Ek haat toe-oog afsprake én ek haat dit as mense laat kom
vir afsprake. “Wat’s haar haar naam nou weer?” vra ek senuweeagtig en sluk die
laaste bietjie vodka weg. Corrie en Sonja het gedink hulle doen goed om 'n ‘blind date’ vir my te reël. Ek en Tessa het
ses maande gelede uitgemaak, na 'n verhouding van vyf jaar. Volgens hulle is ek
nou lank genoeg single.
“Sonet! Ontspan nou,
haar naam is Vanessa, maar almal noem haar Nessa.” probeer Corrie my kalmeer.
Sy vlieg op en waai na ‘'n meisie wat nou net by die deur ingestap het. “
Nessa!”
“ Haai julle, sorry ek’s laat maar moes my Moederlief op die
nippertjie by die teater gaan aflaai, haar kar wou nie vat nie.”
Nessa is oulik en spontaan. Ek hou van haar, maar nie meer
as net 'n vriendin nie. Sy steek haar hand uit na my en ons groet.
“ Ek’s Nessa en jy moet Sonet wees, bly te kenne”
Ek glimlag en knik my kop. Ek weet nie wat op aarde Corrie
en Sonja gedink het nie, sy’s hopeloos te jonk vir my. Ek skat haar so vyf en
twintig, dertig en hulle weet ek hou van ouer vroue.
“ Jy’s teleurgesteld?” sê Nessa en vang my onkant. “
Toemaar... ek ook, ek’t iemand meer butch verwag.”
Genade tog, staan dit so duidelik op my gesig geskryf? My oë
rek vir hierdie voor op die wa vroumens en nog steeds kry ek nie 'n woord uit
nie.
“ Wat drink jy?” vra sy.
Ek kry darem die woord vodka uit en sy spring op en draf
kroeg toe.
“Hier drink, sodat jy weer kan praat.” sê sy en druk 'n
shooter in my hand.
Uiteindelik kom ek tot verhaal. “Is sy altyd so voor op die
wa?” vra ek vir Sonja, want Corrie is saam met Nessa terug kroeg toe.
Sonja lag te lekker. “Sy’s soos 'n dwarrelwind en partykeer
soos 'n orkaan. Sy kan mens uitput en waar sy was, is altyd chaos. Sy’s pret en
plesier en almal is mal oor haar.”
“ Sy klink na 'n hand vol ja.” sê ek en wonder wat hierdie
aand inhou.
“En?” vra Corrie my toe sy terugkom.
“En wat?” vra ek.
“ Wat dink jy van Nessa?”
“ Oulik, vriendelik, maltrap... maar nie vir my nie. Wat het
jy gedink Corrie... nee... jy het nie gedink nie.” vererg ek my sommer vir
haar.
“ Jy kort 'n jong, op en wakker vrou wat bietjie vuur in jou
kan blaas Sonet.”
“Dankie, Corrie! Ek is jammer ek’s so 'n vervelige vriendin!”
vervies ek my weer vir Corrie en stap kroeg toe vir nog 'n vodka.
Ek sit hulle en dophou van die kroegtoonbank af. Nessa pluk
die twee van hulle stoele af en sleep hulle saam met haar dansvloer toe. Sy’s
wraggies 'n bondel energie. Ons kuier tot laatnag voor ek uitgeput op my bed
neerval en sommer dadelik aan die slaap raak.
Drie-uur die middag lui my foon en Nessa giggel aan die ander kant. “
Nee, man, slaap jy wraggies nog?” Sy klink so opgewek, asof sy eerder die hele
nag geslaap het en nie gedans het nie. “ Kom na Corrie hulle toe, ons het so pas
besluit ons gaan braai vir aandete. Ek kom haal jou, gee my jou adres?”
Vinnig maak ek verskoning, sodat sy nie my adres in die
hande moet kry nie. “Sien jou dan later.” groet ek en lui af. Ek lê nog 'n ruk
met die foon in my hand en wonder waar het sy my nommer gekry... Corrie...
natuurlik!
Ek voel verfrissend na die stort en sien weer kans vir
Nessa... en die braai. Net soos die vorige aand het Nessa weer oorgeborrel van
energie, plesier en lawwigheid. Toe ek groet na die braai, laat ek haar mooi
verstaan dat ek Sondag wil rus en laat slaap en nie weer wil gaan rinkink nie.
Nessa glimlag en gee my 'n drukkie voor ek ry.
Woensdagaand bel Nessa my weer uit die bloute uit. Sy wil hê ek moet
saam met haar gaan koffie drink. Noodgedwonge moes ek toe nou my adres vir haar
gee, want sy dring daarop aan om my te kom oplaai. 'n Swart afslaankap BMW stop
voor my huis en Nessa sit agter die stuur.
“Sjoe, maar jy verdien 'n goeie salaris.” sê ek terwyl ek
aanstap kar toe.
“ Nee, dis Moederlief se kar, wens dit wás myne.”
“ Wel dan verdien jou ma 'n goeie salaris.” sê ek en is
beïndruk.
“Sy het, maar sy het nou afgetree.” lig sy my in.
“O, watse werk het jou ma gedoen?” vra ek,
“ Kom ons ry, dan gesels ons vêrder by die koffiekroeg.”
vermy Nessa my vraag.
Ons kuier vêrder by die koffiekroeg, maar gesels nie weer
oor haar ma nie.
Ek en Nessa het wel tot 'n ooreenkoms gekom, ons gaan net
vriende wees, want ons is nie romanties vir mekaar bedoel nie. Nou voel ek ook
weer op my gemak met die wete dat sy niks meer as vriendskap van my wil hê nie.
Ek en
Nessa het groot vriende geword en ontmoet mekaar gereeld na werk vir koffie.
Naweke is ons of in die dansklubs of by vriende vir braai of partytjies.
“Sonet, jy sal hierdie naweek sonder my moet kuier.” Nessa
klink ongelukkig en lyk sommer neerslagtig ook.
“ Wat’s fout, hoekom lyk jy so?”
“ Ek gaan New York toe, moet weer my ma se hand gaan
vashou.”
