Suster Grabe het net die telefoon neergesit toe die voordeur
klokkie lui. Dis 9uur op ’n Vrydagaand en sy verwag nie besoekers nie. Sy loer
deur die loergaatjie en sien net ’n paar skouers en ’n rooi strikdas. Sy maak
die deur oop, die veiligheid ketting is nog op en sy loer om die deur.
“Kan ek help Meneer?” vra sy
Voor haar staan ’n
beeld van ’n man. Deftig met ’n pak klere en rooi strikdas. Hy is lank en skraal,
seker maklik ’n koplengte langer as sy. Sy hare is kort en netjies, donker en
effens grys by die slape.
“Ek hoop van harte so. Is u Suster Grabe?” Sy knik
instemmend en hy vervolg. “Ek is professor Schoeman, my ma is Petra Schoeman.”
“O ja, maar u sou my eers Maandag kom sien het.”
Hy lyk skielik baie bekommerd en vra om verskoning dat hy
haar op ’n Vrydagaand moet pla. Sr Grabe maak die deur toe, haal die veiligheid
ketting af, maak die deur weer oop en nooi hom binne.
“My ma se toestand het verswak, daarom dat ek nie vir
Maandag kon wag nie, Suster.” verduidelik hy.
“Ek kan help met ’n verpleeg assistent, maar verpleeg
susters werk net in die hospitale, hulle stel glad nie belang in tuis
versorging nie.” sê Sr Grabe.
“Suster asseblief, jy moet my help, dis hoekom ek hier is.
Hulle het by die agentskap gesê jy’s die beste wanneer dit by bejaardes en tuis
versorging kom.” smeek professor Schoeman.
“Jammer, Prof, maar ek doen nie meer verpleging nie. Ek
bestuur nou net my verpleeg agentskap en lei my verpleegsters op. Soos ek gesê
het, ek kan jou help met ’n verpleeg assistent. Ek het ’n baie oulike een
ingedagte, sy is wraggies een van die bestes.” probeer sy aan professor
Schoeman verduidelik.
Suster Grabe is besig om haar geduld met die man voor haar
te verloor. Van die assistente wat sy gebruik het goeie opleiding gehad en dan
het sy na aanstelling, hulle verder intensiewe opleiding gegee. Hulle kry ook
gereeld elke 3 tot 6 maande ’n opknappings kursus. Baie van haar assistent
verpleegsters is so goed opgelei dat hulle onder susters toesig in van die
hospitale se hoësorg-eenhede werk. Haar verpleegagentskap is hoogaangeskrewe in
Pretoria en die meeste hospitale maak van haar personeel gebruik.
“Prof,
kom ons gaan sit dan vertel jy my van jou moeder.” sê Sr Grabe en stap vooruit
sitkamer toe.
Sy gaan sit soos oudergewoonte op die rystoel en professor
Schoeman neem plaas op die stoel oorkant haar.
“Iets te drinke?” vra sy.
“Nee, dankie Suster.”
“Noem my Laura, ek werk nie meer in my hoedanigheid as
suster nie, almal noem my Mej. Grabe of Laura.”
“Nou goed Laura, dan noem jy my Roy asseblief.” Hulle
glimlag vir mekaar en knik instemmend.
“Wie is tans by jou moeder?” vervolg Laura.
“My suster, Yvette. Sy het die afgelope 2 weke verlof gevat
by die werk omdat Moeder skielik verswak het. Dis van gister af wat sy drasties
verswak het.” verduidelik Roy.
“En voor dit, wie het toe na haar omgesien?” vra Laura
reguit.
“Ek en Yvette het beurte gemaak om 3 keer gedurende die dag
by haar ’n draai te maak. Sy bly by Yvette en word deur haar versorg voor werk
en weer na werk. Om 11vm en 3nm is dit my beurt om Moeder te gaan versorg.”
brei Roy verder uit.
“So, julle moeder was vir die res van die tyd alleen. Alleen
aan haar eie genade oorgelaat?” vra Laura geskok, sy was nog nooit een wat
doekies omgedraai het nie.
“Nee, natuurlik nie! Die bediende was ook daar. Toe kon sy
nog self haar waterbottel vashou en self draai. Sy dra weggooi doeke wat
gereeld geruil word en sy het ook ’n inblywende kateter vir uriene. Twee weke
gelede kon Moeder nog self eet, alles was binne haar bereik en as sy nog iets
nodig gehad het, het sy haar klokkie gelui, dan sou Sarah haar daarmee gaan
help het.” verduidelik Roy weer.
“Hoe het sy verswak, wat moet julle nou ekstra vir haar doen.”
Laura gaan nog steeds voor met die ondervraging.
Professor Grabe verduidelik dat sy nou gedraai en gevoer
moet word. Sy is 80 jaar oud en het 2 jaar gelede beroerte gehad. Sy is totaal
verswak en kan niks vir haar self doen nie.
“Kan ek vir jou die assistent vir die naweek gee?” vra
Laura.
Roy wil haar in die rede val, maar sy hou haar hande omhoog.
“Laat sy julle die naweek kom help en as julle nie tevrede
is nie, kan ons Maandag weer praat.” sê Laura beslis.
Professor Schoeman sug, maar hy weet ook dat hy verleë is.
Laura staan op en gaan tref reëlings met haar ontvangsklerk.
Na sy alles gereël het, stap sy terug sitkamer toe en stel Roy gerus. Sy vra
die adres van sy moeder en hy skryf dit op die nota blok neer wat sy vir hom
aanbied. Laura stel hom weer gerus en reël dat die verpleegster 7 uur die
volgende oggend daar sal wees.
