Nuwe Hoofstuk Sonder Einde



Sy’s ouerig, lank effens grof gebou, maar baie sexy. Dis die tweede keer dat ek haar saam met haar man hier sien inkom. Hulle drink gewoonlik vinnig koffie by die toonbank en verdwyn weer.

    Die koffie winkel is my skryfplek. Dis asof ek hier meer uitgerig kry as by my huis. Elke oggend voor werk, kom sit ek eers hier vir ’n uur soms twee en skryf. Ek parkeer my bakkie by my blommewinkel, Just Flowers en stap die blok af hier na toe. Hier skryf ek, drink koffie, hou van die mense dop en stap dan terug sodat ek stiptelik agtuur die winkel kan oop sluit.

    Ek kyk weer na haar hande, lang slanke vingers, wat die koffiebeker vashou. Wie sy is en wat haar naam is weet ek nie, maar al wat ek weet is dat sy iets in my wakker maak.

    Vir die afgelope twee dae kry ek ook nie geskryf nie. Sodra sy instap is my oë en aandag net by haar. Ek wou al na haar toe gaan en gaan kennis maak, maar dan weerhou ek my daarvan, sy is immers getroud.

    Dis haar hele houding, haar manier van loop. Haar kop half agteroor gegooi en regop asof sy in die weermag was.

    “Waar is die badkamer?” vra sy in ’n hees stem.

     Ek trek my asem in om haar te antwoord en draai na haar. Sy staan gebukkend langs my en haar bloes gaap oop voor. Onbeskaamd staar ek na die rondings van haar borste . . . ek dink my mond hang ook oop.

    Sy kom regop en glimlag vir my. “Die badkamer?” vra sy weer.

    Ek kry nie ’n woord uit nie en beduie net in die rigting van die badkamer. Moes ek nou soos ’n pervert na haar borste staar? Ek kan my self skop omdat ek so blatant ongeskik was.


Ek sluk vinnig die laaste bietjie koffie weg. Net toe ek wou opstaan, rus twee hande op my skouers.

    “Dankie,” fluister sy met haar hees stem in my oor.

    Ek draai my kop na haar en haar gesig is reg langs myne. Haar donker, amper swart oë, hou myne vir ’n rukkie gevange voor sy regop kom en deur toe stap waar haar man vir haar staan en wag.


Ek sit agter my lessenaar in die blommewinkel en staar voor my uit.

     “Oe! Die Mies se kop is nie by die winkel nie.”

     Verdwaas kyk ek op. Ek kan my lag nie hou nie. My vier staatmakers staan vraend voor my.

    “Waar’s die Mies se kop dan nou vandag?” Marta kyk my kopskuddend aan.

    Hulle is doodreg, my kop is nie hier nie, dis nog in die koffiewinkel by daai sexy vroumens. “Môre julle,” groet ek verleë. “Isak, jy moet asseblief hierdie bestelling by die mark gaan afhaal,” vra ek en gooi vir hom my bakkie se sleutels. Hy is juis so mal daaroor om met my Isuzu 4x4 rond te ry.


Ek het die winkel vyf en twintig jaar gelede saam met Gerty, my regterhand, begin. Vir vyf jaar het ons alleen gewerk voor Isak bygekom het. Hy werk al twintig jaar hier en het so tien jaar terug, hoed in die hand vir sy vrou, Marta, kom werk vra. Sy is laat gaan by haar vorige werk as gevolg van finansiële druk. Ek is nog nie een dag spyt dat sy hier is nie.

    Gwyneth is die jongste tussen ons en ook die enigste een wat opgelei is om blomme te rangskik. Sy maak die mooiste tafel ruikers en bruidsruikers is haar forte. Saans maak sy eers sketse voor sy ’n blom in ’n pot of ruiker kom sit.


“Isak is nog nie terug nie Nina,” lig Gwyneth my in toe sy my kantoor binnekom.

    Ek kyk op my horlosie. “Sjoe, hy’s al ’n uur weg! Wag ek bel gou.”

    Die foon lui maar Isak antwoord nie. Marta staan ook nou nader en lyk bekommerd.

    “Dalk hoor hy nie die foon lui nie,” probeer ek hulle gerusstel en bel weer. “Isak, hemel waar is jy?”

    “Sorry Nina, ek het drooggemaak. Ek het in ’n grênd kar se gat vasgery”

    “Ag nee,! My bakkie!” My oë gaan vlugtig na Marta, toe sy vinnig na haar mond gryp.

    “Toemaar Nina, jou bakkie se bulbar makeer niks nie . . . maar daai BMW se gat is moer toe.”

    Ek kan nie help om te proes vir Isak se verduideliking nie. “Ja, toe nou maar, kry die besonderhede, ek het assuransie.” Ek sug van verligting en druk die foon dood. “Isak is okei, net my bakkie gestamp.”

    Marta los ’n paar knope van verligting.

    My foon lui en dis Isak.

    “Ek kan nie ry nie. Die man en vrou wil nie hê ek moet gaan nie!”

    “Goed, kalmeer Isak. Sê vir hulle ek is op pad. Gee my die adres.”


Ek leen Gwyneth se kar en ry vinnig na die adres wat Isak my gegee het. Die polisie is reeds daar en ek draf na die naaste een wat ek sien.

    “Konstabel, dis my drywer en my bakkie. Ek het versekering. Ons kan mos net besonderhede uitruil en gaan? Die blomme in die bakkie gaan verlep en as dit nie nou in ’n yskas kom nie, ly ek skade.”

    Die polisieman knik en stap na die insittendes van die BMW. Ek kyk Isak kwaai aan, hy trek sy skouers op en steek ’n sigaret aan.

    Die polisieman vat te lank na my sin en ek loop na die BMW toe. Halfpad steek ek in my spore vas. Dis die vrou van die koffie winkel.

    Die kwaai uitdrukking op haar gesig versag toe sy my sien. “René,” sê sy en steek haar hand uit na my toe.

    My knieë voel lam toe ek aan haar hand vat, dis sag en warm. Haar gesig is vlekloos en sy lyk nou effens jonger as vanoggend by die koffie winkel. Sy troon bo my uit, ’n hele kop lengte langer as ek.

    Ek stel my self voor.

    René los my hand en praat weer met die polisieman.

    Ek kyk na haar soen bare mond en wonder hoe dit gaan voel om haar te soen. Ek skrik vir my gedagtes toe sy weer met my praat.

    “Ons sal weer kontak . . .”

    Sy kyk na my en ek weet sy’t my naam vergeet. “Nina,” sê ek weer.

    Haar man vervies hom vir haar en pluk haar aan die arm terug kar toe.


Die volgende oggend is nie een van die twee in die koffie winkel nie. Teleurgesteld bestel ek koffie en gaan sit by die tafel in die hoek. Ek haal my pen en notaboek uit. My gedagtes is kort-kort by René.

Dis al drie dae sedert Isak in hulle BMW vasgery het en ek het haar nog glad nie weer gesien nie. Daardie oggend bel haar man, Hannes, my. Hy bedank my kortaf vir sy kar wat herstel is. Die skade was groot en hy moes drie dae wag.

    Droomverlore staar ek na die foon in my hand . . . hoekom kon sy my nie bel nie?


Ek bestel koffie en stap na die tafel waar ek altyd sit. Daar sit reeds iemand en vies plak ek my sommer by die eerste en beste tafel neer.

    Vir tien jaar kom drink ek hier koffie en sit ek by daardie tafel. Vir tien jaar sit daar nooit iemand by “my tafel” nie.

   “Nou hoekom sit jy daar? Ek dag jy sit hier in die hoek?”

    Ek kyk nie dadelik op nie. Ek sluit my oë en glimlag. Haar heserige, sexy stem vul my ore en ek is in ekstase. Dis René wat op my plek sit.

    Sy loer oor haar skouer na my en met haar wysvinger, wink sy my nader.