“ New York! Jis ek sal wat wou gee om soontoe te gaan!” gil
ek dit uit.
“Ag, dis boring, ek moet oral saam met my ma gaan. Of moet
in die hotel bly as sy gaan vir daai simpel repetisies.” Nessa is hoogs
ontsteld, maar lig my nogtans vêrder in oor hulle tog New York toe.
Haar ma was 'n aktrise maar het tien jaar terug, op
vyftigjarige ouderdom, afgetree en na Suid-Afrika geëmigreer. Hulle gaan elke
drie of vier maande New York toe want haar ma word rolle aangebied op die
verhoog, gewoonlik die hoofrol. Sy vertel ook dat sy en haar pa al twintig jaar
hier bly. Haar pa is eintlik 'n Suid-Afrikaner en sy is in Amerika gebore.
“Jy praat goed Afrikaans, sonder 'n aksent.” sê ek verbaas.
“Danksy my pa, hy het my geleer praat en ek het weer my ma
geleer... jy moet haar hoor Afrikaans praat, sy praat dit met 'n Yankee
aksent.” sê Nessa en sy lag.
My naweek verloop stil, ek is maar te
bly vir die oomblikke van stilte en rus. Ek hoor niks van Nessa en probeer om
haar te bel Maandagoggend, maar daar’s geen antwoord nie.
Teen Woensdagaand laat sy eers weer van haar hoor. “ Ek hoop
nie jy slaap al nie, maar ons het nou eers by die huis gekom. My ma moes toe
langer bly as gewoonlik.”
“ Ek’s net bly jy’s veilig, ek was al bekommerd” sê ek en
sug van verligting.
“My ma wil jou graag ontmoet, sy’t gesê ek moet jou nooi vir
ete Vrydagaand.”
Ek aanvaar die uitnodiging en lê lank en wonder oor die
aktrises in Amerika wie se vanne White is. Daar is Betty White, maar sy het nou
die dag negentig geword en Nessa se ma is nou... sestig. En onder my gedagtes
raak ek aan die slaap.
Vrydag
breek te vinnig aan en eks 'n senuweebol toe ek by Nessa hulle sê huis indraai.
Mens kan sien daar’s nie 'n tekort aan geld nie. Groot swaar tralie hekke swaai
voor my oop en ek ry met die oprit tot by die huis. Dis 'n enorme groot plek.
My deur word vir my oopgemaak en 'n bediende beduie dat ek haar moet volg. Sy
lei my na die patio toe. Daar is reeds ander gaste.
Nessa is opgewonde toe sy my gewaar. “Uiteindelik iemand met
wie ek kan gesels. Die klomp is my ma se vriende.” verduidelik sy en wink 'n
kelner nader en bestel vir my 'n vodka.
“Nessa, ek het jou nooit gevra wat is jou ma se naam nie.”
“ O... almal noem haar Lee, maar haar verhoog naam... “
Nessa voltooi nie haar sin nie, want haar ma praat agter my.
Ek versteen, ek ken daai stem of ek dink ek ken daai stem...
Vinnig probeer ek dink...Lee White, Lee White...nee dit lui nie 'n klokkie nie,
maar die stem... die stem klink soos... Ek draai om en kliphard sê ek “LEANNE
PORTER!” Ek kan my oë nie van die vrou afhou nie, ek staar net na haar en al
wat ek uitkry is... “ek sal daai stem enige plek herken...”
Nessa stel my aan haar ma voor en ek skud hande met haar,
maar dit registreer nie by my dat ek nou net aan dié Leanne Porter se hand
gevat het nie. Sy is een van die beste en bekendste aktrises in Amerika. My
bene wil my nie meer dra nie en ek sak op die rusbank neer. Dit voel of ek
droom, kan dit waar wees. Ek vat 'n groot sluk vodka en probeer tot verhaal
kom. “Ek moet vars lug kry Nessa...” hyg ek en vlieg op. Nessa lei my uit tuin
toe. Die koel briesie bring 'n lafenis en ek voel nie meer benoud nie.
Ek staar na Nessa en vra. “Weet jy wie daai vrou is aan wie
jy my nou net voorgestel het?!
“My ma of van wie praat jy? Vra Nessa fronsend.
“Nee, behalwe dat sy jou ma is... Dêmmit! Sy’s jou ma ja...”
sê ek en bly dadelik stil. Ek kan nie vir Nessa vertel hoe ek oor haar ma voel
nie. Dat ek eintlik 'n ‘crush’ op haar het nie, dat sy nog al die jare my
ideale vrou is nie, dat ek al in my drome met haar ma liefde gemaak het... haar
regtig sou wou bed toe vat... Dat ek heimlik verlief is op Leanne Porter, haar
ma. Ek kan nie dat Nessa dit weet nie...
“Sonet? Wat gaan aan met jou, dit lyk of jy 'n spook gesien
het.”
“Hoekom het jy nie vir my gesê jou ma is die bekende Leanne
Porter nie?!” en is sommer vies vir haar.
“Big deal” sê Nessa en trek haar skouers op.
“Dan kon ek my immers voorberei het!” sis ek deur my tande
“Sonet jy gaan aan soos 'n tiener wat verlief is op haar
skooljuffrou!”
Ek bedaar dadelik want dis wraggies die tweede keer dat sy
my soos 'n boek lees. Sy begin giggel en ek loer onderlangs na haar.
“Jy is! Jy is verlief op my ma!” sy lag nou hardop.
“Ek kan ook niks vir jou wegsteek nie, jy het net die vermoë
om my soos 'n boek te lees.” sê ek en gee 'n verleë laggie.
“Moet ek vir jou 'n date met haar reël?” vra sy onskuldig.
“Doen dit net, ek vermoor jou!” maar heimlik wens ek dat sy
dit tog sal doen.
Die res
van die aand verloop vlot, behalwe aan tafel waar ek en Leanne kort-kort per
ongeluk aan mekaar se hande geraak het wanneer ons saam die soutpotjie, of aan
die slaailepel en of aan dieselfde broodrolletjie gevat het en dan onderlangs
vir mekaar geloer het en beleefd geglimlag het. Elke keer as ek aan haar raak
of sy aan my, het daar 'n tintelende
gevoel deur my hele liggaam gespoel en hier binne-in my het ek gehoop dat sy
dieselfde gevoel gekry het.