Sy sien hom by die deur af en hy stap kar toe. Laura staan
by die oop deur tot hy wegry. Sy druk die deur toe en stap kamer toe, sy wil
vroeg inkruip, want sy moet vroeg op om papier werk reg te kry vir pasiënt
Schoeman en nog die verpleegster stiptelik 7 uur gaan aflaai.
Laura laai
die verpleegster by die agentskap op en 7 uur klop sy aan Yvette se voordeur.
Die bediende maak oop en vat hulle deur sitkamer toe. Roy sit reeds en wag. Hy
staan op toe hulle binnekom en steek sy hand uit. Laura stel hom aan Gertrude voor.
Roy maak verskoning omdat Yvette nog nie by hulle aangesluit het nie. Hy bestel
vir hulle koffie en vra dat die bediende Yvette moet roep.
Sarah bring die koffie en laat weet dat Prof binnekort by
hulle sal aansluit.
Na ’n ruk sluit Yvette by hulle aan in die sitkamer en Laura
se mond val amper oop. Yvette lyk net soos haar broer. Haar hare is bietjie
meer grys en sy is nie so skraal soos hy nie, maar net so aantreklik.
Sy stap tot voor Laura en steek haar hand uit. Laura staan
op vanuit haar stoel en neem haar hand en groet.
“Suster Grabe.” sê Yvette styf en formeel en knik haar kop
effens.
Laura stel Gertrude aan haar voor en hulle bly staan.
“My broer het dit seker nie duidelik gestel nie, suster. Ons
wil ’n opgeleide verpleegkundige hê om na ons ma om te sien.” sê sy styf.
“U broer het dit baie duidelik aan my gestel Prof. As hy sal
onthou, het ek vir hom gesê dat my assistente net so goed opgelei is en dat ek
nie susters en staffies het om hier te plaas nie. Hulle verkies om in hospitale
te werk.” sê Laura net so formeel en haar oë spoeg vuur.
“Sarah! roep Yvette en die bediende maak amper onmiddellik
haar verskyning. “Wys asseblief vir Gertrude waar Ma se kamer is en wys sommer
die kombuis en waar alles is.” beveel sy. Yvette versoek dat hulle dié gesprek
in die studeerkamer moet voortsit.
Laura
hou niks van hierdie vrou nie. Sy’s aantreklik en sexy, maar baie, baie
moeilik. Sy en Roy volg Yvette tot in die studeerkamer en die deur word toe
gestoot. Yvette neem plaas agter die groot lessenaar en beduie vir Laura en Roy
na die stoele wat voor die lessenaar staan. Hulle gaan sit en Yvette hervat die
gesprek van vroeër.
“Suster, ons sal die verpleegster gebruik vir die naweek,
dankie, maar Maandag wil ek ’n suster in die huis hê.” hou Yvette vol.
Laura vervies haar vir Yvette. “Prof. verstaan u my nie? Dis
Gertrude of niemand nie. As u dit nie so wil aanvaar nie, moet u maar gebruik
maak van ’n ander agentskap.” sê Laura ontstig.
Yvette steek haar hande skielik in die lug op. “Wag net, ek
moet eers koffie kry. Roy wil jy nie asseblief vir Sarah vra om vir ons koffie
te bring nie?” rig sy die versoek aan haar broer.
Daar heers ’n ongemaklike stilte tussen Yvette en Laura
terwyl hulle wag dat Roy weer by hulle moet aansluit. Laura kyk op en vang
Yvette se blik op haar. Hulle oë ontmoet en Laura kyk eerste weg. Roy sluit
weer by hulle aan en Laura sug stil van verligting.
“Suster Grabe, ek hoor en verstaan wat u sê, maar ek wil ’n
versoek aan u rig...” Yvette bly stil toe Sarah die studeerkamer binnekom. Sy
sit die koffie neer, stap weer uit en Yvette vervolg. “Wil u nie asseblief Ma
kom versorg nie?” vra sy en klink nie meer so formeel nie.
Laura lag. “Ek verpleeg nie meer nie Prof en ek het dit aan
u broer verduidelik.” hou Laura vol.
“Ek sal jou salaris verdubbel Suster, asseblief.” smeek
Yvette.
“Kan ek dit net aan u noem dat ’n suster reeds 3 keer meer
werd is as ’n assistent.” sê Laura en gee weer ’n laggie.
“Geld is nie ’n kwessie nie Laura.” laat Roy van hom hoor.
Laura haal dokumente uit haar aktetas en gee dit aan Yvette.
“Daar is die tariewe lys vir elke kategorie verswakte bejaarde, reëls en
regulasies en ook waarvoor die agentskap nie aanspreeklik gehou kan word nie.
Daar is ook ’n voorbeeld van die kontrak.”
“Dankie. Soos Roy gesê het, geld is nie ’n kwessie nie, ons
wil net die beste vir Ma hê.” sê Yvette terwyl sy die dokumente vlugtig bekyk.
Laura besef dat hierdie twee mense nié gaan ophou karring
aan haar nie en sy stem in om hulle ma te versorg. Sy het egter voorwaardes en
hulle luister aandagtig soos sy dit opnoem. Roy stem dadelik in, maar Yvette
aarsel eers. Sy noem hoe sy voel oor sekere voorwaardes, Laura pas dit aan en hulle
kom ooreen.
Hulle drink rustig hulle koffie klaar en Yvette gaan stel
Laura aan haar ma voor. Sy gaan wys haar ook die huis en watter kamer hare sal
wees. Tevrede groet die drie en Laura keer terug huis toe.
