tussenin nie!” gil Ansie vir haar en staan sommer van die tafel af op. “Ek gaan liewers ontbyt by Just Perfect eet, Elaine is ten minste vriendeliker.” sê sy.

“Dalk kry jy weer ’n knippie.” Tanja besef sy het uit haar beurt uitgepraat.

 Ansi was op pad om uit die kombuis te loop toe sy hoor wat Tanja kwytraak. Sy draai in haar spore om, dit lyk of sy ’n spook gesien het.

“Wát het jy nou net gesê?!”

Deidre het dit ook gehoor. Die een oog is groter as die ander een en sit penregop. “Verduidelik bietjie Ansie.” vra sy.

“Stil jy Dee! Wat het jy gesê Tanja, herhaal... ek wag!” haar gesig is nou rooi van woede. Sy loop tot voor Tanja en dit lyk of sy haar wil aanrand so kwaad is sy.

Adri gaan druk tussen hulle in en probeer paai.

Tanja spring van die stoel af op en hou haar hande in ’n T vorm voor haar. “Time out Ans, time out.”

Ansie staan nou met haar arms gekruis voor haar en sy wag op ’n verduideliking. Tanja staan ongemaklik en rondtrippel en besef sy sal moet bieg.

“Okei, okei! Ek het gister op jou en Elaine afgekom waar julle mekaar omhels het. Ek het saggies omgedraai en geloop voor julle my kon sien.”

Niemand sien hoe Deidre die kombuis verlaat, haar aktetas en skootrekenaar vat en by die huis uitgaan nie.

“Jou stupid! Ons het mekaar ’n drukkie gegee oor die misverstand wat daar tussen ons was. Ons stel glad nie in mekaar belang nie. Ek is nie die een wat van ouer vroue hou nie, Dee is die een.” Ansie beduie in die rigting waar Dee laas gesit het, maar haar stoel is leeg. “Waar is Dee julle?” vra sy en storm voordeur toe. Sy pluk die deur oop en sien dat Deidre se kar weg is. “Tanja, jy met jou groot bek. Dee het nou net die helfte van die storie gehoor. Sy is verlief op Elaine!”

Adri skud haar kop. “Julle klomp lesbians is ’n blerrie hand vol!” voeg sy Ansie en Tanja toe.

“Gaan blaas doppies man! Jy’s te blerrie straight om enige iets te verstaan!” snou Tanja haar toe.

 

               Dis 11 uur die nag en niemand het nog ’n oog toegemaak nie. Hulle probeer Deidre bel, maar haar foon is af.

“As Dee iet oorgekom het, hou ek jou verantwoordelik!” sê Ansie vies en druk haar voor vinger amper in Tanja se gesig.

Daar’s ’n geskree van bande en ’n asblik wat omval buite. Hulle storm by die voordeur uit, Ansie is eerste by.

“Dee!” skree sy en pluk die kardeur oop.

Deidre kyk na haar met rooi behuilde oë en klap Ansie se hand weg toe sy haar uit die kar wou uithelp. “Los my uit!”

Ansie gee pad en wys vir Adrie en Tanja om haar uit te help.

“Sjoe, Dee, jy ruik soos ’n sjebien!” laat Adri hoor en kry ’n klap teen haar skouer van Tanja af. “Nou waarvoor was dit?” vra sy en vryf haar skouer.

“Empatie suster empatie!” bulder Tanja en voel lus om haar sommer weer te veeg.

Ansie stap solank kombuis toe, terwyl die ander twee sukkel-sukkel met Deidre aangestruikel kom.

Sy plak ’n beker swart, soet koffie voor haar neer en beveel haar om te drink. Deidre drink maar gedwee en gee kort-kort vir Ansie ’n vuil kyk.

Ansie en Tanja maak verskoning dat hulle moeg en vaak is en liewer wil gaan inkruip.

“Dee, mag ek verduidelik?” vra Ansie.