    Ek gaan sit by haar. “Ek het gedink ek gaan jou nooit weer sien nie.” Die woorde is uit voor ek kon keer.

    ’n Glimlag speel om haar mond. “Nou hoekom sou jy my weer wou sien?” Sy kyk my aan met haar groot donker oë, amper swart.

    ’n Begeerte om haar te wil soen oorval my en ek kyk vinnig weg. Half bewerig tel ek my beker koffie op en vat ’n groot sluk.

    “Ontmoet my vanaand om seweuur hier vir koffie en dalk iets te ete ook.” René staan op en maak verskoning. Sy wag nie vir my antwoord nie en verdwyn by die deur uit na sy betaal het.

    Die klompie by die blommewinkel kan nie met my huishou nie. Ek jubel van opgewondenheid. Kort-kort kyk ek na die horlosie. “Ons maak so bietjie vroeër toe vandag, julle!”

    “Is daar weer love in die air dat jy wil vroeg toemaak Nina?”

   “Jy ken my te goed Gerty.” Ek lag kliphard. Die klompie skud net hulle koppe, hulle het my lanklaas so uitbundig gesien.


Ek stop voor die koffie winkel, opgetof vir die vrou wat my knieë so lam maak. Dis die eerste keer dat ek saans hier kom en ek verbaas my dat Coffee Kettle so besig is. Soggens voor agt is hier maar min mense.

    René is reeds hier en glimlag toe sy my sien. “Ek het reeds vir ons cappuccinos bestel, hoop nie jy gee om nie?” sê sy toe ek by die tafel aankom.

    “Sjoe, jy lyk stunning.” Praat ek weer uit my beurt uit, maar die keer gee ek nie om nie. Ek is wragtig verlief op hierdie vrou.

    “Jy self is prentjie mooi.” René betrag my vir oomblik. “Sal ons drankies iewers gaan drink?”

    Ek stem in en ons sluk vinnig aan die cappuccinos. Sy betaal die rekening en ons stap na buite.

    Die aand luggie is lekker koel en die een na die ander kosreuke kom aangesweef. Ek besef nou eers hoe honger ek is.

    “Ry agter my aan . . . sal jy?”

    Sy klink geheimsinnig, maar om een of ander rede vertrou ek haar volkome.


My oë rek toe ons voor ’n vyfsterhotel stop. Kar wagte kom vinnig nader, maak my deur oop en staan bakhand en wag vir my sleutel om die kar te gaan parkeer. Ek glimlag verleë toe ek die sleutel aan hom oorhandig.

    Ek sluit by René aan waar sy vir my by die voordeur wag. “Sjoe, is dit nie bietjie luuks nie?”

    “Moenie worry nie, dis my treat,” stel sy my gerus en hak by my in.

    “Mevrou Bornmann, jou tafel is gereed,” sê die hoofkelner. Hy kyk na my en knik formeel.

    Ons volg die kelner en ek verkyk my aan die plek. Dis luuks en verskriklik mooi hier binne. Ek kyk rond, die eetsaal is vol mense, ek kan nie dink dat hier nog iewers ’n tafel vir ons oop is nie.

    Die hoofkelner lei ons deur die eetsaal en kom by twee groot wit, ivoor deure tot stilstand. Hy klop aan die deur, dit klink amper soos morse kode. Die groot swaar deure swaai oop en hy stel ons aan ’n ander kelner voor. Die ivoor deure swaai weer toe nadat ons binne is.

    “Waarheen gaan ons René?” fluister ek en begin bekommerd raak. Dit voel of ons ’n ewigheid vêr loop.

    Sy antwoord my nie, vat net my hand in hare en trek my nader aan haar.


 “Dames,” sê die kelner terwyl hy die deure oopmaak. Hy wag dat ons instap en maak dit weer agter ons toe. Ek trek my asem hoorbaar in. “Ons eie private balkon . . . Dis asemrowend!” Stads liggies so vêr as wat die oog kan sien wat dan wegraak op die donkerblou horison. “Hemel René, hoe weet jy van die plek? Ek het gedink so iets bestaan net Hollywood.”

    Sy lag hardop. “Dis net vir goedgekeurde gaste en gewoonlik is dit maar iemand wat iemand ken, wat weet van die plek.

    Ek gaan staan weer teen die balkon muur. René kom staan langs my en ek word bewus van haar hand wat liggies aan myne raak op die muurtjie. Vir ’n oomblik wonder ek waar haar man is, maar blok die gedagte dadelik weer uit . . . ek wil dan juis alleen saam met haar wees.

    Sy gryp my hand vas toe ek wegdraai van die balkon en trek my nader. Dit voel of my hart by my keel gaan uitspring. Ek begin vinniger asemhaal, maar probeer dit so saggies moontlik doen, sy moet nie agterkom hoe ek oor haar voel nie.

    “Nina?” René kyk my aan met haar groot swart oë. “Daar is iets . . . ek is nie gay nie . . .”

    My hart krimp in een. Sy het agtergekom hoe ek oor haar voel . . . dis hoekom sy my hiernatoe gebring het, om vir my te kom sê dat daar nooit iets tussen ons kan wees nie. “René, ek weet jy’s getroud en ek sal nooit tussen jou en . . .”

    Haar mond is op myne en sy forseer my lippe oop. Ek maak my oë toe, ek wou haar soen van die eerste dag af wat ek haar gesien het.

    Sy druk my saggies weg en gaan staan weer teen die balkon muur. “Nina, ek is nie gay nie, of so het ek gedink. Jy maak iets in my wakker. Daardie eerste keer in die koffie winkel wou ek so graag by jou gaan sit en met jou gesels, maar elke keer was Hannes by.” René gooi haar hande in die lug. “Ek weet nie wat gaan nou met my aan nie,” sê sy en gaan sit by die tafel. Sy skink vir ons wyn en nooi my om te sit.

    “Ek voel dieselfde oor jou, maar ek sal nooit tussen jou en jou man kom nie.” Ek kyk na haar en sy lyk bekommerd. Sy antwoord my nie.

    “Kom ons bestel iets om te eet,” sê sy en druk ’n spyskaart in my hand.


Nie een van ons sê ’n woord nie. Net die gekap van die eetgerei teen die borde word telkens gehoor. Ek kyk na René, sy lyk nie soos vroeër vanaand nie. Daar is ’n snaakse trek om haar mond.

    Sy stoot haar bord agteruit. “Ek’s jammer Nina, maar dit kan nie. Jammer, dat ek ’n verkeerde indruk geskep het en jou aanleiding gegee het.”

    Ek laat val my mes en vurk in die bord. René Bornmann het nou net my bubble gebars. Weg is die misterie wat sy om haar gehad het. Ek is teleurgesteld, seergemaak, kwaad en ek wil hier uit. “Ek wil huis toe gaan,” sukkel ek om die woorde uit te kry.

    Sy vat my hand en alle weerstand verkrummel. Hemel, wat hét hierdie vrou dat sy my so kan laat voel oor haar? Ek probeer nie eers my hand uit hare trek nie.

    “Te hel met Hannes!”

    My oë rek, ek verstaan nie mooi wat sy nou eintlik bedoel nie.

    “Hy behandel my nie meer met respek en liefde nie. Ek het liefde nodig. Nina, ek het jou nodig.”

    René kom sit wydsbeen oor my. Sy verwar my en ek is nie seker wat ek veronderstel is om te doen nie.

    My lippe word weer oop forseer, haar soene vuriger as vroeër. Haar asem jaag, myne ook. Sy soen my in my nek, in my ore. Ek gryp haar dwalend hande vas en ruk haar tot stilstand.

    “Wat doen jy?”

    René kyk my vraend aan. “Ek wil jou hê, met jou liefde maak. Wil jy nie?”

    Ek verslap my greep om haar hande. “Dis nie wat jy netnou wou hê nie René.”

    Sy klim van my skoot af en gaan staan by die balkon muur. “Nina, ek wil jou hê. Vergeet asseblief alles wat ek netnou kwytgeraak het.”