Laura
sit op die rystoel in haar sitkamer met ’n glas vodka en dink aan die oggend se
gebeure. Sy kan nou nog nie glo sy het ingestem om Tannie Petra te gaan oppas
nie.
Haar gedagtes dwaal na Yvette, daar is iets aanloklik aan
die vrou. Sy’s aantreklik en sexy. Sy het mooi oë, ’n sensuele soenbare mond,
mooi goedversorgde hande, kort naels en mooi lang vingers... die vrou prikkel
Laura geweldig. ’n Seksuele prikkeling wat sy in ’n baie lang tyd nie gevoel
het nie.
Sy het nog altyd van vrouens gehou wat heelwat ouer as sy
is. Laura is enkellopend vir die afgelope 2 jaar, na ’n verhouding van 5 jaar.
Hilda het haar gelos vir ’n vrou wat baie jonger as sy is en sedertdien kon
Laura nog nie weer iemand vertrou nie. Sy het in die 2 jaar nog nie weer vir ’n
ander vrou gekyk nie, maar na vandag voel sy anders. Yvette het haar betower,
sy voel sy moet haar van nader leer ken. Sy dink dis deur Yvette dat sy
ingestem het en vervies haar vir haar self.
In die
Schoemans huis gons dit. Broer en suster is ewe opgewonde dat Laura ingestem
het om na hulle ma om te sien.
“Sjoe, boeta! Jy’t wraggies nie oordryf toe jy gesê het
Suster Grabe is so ’n mooi vrou nie. Het jy gesien toe sy haar vir my vererg...
nog mooier.” Yvette raak nie uitgepraat oor Laura nie.
“Ja, Yvette, jou kanse is beter as myne. Sy het nie eers
probeer flikkers gooi by my, soos wat die ander vrouens altyd doen nie.” sê Roy
en klink maar bra bekaf. Hy weet hy is ’n aantreklike man, want oral waar hy
gaan, hetsy funksies of sommer net in ’n koffiewinkel, val die vrouens oor
hulle voete vir sy aandag. Hy is al 45, maar het nog nie sy trou vrou ontmoet
nie. Daar was wel ’n meisie 20 jaar gelede, hulle sou verloof raak die
Saterdagaand, maar die Vrydag voor die verlowing was sy in ’n ernstige kar
ongeluk betrokke. Sy was in ’n koma vir ’n jaar. Die dokters het haar breindood
verklaar en kort daarna het haar ouers die masjiene afgesit, sy was maar 25
jaar oud. Roy het aand vir aand by haar gaan sit en vir haar prosa voorgelees.
In sy hart het hy gedink sy sal weer bykom en dan sal hulle trou.
Daar is gereeld vrouens aan sy, sy te sien, maar dis nooit
ernstig nie. Hulle vergesel hom gewoonlik net na funksies omdat hy nie alleen
wil gaan nie. Hy bly in ’n 3 slaapkamer meenthuis nie vêr van Yvette af nie. Hy
en sy suster is baie geheg aan mekaar. Hulle kuier en eet elke Sondag om die
beurt bymekaar. Noudat hulle ma siek geword het en by Yvette bly, is hy elke
Sondag daar.
“Sarah,
jy moet asseblief suster Grabe se kamer mooi netjies maak. Sit vars blomme in
en sjokolade op die kopkussing. Sit ook vars handdoeke in die badkamer.” beveel
Yvette. Sy voel so opgewonde dat daar weer ’n ‘vrou’, in die huis gaan wees.
Vir 5 jaar was dit net sy en Sarah in die huis is. Twee jaar
gelede het haar ma by haar ingetrek nadat sy verswak het as gevolg van ’n
beroerte. Yvette was 20 jaar in ’n verhouding met Anne totdat sy 7 jaar gelede
wreed van haar af weggeneem is en net nog ’n statistiek in Suid-Afrika geword
het. Sedertdien het Yvette nog nie weer na ’n ander vrou gekyk nie. Laura het
egter ’n gevoel by haar oopgekrap wat sy in 7 jaar nie gevoel het nie. Sy hou
van die gevoel, maar is terselfdertyd bang ook.
Mense sê altyd sy en Roy kon ’n tweeling gewees het, so baie
lyk hulle na mekaar. Alhoewel sy 5 jaar ouer as hy is, lyk sy nie of sy al 50
kan wees nie.
Albei is professore by Tukkies, Yvette gee klas in wetenskap
en Roy in letterkunde.
Yvette
loer om die kamerdeur na haar ma. “Ag, Ma lyk so mooi!” sê sy en stap die kamer
binne. Sy buk af en soen haar op die voorkop. Sy is baie tevrede met Gertrude
se werk en bedank haar dat sy haar ma so mooi versorg het die naweek. Sy
verduidelik aan die verpleegster dat suster Grabe deur die dag hier gaan werk
en dat sy, Gertrude, die nagdiens gaan oor vat. Sy noem ook dat suster Grabe
gaan inwoon en dat as Gertrude haar nodig het, sy haar net kan gaan roep.
Gertrude is net so in haar skik dat sy weer saam met suster
Grabe gaan werk. Hulle het lank terug saam in een van die bekende hospitale
gewerk. Sy was ook een van die eerste verpleegsters wat by Laura se verpleeg
agentskap begin werk het.
Hulle hoor ’n geknars van ’n sleutel in die sleutelgat en
hoor hoe die voordeur oopgaan en weer toegaan. Yvette en Gertrude kyk na mekaar
en trek hulle skouers op. Yvette wys met haar wysvinger op haar mond, dat
Gertrude moet stilbly. Sy loop saggies by haar ma se kamer uit en loer in die
gang af na die voordeur, maar sien niks of niemand nie. Toe hoor Yvette ’n
geskuifel in die kamer waar Laura sal tuis gaan en haas haar daar heen. Sy
stoot die deur effens oop en kruis haar arms.
