Ou Liefde Roes Nooit


Ek kyk om my rond, die kroeg raak nou vol en nog steeds is daar geen teken van Jane nie. Dis al 11 uur, sy is laat, sy het seker vasgeval by die werk. My kop ruk omhoog en ek trek my asem in... Weer hoor ek daardie bekende hees stem en aansteeklike lag. Dorothy is in Engeland, dink ek. Hoe toevallig dat sy by dieselfde kroeg instap as waar ek sit. Ek loer versigtig om my, maar gewaar haar nie. As Jane net hier was, sou ek veilig gevoel het, sou sy kon sien dat ek aangegaan het met my lewe en nie oor haar getreur nie.

“Hello gorgeous.” fluister Dorothy in my oor.

Ek word yskoud. Ek maak 'n glimlag op my mond na en draai om na haar. Ek snak na my asem. Sy is nog net so handsome soos altyd, haar hare nou meer wit grys, maar haar blou oë, soen bare mond is nog presies dieselfde. Ek verdrink weer in haar oë, dit voel of sy my hipnotiseer en ek kry nie 'n woord uit nie. Sy praat eerste en vra of sy maar mag sit. Ek word angstig, Jane waar is jy, ek kan nie teen hierdie vrou hier voor my opstaan nie, ek voel sy spin 'n web om my, as Jane hier was, kon sy my beskerm het teen hierdie vrou se sjarme, seksualiteit. Sy is besig om beheer van my te neem en ek is te swak om my tee te sit. Ek voel hoe my asem jaag, kan ek dan nog so oor haar voel na al die jare. Kan sy my nog steeds betower. Sy praat met my, ek hoor niks en skrik uit my hipnose toe sy aan my hand vat. Ek ruk my hand onwillekeurig weg en is dadelik spyt dat ek so drasties optree.

“Hey, it’s me, Dorothy! It looks like you’ve seen a ghost?” sê sy en lyk effens afgehaal omdat ek my hand weggeruk het.

Ek skrik my boeglam toe Jane my in my nek soen en langs my op die bankie neerval. Ek gryp haar vas en is innig dankbaar dat sy haar opwagting gemaak het. Ek sug en my skouers ontspan outomaties.

“Ek’s jammer ek’s laat. Ontvoering het my besig gehou, maar nou’s ek hier.” lig sy my kortliks in en kyk vlugtig na Dorothy en dan weer na my. “Stel jy my nie voor nie, wie’s ons gas?”

“Jammer, my skat.” sê ek en stel dadelik vir Dorothy aan Jane voor. Ek laat na om te sê dat Dorothy my eks is, hoekom weet ek nie. Ek kyk na Dorothy. Jane staan op om vir ons drankies te kry. Dorothy vang my oë op haar en ons oë ontmoet weer.

Sy het wraggies nog dieselfde uitwerking op my as 10 jaar gelede. Ons was in 'n  verhouding van 5 jaar toe sy net op 'n dag verdwyn en my uit Amerika bel en verduidelik dat sy nie meer met die verhouding kan aangaan nie. My hart was gebreek en ek het gesweer ek wil nooit weer by iemand betrokke raak nie. Ek het na Engeland geëmigreer 3 jaar later en 'n jaar later vir Jane ontmoet by die plaaslike polisiekantoor. Ons het begin kuier en ek het op haar verlief geraak en na 5 jaar is ons nog steeds dol verlief en dood gelukkig.

 

               Jane en Dorothy kom goed oor die weg, hulle kuier en gesels tot laatnag toe. Jane se foon lui en sy moet terug polisiekantoor toe.
“Ek is jammer, hulle het nuwe leidrade gekry oor die ontvoering en ek moet dit gaan opvolg.” verduidelik sy en soen my op my voorkop.

“Eventually! I thought she’d never left.” sê Dorothy en glimlag vir my.

“Why did you say that, she’s my lover!” vererg ek my op die plek vir haar en is nogal verbaas dat ek opgestaan het teen haar.

“Sorry I didn’t mean to sound rude love.” haar stem is sagter, aanlokliker, ek was nog altyd mal oor haar hees stem.

Ek glimlag vir haar, ek het haar klaar vergewe. Ek begin ongemaklik 'n gesprek met haar voer. “So what brings you to England?”

“That’s what I wanted to know from you?” beantwoord sy met 'n teen vraag.

“It’s my home. I live here for almost 9 years now.” antwoord ek haar en kan sien sy’s verbaas.

“I thought you’d never leave South Africa? If I knew that, I would’ve...” Dorothy voltooi nie haar sin nie. Sy vat die laaste sluk vodka uit haar glas en gaan haal nog drankies vir ons.

Dorothy kom sit langs my. “You are still as gorgeous as 10 years ago.” sy streel my wang en ek vat haar hand weg.

“I’m involved now, I’m happy Dorothy.” sê ek, maar hou nog steeds haar hand vas. “You haven’t changed a bit, either. I could easily fall in love with you again...” Ek kan my tong afbyt, waarvoor sê ek dit nou hardop. Ek los haar hand en kyk af na my drankie. Ek vat die glas en sluk die vodka in een teug weg. Sy doen dieselfde en staan weer op vir nog drankies. Sy kom terug met 'n skink bordjie vol shooters. Ons slaan die een na die ander weg en ek weet nie wat het in my gevaar nie. Ek drink nooit so baie wanneer ek nie tuis is nie.