    René kom staan agter my. Haar hande gly stadig voor by my bloes in. Sy streel my borste met haar hande. Ek wil haar keer, maar ek is magteloos. Weer is ek vasgevang in haar web.


Hannes probeer sy vrou al van agtuur af in die hande kry. Sy vlug is gekanselleer en René moet hom gaan haal, maar haar selfoon bly oorgaan in stempos. Elke tien minute bel hy en los boodskappe.

    “Kom sit eers ’n rukkie by my in die kar voor jy ry, asseblief,” vra René.

    Ek stribbel eers teë, maar stem tog in.

    “Dankie, vir ’n wonderlike aand Nina,” sê sy en vat my hand in hare. Haar foon lui en sy los my hand onmiddellik. “Hannes? Wat! Ek dog jy sit amper in Engeland? Ja, goed, ek sal nou-nou daar wees.” René kyk na haar foon en druk ’n paar knoppies. “Ses en dertig missed calls! Hy soek my al van agtuur af!”

    Sy klim uit en stap saam met my na my bakkie toe. “Ek sal jou bel. Het nog jou nommer, van die ongeluk af.” Sy glimlag en vou haar hande om my wange. Weer soen sy my passievol.

    René flikker haar ligte toe sy verby my ry. Ek sit nog ’n ruk om tot verhaal te kom voor ek koers kies huis toe.


Vir die eerste keer in tien jaar breek ek my roetine. Ek is reguit blommewinkel toe en het dadelik oopgesluit sonder om Coffee Kettle toe te gaan.

    Marta en die ander drie staan my oopmond en aangaap. “Nou hoe laat was Mies dan al hier?” vra Marta kopskuddend.

    Die eerste vyf blomme bestellings is klaar en reg vir aflewering. Ek storm op Marta af en gryp haar om die nek. “Verliefdheid maak dat mens enige iets regkry.”

    “Ek kon dit gedink het. Gister se vroeg lopery en vandag se vroeg beginnery . . . dis net ’n vroumens daai!” gooi Gerty ook ’n stuiwer in die armbeurs.

   “Ry die persoon dalk ’n BMW met ’n nuwe gat?” vra Isak.

    “Ja, toe ou slimme, jy moet daai blomme gaan aflewer.” Ek druk strokies in sy hand en ek sien sy gesig raak ernstig.

    “Nina, ek druk nooit my neus in mense se sake nie, maar pasop, jy gaan seerkry. Daai vrou het ’n man en vroumense los nie sommer hulle mans vir ander vroumense nie.”

    Ek glimlag vir hom en gee hom ’n druk. “Isak, jy preek nou wraggies soos my pa sou preek. Ek weet jy’s besorg oor my, maar ek sal versigtig wees.”

    Hy knipoog vir my voor hy by die deur uit verdwyn.

    My glimlag verdwyn toe ek in my kantoor kom. Hy laat my nou dink. Dis waar wat hy sê, vrouens los nie hulle mans vir ander vrouens nie . . . nege-en-negentig persent nie.


’n Week is al verby na ek en René saam by die hotel in Centurion was. Daar’s ’n leemte in my hart en ek wonder of Isak nie tog reg was nie. Kort-kort dink ek terug aan sy woorde.

    Half elf die aand lui my foon. Dis ’n onbekende nommer, maar toe ek daardie hees stem hoor . . .

    “Ek weet dis laat, maar mag ek oorkom asseblief. Ek ry nou van die lughawe af. Hannes se vlug, Engeland toe, het nou net vertrek.”

    “Natuurlik! Ek kan nie wag om jou te sien nie.” Ek gee haar my adres en kry gou die sitkamer aan die kant.

   

Kwart voor twaalf lui die voordeur klokkie. Sy gooi haar arms om my nek toe ek die deur oopmaak. “Ek het so na jou verlang.” Sy soen en druk my aanhoudend. “Ek kon jou nie eers bel nie, want Hannes is soos ’n vlieg al om my.”

     My hart galop en ek voel soos daardie aand in die hotel. Ons gaan sit saam op die bank nadat ek vir ons koffie gemaak het.

    “Gaan ons nou die hele nag hier sit?”

    Ek trek vir haar groot oë. “Jy’s voorbarig vanaand,” skerts ek en vlieg ook sommer regop. Ek gaan staan voor René en steek my hande na haar uit.

    “Uiteindelik!” Sy gryp my hande vas en trek haar self regop.

    Soos ’n skaap ter slagting, lei ek haar na my kamer. Ek gooi haar op die bed neer. “Dis mos nou baie beter as die stoel daar by die hotel.”

    Sy lag, gryp my hand en trek my op die bed langs haar neer.


“Liewe hemel, ek het verslaap!” Is al wat ek sê toe ek die blommewinkel oopsluit. “Gerty! Ek wil nie ’n woord hoor nie,” sê ek vinnig toe ek hoor hoe sy haar asem intrek om iets kwyt te raak.

    Hulle haal die blomme uit die yskaste en ek staan ook nader om te help. ’n Uur en ’n half later is die rangskikkings gedoen, die bakkie gepak en reg vir aflewering.

    “Ry Isak, dis kwart oor tien. Jy gaan dit maak.”

    Pootuit gaan sit ons almal in my kantoor.

    “Nog nooit so vinnig gerangskik en gepak nie,” laat hoor Gerty. “Maar nou ja, dit gaan maar so in die begin Nina.”

    Ek kyk fronsend na haar. Sy antwoord my voor ek kan vra wat sy bedoel.

    “Baie seks en laat by die werk aankom.”

    Gerty koets net betyds onder die tafel in toe ek haar met een van die blomme mandjies gooi. “Ek het gesê ek wil nie ’n woord van jou hoor nie, jou pes.”

    Al laggend staan Marta op. “Oe nee, wag! Julle praat nou van goed wat ek al lankal nie meer doen nie. Ek gaan pak liewer blomme.”

    Ons drie kyk Marta verbaas agterna en toe sy die deur toe stoot, skater ons van die lag.


René sit op die stoep vir my en wag. Ek het haar belowe dat ek elfuur gou ’n draai sal kom maak.

     “Ek is jammer, ek’s ’n halfuur laat.” Ek gaan sit langs haar en begin haar soen net vir ingeval sy kwaad is. “Ons was net betyds klaar met vanoggend se bestelling, met die wat ek verslaap het.

    “Moenie so verskonings maak nie. As jy besig is, is jy besig.” Sy trek my weer nader en soen my. “Kan jy bly?”

    Ek is soos klei in haar hande en sy weet dit. Sy hou aan om my te soen, sy maak my heeltemal weerloos.

    Meegevoer deur haar passie, liefde en aandag, kry sy my weer in die bed.


Ek sug. “Dis kwart oor vier, ek moet vyfuur gaan toesluit René.”

    Sy verslap nie haar greep nie, sy druk my egter net stywer vas teen haar. “Moet jy regtig? Dis dan nou so lekker cozy hier in die bed saam met jou.”

    Ek wurm my los en trek my klere aan, wat die vloer vol lê. “Wag net hier vir my, ek’s na vyf weer terug.” Vinnig spring ek in my bakkie en ry terug blommewinkel toe.


“Ja, ek weet! Dis nie nodig om my so aan te gluur nie!”

    “Jy soek vir moeilikheid Nina.”

    “Ag, Isak asseblief! Sê vir my of daar vroeë bestellings vir môre is, ek wil die winkel sluit.”

    Die vier rek hulle oë en kyk onderlangs na mekaar. Hulle ken my nie so nie, ek skree nooit op hulle nie en het ook nog nooit vir een van hulle ’n skewe woorde gesê nie. Ek is altyd geduldig en gewoonlik is ek op datum met vroeë bestellings vir die volgende oggend.

    “Net die begrafnis van ou Mister Neethling. Sy kinders wil graag die kis ruiker nege uur môreoggend by die undertakers hê. Die begrafnis is tien uur.”