“Welkom Laura.” praat sy skielik en Laura wip soos sy skrik.
Sy glimlag verleë en vra om verskoning as sy gepla het of
hulle laat skrik het. Sy verduidelik dat Roy die vorige aand ’n duplikaat
sleutel van die huis vir haar gebring het.
Yvette los haar alleen sodat sy kan uitpak. Laura verklee
gou in haar uniform en sy lyk vreemd vir haar self in die spieël. Sy gaan neem
oor by Gertrude en so begin haar eerste werksdag weer as verpleeg suster.
Yvette
kom groet 7 uur voor sy universiteit toe ry en stiptelik om 1 uur die middag
kom sy uit gewoonte huis toe om te kyk of alles nog reg is.
“Julle sal julle gewoontes moet afskud. Roy was 11 uur
vanoggend ook hier gewees.” sê Laura en lag. Hulle oë ontmoet weer en die keer
is dit Yvette wat eerste wegkyk.
“Dis waar ja.” beaam sy en lag saam met Laura. “Jy’s nie lus
om ’n broodjie saam met my te kom eet nie, ek is nou hier?” vra Yvette.
Laura stem in en roep vir Sarah om vir ’n rukkie by haar oor
te vat.
Yvette gaan sit langs haar ma op die bed, terwyl sy vir
Laura en Sarah wag om terug te kom en knipoog vir haar. Haar ma se gesiggie
helder op en sy knip al twee oë gelyk.
Yvette glimlag vir haar. “Ma... ek dink ek het iemand
ontmoet wat Anne se plek kan inneem...”
Weer knip haar ma al twee haar oë en knik haar kop.
“Ai ma, as ma net weer kon praat.” sê Yvette en vee vinnig
trane uit haar oë toe Laura agter haar praat.
Yvette
stap kombuis toe, met Laura agterna. Sy kry die brood en begin sny. Laura sit
die ketel aan en haal botter, kouevleis en kaas uit die yskas uit. Sy hou
Yvette onderlangs dop, waar sy besig is om die brood te sny en botter te smeer.
Sy kry ’n warm gevoel terwyl sy haar dophou. Die manier hoe sy die mes vashou
en botter smeer. Sy’t mooi hande, dink Laura by haar self.
“Drink ons dan nou koue koffie?” vra Yvette.
“Nee! Hoekom vra jy nou so?” sê sy en kyk Yvette fronsend
aan.
Yvette wys met die broodmes na die ketel. “Want die water
het lankal gekook.” sy kyk glimlaggend na Laura. “En wat dink jy nogal as jy so
na my staar?” vra sy en sien die blos raak wat onmiddellik op Laura se wange
versprei.
Laura raak aan haar wang en besef sy het so pas gebloos. Sy
het nie opgelet dat Yvette haar ook
dophou en sien hoe sy skaamteloos na
haar staan en staar nie, maar sy’s reg met ’n antwoord. “Dis presies wat ek
doen, ek staar net en sien jou nie eers raak nie.” Sy voel of die aarde haar
kan insluk. Sy sit die ketel weer aan en bly sommer daar staan tot dit weer
kook.
Yvette loop agter haar verby en bly ’n rukkie staan. Sy ruik
aan Laura se hare. Dit ruik lekker, so vroulik, dink sy en gee net betyds pad
toe Laura met 2 bekers stomende koffie omdraai en tafel toe stap.
Hulle smul aan die toebroodjies en gesels sommer oor alles
en nog wat.
“O my aarde, dis al kwart oor 2, ek moes 2 uur al terug
gewees het by die universiteit!” gee sy ’n gedempte gilletjie en vlieg van haar
stoel af op. “Dankie, vir die koffie en geselskap.” sê sy en keer haar self net
betyds om nie ’n soen op Laura se voorkop te plant nie.
“Dankie, vir die broodjies.” sê Laura vinnig toe Yvette soos
’n warrelwind by die kombuis uitvlieg.
Laura sit die vuil skottelgoed in die wasbak en stap terug
na tannie Petra se kamer.
Gertrude is weer stip om 6 uur die aand op haar pos en luister aandagtig
toe Laura vir haar verslag gee van die dag se gebeure.
Tannie Petra kyk die twee met groot oë aan. Nou praat hulle
van haar asof sy nie in die kamer is nie, hulle kan hulle sterre dank dat ek
nie meer kan praat nie, dink sy by haar self.
Petra Schoeman was lank gelede ’n groot sterk,
selfversorgende, selfversekerde boervrou, wat nie onsin van niks en niemand
geduld het nie. Sy het die broek in die huis gedra en haar man, Chris, het haar
maar laat begaan. Hy het tot laat saans op die lande gewerk en wanneer hy moeg
van die lande af terugkom, het jy nie krag gehad om sy vrou teë te gaan nie.
Die ouman het net geëet en gaan slaap.
2 Jaar terug het
sy ’n massiewe beroerte gehad, wat haar bedlêend gelaat het en haar spraak
aangetas het. 2 Weke gelede het sy ’n terugslag gehad. Die dokters vermoed dat
dit weer ’n beroerte was, sy is nou totaal hulpeloos. Sy kan haar kop
heen-en-weer draai en knik, dis basies al. Steng gesproke is sy weer soos ’n
baba. Baie dae is sy in ’n verskriklike bui, want met haar verstand skort daar
niks nie. Sy word kwaad vir haar self en almal om haar omdat sy niks self kan
doen nie en haar self nie in woorde kan uitdruk nie. Wanneer sy so befoeterd
raak, moet Roy spesiaal ontbied word om haar te paai met die voorlesing van sy
prosa. Dis al wat haar laat kalmeer en natuurlik die feit dat hy so baie na sy
pa lyk. Sy mis haar man geweldig baie, al is dit al 25 jaar wat hy oorlede is.