Ek was
half verlig toe dit tyd word om te ry. Hoe ek by die huis gekom het weet ek
nie, want ek was al die pad in die wolke, half in 'n beswyming. Leanne lyk nie
heeltemal meer soos in haar flieks nie, sy’s ouer, gryser en beslis meer sexy.
Dan... daardie stem het niks verander nie. As sy net praat, jaag sy klaar my
hormone deurmekaar.
Na ek gestort het, stap ek sitkamer toe, haal een van Leanne
Porter se DVD’s uit die rak en sit dit in die DVD speler. Dis een van die
eerste flieks waar ek op haar verlief geraak het. Daar’s 'n foto van haar in
die DVD van haar laaste fliek wat sy gemaak het, ek haal dit uit. Sy het dit
geteken en weer teruggepos aan my. “To Sonet With all my love Leanne Porter”
Woensdag ontmoet ek en Nessa weer vir koffie. Ek sit al toe sy eers daar
aankom en trek haar oë soos wanneer mens vir iemand flikkers gooi. “Wat makeer
jou oë, is jy okay?” vra ek sarkasties.
“Ag, sies man... ek bring goeie nuus, nou’s jy vieslik met
my.” Sê sy en trek haar lip asof sy in trane wil uitbars.
“ Goeie nuus?!”
“Jaaa! Jy is vir die naweek na ons huis genooi. Jy moet
Vrydag al deurkom, vra Moederlief.”
“Nee, Nessa, nou trek jy my been?” sê ek half verras en
geskok.
“Ek doen nie, my ma wil jou graag weer sien, sy’t...” ek
knip Nessa se sin kort.
“Het jy nou wraggies vir jou ma gaan staan en vertel dat
ek... dat ek gek is oor haar?!” sê ek vies.
“Kan ek klaar praat!” sê Nessa die keer vies. “Sonet, sy’t
my gevra of ek en jy iets aan die gang het en toe vertel ek haar dat ons blind
date eintlik 'n ‘miss match’ was. Sy’t gesê sy hou nogal van jou en sou jou
beter wou leer ken en... toe bloos sy! My ma het gebloos, dit was te ‘sweet’
want ek het haar nog nooit sien bloos nie. Sy hou van jou!”
“Wag net so bietjie, waar’s jou pa, wat gaan hy van al die
dinge sê?”
“ Hulle is geskei toe ek so vyf of agt of so iets was. Na my
pa was sy nog nooit weer saam met 'n ander man nie. Sy’t baie vriendinne gehad...
of sy nou romanties betrokke by een van hulle was weet ek nie, sy was maar
altyd geheimsinnig oor sulke goed. Ek onthou net, my pa het haar altyd 'n
‘dyke’ genoem as hulle so oor die foon baklei het, dis eers jare later dat ek
sou uitvind wat dit eintlik beteken het.” Nessa staar voor haar uit terwyl sy
my vertel. Net vir 'n breukdeel van 'n sekonde is daar hartseer in haar oë en
op haar gesig te bespeur, maar amper dadelik is sy weer haar ou self en vra:
“Toe gaan jy oorkom die naweek? Jy moet nou sê, dan kry ons DVD’s en chips, o
ja en twak vir die hubbly bubbly, Moederlief het gesê die keer rook sy saam
hubbly.” Nessa giggel en wag vir my antwoord.
Sy klink so opgewonde dat ek nie anders kan as om in te stem
nie. Sy spring ook sommer dadelik op om die tabak te gaan koop, hier’s 'n winkel
glo naby. Ek het beduie sy moet maar alleen gaan, ek sal vir haar sit en wag.
Ek bestel nog 'n koffie en wonder wat dié naweek gaan inhou.
Soos
gereël stop ek Vrydagmiddag voor hulle prag huis. Die keer is Nessa voor die
bediendes by my kar. Sy pluk ook sommer die deur oop, het my aan die arm en ons
storm die huis binne en op met die trappe. Sy wys my my kamer en dat ek gou
moet uitpak en verfris as ek wil, sy sal my op die patio kry. Ek glimlag vir die
borrelende mens toe sy by die deur uitglip en vergaap my aan die kamer. Dis so
ruim en mooi. Twee groot dubbeldeure loop uit op 'n balkon met die mooiste
uitsig oor Pretoria.
Nessa
en haar ma wag vir my op die patio. Leanne is net so bly om my te sien en ek
probeer om kalmer te lyk in haar teenwoordigheid, maar binne-in my galop my
hart en die vlinders in my maag wil nie tot bedaring kom nie. Nessa het DVD’s
gekry en na aandete stap ons TV-kamer toe om dit te gaan kyk. Tussen in is daar
een van Leanne se flieks en sy weier om daarna te kyk. Nessa het haar gesmeek
maar tevergeefs, sy het opgestaan en gaan popcorn maak.
“Haal die DVD uit Nessa, jou ma gaan die hele tyd in die
kombuis bly.” vermaan ek haar, nadat 'n uur al verby is en Leanne nog nie van
die kombuis af terug is nie.
Uiteindelik kom sy terug met twee groot bakke popcorn en lyk
verlig om te sien dat haar fliek nie meer op is nie. Ons kyk nie verder DVD’s
nie, ons kuier, lag en gesels tot drie die oggend. Skielik is daar 'n ongemaklike
stilte tussen my en Leanne toe ons agterkom dat Nessa so in die geselskap aan
die slaap geraak het.
“Eks bly jy is hier Sonet.” verbreek Leanne die stilte.
Ek glimlag vir haar en kan sweer dat ek bloos, want my gesig
voel skielik so warm. Vlinders is weer besig om rond te vlieg in my maag toe ek
besef dat ek eintlik nou alleen in die sitkamer is saam met dié Leanne Porter.
Sy sien dat ek ongemaklik raak en stel voordat ons Nessa wakker maak en bed toe
gaan.
“Ek bedoel, elkeen in sy eie bed...” korrigeer sy haar self
en daar is wraggies 'n blos op haar wange.