    “Dankie, Marta. Gwyneth ek sal sewe uur hier wees as jy dan so halfuur vroeër kan inkom seblief. Dan kan Isak half nege ry om te gaan aflewer.”

    Almal is buite en een vir een groet hulle toe hulle wegstap. Gerty bly egter staan. “Nina, ons gaan besigheid verloor as jy môre laat gaan wees.” Sy’s opreg toe sy dit sê. Ek besef dit ook maar alte goed.


Net so voor ses stap ek my huis binne. Die reuk van knoffel en varkboud oorweldig my toe ek die deur oop stoot.

    René groet my by die voordeur met ’n glas wyn in die hand en ’n soen op die voorkop. “Ons kan so sewe uur eet, dan behoort als gaar te wees.”

    Ek stap saam met haar kombuis toe. “Hmm, die kos ruik heerlik.”

    Sy maak haar glas vol wyn en skink vir my ook een. “Ek is nog net tot môreaand hier by jou.”

    Skokkend kyk ek haar aan. “Maar jy dan gesê ons gaan vir die twee weke wat Hannes in Engeland is, bymekaar wees!”

    René vat my glas wyn uit my hand en sit dit op die kombuistafel. Sy vou my toe in haar arms en druk my teen haar vas. “Ek weet wat ek gesê het Nina. Hannes het gebel, hy land Vrydagoggend en ek moet hom agtuur op die lughawe kry.” Dit lyk of daar trane in haar oë is toe sy my gesig in haar hande neem. “Dis nie my skuld nie.”


Ons eet eers half agt daardie aand en probeer mekaar opbeur. Na ete skink sy vir ons nog wyn, maar ek wys dit van die hand. “Ek moet môreoggend sewe uur oopsluit. Daar’s ’n kis ruiker wat half nege afgelewer moet word.”

    “O.” sê sy en sluk haar glas wyn met een teug weg. “Die ene sal ek dan maar kamer toe vat.” Sy glimlag vir my en steek haar hand na my toe uit. “Ons het darem nog vanaand en môremiddag.”


Ek voel so veilig hier waar ek in René se arms lê. “Wanneer gaan ek jou weer kan sien as Hannes terug is?”

    Sy hou my stywer vas en verseker my dat ons mekaar gereeld sal sien, al is dit net vir kort rukkies.

    Tevrede raak ek aan die slaap, maar René lê nog lank wakker en peins.


Op die kop sewe uur sluit ek die blommewinkel oop en half agt stap al vier my werkers daar in. Hulle glimlag breed, bly dat ek betyds is en dat ek al halfpad klaar is met die ruiker.

    Die kis ruiker word betyds afgelewer. Ek bly die hele dag by die winkel en die klompie is baie bly daaroor. Hulle weet nie dat my hart binne-in my skeur nie. Ek wil eerder vir oulaas die dag saam met René spandeer. Wanneer gaan ek haar weer sien? Gaan ek haar ooit weer sien?


Daardie aand neem ek en René afskeid van mekaar. Ons maak liefde asof dit die eerste keer is. Sy hou my vas en ek wens sy wil my nooit weer laat los nie.

   Skielik spring ek regop in die bed. “Jy kan mos nog vanaand oorslaap! Of jy nou hier vanaf ry of van julle huis af, is mos dieselfde.”

    René gryp my weer vas en stem in. Sy raak weer lank na my aan die slaap daardie nag.


Ons is vroeg op die volgende oggend en neem swaar afskeid van mekaar. Ek sien haar af by haar kar, sy moet vroeër ry as ek, dis meer as ’n uur se ry lughawe toe. Ons soen lank en innig voor sy in haar kar klim.

    Trane stroom oor my wange toe haar kar nie meer sigbaar is nie. Terug die huis in en gaan val op my bed neer. Ek ruik haar parfuum op die kussing en ek druk dit styf teen my vas.

    Vir ’n halfuur bly ek so lê voor ek opstaan en gaan klaarmaak vir werk. Hoe gaan ek oorleef op net gesteelde uurtjies of kort geselsies oor die foon?


Aanvanklik het René elke dag gebel, toe word dit al minder. Nou bel sy gereeld een keer per week. Sy vertel hoe frustrerend dit is om saam met Hannes te wees, hoe sy nou gril as hy aan haar vat. Gelukkig kon sy nog elke keer ’n verskoning uitdink om hom te keer, maar sy besef maar alte goed dat die dag nader kom wat sy haar vroulike plig teenoor haar man sal moet nakom.

    Ek kry ’n koue rilling toe ek besef dat sy een of ander tyd sal moet ingee, hy is immers haar man.


Daar’s ’n ligte kloppie aan my deur Donderdagoggend. “Binne!” sê ek en sonder om my kop op te lig.

    “Jy moenie so hard werk nie.” sê ’n bekende hees stem.

    “René!” Ek spring op en omhels haar.

    Sy gee my net ’n piksoentjie en maak my vinnig stil. Sy fluister dat haar man ook hier is.

    Net betyds tree ek weg van René, toe Hannes my kantoor binne stap.

    Hy groet en kyk my vir ’n oomblik aan. “Jy! Jy is die een wie se drywer in my vasgery het!”

    René maak hom vinnig stil. “Ag, kom nou Hannes, dis al meer as ’n maand terug. Buitendien is jou kar mos reggemaak man!”

    “Ja, goed dan! Het jy al vir haar gesê wat ons soek?”

    René beduie vir my die tipe rangskikkings wat sy wil hê asook die kleurskema. Dis vir ’n funksie Vrydagaand by haar man se werk.

    Hannes betaal met sy kredietkaart en brom iets van die blomme moet nie laat wees nie.

    “Stap jy solank kar toe, ek moet net gou nog iets uitklaar.”

   

In my kantoor word die deur op knip gedruk en René trek my teen haar vas. Haar lippe kom dadelik op myne neer en ek kan voel hoe honger sy na my is. “Ek mis jou verskriklik,” sê sy tussen die soenery deur. “Ek dink elke oomblik aan jou, wil jou lyf weer onder my hande voel. O Nina, ek kan nie sonder jou nie.” Sy gee my weer ’n hartstogtelike soen en los my soos ’n warm patat toe my kantoordeur oop swaai. René groet my met ’n wuif van haar hand en verdwyn uit my kantoor.

    Isak kom binne gestap en hy gluur my aan. “Jy speel met vuur Nina. As dit nou haar man was wat hier ingekom het? Hy sou jou onder jou gat geskop het, erger as wat ek sy BMW se gat gestamp het.”

    “Ek weet Isak, maar ek is lief vir haar.”

    “Sorry Nina, maar dis bullshit, jy’s net lus vir haar.”

    “Isak! Het jy nie werk om te doen nie!” Vervies ek my vir hom omdat hy so blatant is.


Vrydagmiddag, stiptelik om half vyf lewer ek en Isak die ruikers by Hannes se werk af. Gwyneth plaas hulle op die klaar gedekte tafels en teen sesuur is ons klaar.

    Ons laai die lee kratte by die winkel af en elkeen van ons kies koers huiswaarts.

    Uitgeput sak ek op die rusbank neer. Ons werk al van sewe uur die oggend af om betyds klaar te wees. Dit was ’n groot bestelling en het beslis die besigheid ’n hupstoot gegee. Ek behoort nou nog twee mense te kan aanstel. Die werk word nou te veel vir ons drie en Isak kan ook nie meer al die aflewerings behartig nie.


Tien uur Saterdagoggend lui my foon. My moed sak sommer in my skoene. Dis Hannes, ek het nog sy nommer van die ongeluk af op my foon. Wat sou hy tog fout gevind het met die ruikers van gisteraand?

    Huiwerig antwoord ek en sug van verligting toe ek René se stem hoor.