Deidre gee haar nie kans nie. “Ek dog jy hou nie van ou vrouens nie? Nou is hier een waarin ek belangstel en jy vry haar met die eerste geleentheid wat jy kry!” Deidre sluk die laaste swart koffie weg en stap kamer toe. Halfpad in die gang draai sy om. “Dis okei Ans, kry haar, ek sal wel eendag hier oorkom.” sê sy en voel baie jammer vir haar self.

Ansie storm die gang af na Deirdre se kamer. Sy stamp die deur oop. “Dee! Luister nou. Sy is te oud vir my, ek wil haar nie hê nie en sy wil my nie hê nie!”

Deidre kom regop in haar bed en staar na Ansie. Sy gaan sit op die bed en begin verduidelik oor die misverstand en dat Tanja haar eie gevolgtrekkings gemaak het.

“Vriende?” vra Ansie.

“Vir altyd!” Sy gryp Ansie om die nek en hulle gee mekaar ’n stywe druk.

 

             Deidre stop voor Just Perfect. Sy stap in en bestel ’n cappuccino. Terwyl sy haar skootrekenaar oopmaak, kyk sy rond. Sy sit nog en wonder waar Elaine kon wees toe sy skielik agter haar groet.

“Halo vreemdeling.”

Dit voel vir Deidre of haar alles in haar lam word toe sy Elaine sien. Haar maag is vol vlinders en sy glimlag breed.

Elaine merk die vonkel in haar oë, soos sy die eerste dag toe sy haar ontmoet het, al opgemerk het.

“Deidre, nee, Dee? As ek nou reg onthou. Mag ek maar hier by jou sit?” vra Elaine en wag op haar antwoord. Deidre knik instemmend en net toe sy wou gaan sit maak Martin sy verskyning.

“Kyk nou net wie het weer vir ’n slag kom kuier!”

Elaine skuif die stoel weer terug onder die tafel in. “Kuier julle tweetjies maar, julle het baie om op te vang. Martin het hom dood verlang na jou Dee.” voeg sy by en stap weg met ’n gemaakte glimlag om haar mond.

Martin plak hom ongenooid langs Deidre neer. Hy wou net haar hand vat, toe Deidre haar vervies.

“Martin, ek dink jou drade met my is gekruis of dit maak ’n kortsluiting of iets!”

Martin sit stomgeslaan na haar en staar.

“Laat ons mekaar mooi verstaan. Ek is gay en stel nie in jou of in enige man belang nie. So... kry vir jou ’n ander vrou by wie jy kan vlerksleep!” voeg Deidre by.

Martin vlieg uit die stoel en vies draf hy kantoor toe.

Elaine het die hele gesprek gehoor, sy was op pad met Deidre se cappuccino en het by die naaste tafel gaan sit toe sy hoor hoe Deidre, Martin se fortuin vertel. Sy stap nader toe Martin weg is en sit die cappuccino voor Deidre neer.

“Ek het nou iets sterker nodig.” laat val Deidre. Sy glimlag toe sy in Elaine se oë kyk en dadelik is al die vlinders weer terug in haar maag.

“Wil jy nog by my sit?” vra Deidre huiwerig. Sy weet Elaine moes gehoor het toe sy soos ’n viswyf te kere gegaan het.

Elaine trek die stoel uit en gaan sit. “Nou meer as ooit.” sê sy en kyk na Deidre se vonkelende oë.

Hulle kuier tot in die vroeë oggend ure. Uiteindelik leer sy die gryskop vrou, wie se foto op haar foon is, ken. Sy hang aan haar lippe, toe Elaine haar vertel van Amerika, Frankryk en Engeland se restaurante, hulle kos en die sjefs by wie sy geleer het.

Deidre vertel haar ook staaltjies van haar reise, sy was nou wel nie oor see nie, maar het al die hele land deurreis, a.g.v. haar werk as rubriekskrywer.