Ek glimlag vir haar en besef dat sy net so ongemaklik en
senuweeagtig soos ek is.
Nessa stap die trappe brom-brom saam met ons op en kla dat
ons haar daar op die mat moes gelos het.
Ek lê
en rondrol, ek kry nie geslaap nie. Leanne is die hele tyd in my gedagtes. Die
dubbeldeure na die balkon staan nog oop, daar waai 'n koel briesie en kort-kort
bol die gordyne soos die windjie hulle waai. Ek staan op en stap uit op die
balkon. Ek leun teenaan die balkon muur, stut my elmboë op die muur en laat my
ken op my hande rus.
“Ek verlang na New York as ek die stadsliggies so sien.” sê
Leanne 'n ent van my af.
Ek trek my asem hard
in en vlieg regop van die skrik.
“ ‘Skuus, ek wou jou nie laat skrik nie.” vra sy om
verskoning terwyl sy nader stap.
My hart begin bokspring, sy staan nou langs my en leun teen
die balkon muur.
“Ek is nou tien jaar hier, maar dit voel of 'n deel van my
hart daar agtergebly het.” sê Leanne en daar is beslis verlange in haar stem.
“Hoekom het jy dan Suid-Afrika toe gekom?” vra ek haar.
“My kind... ek het na my kind verlang.”
Ek kyk na haar, voor my staan nie meer 'n aktrise nie, maar
'n ma, 'n moeder, 'n mens nes ek. Ek voel lus om my arms om haar te sit en haar
te troos... maar ek doen nie en kyk weer na die stadsliggies. Ek vertel haar
dat ek nog altyd New York toe wil gaan, dat daar iets is wat my soontoe lok.
“Die foto’s oor New York in die tydskrifte, oordryf glad
nie, dis een van die mooiste stede en as...” sy bly stil en gaan staan regop.
Sy stap verby my, draai terug, en kom staan agter my. Leanne sit haar hande
weerskante van my op die balkon muur en ek trek my asem hoorbaar in... ek voel
haar lyf teen my, haar kurwes teen my rug... ek vergeet om asem te haal... sy
fluister teen my nek, ek draai my kop om te hoor wat sy sê en haar lippe raak
net-net aan my oor.
“As jy wil, kan ek jou eendag gaan wys...” sy bly so staan
en wag vir my antwoord.
Soos 'n standbeeld staan ek, ek kry geen woord uit nie, ek
is net bewus van haar lyf teen myne. Sy vat haar hande van die muur af en kom
staan weer langs my.
“Jy sê niks?” sê sy en klink teleurgesteld.
Uiteindelik kom ek tot verhaal, bedank haar vir die
uitnodiging en dat ek dit beslis sal aanvaar. Ek struikel so oor my woorde dat
ek soos 'n gek voel toe sy lag, my hand drukkie gee en nagsê.
Na
middagete is ons buitetoe om die hubbly bubbly te gaan rook. Leanne het gesê
ons kan dit rook solank dit net buitekant is. Nessa het wraggies elke geur
tabak op die mark gekoop en sy geniet haar self soos sy meng en proe.
“Ag, sies julle... druk julle pype toe as ek 'n trek vat.”
vra Nessa vir die hoeveelste keer.
“Daar’s te veel goed
wat onthou moet word man. Vat eerder 'n sigaret en trek aan dit.” sê Leanne en
sy smyt ook sommer haar pyp waardeur sy moet trek neer.
“Hier’s meer pret aan dié ding as aan 'n sigaret wat mens
tussen jou vingers moet vashou, Moederlief.”
Leanne se selfoon lui: “ Hi Kevin! I’m well and you?” Sy
stap weg en ons kan nie die gesprek verder hoor nie.
Nessa is skielik stil en lyk afgehaal.
“Hoekom lyk jy nou so?” vra ek bekommerd.
“Kevin... As Kevin sê spring, dan vra sy hoe hoog.” sê
Nessa, nou hoogs ontsteld.
Sy vertel my dat Kevin haar ma se agent in New York is.
Sodra daar 'n hoofrol vir haar in 'n teaterproduksie is, bel hy Leanne en dan
is dit weer tyd vir hulle om na New York te vlieg.
“Ek wil nie al weer gaan nie, dis nie eers drie maande terug
wat ons daar was nie!” Nessa klink of sy wil huil.
Aan Nessa se stemtoon kan ek hoor sy haat New York. “Wat sal
jy sê as jou ma my vra om saam te gaan, in jou plek New York toe.?” waag ek die
vraag.
“Wat! Dit sal wonderlik wees!” gil Nessa en vervolg “wag
bietjie, hoekom sou sy jou wou vra? Wat het gisteraand op die balkon gebeur?!”
Nessa is nou opgewonde en smeek my om te vertel.
“Ek dog jy’t geslaap?... en daar het niks gebeur nie.” sê ek
kortaf.
“Daar het, daar het... het sy jou gesoen... of jy vir haar?”
Nessa borrel oor met vra en energie.
Ek bloos en begin haar vertel wat op die balkon gebeur het.
Vergete is die hubbly bubbly, sy sit voor my op die gras, groot oog en luister.
“My ma is verlief. Nou hoekom soen jy haar toe nie?”
“Man omdat ek nie so... so voor op die wa is soos jy nie.”
sê ek gemaak kwaai vir haar.
“Dan weet sy mos nou waar sy met jou staan. Ai tog ek sal
julle tips moet kom gee.”
“Tips op wat Nessa?” vra Leanne skielik hier agter ons.
Nessa bloos bloedrooi, sy het nie die guts om vir haar ma te
sê nie en bly sommer verder stil.
Leanne gee 'n giggel laggie en begin vertel van die oproep
wat sy gehad het. “Nessa, voor jou lip weer op die grond hang... jy hoef nie
die keer saam te gaan nie.”
Nessa vlieg op, storm op haar ma af en gryp haar om die nek.
“Jis Moederlief, jy maak wraggies my dag.”