Ses
maande het al verloop sedert Laura ingestem het om tannie Petra, te versorg.
Dis die eerste naweek wat sy nie huis toe gaan nie. Yvette het haar gevra om
haar te vergesel na ’n funksie Saterdagaand.
Sy het vir Laura die mooiste aandrok gekoop en sy kan nie
wag om dit aan te trek nie.
Saterdag agtermiddag stap Laura uit haar kamer, die rok pas
perfek.
Yvette trek haar asem hoorbaar in toe sy haar sien. “Jy is
beeldskoon, prentjie mooi.” sê sy en vat Laura aan die hand.
Dis ’n blink, swart en liggroen aandrok, met dun bandjies
wat oorkruis agterop haar rug. Yvette het ’n swart broekpak met ’n langerige
liggroen onderbaadjie en ’n liggroen strikdas aan. Hulle lyk soos ’n perfekte
paartjie.
“Jy lyk handsome, as ek so mag sê.” voeg Laura by.
“Sjoe! ek voel gevly, niemand het nog ooit na my verwys as ‘handsome’
nie.” sê sy terwyl sy met haar twee vingers in die lug, aanhalings tekens maak.
“Ag, sies, nou is jy sarkasties.” sê Laura en maak asof sy
bekaf is.
Yvette trek haar nader en verseker haar dat sy bedoel het,
wat sy gesê het en dat sy regtig goed voel daar oor. Sy ruik weer, soos daardie
dag in die kombuis, aan Laura se hare en wonder wat sy sal doen as sy nou af
buk en haar soen. Sy voer egter nie haar plan uit nie en bly net met Laura in
haar arms staan.
Heimlik wens Laura, dat Yvette haar moet soen. Sy weet
Yvette voel iets vir haar, maar het nog niks laat val nie. Sy kry weer ’n warm
gevoel, hier waar sy in Yvette se arms staan en wens hulle kan vir altyd so bly
staan. Sy hoor haar hartklop waar haar kop teen haar bors druk en Laura maak
haar oë vir ’n wyle toe. Haar hart klop vinnig en Laura vind dit prikkelend om
een of ander rede. Sou haar hart so vinnig klop, omdat sy so teen haar staan,
wonder Laura.
Yvette hou haar vir ’n sekonde stywer vas en laat los. “Ons
beter gaan, ek wil nie laaste daar instap nie.” sê sy vlugtig en gaan groet
haar ma.
Hulle kom
eers na 12 die nag by die huis aan. Yvette wil gaan koffie maak, maar Laura wys
dit van die hand, sy voer aan dat sy bietjie moeg is en eerder kamer toe wil
gaan. Hulle stap saam tot by Laura se kamer en sy bedank Yvette vir die wonderlike
aand en dat sy nog steeds handsome lyk.
Yvette gaan staan teenaan haar, die deur is nog toe, dus kan
Laura nie terugtree nie. Hulle oë ontmoet. Sy raak bewus van Yvette se
sagte kurwes teen haar, weer is daar ’n
warm gevoel in haar liggaam. Haar asemhaling word vinniger, haar hart klop onstuimig...
Gaan Yvette haar soen, haar in haar arms neem en op die bed gaan neerlê, maal
die gedagtes deur Laura se kop. Yvette buk af en Laura maak haar oë toe...
“Laura! Kom gou!” gil Gertrude agter hulle. Sy wag nie op
reaksie van hulle nie, maar vlieg kortom terug na haar pasiënt se kamer.
Yvette storm eerste die kamer binne. Toe Laura in die kamer
kom, kry sy Yvette op haar knieë voor die bed, met haar bo lyf oor haar ma
gegooi.
“Gertrude, bel die ambulans en dan vir Roy. Maak gou!” roep
sy bevele uit vir die verpleegster.
Sy skeur Yvette weg van haar ma af. Laura luister met die
stetoskoop na ’n hartklop, maar daar is niks. Met betraande oë draai sy na
Yvette.
Sy loop tot by haar en sluk swaar aan die knop in haar keel.
“Ek is verskriklik jammer Yvette... maar... dis verby.” sukkel sy om die woorde
uit te kry.
Gertrude wou kom sê die ambulans is op pad, maar draai
kortom toe sy hoor wat Laura vir Yvette sê. Sy sal hulle moet gaan kanselleer.
Roy storm by die voordeur in en hardloop sy ma se kamer
binne.
“Nee! Moeder!” gil hy en trane stroom oor sy wange.
Broer en suster omhels mekaar en Laura los hulle alleen.
Sy gaan
sit by die kombuistafel en rus met haar kop op haar arms. Na ’n ruk, stap Roy
die kombuis binne en maak keel skoon om haar aandag te trek.
Laura vlieg regop. “Roy, kan ek vir julle iets maak om te
drink?”
“Nee, dankie. Laura... Suster Grabe... ” hy struikel oor sy
woorde en Laura kan nie verstaan hoekom sy nou skielik weer suster Grabe genoem
word nie.
“Yvette is baie
ontsteld, sy versoek dat jy en Gertrude haar huis onmiddellik verlaat.” hy laat
sak sy kop toe hy klaar gepraat het.