 

               Twee dae later kom groet sy vir Elaine. Sy is weer op pad en klink mismoedig. Sy wil eerder hier bly en Elaine beter leer ken. Elaine troos haar en gee vir haar ’n koffie vir die pad lughawe toe.

Die werk gaan vinnig verby en gou is sy weer by Elaine in Pretoria.

Deidre vlieg weer 2 weke later en bly ’n week weg. Sy is al so gewoond aan haar kom en gaandery, maar Elaine kan dit nie hanteer nie. 2 Maande later konfronteer sy Deidre, want hoe moet hulle mekaar leer ken as sy omtrent nooit in Pretoria is nie?

“Ek sal nooit so kan leef nie Dee. Wil jy nie standvastigheid in jou lewe hê nie?” vra Elaine. “Sodra ons mekaar bietjie leer ken, vlieg jy weer vort en as jy terugkom, is dit asof jy weer ’n vreemdeling is.” gaan sy voort.

Deidre hoor die ongelukkigheid in haar stem. “Jy is reg Elaine. Natuurlik wil ek eendag standvastigheid hê.”

Elaine gaan staan voor haar en tik haar op die neus. “Ek mis jou wanneer jy so vêr is.” sê sy en trek haar nader. “Ek wil nie ’n vreemdeling soen nie.” fluister sy in haar oor. Elaine soen haar saggies in haar nek en Deidre voel hoe alles warm word in haar.

Sy sit haar arms om Elaine se nek en maak haar oë toe. “Hoe lank wag ek nie al hiervoor nie.” fluister sy teen Elaine se wang. Haar lippe soek na Elaine s’n en hulle val saam op die rusbank in Elaine se kantoor.

Tyd het gaan stilstaan. Hulle verken mekaar se liggame en saam raak hulle op die bank aan die slaap.

 

                Half 8 die oggend lui Deidre se selfoon hulle wakker. “Waar de hel is jy?!” bulder haar baas toe sy die foon antwoord.

“O vrek! Ek sal nou daar wees meneer!”

“Nee, ek ry en jy sal maar op eie stoom in Sandton kom!” bulder hy weer en druk sommer die foon af nog voor Deidre iets kan verduidelik.

Sy vlieg op en begin aantrek.

Elaine is klaar op en aangetrek. Die restaurant moes ook al oop gewees het. Sy storm voordeur toe, die kelners staan haar groot oë en aankyk toe sy die deur oopsluit. “Ek weet, ek weet!” is al wat sy kan sê.

Die kelners is halfpad kombuis toe, toe Deidre uit Elaine se kantoor uitkom. Weer kyk hulle grootoog na haar en toe na Elaine.

“Nie ’n woord nie!” bulder sy en kan nie help om te giggel nie.

“Ek gaan nooit betyds in Sandton uitkom nie.” sê sy en groet Elaine.

“Bedank en kom werk vir my.” sê Elaine en soen haar op die voorkop.

Deidre gee ’n snork lag en blaas soentjies na haar terwyl sy kar toe loop.

 

               Deidre moes eers skoon klere by die huis kry en met die verkeer wat so druk is, stop sy half 11 eers by Sandton se kantore. Haar baas gluur na haar en toe na die horlosie toe sy die raadsaal binnekom.

Die vergadering verdaag om 2 uur die middag. Almal word eers genooi vir middagete voor hulle terugkeer Pretoria toe.

Deidre se baas neem sy kans waar. “Ek is baie teleurgestel dat jy laat was vir hierdie vergadering.” sê hy en bly ’n rukkie stil. “Jy kan opmaak hiervoor deur in Eric se plek Windhoek toe te gaan.” grinnik hy.

Sy stribbel nie teë nie, want sy weet dit was haar fout en sy ís verleë oor die werk. “Wanneer vlieg ek meneer?” vra sy en kyk hom met ’n strak gesig aan.

“Oormôre.” antwoord hy en jy sien net geel tande soos hy vir haar glimlag.