Leanne kom sit langs my op die tuinbankie en ek begin
opgewonde raak. Sy praat nie, sy kyk net na my. Ek draai na haar, ons oë
ontmoet en op daai oomblik wens ek dat ek haar kan soen. Ek kyk af na haar
mond, sy glimlag en ek kyk weer vinnig in haar oë.
“Ek ook.” sê sy vir my.
“Ekskuus?” sê ek skoon uit die veld geslaan en toe besef
ek... sy het dieselfde gedink as wat ek gewens het.
“Ag, soen mekaar tog nou en kry dit uit julle sisteme!”
bulder Nessa en begin aanstap terug huis toe.
Half verleë kyk ons na mekaar en bars toe uit van die lag.
“Sy het 'n punt daar beet Sonet... maar eers wil ek jou iets
vra. Wil jy saam met my New York toe gaan?”
Ek sit sprakeloos. Toe gebeur dit gouer as wat ek gedink het
dit sou. Ek kan New York toe gaan en dan nog saam met die een vir wie ek lief
is, die een wat my hart jare terug al gesteel het sonder dat sy enigsins bewus
was van my bestaan.
“Jy sê weer niks nie?” die keer klink sy nie teleurgesteld
nie, want sy weet wat my antwoord gaan wees.
“Natuurlik wil ek saamgaan, saam met jou gaan!” antwoord ek
oorgretig.
“Ek is bly... en nou kan ek jou soen.” Leanne voeg ook
sommer die daad by die woord.
Sy trek my teen haar vas en ek voel haar warm lippe op myne.
Sy soen my met oorgawe. Ek kry 'n brandende begeerte om haar nakende lyf teen
myne te voel. Haar hand is soekend oor my en ek keer haar toe sy my bors
ontdek.
“Jammer... ek...” Leanne voltooi nie haar sin nie, want ek
val haar in die rede.
“Jy hoef nie jammer te sê nie Leanne... dis net... ek’s bang
Nessa kom terug of die bediendes kom uit.” probeer ek verduidelik, sodat sy nie
ongemaklik moet voel oor haar handeling nie.
Sy glimlag en knik haar kop dat sy verstaan. Sy skuif regop,
neem my hand in hare en sit die ander arm om my nek. Ek glimlag tevrede, dit
voel so reg.
Ons stap
sitkamer toe na aandete en toe ons begin met reëlings vir die New York besoek,
maak Nessa verskoning dat sy maar eerder gaan slaap. Leanne skink vir ons
elkeen 'n drankie en kom sit langs my op die rusbank.
“Eerste dinge eerste.” sê sy, vat my drankie by my en sit
dit by hare op die tafeltjie langs die bank neer. Sy vat my gesig in haar hande
en gee my 'n passievolle soen. “Nou kan ons met die beplanning begin.” sê sy
tevrede.
Ek gee 'n proes laggie en skud maar net my kop. Leanne
vertel my van die teater stuk waarin sy die hoofrol gaan speel. Ek verkyk my
aan haar, sy ken reeds van die woorde en in haar stem kan ek hoor dat sy 'n
groot liefde vir die verhoog het en dan haar ander groot liefde is New York.
Dit het sy alles prysgegee om by haar kind te wees en ek wonder of Nessa bewus
is van haar ma se groot opoffering wat sy tien jaar terug gemaak het, of sy
besef hoe lief haar ma die verhoog en New York het.
My
tasse staan gepak. Nessa vat ons lughawe toe en sy is behoorlik opgewonde, want
vir die eerste keer in tien jaar hoef sy nie saam te gaan nie. Gelukkig kon ek
verlof kry op so kort kennisgewing. Almal by die werk was saam met my bly, dis
darem nie aldag dat mens 'n geleentheid kry om Amerika toe te gaan nie.
Ek is
maar stil op die vliegtuig, eintlik effens benoud, want dis die eerste keer dat
ek vlieg... dit help darem dat Leanne my hand vashou. Sy maak my wakker toe ons
land. Dit voel of ek droom toe ons deur New York se strate ry op pad na die
hotel. Kort-kort knip ek my oë net om seker te maak dat ek nie droom nie. Ons
ry verby die Broadway teater, dis hier waar Leanne gaan optree. By ons hotel in
Manhattan, wag Kevin reeds op haar en sy stel hom aan my voor, hulle begin ook sommer
dadelik besigheid praat.
Ons
kamers is langs mekaar met 'n dubbeldeur tussen die twee kamers wat Leanne ook
sommer dadelik oopmaak. Ek’s nogal verlig toe ek haar deur die deure sien
aankom.
“Gedink ek los jou alleen? Sal dit nooit aan jou doen nie.”
Sy verskoon haarself by Kevin in haar kamer, stap in my kamer in en maak die
dubbeldeure toe.
Sy sit haar arms om my en vra om verskoning dat hulle sommer
met die intrapslag oorwerk begin praat het. Ek knik my kop en sê dat ek
verstaan, want sy is eintlik hier vir werk. Sy verseker my ook dat sy sal
verstaan as ek nie elke keer saam met haar teater toe wil gaan nie, maar dat sy
my darem daar wil hê met die openingsaand. Sy trek my stywer teen haar vas en
soen my hartstogtelik.
“Ons vertrek oor 'n halfuur, jy’s welkom om saam te gaan.”
Ek besluit om saam te gaan, kan net sowel na die repetisies
gaan kyk as om alleen in my kamer te bly.
Leanne
stel my aan almal voor, van hulle is bly en wens haar geluk met haar nuut
gevonde liefde, maar daar is een of twee wat openlik jaloers is, maar ek steur
my nie aan hulle nie. Leanne kom gee my 'n drukkie en verduidelik dat sy my nou
alleen gaan los... Ek verkyk my aan haar, sy geniet elke oomblik op die
verhoog. Sy is net so borrelend soos Nessa altyd is.
“So dís waar Nessa aan haar borrelende energie kom... by
haar ma geërf.” sê ek toe Leanne weer by my aansluit.
“Dis waar, dis wat die verhoog aan my doen. Dit gee my weer
nuwe lewe. Ons is klaar, kom ons gaan huis toe.” Leanne sit haar arm liefdevol
en beskermend om my skouers en ons stap uit, onwetend dat 'n hele paar oë op
ons gevestig is.