    “Ek wil jou ’n baie groot guns vra, teen vergoeding natuurlik.” Sy rig vlugtig haar versoek aan my en noem weer dat ek vergoed sal word vir die moeite.

    “Sjoe, ek het nie meer veel blomme oor in die winkel na gister se rangskikkings nie. Dalk is daar nog iets op die mark?”

    “Dankie, Nina. Jy’s ’n skat.”

    Ek aarsel ’n oomblik. “Gaan ek jou môre te sien kry as ek die ruikers kom aflewer?”

    René lag kliphard in my oor. “Hoekom dink jy het ek jou gekry om die ruikers te maak?”


Ek pluk gou ’n sweetpak aan en sit af blomme mark toe. Terwyl ek die blomme bekyk bel ek gou vir Gerty. Die bestelling is nie te groot nie ons twee behoort reg te kom.

    Gerty is gewillig om te help, sy is ook alleen by die huis. Haar man, Piet, moes inderhaas gaan werk, iemand het weer nie opgedaag nie.

    Ek het net met die eerste ruiker begin toe Gerty daar opdaag. “Nou wat se krisis is dit nou?”

    “René het my die guns gevra. Een van haar vriende het ’n doop môre oggend. Die bloemiste wat die ruikers moes doen het op die nippertjie kop uitgetrek. Sy is nog fort met hulle deposito ook.”

    “Jy en daai vrou, julle gaan nog scrap by haar man optel. Jy sal ook enige iets vir haar doen nè?”

    Ek glimlag en knik my kop. “Ek’t lief geword vir haar Gerty.”

    Sy sê niks verder nie. Kom staan net voor my en gee my ’n stywe druk.


Soos belowe, kry ek vir René te sien. Sy lyk asemrowend in ’n oranje en swart broekpak. Haar silwergrys hare blink in die son en ek sukkel om my oë van haar af weg te skeur.

    Na sy my en Gerty gehelp het om die ruikers die kerk in te dra, wink sy my nader. René beduie ek moet haar volg.

    Daar staan ’n kar onder ’n half toegeboude afdak aan die agterkant van die kerk. Sy drafstap na die kar toe en ek volg haar.

    Skaars in die kar gryp sy my vas en soen my met oorgawe.

    “René! As iemand ons hier sien.”

    “Ek moes net. Weet jy hoe mis ek jou?” Sy sit haar hand op my been. “Nina, dankie dat jy gehelp het.” Haar hees stem vol deernis. Sy hou ’n tjek na my uit.

    Ek snak na my asem. “Nee, dis hopeloos te veel!”

    Sy vat my hand in hare. “Ek het mos belowe jy sal vergoed word vir jou moeite.” Sy gee my ’n vinnige soen en spring uit die kar.

    Ek klim uit en kyk haar agterna.


“En waar was jy die hele tyd?” vra Gerty toe ek in my bakkie klim.

    “Moenie dom vra vrae nie.” Ek stop eers by die kitsbank voor ek terug ry blommewinkel toe. “Hier.” sê ek en druk R500 in Gerty se hand. “Dis jou oortyd en omdat jy gewillig was om my te help.”

    “Nee, man Nina. Die oortyd kry ek mos eers met payday.”

    “Ag, hemel Gerty! Vat dit dan as ’n vroeë Krismis box. Vat net die blerrie geld!”

    Trane loop oor haar wange. “Weet jy hoe het ek hierdie geld nodig. Dankie, Nina.” Sy gee my weer ’n stywe druk soos gister. “Daai vrou beter jou waardeer. Sy’t ’n engel gekry vir ’n girlfriend.”


Besigheid stroom nou in en ek moes nog drie mense aanstel, twee om te help met die blomme en ’n drywer. René het al haar vername vriende van my blommewinkel vertel en nou kan ek amper nie voor bly met verkope nie. Die stoor yskas begin te klein word vir al die voorraad blomme en klaar gemaakte ruikers. Ek sal moet kyk na ’n groter winkel en ek weet nie of my finansies dit nou al gaan toelaat nie.


Maandagmiddag, halfuur voor toemaaktyd, reël ek vergadering met almal. My kantoor is te klein om almal te huisves en ek laat hulle sommer net daar staan waar hulle besig is met die blomme. Die klomp lyk bekommerd en kyk grootoog na mekaar.

    “Ek sal ’n groter winkel moet kry,” verwittig ek hulle van my planne en soos een mens stem hulle saam. “Daar is ’n plek wat ek in gedagte het, dis nie te duur nie, maar dis nie op ’n busroete nie.”

    Dit gons, soos hulle praat onder mekaar. “Nina, dis net ek en Gerty wat met ons eie karre ry, al die ander ry bus,” sê Gwyneth en almal beaam dit en dit gons weer.

    Ek hou my hande omhoog en maak hulle stil. “Ek gaan vêrder uitkyk. Ook sal ek sovêr ek kan, probeer om julle te akkommodeer met vervoer. Ek weet van ’n perfekte plek, maar dis te duur en kan dit nie nou bekostig nie.”

    Isak steek sy hand op en ek gee hom ’n spreekbeurt. “Wat van jou ryk girlfriend Nina? Sy kan ’n bus koop, dan kan jy mos op enige plek die nuwe winkel kry.”

   Almal beaam wat hy kwytgeraak het.

    “Julle is laf! Dink julle nou wragtig dat ek vir René gaan vra om vir my ’n bus te koop om julle mee rond te karwei?”

    “Nee, Mies. Jy gaan jou boude voor haar swaai en skimpe gooi.” Marta giggel en die ander bars uit van die lag.

    Ek voel hoe my gesig warm word en glimlag verleë. “Marta jy’s lekker verspot. Is dit wat jy met Isak by die huis doen?” Kry ek haar terug en die keer is dit Marta wat bloos. Die ander lag te lekker toe hulle dit gewaar.

    “Kom julle stuitige klomp, laat ons huis toe gaan.”


Ek sluit die winkel en stap kar toe. Ek wip soos ek skrik toe iemand my aan my skouer vat. “René!” Ek omhels haar. “Dis ’n verrassing! Bring jy vir my nog werk?”

    “Nee, iets beters. My self! Hannes is vir drie dae Kaap toe en nou het ons weer ’n geleentheid om die paar daggies by mekaar te wees.”

    Ek gil en giggel soos ’n skoolmeisie.

    Van pure opgewondenheid, sukkel ek om my kar aan die gang te kry en laat die enjin twee keer stol. René volg my huis toe en telkens loer ek in die truspieël net om seker te maak dat sy wel daar is en ek nie droom nie.


Skaars in die huis gryp sy my vas en soen my met soveel oorgawe. Ek probeer haar keer. “Wil jy nie eers iets te ete hê nie?”

    “Ja . . . vir jou!”

    Sy trek my kamer toe en begin my van my klere stroop. René gooi my op die bed en vinnig pluk sy haar klere ok uit. Sy val langs my op die bed neer en my hande is dadelik op haar lyf. Vir ’n oomblik raak ek stil. Ek het al amper vergeet hoe mooi groot borste sy het. My hande vou om hulle. My vingerpunte streel saggies op en oor hulle.

    Ons word klei inmekaar se hande. Alle drange en emosies wat vier maande opgekrop het word ontlaai.


Vroeg Dinsdagoggend is ek wakker en loer na waar René langs my lê en slaap. Ek staan op en gaan stort. Die louwarm water spoel oor my. My hande omhoog teen die muur en met my oë toe, onthou ek gisteraand.

    Ek het nie die stort deur hoor oopgaan nie. Sy druk haar self teen my rug vas en omvou my. Glimlaggend draai ek in haar omhelsing om. Soen haar en sê dankie. Sy kyk my fronsend aan.

    “Dankie, vir gisteraand. Dankie, dat my besigheid so floreer, dat jy al jou vriende en kennisse na my toe verwys.”

    Sy soen my met oorgawe. Haar hande begin weer dwalend soek oor my lyf en ek keer haar vinnig.