Deidre ry terug Pretoria toe. Sy weet nie hoe sy Elaine gaan meedeel dat sy Windhoek toe moet gaan nie. Windhoek is vêr, baie vêr en sy gaan vir 3 weke weg wees.

Soos sy verwag het, is Elaine nie gelukkig nie. Sy maak haar weer die aanbod om by die restaurant te kom werk, maar Deidre wys dit van die hand. Sy moet ’n maand kennis gee en sal dan nog steeds Windhoek toe moet gaan voer sy aan as verskoning.

 

               “Hello... Yes i can hear you.”

“Sorry wrong number.” sê Deidre en bel weer Elaine se nommer.

Dieselfde meisie met die Amerikaanse aksent antwoord weer. Net toe Deidre iets wou sê hoor sy Elaine op die agtergrond.

“Stop answering my phone JD! I’m expecting a private call and you can ruin things for me.”

Deidre druk vinnig die foon af. Wie’s JD wonder sy en wip toe haar foon, nog in haar hand, begin lui. Dis Elaine en sy antwoord.

“Halo, Dee. Hoekom druk jy die foon af. Ek praat en praat, maar niemand antwoord nie.”

“Ek het gedink ek het die verkeerde nommer gelui, toe ek die vreemde stem hoor.” jok Deidre.

Elaine vra uit oor die weer, hoe dit daar lyk en wou toe weet waaroor Deidre haar geskakel het. Sy is in haar noppies toe sy hoor dat Deidre die volgende dag terug vlieg Pretoria toe. Die seminaar het vroeër klaargekry as wat beplan was en sy hoef nie die volle 3 weke te bly nie.

Deidre voel nie meer so opgewonde nie, sy wonder oor die JD meisie. “Wie is JD?” waag sy die vraag.

“Ek sal jou vertel as jy terug is.” sê Elaine en groet, want sy het geregte in die oond waarna sy moet gaan kyk.

 

               Deidre besluit om Elaine te verras en neem ’n vroeër vlug. Sy kry ’n taxi om haar Pretoria toe te neem en gee die adres van die restaurant. Sy klim uit nadat sy betaal het en doen navraag oor Elaine by een van die kelners. Hy verduidelik dat sy besig is, maar haar sal roep. Deidre gaan sit by een van die tafels en bestel solank koffie.

’n Jong wulpse poppie kom uit Elaine se kantoor gestap en Elaine volg haar.

“No JD, you can’t come over. My girlfriend will be back tonight.” sê Elaine.

Deidre sit die hele petalje en dophou. Haar oë rek toe die meisie haar arms om Elaine se nek gooi en haar op die mond soen.

“Okay then! Can I come over tomorrow?” vra die meisie, maar wag nie vir ’n antwoord nie en verdwyn uit die restaurant uit.

Elaine draai terug na haar kantoor, sy het Deidre nog nie gewaar nie.

Stil glip Deidre by die restaurant uit. Sy het genoeg gehoor en genoeg gesien, sy is nie lus om na leuens ook nog te luister nie.

“Mev. Elaine, daar is iemand om jou te sien.” roep die kelner na haar en beduie na waar Deidre gesit het. Verbaas kyk hy na die leë tafel en weer terug na Elaine. “Sy het daar vir jou gesit en wag.” verduidelik hy.

Sy wys dat dit okei is en gaan loer gou in die kombuis of alles nog reg is. Sy beplan ’n verrassings ete vir Deidre, eksotiese disse uit Thailand.

Vlugtig kyk sy op haar horlosie en dat Deidre se vlug al geland het, sy behoort oor ’n uur of wat hier by die restaurant in te stap.

Elaine stap kantoor toe en bel Deidre. Haar foon is af. Elaine besluit om weer later te skakel, Deidre het seker vergeet om haar foon na die vlug weer aan te sit.

 

               “Het meneer al iemand gekry vir die P.E. trip?” doen Deidre navraag by haar baas.

“Nee, maar jy kan gaan as jy weer lus het om te vlieg.”