Na ete
gaan stort Leanne en sy ruik te lekker toe sy langs my op die bed kom sit.
“Ek wil jou nie teleurstel nie, maar ek is effens moeg. Ek
wil nie hê jy moet enige verwagtinge hê vanaand nie.”
Sy praat reguit en draai nie doekies om nie, ek bloos skoon
net by die gedagte. Ek is eintlik ook maar bly, want ek’s nogal moeg na die
vlug en kan my net indink hoe moeg sy moet wees, met 'n repetisie ook nog agter
die rug... Nogtans klim sy in my bed en steek haar hand uit na my. Ek staan
haar met groot oë en aankyk... en maak vinnig verskoning dat ek eers wil gaan
stort.
Sy slaap reeds toe ek in die bed klim, sy lyk so gelukkig,
so rustig. Ek kyk na haar en kan nie glo dat ek in dieselfde hotelkamer,
dieselfde bed as Leanne Porter lê nie en dan nog in New York ook... my droom is
besig om waar te word. Ek staan op en stap venster toe. Dis wraggies mooier as
Pretoria se liggies... Ek fluister: “New York... Ek’s in New York...”
“Saam met my...” fluister Leanne en kom staan styf teen my.
Sy sit haar arms om my lyf en vervolg: “Ek het mos vir jou gesê dis mooi...
betowerend.”
Met elke asemteug voel ek haar kurwes teen my rug... ek maak
my oë toe, ek durf nie nou omdraai nie, want ek gaan myself nie kan keer nie...
sal myself aan haar omhelsing oor gee. Sy soen my in my nek, teen my oor, haar
hande ontdek my borste... my asem jaag... ek kan nie meer nie...ek wil haar
hê...
Ek draai om en ons lippe ontmoet weer... passievol en
hartstogtelik. Soenend en struikelend strompel on bed toe... ons hande vind
genotvolle areas en ons word soos klei in mekaar se arms.
Half
tien die oggend skrik ek eers wakker, verwilderd kyk ek om my rond en sak
tevrede terug teen die kussings... ek was bang alles was net 'n droom, dat ek
net gedroom het van Leanne en van New York. Haar plek langs my is leeg maar
daar is 'n briefie op haar kopkussing. Ek vou dit oop en lees: “Slaap laat, ek
sien jou twaalf uur. Lief jou, Lee.” Daar is 'n hartjie by haar naam geteken.
Ek druk die briefie teen my bors vas en skrik weer wakker toe Leanne met my
praat.
“Ek sien jy voer my bevele streng uit.” koggel Leanne en kom
lê langs my op die bed.
“Hemel hoe laat is dit? Ek het weer aan die slaap geraak.”
sê ek en vlieg regop op die bed.
“Dis half een.” sê Leanne en lag te lekker.
Ek spring vinnig onder die stort in en binne 'n halfuur is
ek aangetrek en reg vir middagete. Ons het net 'n uur oor om te gaan eet want
Leanne moet weer twee uur terug wees vir haar repetisies. Sy trek my aan die
arm by die deur uit.
Middagete is in New York se strate en Leanne bestel vir ons
hotdogs by een van die mobiele stalletjies... “met alles op” soos sy dit gestel
het. Ons loop en eet. Ek verkyk my aan die hoë geboue en kan nog steeds nie glo
dat ek hier is nie. Ons kom nie agter hoe vêr ons gestap het nie en kwart voor
twee moet ons 'n taxi kry om ons na die Broadway teater te vat.
Die klomp is bly om my ook weer te sien en kan nie
uitgepraat raak oor hoe goed Lee lyk noudat ek in haar lewe is nie. Almal noem
haar Lee en nie op haar verhoog naam Leanne nie, ek sal ook seker een of ander
tyd haar so moet noem, sy het al 'n keer of wat vir my gevra om haar eerder Lee
te noem, maar dit voel vreemd, sy sal altyd LEANNE PORTER vir my bly.
Dis
Sondagaand, die openingsaand. My mond hang oop, Leanne is skitterend op die
verhoog en haar hele gesig straal. Sy lyk na 'n ander mens as die een wat ek in
Pretoria ontmoet het. Sy’s gek na die verhoog en die teatergangers is mal oor
haar en haar toneelspel. Na die opvoering is die hoofspelers drie keer teruggeroep
vir 'n buiging voor die gehoor, voor hulle opgehou het met toejuiging. Aan haar
gesig kan ek sien sy geniet dit vreeslik, sy kan nie ophou glimlag nie.
Na die tyd ontmoet ek haar in haar kleedkamer en wens haar
geluk met 'n suksesvolle opening en 'n vol saal. Sy glimlag breedt en bedank my
vir die kompliment.
Leanne vat my hande in hare vas en bieg: “Sonet... ek is gek
na die verhoog. Ek bid elke keer die drie maande om in Suid-Afrika om net weer
terug te kom... terug verhoog toe en terug
New York toe.”
“Ek weet, ek kan sien jy’s gelukkiger hier.” Ek wil vir haar
vra hoekom trek sy dan nie eerder terug nie, maar ek is selfsugtig... as sy
terugtrek gaan nie net Nessa haar verloor nie, maar ek ook... ek kan haar nie
verloor nie...”
Maandagoggend is ons vroeg op. Sy is af vandag en moet eers
weer Dinsdag gaan repeteer vir Woensdagaand se optrede. Ons wil soveel as
moontlik van die dag kan gebruik om soveel as moontlik van New York te sien.
Ontbyt het in Central Park begin, by Ground Zero het ek openlik staan en
huil... daardie verskriklike dag op 11 September 2001 sal my en baie ander ook,
altyd bybly. Sy wys my so baie van New York, maar ongelukkig loop die tyd uit.
Woensdag is dit weer opvoering en Donderdag is sy weer af, dan gaan sy my die
Statue of Liberty wys.