Laura is uit die veld geslaan en kyk hom fronsend aan. “Roy,
wat gaan aan? Ek verstaan nie?”
“Wat verstaan u nie suster Grabe? Ek het my broer gevra om
vir jou te kom sê om van my eiendom af pad te gee! Jy en jou onbevoegde
personeellid!” bulder Yvette. Sy is weer net so kil soos daardie eerste dag wat
Laura haar ontmoet het.
Laura gee ’n snork lag. “Wil jy vir my sê dis Gertrude se
skuld dat jou ma dood is? Dis belaglik, jy kan nie ernstig wees nie, Yvette.
Jou ma was verswak en sy... ” sy voltooi nie haar sin nie, want Yvette staan
hande in die lug.
“Jy kan Maandag jou besittings kom haal, Sarah sal hier wees.”
sê Yvette en verlaat die kombuis.
Laura storm uit die kombuis na haar kamer. Sy gryp ’n paar
kledingstukke en prop dit in ’n tas. Sy verduidelik aan Gertrude wat aangaan en
hulle stap voordeur toe.
Roy wag by die voordeur vir haar. “Ek is jammer Suster.”
“Ek is jammer oor jou moeder Prof.” sê sy en groet.
Haar oë skiet vol trane toe sy by Yvette se huis wegry. Sy
ruk haar self reg en vra vir Gertrude om vir die res van die nag by haar oor te
bly, dan kan sy die volgende oggend ’n bus huis toe kry, want dis nou laat en
onveilig. Gertrude stem in en staar weer voor haar uit, sy verstaan nie mooi
wat gebeur het nie en vra ook liewer nie uit nie.
Roy kry
Yvette nog steeds voor hulle ma se bed sit. Dit weerhou hom egter nie om sy
opinie te lug nie. “Yvette, jy was onredelik!”
“Onredelik! Ons ma lê dood en jy sê ek is onredelik!” gil sy
vir hom. “Ons het toegelaat dat onbevoegde mense na haar kyk!” gil sy verder.
Yvette is nou buite haar self. Roy probeer haar kalmeer, maar tevergeefs, sy
bulder net voort.
“Ek sal sorg dat die verpleegsters raad hiervan te hore kom,
hulle al twee behoort van die rol geskrap te word!”
Roy verlaat die kamer, hy sal nie nou sin in haar kop kan
praat nie. Hy stap studeerkamer toe om die lykbesorgers te gaan skakel. Sy ma
se huisdokter sal hy môre skakel, daar is tog niks wat hy nou kan doen nie,
dink hy by hom self.
Maandagoggend staan Laura voor Yvette se huis. Sy huiwer voor sy klop en
dink weer aan Saterdagaand, net voor Gertrude hulle geroep het... Die naweek
kon so anders gewees het, dink sy en klop aan die voordeur. Sy deins effens
terug toe Yvette die deur oopmaak. Met ’n handgebaar nooi sy Laura binne. Sy is
woedend toe sy haar tasse in die portaal sien staan. Haar oë spoeg vuur toe sy
omdraai en na Yvette kyk. Sy wys na haar tasse. “En dit?”
“Sarah het u die moeite gespaar en sommer alles ingepak.”
verduidelik Yvette.
“Professor Schoeman, jy is die mees ongepoetste vrou wat ek
in ’n baie lang tyd teëgekom het. Waar kom jy en jou huishulp aan die reg om
julle hande op my private besittings te lê. Ek sou bietjie meer van ’n vername
vrou soos u self verwag het!” sis Laura en byt op haar tande om nie nog iets
kwyt te raak nie. Sy gryp haar tasse en boender dit by die voordeur uit.
“Ag, so suster, wil u nou beledigings kom rondslinger. Wees
net gewaarsku, u agentskap gaan binnekort sy deure moet sluit en nie jy of jou
onbevoegde personeel sal ooit weer in dié beroep werk nie. Ek sal sorg dat
julle almal van die rol geskrap word!” snou sy Laura toe.
Laura luister nie verder nie, sy klap die deur in Yvette se
gesig toe en begin haar tasse in die kar laai.
Yvette skep asem en stap kamer toe. Sy stop voor die kamer waar
Laura vir die afgelope ses maande gebly het en stoot die deur oop. Sy ruik haar
parfuum, sy onthou skielik hoe sy die eerste dag in die kombuis aan Laura se
hare geruik het. Sy gaan sit op die bed, haar skouers begin ruk en sy verberg
haar gesig in haar hande.
“Wat is ek besig om... om aan my self en aan die vrou wat ek
lief het te doen?” vra sy haar self hardop af en vlieg by die kamer uit.
Sy pluk die voordeur oop, net om te sien hoe Laura daar
wegtrek met skreeuende bande.
“Ek haat jou Yvette Schoeman!” gil sy
toe sy by die hek uitjaag. “Hoekom het jy in my lewe ingekom?” vra sy hardop.
Trane dam op in haar oë en Laura besef sy sal van die pad moet aftrek, want sy
kan nie meer voor haar sien nie. Sy hou egter aan met ry, sy wil so vêr as
moontlik van Yvette se huis af weg kom en versnel.
Laura let nie op dat die verkeerslig rooi is vir haar nie en
bly versnel. Skielik is daar ’n slag van karre wat mekaar tref. Laura se kar
begin tol en tref nog ’n kar, vensters breek en bande skree op die teerpad.
Haar kar kom tot stilstand, maar sy beweeg nie.
Roy
stop voor Yvette se huis. Hy is wit geskrik. Yvette storm buitetoe en is
teleurgesteld toe sy sien dis net Roy. “Hoekom is jy so bleek?” vra sy.