Deidre bevestig dat sy sal gaan. Haar tasse van Windhoek is nog nie uitgepak nie en sy vat dit net so. Sy bel ’n taxi om haar solank lughawe toe te neem.

Haar baas bel haar terug en bevestig dat die vlug bespreek is en dat geld in haar bankrekening, vir uitgawes, binne ’n uur inbetaal sal wees.

Op pad terug lughawe toe, lui haar foon en sy sien dis Elaine. ’n Traan loop oor haar wang. Sy ignoreer die oproep. Hoe kon sy haar met daai kind verneuk het.

Elaine bel nog 3 keer en gee later moed op.

 

               Deidre is al 2 dae in Port Elizabeth. Sy ignoreer elke oproep wat sy van Elaine en haar vriende afkry.

Ansie probeer weer bel, maar tevergeefs. “Hoekom antwoord sy nie haar verdomde foon nie? Dis asof sy net verdwyn het.”

Almal is rasend van bekommernis. “Bel haar werk!” stel Adri voor.

Ansie bel en Deidre se baas lig haar in dat sy in Port Elizabeth is vir 3 weke.

Sy sug van verligting toe sy die foon neersit. Almal is verlig, maar wat Elaine dronkslaan, is hoekom Deidre niks laat weet het nie.

Elaine se foon lui. “Deidre! Waar is jy?” vra sy en die ander drie sit grootoog en luister.

Dis egter ’n vreemde vrou se stem en Elna stel haar self voor. Sy verduidelik dat Deidre in ’n toestand is en iemand sal met haar moet kom praat of sy gaan haar werk verloor.

Elaine druk die foon af en staar na Ansie. “Ons moet P.E. toe, Dee is in die moeilikheid.” lig sy haar in.

Die vroegste vlug is eers 3 uur die volgende oggend en Ansie bespreek vir haar en Elaine elkeen ’n sitplek.

 

           5 Uur die oggend stap Elaine en Ansie by die hotel in waar Deidre tuis gaan. Hulle klop aan die hotel kamerdeur en Elna maak oop.

Deidre sit by die tafel, haar kop vooroor op haar arms.

“Sy het nog nie opgehou drink van gister laatmiddag af nie.” lig Elna hulle in.

Elaine loop tot by haar. “Dee.” sê sy saggies.

Deidre ruk haar kop op. Sy knyp haar een oog toe en kyk na Elaine. “Waar is ek?” vra sy sleeptong. “Ek dog ek’s in P.E. maar lyk my ek’s terug in Pretoria.” sê sy en giggel.

Ansie is ook nou by haar en probeer haar ompraat om bietjie op die bed te gaan lê.

Deidre kyk na Ansie, haar een oog nog steeds toe geknyp. “Wragtig! Ek’s in Pretoria!” gil sy en probeer om ’n sigaret op te steek.

Elaine vat die sigaret uit haar hand uit en help haar op. Haar bene knak onder haar en Elaine vang haar. Sy dra haar bed toe en maak haar gemaklik.

Terug by Ansie en Elna wil sy weet wat het gebeur, want Deidre het nie ’n draad klere onder haar japon aan nie. Elaine is woedend en gluur Elna aan.

Elna verseker haar dat daar niks gebeur het nie. “Ek dink sy wou dit net doen om jou terug te gekry het. Sy was seergemaak omdat jy haar met die jong meisie verneuk het.” brei Elna uit.

Elaine se oë rek en Ansie staan ook en wag vir ’n verduideliking.

“Ek sal alles verduidelik sodra Dee wakker en nugter is.” sê Elaine en stap terug kamer toe waar Deidre nog snork soos sy slaap.

Sy waak vir die res van die dag by Deidre se bed. 3 Uur die middag skrik Deidre wakker met ’n hengse hoofpyn. Sy gryp haar kop vas en gewaar Elaine op die kant van die bedsit.

“Wat maak jy hier?” vra sy verbaas.