Die
tyd gaan so vinnig verby en vanaand is die laaste aand van die
verhoogproduksie. Leanne gee weer haar
beste tydens die opvoering, maar die sprankel is weg en sy lyk weer soos die ou
Leanne van Pretoria. Ek kan dit nie hanteer om haar so te sien nie en vir die
eerste keer in 'n baie, baie lang tyd stel ek my self nie eerste nie. “Lee...
jy kan nie teruggaan Suid-Afrika toe nie. Kyk hoe lyk jy.” Dis die eerste keer
dat ek haar ‘Lee’ noem, maar dit voel nie vreemd nie. Ons is in New York en
hier is sy Lee.
Sy kyk my aan asof ek gek is. “Wat bedoel jy, ek moet, my
kind is daar en jy is daar.” sê sy half vies.
“En jóú liefde is hier. Jy was 'n ander mens en vanaand is
die ou Lee weer terug, jou sprankel is weg... Lee jy kan nie jou liefde vir die
verhoog én vir New York net opgee nie. Jy is besig om weg te kwyn.” Ek kon maar
net sowel met die muur gepraat het.
“Sonet asseblief! Ek wil nié vir jou kwaad word nie... Jy
raak aan 'n baie, baie teer punt en ek wil hê jy moet dit los.” Dit klink amper
of Leanne my smeek.
Ons vlug terug Suid-Afrika toe is eers Donderdag. Ons het
drie dae vir ons self oor in New York en skielik is dit nie meer lekker hier
nie. Ek probeer weer die volgende dag die saak aanroer, maar word dadelik
stilgemaak.
“Sonet, los dit nou! Jy’s soos 'n bulldog wat vasbyt en nie
kan los nie!” gil Leanne vir my.
Ek het haar nog nooit kwaad gesien nie en voel sleg toe ek
sien dat daar 'n traan oor haar wang loop.
“Ek’s jammer dat ek op jou geskree het.” vra sy om
verskoning en vee die trane van haar wang af.
Ek loop na haar toe en sit my arms om haar. Ek kan nie begin
om te dink hoe sy moet voel nie. Sy vertel my hoe Nessa haar verwyt het vyftien
jaar gelede toe sy saam met haar pa weg is Suid-Afrika toe. Dat sy New York en
om 'n rolprentster te wees gekies het bo haar kind... sy wil dit nie weer doen
nie. Die trane loop nou vrylik oor haar wange en ek kry haar verskriklik
jammer.
“Lee ek is jammer... ek wou maar net hê dat jy gelukkig moes
wees.” sê ek terwyl ek haar vashou. Ek stel voor dat ons die res van die dag in
Central Park moet deurbring, Leanne stem in en ons kry 'n taxi soontoe.
Ons
stap vir ure om die dam en park voor ons 'n plekkie kry om te gaan sit en na
die eende op die dam sit en kyk. Leanne lyk baie kalmer en op haar gemak hier
in die vars lug en ek roer weer vanoggend se gesprek aan.
“Jy gaan wragtig nie ophou nie!” blaf sy en klap haar tong
vir my.
Doodstil sit ons albei en staar na die dam en eende daarop.
Vir seker 'n uur praat ons nie met mekaar nie, Leanne verbreek eerste die
stilte.
“Dankie... ek weet jy’s net besorgd oor my.” sê sy saggies
en vat my hand.
Ek glimlag en sê niks nie. Aan die een kant is ek eintlik
verlig... sy bly in Suid Afrika en ek kan haar elke dag of so, sien... so kruip
die selfsug weer stadig terug en ek haat my self daarvoor.
Die volgende twee dae is ons rustig in die hotel, het
eenkeer gaan fliek en eenkeer na 'n verhoogstuk gaan kyk. Op die vlug is ons
twee net so stil. Nessa wag reeds op die lughawe en sy merk onmiddellik dat
daar fout is.
Nessa kan die stilte nie meer
verduur nie en wil weet wat fout is. Ek en Leanne sê so gelyk dat daar nie fout
is nie. Nessa kyk na ons en sluit die kar aan...“Het julle baklei?”
Ek en Leanne kyk vir mekaar en weer gelyk sê ons albei:
“Nee!”
Sy trek haar skouer op en trek weg met 'n spoed. Sy het haar
ook nou sommer vervies vir ons twee.
By die huis gekom, is Leanne sommer dadelik op kamer toe en
ek besluit toe maar om terug te ry huis toe. Nessa keer my en wil weet wat
aangaan, want daar is beslis fout. Sy torring nie vêrder aan my nie, want sy
kan sien dat ek nie wil praat nie. Sy bied aan om my te gaan help pak.
Leanne kom in my kamer in en Nessa verkas. “Asseblief, moenie
gaan nie Sonet...” Leanne gaan sit op die bed.
“Ek is jammer ek het so aan jou getorring, dit het net ons
laaste paar dae in New York versuur.” sê ek en gaan sit langs haar op die bed.
“Nee! Dis ek wat moet jammer sê. Ek gaan vanaand nog met
Nessa praat om te hoor hoe sy gaan voel as ek wil teruggaan.
My gesig raak strak, maar ek dwing 'n glimlag op my gesig.
Sy druk my teen haar vas en ek staar net na die kamermuur. Sy smeek my om nog
te bly en ek stem teen my sin in.
“Dit lyk beter!” sê Nessa opgewonde toe sy ons hand aan hand
die trap sien afkom. Ek was vir 'n wyle bekommerd oor julle tweetjies.”
Leanne en Nessa het ding uitgepraat. Nou is dit net 'n
kwessie van tyd voor Leanne terugkeer Amerika toe en ek weer alleen is. Die res
van die naweek het vinnig omgegaan en ek is al weer op pad terug huis toe.
Maandag
op kantoor kry ek nie veel uitgerig nie, my gedagtes is die hele tyd by Leanne
en New York. Woensdag ontmoet ek vir Nessa vir koffie en met 'n skok moet ek
uitvind dat Leanne New York toe is. Nessa sien nie die skok op my gesig nie, sy
babbel net voort hoe bly sy is dat ek haar ma omgepraat het en dat sy haar ma
nog nooit so borrelend gesien het nie. Die helfte van Nessa se gesprek hoor ek
nie meer nie, ek staar net voor my uit. “Sy het my nie eers gegroet nie...” is
al wat ek uitkry en 'n traan loop oor my wang.