 

               Daardie oggend nooi ek Dorothy na my en Jane se huis toe. Ons kry 'n huurmotor, want nie een van ons twee is in staat om self te bestuur nie. My foon lui en Jane verduidelik dat sy die res van die oggend by die kantoor gaan wees, sy sal met middagete 'n draai by die huis kom maak.

Beneweld loop ek deur die huis en wys die gastekamer waar Dorothy kan slaap. Sy staan in die deur en blok my toe ek wil uitgaan. Ek sê niks en kyk na haar arm wat my pad versper.

“Dorothy... please, Jane will be here any minute.” jok ek vir haar. Ek voel ek word weer in haar web vas gespin, ek durf nie opkyk nie, want ek gaan beslis in daardie blou oë verdrink. Sy laat sak haar arm en staan op sy. Ek knik my kop en stap verby haar. Ek kyk om, net vlugtig, net om te sien of sy my agternakyk. Ek speel so reg in haar kraal. Sy gryp my arm en ruk my nader, teenaan haar.

“You are hurting me.” is al wat ek uitkry en haar greep om my arm verslap. Ek gee nie pad nie, ek bly staan. Ek wens sy wil my gryp, na haar bed toe dra, my weer hare maak. Ek dink aan Jane, ek’s lief vir Jane, nee ek wil liefde maak met Jane. Ek is magteloos, hoekom moes sy teruggaan werk toe, ek kan my nie teen hierdie vrou verset nie. Dorothy buk af, haar warm mond sluit om myne, ek sit my nie teë nie, ek kan nie, ek wil nie. Ek onthou “ons” 10 jaar gelede. My voete lig van die grond af en ek besef ek word gedra. Saggies lê sy my op die bed neer. Ek verdrink in haar oë, ek was bang daarvoor. Haar hande is op my, oral, oor my. Ek verbeel my dis Jane, net totdat Dorothy in my oor fluister, ek vergeet van Jane, haar gesig word wasig... ek vergeet hoe sy lyk, ek maak my oë oop en sien Dorothy se gesig voor my. Ons asems jaag, ek is verlief op haar, dis 10 jaar gelede, ons is in ons huis in Suid-Afrika...

 

               Ek word wakker met 'n hengse hoofpyn. Ek voel Jane se lyf teen my. Dankie, tog sy’s tuis, dink ek. Nou is ek weer veilig, Dorothy sal my nie nou in haar web kan toespin nie. Jane beweeg langs my en sit haar arm om my.

“Did you enjoy it as much as I have, Gorgeous?” vra Dorothy en soen my in my oor.

Ek voel hoe my bloed my liggaam verlaat, ek word yskoud. Ek vlieg uit die bed en staan nakend voor haar. Verwilderd kyk ek na haar. Dit was nie 'n droom nie, ek het Jane verneuk is die eerste gedagte wat by my opkom. Ek gluur Dorothy aan en sak op die bed neer. Ek vou my gesig toe met my hande. Ek het van my kopseer vergeet, ek wil huil, maar daar is geen trane nie. Dis asof ek nie skuldig voel nie... ek gryp my selfoon en kyk hoe laat dit is.

“It’s 11 o’clock, you beter get dressed, Jane will be here at noon!” gil ek vir Dorothy. Vinnig maak ek die bed reg waar sy geslaap het en spring in die stort. Dorothy is klaar aangetrek toe ek in die kombuis kom. Ek druk gou wors in die oond, bak 'n paar eiers en sit dit in die lou-oond. Ek maak vir ons twee koffie en nie een van ons praat 'n woord nie.

“I think I better go?” sê sy en stap voordeur toe. “I’m sorry Gorgeous... and I’m so sorry for leaving you 10 years ago. Good luck to you and Jane, she doesn’t know how lucky she is to have you.” Met die woorde verdwyn Dorothy by die deur uit. Tien minute later stap Jane by die voordeur in, ek kan sien sy is moeg.

“Ek is vrek honger!” sê sy en val op die stoel neer langs die kombuistafel. “Ons het die ontvoerder vasgetrek, nou is dit darem afgehandel.” vertel sy van die oggend se gebeure. Sy eet gulsig aan die kos wat ek voor haar neergesit het.

Ek staar na haar. Ek kan nie glo dat ek dit aan haar gedoen het nie. Sy is alles wat ek in 'n vrou begeer, maar so was Dorothy ook. Hoekom kan mens nie maar twee mense liefhê nie, saam met twee mense in verhouding wees nie. Ek gaan sit langs die kombuistafel en kan my oë nie van Jane afhou nie. “Ek is lief vir jou Jane.” ek klink skuldig toe ek dit sê en voel half skaam daaroor. Ek hoop nie sy hoor dit in my stem nie. Sy hou op met eet en kyk na my. Jane vat my hand in hare, soen dit op die agterkant.

“Ek’s net so lief vir jou ook my Lief.” verseker sy my van haar liefde. Sy vee haar mond af en staan op. Jane trek my op vanuit my stoel en gee my 'n hartstogtelike soen. “Ek sal nie laat wees vanaand nie. Dankie, ek het lekker geëet.” sy waai vir my en verdwyn by die deur uit.

Ek staar lank na die deur voor ek die kombuis begin opruim. Kan dit dan waar wees, dat ou liefde nooit roes nie... wonder ek toe ek skuins teen die kamerdeur lê en na die bed staar waar Dorothy skaars 2 uur gelede gelê het.

No comments:

Post a Comment