“Ek kom jou red van jou self en van jou lawwe gedagtes.” antwoord sy teer en skuif nader aan Deidre.

“Het daai poppie jou afgesê?” vra sy sarkasties.

Elaine lag. “Praat jy van JD?” vra sy.

Deidre knik haar kop instemmend.

Elaine sug. “Sy’s my dogter, Dee.” Sy vertel Deidre van haar verlede.

“Jy was getroud met ’n man? Jy’s dan gay!” roep Deidre uit.

Ansie storm die kamer in om te kyk of Deidre okei is en Elaine nooi haar om te kom sit en ook na haar verhaal te luister.

“JD is my dogter Ansie, die meisie met wie ek haar kwansuis mee verneuk het.” verduidelik sy voor sy voortgaan met haar storie.

Ansie besluit om te loop, dis iets tussen Elaine en Deidre en het niks met haar uit te waai nie. Sy trek die kamerdeur toe en los die twee alleen.

“Ek was my lewe lank gay. Ek en Adrian is op sekere voorwaardes getroud, in naam en niks anders nie. Hy het met my getrou oor die plaas en ek het, om onder my ma-hulle se dak uit te kom. Daai jare was dit taboe om gay te wees. Ek het ’n meisie gehad en sy het saam met ons op die plaas gaan bly.” vertel sy en bly ’n ruk stil.

Deidre sit grootoog en luister en wil Elaine net aanjaag om verder te vertel toe sy voortgaan.

“Op ’n dag toe vang ek my meisie en Adrian saam in die bed. Hoe lank dit al aangegaan het, sal ek nooit weet nie. Die volgende oggend toe Adrian lande toe is, het ek haar gevra om haar goed te pak en pad te gee. Die aand toe hy terugkom, was sy natuurlik klaar weg en ek het hom vertel dat ek haar weggejaag het. Adrian was woedend en het op my afgestorm en met een vuishou my geslaan dat ek bly lê het. Ek het bygekom en hy was bo-op my, besig om my te verkrag.” Elaine bly stil.

Sy sluk swaar aan ’n knop in haar keel.

“Jy hoef nie verder te vertel nie, Liefste.” sê Deidre, haar stem vol deernis en sit haar arm om Elaine.

“Nee, ek wil hê jy moet alles weet. Daar mag nie geheime tussen ons wees nie.” Elaine staan regop om haar bene te rek en neem weer plaas langs Deidre, voor sy weer aangaan met haar storie.

“Nodeloos om te sê, ek het swanger geraak en JD is gebore. Adrian het begin suip en ons het die plaas verloor. Ek het my kind gevat en vir 15 jaar was ek en sy in die buiteland. Ek het my self as sjef gekwalifiseer en het met ’n klein kindjie rondgereis. JD wou op 15 by haar pa gaan bly en ons het teruggekom Suid-Afrika toe. Ek het haar by hom gaan aflaai en net op my verjaarsdae en moeders dae van haar gehoor. Nou skielik na 10 jaar, sien ek haar vir die eerste keer, sy het in ’n volwasse jong vrou verander.”

“Jou arme mens.” Deidre hou Elaine styf vas. “Jy was deur hel. Wat het gebeur, hoekom is sy nou by jou na 10 jaar?” vra Deidre.

“Haar pa is sterwend en hy vra glo na my. Ek sal hom nooit vergewe vir al die hel waardeur ek is nie Dee, maar sal hom altyd dankbaar wees vir die dogter wat hy my gegee het.”

Deidre vee die traan wat oor Elaine se wang loop af. “Ek is so jammer dat ek my eie gevolgtrekkings gemaak het. Sal jy my ooit kan vergewe, my Liefste?”

Elaine trek Deidre nader en vou haar toe in haar arms. Sy soen haar lank en innig.

“Kom ons gaan terug Pretoria toe.” sê sy en sien weer die vonkel in Deidre se oë.

No comments:

Post a Comment