“Sy kom weer terug Sonet, sy het net gaan reëlings tref vir
werk met Kevin en dan vir blyplek... Het jy gedink... nee sy sal jou mos nooit
net los nie!” Nessa staan op en gee my 'n drukkie. “ Jou arme ding, dis hoekom
jy skielik lyk of jy 'n spook gesien het.”
Nessa begin vir my lag omdat ek verkeerde gevolgtrekkings
gemaak het en ek moes maar saam lag. Sy nooi my uit om die naweek na hulle toe
te kom want haar ma behoort Saterdag terug te wees. Ons spreek af dat ons
Vrydagaand weer bietjie club toe sal gaan en sommer Corrie en Sonja ook weer
nooi.
Die res
van die week is draagliker. Dis darem nog net 'n uur dan kan ek huis toe gaan.
Daar’s 'n klop aan my kantoordeur en die deur swaai sommer oop. Leanne loer om
die deur en my hart begin bokspring. Ek spring op en ons omhels mekaar.
“Ek het na jou verlang.” sê Leanne en gee my 'n passievolle
soen.
Tien voor vier sluit ek my kantoordeur en ons stap hand om
die lyf na die parkering. “Kry ek jou by die huis of ry jy saam met my om my
goedjies te kry?” vra ek terwyl ek in my kar klim.
“Ons kuier die naweek by jou huis... as dit reg is met
jou...” stel Leanne my vlugtig in kennis.
Verbaas verduidelik ek haar dat ek en Nessa reeds met
vriende gereël het om te gaan dans en dat sy natuurlik moet saamkom.
“Ek het klaar met Nessa gereël. Ek gaan net vir ons pizza
kry dan sien ek jou by jou huis.” sê Leanne ewe selfvoldaan.
Leanne
vertel my van die gemeubeleerde woonstel wat sy in New York gekry het. Dit kyk
uit oor die Hudson rivier aan die eenkant en ander kant kyk dit uit oor New York
se wolkekrabbers. Sy vertel my ook hoe opgewonde Kevin is oor haar terugkoms en
dat sy ongelukkig net-net 'n hoofrol in 'n rolprent misgeloop het. Ek is saam
opgewonde vir haar, maar dit beteken ook die einde van ons verhouding en ek
weet dat lang afstand liefde nie kan werk nie. Ek wil haar vra... wat van ons,
ek en jy, maar ek is te bang vir die antwoorde... ek wil dit nie hoor nie...
nie nou nie...
Saterdag sit ons en smul aan oorskiet pizza wat Leanne vir ons warm
gemaak het. Ek kan sien daar is iets aan die broei, want haar gesig raak
ernstig en sy vat my hand in hare.
“Liefling... daar is iets waaroor oor ons moet praat.”
My moed sak in my skoene en dit voel of my hart wil ophou
klop. Hier binne-in my skree dit... ek wil vir haar vra, nee smeek om te bly,
by my te bly, dat ek nie sonder haar sal kan lewe nie. Ek sal nie kan aangaan
om haar net een of twee keer 'n jaar te sien nie... die verhouding gaan dit nie
oorleef nie... maar ek bly stil en luister na wat sy wil sê.
“Ek gaan oor twee weke weer Amerika toe. Daar is nog sake wat
ek moet afhandel voor ek finaal kan terugtrek soontoe en ek wil hê jy moet saam
met my kom...” sy kyk na my en wag vir my antwoord.
Ek kan maar net sowel gaan, want dit sal die laaste keer
ooit wees dat ek weer so 'n geleentheid gaan kry om Amerika toe te gaan. Dan
kan ek sommer afskeid neem van New York ook. Ek het nog verlof oor en ek stem
in om saam met haar te gaan.
Die keer is ek nie so opgewonde nie, my droom gaan binnekort
in skerwe lê. My baas is ook nie so gelukkig nie en vermaan my dat dit die
laaste keer moet wees, maar ek stel hom gerus en hy keur my verlof goed.
Ons land in New York en kry weer 'n taxi, maar dié keer is
dit na Leanne se woonstel. Dis op die vyfde vloer en dis 'n massiewe plek. Dit
het wraggies die mooiste uitsig, nes sy gesê het.
“So... hou jy darem daarvan?”
“Wat! Ek is gek oor die plek! Ek sal die hele dag op die
balkon kan sit en uitkyk oor die rivier en saans daardie kant sit en New York
se liggies dophou. Die uitsig is beeldskoon.” sê ek en stap weer uit op die
balkon.
“Dan sal jy nie verveeld raak as ek die hele dag by die
teater is besig met repetisies en jy moet alleen in die woonstel agterbly nie?”
vra Leanne nog ‘'n belangrike vraag.
“Ek sal nie een dag verveeld kan wees met so 'n uitsig nie
Lee.”
“Sal jy nie later by my kla dat jy wil begin werk nie?”
“Nooit! As ek verveeld raak met die uitsig is daar honderde,
nee duisende dinge wat ek in die stad kan gaan doen.”
“Dit klink mos vir my... jy het klaar besluit?” vra Leanne
weer.
Ek kyk Leanne vraend aan en frons. “ Besluit, wat bedoel jy
ek het klaar besluit?”
“Jy het nie ‘'n woord gehoor wat ek jou elke keer gevra het
nie, Sonet!” sê sy en staan met haar hande op haar heupe.
“Ek het! Jy het gevra of ek van die uitsig hou en...” ek bly
'n rukkie stil.
“Ja en...” vra Leanne.
“En... uhmm en...” ek probeer dink wat sy nog gevra het en
skielik word als helder. “LEE!” gil ek en gryp my gesig vas.
“Ja, my Dierbaarste, het jy nou gesnap?” vra Leanne en gryp
my vas en draai my in die rondte.
Trane loop oor my wange, ek kan dit nie glo nie. Ek gaan in
New York bly en dit nog saam met dié ‘LEANNE PORTER’. Saam met die aktrise van
my drome, die aktrise van my hart.
“Liefling... het jy gedink ek gaan jou in Suid Afrika los?”
vra Leanne saggies in my oor. Ons lippe ontmoet weer en ek gee my volkome aan
haar omhelsing oor...
No comments:
Post a Comment