“Hemel, ek was nou amper in ’n ongeluk. Iemand het oor die
rooi lig gery, my gemis, maar van die karre agter my getref. Die persoon het
met ’n spoed gery ook.” verduidelik hy.
Yvette kry nie ’n woord uit nie, sy val met haar rug teen
die kosyn en sak stadig af tot op haar hurke.
“Yvette! Wat is fout?” gil hy en storm na haar toe. Hy help
haar regop en toe hy haar wou binnetoe vat, weier sy.
“Dis Laura, kom!” is al wat sy uitkry.
Roy se oë rek en spring agter die stuur in en trek weg toe
Yvette se deur toe is. Yvette kom tot verhaal en vertel vir Roy van die oggend se
gebeure.
Hulle kom net te laat by die ongeluks toneel, die beseerde
is klaar met die ambulans op pad hospitaal toe. Yvette bevestig dat dit Laura
se kar is en Roy doen navraag by die verkeers beampte oor wie weggevat is in
die ambulans. Die beampte gee inligting na watter hospitaal die ambulans op pad
is en Roy en Yvette kies kortpad soontoe.
Die ambulans het haar reeds by ongevalle afgelaai en Yvette
haas haar daarheen terwyl Roy die kar gaan parkeer.
Yvette doen navraag oor Laura, maar niemand wil iets sê nie.
Sy raak ongeduldig en skree dat sy net wil weet of Laura okei is, of sy leef.
Een van die ongevalle suster kom aangedraf en vat haar aan
die arm. Sy lei haar na die wagkamer en probeer haar gerusstel.
“Sodra dokter die aard van beserings vasgestel het, sal sy
jou kom verwittig.” belowe die suster Yvette.
Dit
voel vir Yvette of hulle al ure in die wagkamer sit, maar ’n driekwart uur
later kom dr. Visser na hulle soek.
“Wat is u verwantskap met die pasiënt?” vra sy eers die
roetine vragie.
Yvette staan sprakeloos. Wat is sy van Laura, wat gaan sy
sê, dink sy by haar self en toe weet sy. “Ek is haar lewensmaat en dis my
broer.” sê sy en wys na Roy.
Dokter Visser verduidelik dat daar ’n nood operasie op Laura
uitgevoer moet word. Sy het ’n lelike beenbreuk opgedoen. Sy vra ook dat Yvette
sommer dadelik saam met haar moet gaan, om te gaan toestemming teken vir die
operasie.
Yvette dring daarop aan om Laura te sien voor die operasie
en dr. Visser reël by een van die suster om haar na Laura toe te vat. Sy teken
gou die vorm en stap saam met die suster.
Geskok kyk sy na Laura, sy’s bewusteloos en weet nie dat
Yvette by haar is nie. Net toe Yvette haar hand uitsteek om aan haar vat, word
sy eenkant toe gedruk en die verpleeg personeel draf met Laura teater toe.
Die
prosedure vat lank in teater en 3 ure later word Laura by die ortopediese saal
ingestoot. Trane loop toe Yvette haar gewaar. Hulle staan buite die kamer en
wag, want sy word eers gemaklik gemaak en pyn inspuitings word toegedien. Die
verpleegsters trek die gordyne oop en beduie vir Yvette en Roy dat hulle maar
mag ingaan. Roy fluister vir Yvette dat hy vir haar in die wagkamer sal wag, sy
moet alleen vir Laura besoek.
Laura maak haar oë op skrefies oop toe Yvette aan haar hand
vat.
“Yvette... wat maak... ” probeer Laura praat, maar is nog
beneweld van die narkose.
“Shh... Ek sal jou later weer kom besoek.” fluister Yvette
in haar oor en soen haar liggies op die wang.
Yvette verlaat die kamer en stap diensstasie toe. “Ek wil hê
dat julle suster Grabe moet oorplaas na ’n privaat kamer asseblief.” versoek
sy.
“Jammer, maar die mediese fonds betaal nie vir privaat
kamers nie, tensy die dokter kan motiveer.” lig een van die susters wat daar
sit en skryf Yvette in.
Yvette grinnik en versoek weer ’n privaat kamer en
verduidelik dat sy die onkoste van die kamer sal dek.
Die suster stem in en sê dat sy sommer nou dadelik geskuif
sal word.
Roy sit
geduldig en wag vir sy suster. Intussen het hy al ’n hele paar van die verpleeg
susters vermaak. Party van hulle lê sommer openlik by hom aan, hy geniet
natuurlik die aandag.
Yvette sluit uiteindelik by hom aan. Sy vra dat hy haar na
die polisiekantoor moet neem, want sy sal by Laura se kar moet uitkom, om haar
slaap klere in die hande te kry en sommer ook haar huis sleutels.
Die beamptes by die polisiekantoor is baie hulpvaardig en
sommer gou het sy Laura se tasse en huis sleutels gekry.
Roy vat haar na Laura se huis en sy gaan pak vir haar ’n tas
met nagklere en toiletware. Hulle ry terug na Yvette se huis en Roy verbreek
die stilte.
“Ek is bly jy het tot jou sinne gekom Yvette.”
Sy knik haar kop en kyk toe na hom. “Roy, ek het amper die
vrou vir wie ek lief het verloor. Ek weet nie wat my besiel het om so aan te
gaan nie.” sy bly ’n ruk stil en staar by die venster uit na die geboue wat
verbyflits. Met trane in haar oë verduidelik sy verder. “Ek dink die skok van
Ma se dood was net te groot. Sy het dan so goed gelyk. Ek weet dit was nie
Laura of Gertrude se skuld dat Ma gesterf het nie en ek weet hulle is glad nie
onbevoeg nie.” Yvette kyk weer by die venster uit na sy klaar gepraat het.