    “Ek moet klaarmaak Liefste. Die afgelope vier, vyf maande is die winkel baie besig en ek moet sewe uur al begin om alles betyds klaar te kry.”


Die laaste bestellings is uit en ek wag vir Marcel en Isak om terug te keer. Half sewe keer die twee terug en ek stap hulle tegemoet. “Sjoe waar was julle die hele tyd?”

    “Sorry Nina, maar ons het die verkeerde adres gehad. Eers na ons als afgelaai het, sê die dom donners dat hulle niks bestel het nie.”

    “Toemaar Isak dis nou verby. Is die karre in die garage, gesluit en alarms aan?”

    Al twee knik en uiteindelik kan ons huis toe gaan.

    Ek spring in my kar en probeer weer om René in die hande te kry, maar die foon lui net en dan kom die stempos aan.


Die voordeur is al weer nie gesluit nie. “René jy sal moet leer om die voordeur gesluit te hou!” sê ek toe ek binne stap. Skielik is daar ’n hand oor my mond en ek hoor hoe word die voordeur gesluit.

    Die persoon met die swart leer handskoene hou my mond so styf toe dat ek nie kan skree nie.

    Ek word in die rigting van my kamer forseer. Daar’s bloed oral teen die gang muur en toe gewaar ek eers die bloed streep op die vloer. Nee, nie dit nie, gil dit hier in my binneste. René is dood en nou is dit my beurt. Ek bid soos nog nooit tevore. Laat hulle my net doodmaak, ek sal nie ’n verkragting oorleef nie.


Die persoon skop die kamerdeur oop. René sit op die onopgemaakte bed. Haar kop in haar hande en bloed syfer deur haar vingers. Sy word terug op die bed gedruk toe sy my sien en wou opstaan. “Is jy okei Nina?”

    Ek knik my kop met moeite en word ru op die bed gegooi. “René is jy okei?” kry ek ’n rou gil uit. Ek trek ’n sloop van een van die kussings af en hou dit teen die wond op haar kop. Duisende vrae hardloop deur my gedagtes. “Wat het gebeur?” fluister ek.

    “Shut up!” Skree een van die twee mans. Hulle het musse oor hulle koppe, ons sal hulle nie eers aan die polisie kan beskryf nie.

    René is bleek en sy kla oor verskriklike hoofpyn. “Ek het gedog dis jy wat klop na vyf . . . toe oorval hulle my.”

    Die mans vermaan ons weer om stil te bly. Daar is ’n klop aan die kamerdeur en dit word op ’n skrefie oopgemaak. Een van die mans maak die deur oop en stap uit die kamer. Daar’s ’n fluistering, ek probeer luister. Al wat ek kan hoor is dat die een man woedend is oor iets.


René se man storm die kamer binne en pyl op haar af. My mond hang oop, want hoe weet hy waar ek bly.

    “Liefling! Is jy okei? Hy vat die sloop oor haar gapende wond weg. “Jy sal moet steke kry. Liefling, ek’s jammer, maar ek het nie bedoel dat hulle jou moet seermaak nie.”

    René lig haar kop op en soveel haat het ek nog nooit in iemand se oë gesien nie. “Hannes Bornmann! Jou bliksem!”

    Hy koets net betyds voor sy vrou se vuishou weg.

    “Kyk hoe lyk my kop. Al die pyn en lyding en vir wat?” René is buite haar self.

    “Wag so bietjie René, ek is die lydende party hier,” sê hy met ’n lag in sy stem. Hannes haal foto’s uit ’n koevert en gooi dit na ons. “Ek het geweet dis net ’n kwessie van tyd voor ek julle twee sou uitvang!”

    “En toe lieg jy deur te sê jy gaan Kaap toe!”

    “Dit het gewerk, het dit nie? Die lus vir hierdie lesbeen het jou so oorval, dat jy jou self nie eers vir drie dae intoom kon hou nie!”


Hannes loop of en af in die kamer, asof hy dink wat om volgende te doen.

    “Wat wil jy hê Hannes!” René lig nie haar kop op nie, sy het al te veel bloed verloor en het nie meer veel veggees oor nie.

    “’n Egskeiding my Liefling!”

    “Goed, laat ons dan nou asseblief met rus. My kop . . . ek kan nie meer nie.” smeek René.

    “O nee! So maklik gaan dit nie wees nie. Jy sal die landgoed, die besigheid en jou bankbalans eers aan my oorteken voor jy van my ontslae gaan wees.”

    “Jy’s van lootjies getik. Dis my pa se besigheid, my pa se geld wat ek geërf het en my pa se landgoed!”

    Hannes kniel voor René en druk sy vinger in haar gesig. “My liewe vrou . . . jy gaan kaalgat hier uitstap.”

    “Oor my dooie liggaam!”

    “Dit kan gereël word,” sê hy en pluk ’n pistool uit sy sak. Die loop van die pistool word teen René se kop gedruk. “Ons vat ’n paar goedjies uit die huis. Polisie kom hier aan en julle tweetjies is net nog ’n statistiek op Suid-Afrika se misdaad lys. Mooi uitgewerk nè?”

    “Trek die sneller,” sê René en bly ’n oomblik stil. “Trek die sneller Hannes!”

    Hy staan haar en uitlag. “Jy’s baie dapper, my vrou?”

    Sy lig haar kop met moeite op. “Ek het ’n moerse surprise vir jou as jy daai sneller trek.”

    Hannes laat sak sy hand en ek sug van verligting.

    “Wat bedoel jy?” Hy stap weer tot by haar, gryp haar aan die skouers en skud haar.

    “Jy gaan nie ’n sent kry as jy my doodmaak nie.”

    Hannes lag. “Ek weet, dink jy ek’s dom? Hy gaan dit vir my doen,” sê hy en beduie na een van sy handlangers. Hy gee haar ’n hou teen die kop met die agterkant van die pistool en druk dit in sy handlanger se hand. “Skiet haar.”


René beur regop. Die bloed stroom uit haar kopwond, in haar oë en sy sukkel om te sien. “Hannes, jy is nie meer my begunstigde nie,” sê sy en begin histeries lag.

    Hy storm op haar af en gryp haar aan die keel.

    My kamerdeur swaai oop en die polisie storm in. Ek sluit my oë en stuur ’n skietgebedjie op.

    My selfoon was in my sak en niemand het eers weer van my notisie geneem nie. Gerty is op my speeddail en gelukkig het sy kop gehou toe sy die gesprek hoor. Sy het na die naaste polisiekantoor toe gery, waar sy hulle laat luister het.

   

Die polisie het Hannes en sy handlangers in boeie daar uit. René se kop is verbind en sy word op die ambulans trollie uitgestoot.

    Hannes steek vas toe sy verby hom gestoot word. “Wie is nou die begunstigde René?”

    Sy glimlag vir hom. “Die een wie se huis jy so vol bloed bemors het, jou vark.”

    Hy begin gil en skree. “Nee, jy kan dit nie doen nie!”

    Een van die konstabels gryp hom hardhandig en boender hom in die vangwa.

    Verskrik loer ek by die sitkamer venster uit toe ek die gille buite hoor.

    Gerty vat my aan die skouer en laat my op die rusbank lê. “Rus, jy was deur ’n helse ordeal.”


’n Mislikheid stoot in my op en ek vlieg regop. Die reuk van bloed wat nat geword het hang in die lug. Ek vlieg op en kry Gerty op haar knieë waar sy sukkel om die bloed uit die matte te was. “Nee! Daai matte word uitgegooi, jy gaan hulle beslis nie was nie.”

    Sy kom regop en knik haar kop.

    Ek kyk rond, sy het reeds die mure en vloer gewas. “Dankie, ek weet nie wat sou ek sonder jou gedoen het nie. Jy’t ons lewens gered en nou sloof jy jou hier af ook.”

    Saam rol ons die matte in die kamer op en gaan gooi dit langs die vullisblik op die sypaadjie. Gerty gooi vir my ietsie sterks in voor ons hospitaal toe ry.


Ons sit in die wagkamer en wag om René te sien. Die dokter het my kom meedeel dat sy dringend in ICU opgeneem is. Haar bloeddruk het te veel gedaal omdat sy so baie bloed verloor het. Hulle is besig om vir haar ’n bloedoortapping te gee. Ek sal haar eers môre kan sien.

    “Kan ek haar nie net vir ’n rukkie sien nie dokter? Ek moet haar sien.”

    Gerty trek my aan die arm daar weg en vat my terug kar toe. “Jy gaan haar môre sien. Julle al twee moet nou rus kry.”


Tien uur die volgende oggend is ek by die hospitaal. Dis besoektyd en hulle laat my toe om René te gaan sien.

    Sy lyk so weerloos in die wit hospitaalbed. Die helfte van haar kop is verbind en net haar een oog steek uit. Sy steek haar hand uit toe sy my gewaar.

    “Is jy okei Liefste?”

    “Ek moet dit vir jou vra, jy’s die een in die hospitaalbed.”

    Sy tuit haar lippe en wys dat ek haar moet soen. Tevrede lê sy terug teen die kussings na ek haar gesoen het.

    Die halfuur is vinnig om, besoektyd is verby en ek mag nie langer bly nie. Ek groet haar en belowe dat ek volgende besoektyd weer sal kom kuier.


Die lamppale is vol koerant opskrifte oor “Biljoenêrs dogter in liefdes driehoek.” By die winkel storm al my werkers op my af. Almal praat gelyk en wil net weet of ek okei is. Ek stel hulle gerus en stap na my kantoor.

    Isak kom binne gestap en gooi ’n koerant voor my neer. “Wat het ek jou gesê Nina?”

    Ek sluit my oë en beduie dat hy moet loop.

    “Ninatjie, ek’s bly jy’s okei. Darem is dit nie jy wat soos daai BMW se gat lyk nie.” Hy draai om en trek die deur op knip.

    Ek glimlag. Ja. Ek’s bly ek het nie ook ’n hou oor my kop gekry nie.


Drie dae later word René ontslaan. Die verbande om haar kop is met pleister vervang en sy lyk sommer klaar beter.

   Ek’s in die kombuis besig om kos te maak toe René my sitkamer toe roep. “Kom ons vlug Amerika toe vir ’n ruk, net tot die stof gaan lê het.”

   “Is jy nou ernstig René, wat van Just Flowers? Nee, ek kan nie.”

   “Stel ’n bestuurder aan Nina.” Sy sien dat ek aarsel. “Wat van Isak, hy werk mos al lank by jou?”


Maandagoggend toe almal by die winkel is, roep ek ’n vergadering byeen. Ek vertel hulle wat ek wil doen en vra Isak om my winkel te bestuur.

    “Nee, nee, nee! Ek bestuur die bakkie en dis al.”

    Ek kyk na Gerty en voor ek nog kan vra, skud sy reeds haar kop.

    “Mies?” Marta steek haar hand op. “Ek sal Mies, as Mies my gaan vertrou?”

    “Natuurlik vertrou ek jou Marta. Is jy seker dat jy dit wil doen? Onthou, jy gaan nou jou man se baas wees.”

    “Ek wil dit doen. Ek kry dit anyway nie reg om baas by die huis te wees nie, nou kan ek hom hier in die bek ruk. Sommer vir goed wat by die huis ook verkeerd gegaan het,”  sê sy en gluur na Isak.

    Hy klap sy tong en kyk ander pad.

    Marta se gesiggie helder sommer op toe sy hoor dat sy ’n salarisverhoging gaan kry, asook vervoer toelaag.


René wys my al die wonderlike plekke in New York, Los Angeles, San Francisco, om maar net ’n paar plekke te noem. Ons is al ’n maand in Amerika en die laaste aand voor ons vlug terug Suid-Afrika toe, kuier ons rustig in die hotel kamer.

    “Wanneer ons terug is, gaan ek my besigheid verkoop.”

    “Hoekom, dit was dan jou pa s’n gewees? sê ek geskok.

    “Nina, ek het nog nooit sin vir die besigheid gehad nie, daarom dat ek Hannes aangestel het om dit vir my te bestuur. Ek het maar net ingegaan met groot vergaderings en wanneer daar tjeks geteken moes word.”

    Ek kan aan René se stemtoon hoor dat sy klaar besluit het en ek gaan haar nie kan ompraat nie. “En dan, wat gaan jy dan doen?”

    Sy vat my hande in hare. “Dan my Liefste, gaan ek die geld in jou blommewinkel belê en as jou silent partner optree.”

    My mond val oop. “Is jy ernstig hieroor?”

    “Ek was nog nooit so ernstig oor iets soos oor hierdie aanbod nie Nina.”

    Ek omhels haar en soen haar. “Ek kan nie glo dit gebeur met my nie. Nou kan ek my winkel uitbrei, groter perseel kry . . .”

    Sy laat my nie my sin voltooi nie. “Nou kom ons skud blad soos goeie vennote sou doen,” sê sy en steek haar hand uit.

   “Dink jy nie daar is iets beters as bladskud om die transaksie mee te beklink nie?” Ek vat haar hand en lei haar na die slaapkamer.

    “Lyk my ek sal hare op my tande moet hê met my nuwe vennoot, sy gaan my net verlei.” Sy gryp my vas en gooi my op die bed. “Sy kan my verlei, maar ek gaan vat wat ek wil hê en wat myne is.”

    Laggend val René langs my op die bed neer en kyk met soveel liefde in haar oë na my, voor sy my vir die soveelste keer hare maak.


Daar lê ’n moeilike tyd vir René voor. Sy moet hof toe om teen haar man te gaan getuig, haar skeisaak is klaar hangend gemaak en sy moet haar pa se besigheid in die mark kry.

    Die verkoop van haar pa se besigheid gaan vinniger as wat sy verwag het. Nadat sy die geld ontvang het, het sy dadelik al die fondse in Just Flowers se rekening gestort. Sy’t ’n kontrak laat opstel dat ek met die fondse kan maak wat ek wil, solank dit net tot die voordeel van die blommewinkel is. Vergaderings sal sy bywoon, net om op hoogte van haar kapitaal te wees.


Die aand aan die etenstafel begin ons eerste stryery oor die blomme winkel.

    “Ek het nie ’n boekhouer nodig nie Liefling, ek doen my boeke al jare self.”

    “Jou winkel is besig om uit te brei, jy’s die CEO en CEO’s doen nie hulle boeke self nie. Stel ’n boekhouer aan.”

    Sy kyk my met haar groot donker oë aan, dat ek dadelik instem.

    “En dis ek wat hom gaan betaal, jy hoef nie bekommer te wees om nog die winkel se kapitaal daarvoor ook te gebruik nie.” Haar donker oë versag en sy vat my hand. “Nina my skat, jy moet leer om te delegeer.”

    Ek knik en besef dat ek nie meer alles alleen sal kan behartig nie.


René storm my kantoor binne. “Ek het die perfekte plek gekry om jou blommewinkel heen te skuif!” Sy gryp my hand en trek my by die deur uit.

    Ons ry vier blokke vanwaar die winkel nou is en klim uit. Ek trek my asem hard in. Sy gryp weer my hand en maak die deur oop.

   “Daar is twee verdiepings. Die kantore, kombuis en badkamers is bo. Onder is die winkel, werkarea en yskas.”

    Ek kyk rond maar sien nie ’n yskas nie. “Hier’s nie ’n yskas nie my Engel, ons sal dit nie kan vat nie.”

    Sy beduie na agter. “Daar gaan die yskas staan.”

    “Sjoe! Ja, ek hou van die plek, dis ideaal.”

    “Ek het geweet jy sou daarvan hou! Ek het dit klaar gekoop.”