“Jy moet dit nie aan my verduidelik nie Yvette, jy moet dit
aan die een wat nou daar in die hospitaal lê, verduidelik.” Roy kry sy suster
jammer op hierdie oomblik, maar hy weet ook dat sy ’n op vlieënde humeur het en
dat niemand haar dan van stryk kan bring nie.
Yvette
stap reguit na haar kamer, toe hulle by haar huis kom. Roy stap kombuis toe en
gaan reël by Sarah om vir hulle koffie te maak. Hy gaan sit solank in die
sitkamer en wag. ’n Halfuur later kom Yvette ingestap met ’n naweektas.
“En nou dié tas?” vra hy nuuskierig.
“Ek gaan by Laura in die hospitaal bly totdat sy beter is.”
antwoord sy.
Roy bly liewers stil, want as Yvette ’n ding in haar kop
het, kry niemand dit weer daar uit nie.
Yvette vra Sarah om die twee tasse in die kar te gaan sit.
“Roy, ek weet ek is nou selfsugtig, maar sal jy aangaan met
die begrafnis reëlings?” versoek Yvette.
Hy staan op en gee sy suster ’n stywe druk. “Jy weet ek sal.
Gaan na haar toe... ek hoop sy vergewe jou.” sê Roy en gee vir haar ’n skewe
glimlaggie.
“Sy sal, want ek weet dat sy my ook lief het.” verseker
Yvette hom. “Roy... dankie vir alles.” voeg sy by.
Laura
slaap nog steeds toe Yvette daar aankom. Sy glimlag en soen haar liggies op die
wang. Nadat sy Laura se goedjies uitgepak en gebêre het, trek sy ’n stoel tot
teenaan die bed. Sy vat Laura se hand in hare en sit net vir haar en kyk.
Die suster van vroeër maak haar verskyning in die kamer.
“Dis van die pyn inspuitings dat sy so slaap.” verduidelik sy vir Yvette. Sy
maak ’n paar aantekeninge op die pasiënte kaart en verlaat weer die kamer.
Yvette hou nog steeds Laura se hand vas en moes dit
noodgedwonge laat los toe die nagpersoneel inkom en aandring dat hulle die
pasiënt moet was en gemaklik maak vir die nag. Yvette het toe maar van die tyd
gebruik gemaak om gou iets by die hospitaal kafee te gaan eet. Sy koop ’n paar
tydskrifte om haar mee besig te hou en stap terug saal toe.
Sy kyk na Laura, sy lyk prentjie mooi waar sy teen die
kussings lê. Die voete ent van die bed is effens gelig en sy wonder hoekom.
Kort-kort is die verpleegsters daar om na haar been te kyk
en sy vra uit oor hoekom die bed gelig is.
Hulle verduidelik dat die voet van die geopereerde been
besig is om te swel en as dit so aanhou, sal sy moet teruggaan teater toe sodat
die gips verwyder kan word, anders kan die stywe gips veroorsaak dat die
bloedtoevoer toe gedruk word.
Dis ’n lang nag vir Yvette, sy kry nie veel slaap nie, want
die verpleegsters is kort-kort daar om na Laura se been te kyk. Teen half 5 die
oggend het sy nog niks geslaap nie, sy staan in die gang en wag, want hulle
verfris Laura en kry haar reg vir die dagpersoneel. Hulle kom uitgestap en
beduie vir Yvette dat sy weer kan ingaan.
Sy trek weer die stoel tot teen die bed en neem daarin
plaas. Sy is doodmoeg en raak aan die slaap met Laura se hand in hare.
Laura
word wakker en vir ’n oomblik weet sy nie waar sy is nie. Dan onthou sy alles,
sy en Yvette wat baklei en toe die ongeluk.
Die dagpersoneel kom die kamer binne en sy wys vir hulle,
met haar vinger op haar mond, dat hulle nie moet lawaai nie en wys dan na
Yvette. Sy is vas aan die slaap, haar kop rus op haar arms en sy lê so half op
die kant van die bed. Van die verpleegsters giggel en waai vir Laura.
Sy lê terug teen die kussings en kyk vir Yvette. Sy kan nie
help om te glimlag nie. Vergete is die haat wat sy vir die vrou hier voor haar
gevoel het, in die plek daarvan net deernis en liefde. Sy het ook ’n brandende
begeerte om weer in haar arms te wees, om deur haar gesoen te word. Laura kan
haar self nie meer keer nie, sy steek haar hand uit en streel Yvette se hare,
die grys hare met hier en daar tekens dat hulle lank gelede swart van kleur
was.
Yvette begin kriewel en vlieg skielik orent. “Jy’s wakker.”
roep sy verbaas.
“Ja, my liefste, ek is.” beaam Laura.
Yvette gryp haar hande vas en begin dadelik om verskoning
vra. Sy vra om verskoning vir die beskuldigings en haar swak gedrag, maar Laura
maak haar stil.
“Dis alles in die verlede... weet net... weet net dat ek jou
lief het.” erken Laura haar gevoel vir Yvette.
Yvette buk vooroor en hulle lippe ontmoet. Sy soen haar lank
en innig. “Ek het jou ook lief en weet net dat ek jou nooit weer sal laat gaan
nie.” maak Yvette ook ’n bekentenis.
Hulle omhels mekaar en vir die tweede keer daardie oggend
word Laura hartstogtelik gesoen.
No comments:
Post a Comment