    “Is jy nou laf? Hoe sou jy jou geld teruggekry het as ek nie daarvan gehou het nie?” Vies stap ek uit die gebou terug kar toe.

    “Die yskas sal oor twee weke reg wees en dan sal hulle dit vir ons kom installeer,” lig sy my vêrder in toe sy agter die stuurwiel inskuif.

    Ek skud net my kop en gee ’n snork lag. “Jy’t nou wraggies alles alleen gedoen. Mag ek darem weet hoe die yskas lyk voor hy ingesit word?”

    René rol haar oë vir my. “Jy is besig by jou winkel,  jy kan nie nog dit ook doen nie.” Sy bly ’n oomblik stil. “As jy wil, sal ek jou gaan wys hoe die yskas lyk.”

    “Toemaar, ek weet dit sal perfek wees.” Ek laat staan my nukkerigheid. Ek het net skielik besef dat ek hier met ’n groot sakevrou te doen het en dat sy beslis weet wat sy doen.


Marta bring vir my tee en ons sit saam en tee drink en gesels oor al die nuwe verwikkelinge. “Hemel Marta, kan jy glo ons trek oor ’n maand in die nuwe gebou in?”

    Sy skud ook net haar kop. “Daai vrou sorg mooi vir jou, ek’s bly.”

    “Dis omdat sy lief is vir my. Isak was verkeerd oor haar, oor my en haar. Die vermetelheid wat hy gehad het deur vir my te sê ek is net lus vir haar, g’n lief vir haar nie.” Ek vervies my weer vir sy woorde, maar kan nie help om saam te lag toe Marta uitbars van die lag nie.

   “Ja, dis my Isak daai, hy worry mos nie wat hy sê en vir wie hy dit sê nie.”


Die maand vlieg om. Ons het besluit om oor ’n naweek te trek, want dis wanneer ek die minimum blomme in my yskas oor het. Ek wil nie met vars blomme trek nie, dit gee hulle net ’n knou en dan is dit geld in die water gegooi.

    Die gebou is leeg. Ek is alleen daar toe René daar instap. My oë nat van die trane, probeer ek afskeid neem. Sy druk my teen haar vas. “Hier het ek my lewe begin,” snik ek in haar nek.

    “En jy was suksesvol. Nou moet jy aanbeweeg na groter, na meer en na beter. Dan natuurlik, saam met my.” Sy soen my op die wang en los my alleen.

    Vir oulaas sluit ek Just Flowers se deur toe. My skouers ruk. Ek sluit my oë en staan met my kop teen die deur.


Ek doen dertien aanstelling in die maand wat volg, waarvan twee drywers is. Marta is natuurlik in haar noppies dat sy nou haar eie kantoor het en was skoon aangedaan toe sy haar eie meubels kon gaan uitsoek het.

    By die nuwe gebou is daar nou ’n telefoniste wat ook telefoniese bestelling vat en ’n konsultant wat die kliënte kan help besluit om die regte blomme of rangskikkings te kies. Dit voel nou amper of ek nie meer werk nie.

    René het ’n bus gekoop om die werkers op sekere punte op en af te laai vir werk. Sy het die bus laat pienk verf, met yslike groot blomme op en Just Flowers weerskante op laat verf. Isak se lip hang elke oggend op die grond wanneer hy aan diens kom, omdat hy met die “verspotte” pienk bus moet ry.

    Daar is ook twee nuwe aflewerings trokke gekoop, toegerus met yskaste binne-in. Nou lewer ons blomme varser en vinniger af.


“’n Mooi blom vir die mooiste vrou in die wêreld.”

    Ek kyk op toe ek René hoor praat. Sy hou ’n bloedrooi roos na my toe uit. Vraend kyk ek na haar toe ek die roos vat.

    “Van nou af is ek René Lategan.”

    Ek spring uit my stoel en omhels haar. “Aangename kennis juffrou Lategan,” sê ek en soen haar. “Hoekom het jy my nie gesê dis vandag nie, dan kon ek saam met jou hof toe gegaan het?”

    “Ag, dis nou oor en verby. Die grootste kopseer lê nog voor, Hannes se hofsaak. Dan sal ek jou graag daar wil hê vir ondersteuning.”


Ek het by René in haar herehuis ingetrek en verhuur my huis aan Isak en Marta. Ook net op die regte tyd, want die hofsaak knaag aan haar.

    Snags lê sy en rondrol in die bed. Saans raak sy sommer op die bank aan die slaap, van geestelike uitputting. Baie nagte word ek wakker, dan sit sy in haar studeerkamer.


Dis ’n moordende hofsaak. Asof hulle al die skuld op René wil pak. Hulle peper haar met vra van alle kante af. Die saak sloer nou al amper ’n jaar lank. Ons albei is net baie bly dat Hannes en sy handlangers nie borgtog gekry het nie, hulle sou ons verseker kom terroriseer het.


René is weer nie langs my in die bed nie toe ek laatnag wakker skrik nie. Ek stap met die trappe af onder toe. Die studeerkamer deur is halfoop en ek loer om die deur. Kop onderstebo sit sy agter die lessenaar. Sy kyk op toe ek met haar praat. Floutjies glimlag sy en stel my gerus, dat sy okei is.

    “Jy lyk nie okei nie. Praat met my.”

    Sy trek haar asem diep in. “Hannes word Vrydag gevonnis. Ek was dertig jaar met hom getroud. Wie sou kon dink dat my huwelik met hom so sou ontaard en so vieslik sou eindig?”

    Intussen het ek om die lessenaar geloop en my arms om haar gaan sit.

    “’n Mens sou dink jy ken iemand na dertig jaar.” Skielik weergalm dit soos sy lag. “Ja, hy dink dit seker van my ook. Die vrou met wie hy dertig jaar getroud was, los hom vir ’n vrou.”

    Ek maak my arms om haar nek los en gaan sit op die stoel oorkant haar. “Dis alles my skuld. As dit nie vir my was nie, het jy nog ’n huwelik gehad.” Ek voel lus om te huil en verberg my kop in my hande.

    “Nee Nina! Niks hiervan is jou skuld nie. Ek en Hannes het lankal nie meer ’n huwelik gehad nie. Ons het net saamgebly vir die gerief daarvan.” Sy staan op, kom hurk voor my en vat my hande voor my gesig weg. “Moet nooit weer sê of enigsins dink dat dit jou skuld is nie. Ek het jou lief en sal weer deur alles gaan as dit beteken dat ek weer jou liefde sal wen.” Haar hees stem is sag en vol deernis.


Vrydagoggend vergesel ek René hof toe.

    “Nina, wat gaan ek maak as hy loskom, deur ’n fout of iets kleins wat ek moes of nie moes gesê het terwyl ek getuienis gelewer het nie?”

    Die regter lewer sy uitspraak en ek sien die verligting op René se gesig. Hannes en sy handlangers gaan lank agter tralies sit. Sy gryp my hand en druk dit styf vas, sy was verniet bekommerd.

    Ons is skaars buite die hofsaal, of sy gryp my vas en soen my vurig in aanskouing van elke joernalis en fotograaf.

    Sy gryp my hand vas en saam vlug ons van die flitsende kameras, joernaliste en verslaggewers. “Laat hulle skryf wat hulle wil!” roep sy uit terwyl ons die trappe afhardloop kar toe.


“Die hoofstuk in my lewe is nou afgesluit.” Sy vat my hande in hare en soen hulle.

    Ek glimlag en knik vir haar.

    Sy los my hande en vroetel in haar broeksak. Sy haal ’n diamant verloofring uit haar sak, vat my linkerhand en steek dit in my ringvinger.

    Ek is sprakeloos en voor ek iets kon sê, spring sy uit die kar, draf om na my kant toe en pluk die deur oop.

    René sak langs die kar op haar knie af en vra my om met haar te trou. “Begin die nuwe hoofstuk sonder ’n einde, saam met my?”

    Ek knik en bars in trane uit, trane van geluk.

1 comment: